Скачать книгу

is verslae … – Job 4:5

      Dinge, ongelukkige dinge, hartseerdinge gebeur mos altyd met ánder mense, nie met jóú nie. Skokkende dinge gebeur met ánder mense. Vir jou sal dit nie tref nie.

      En wanneer jy dan hoor wat met dié een of dáárdie een gebeur het, weet jy gewoonlik altyd raad. Jy weet wat die regte optrede sal wees, hoe die ongelukkige gebeure verwerk behoort te word. “As dit ék was,” sê jy ewe kontant, “sou ek só gemaak het. Ek sou die situasie anders gehanteer het.” Die beste stuurman staan altyd op die wal.

      Dan gebeur dit: ’n Ramp tref jóú.

      Skielik is jy wat altyd vir ander raad gehad het, self radeloos. Jy wat vir ’n ander so gou kon vertel wat hy moet doen, is skielik totaal van koers af. Jy weet nie her- of derwaarts nie. As die vuurproef skielik jóúne is, dan wil jy smelt, vergaan, terwyl jy van ander verwag het dat hulle gelouter uit húlle vuurproewe moes kom. Jy wat vir ’n ander in sy krisis kon vra: “Waar is jou geloof dan?” is nou die een wat self daarna moet soek, en in jou hart net twyfel vind.

      Laat ons hierdie les leer: dat ons versigtig moet wees met ons beterweterigheid en ons dikwels meerderwaardige raad aan ander. Laat ons hulle wat in ’n vuurproef is en daaronder wil vergaan, nie met veroordeling nie, maar met deernis onderskraag, altyd met die besef dat jy jouself eers regtig leer ken wanneer jy self in die vuur staan. Altyd met die wete dat jy nie weet hoe jy sou reageer as daardie vuurproef jóúne was nie.

      Here, help my dat ek my naaste altyd met liefde en deernis sal bystaan wanneer hy hom in ’n vuurproef bevind. Help my ook, genadige Vader, dat wanneer die vuurproef myne is, ek deur u genade gelouter anderkant sal uitkom. Amen.

      9 Februarie

      Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. – Psalm 16:5, 6

      Selfvoldaanheid is ’n menslike eienskap en skuil in elkeen van ons. Ons eien die “ek” in ons so baie dinge toe.

      Wat ek ook al in die lewe bereik het, dit is “ek” wat dit vermag het. My hoë geleerdheid en prestasies op akademiese gebied, dis “ek”, mý slimheid. My prestasies in sport, dis “ek”, mý gesonde liggaam. Wat ek besit aan aardse goed, dit het “ek” bymekaargebring.

      Is dit so?

      As God jou nie daardie verstandelike vermoëns gegee het nie, sou jy dan nog die geleerde man gewees het wat jy vandag is? As God jou nie daardie gesonde liggaam gegee het nie, sou al daardie bekers wat jy op die sportveld gewen het, nog in jou huis gepryk het? En as God se genade nie oor jou groot was en rampe en skades van jou geweer het nie, jou ondernemings nie met sukses bekroon het nie, sou jy vandag werklik soveel besit het as wat jy wel besit?

      Laat ons erken: Hý is ons lewe. Hý sorg vir ons. Alles wat ons is, alles wat ons het, het ons van Hóm ontvang. Hy is die bron en oorsprong van alles, van my hele menswees. Dit kon so maklik so anders gewees het! Maar Hy het uit genade mildelik uitgedeel – uitgedeel soos Hy dit in sy alwysheid spesiaal vir my afgemeet het. Kyk om jou, kyk binnekant toe en erken in dankbare nederigheid dat “ek” niks sou kon vermag het as Hy dit nie gewil het nie.

      O, God, U het ’n pragtige deel vir my afgemeet. Ja, wat U my gegee het en ek uit u genadehand ontvang het, is vir my mooi. Dankie, Here! Amen.

      10 Februarie

      Wat maak jy hier, Elia? – 1 Konings 19:9, 13

      Nadat Elia onder die besembos uitgekruip het en God hom met krag van Bo gevoed het, gebeur dit dat dié profeet weer moed verloor, weer depressief raak en in ’n grot gaan skuiling soek.

      Maar God kry hom daar en vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia was gou met sy verduidelikings waarom hy juis dáár was. En vir hom, vir sy menslike oordeel, was hierdie redes geldig, so geldig dat hy gereken het sy optrede moes verskoon word.

      Is ons nie ook so nie? God gee ons sy krag en genade en bystand, maar halfpad begeef ons moed ons. En dan soek ons ’n grot om in weg te kruip. Net soos Elia voer ons baie verskonings aan. Net soos Elia dink ons ook hierdie verskonings is genoeg regverdiging vir ons mismoed en wanhoop.

      Maar God sê vir Elia: “Kom uit!”

      Voel jy ook om tou op te gooi? Of het jy dit dalk al klaar gedoen? Voel jy die eise wat aan jou gestel word, is te veel, te onregverdig? Het jy vir jou ’n grot gaan soek waarin jy kan wegkruip van die taak wat vir jou wag, van jou verantwoordelikhede? Het jy jou onttrek van jou probleme en besluit Gods water moet nou maar oor Gods akker loop?

      God sê vandag vir jou: “Kom uit! Daar is geen verskonings om aan te voer nie, want Ek is mos by jou. Ek het jou nie alleen gelaat nie. Kom dadelik uit daardie grotte van depressiwiteit, van wanhoop, van kleingelowigheid.”

      Dit was nie die plek vir Elia nie. God het vir hom ’n opdrag gehad. Dis nie die plek vir jou nie, want God wil jou óók gebruik.

      Kruip jy vir die lewe weg in die een of ander grot? God vra vir jou: “Wat soek jy daar? Kom uit!”

      Dankie, o wonderlike God, dat U U so met ons bemoei, dat U, selfs wanneer ons in ’n grot wil gaan wegskuil, ons opsoek en ons oproep tot aksie en diens. Amen.

      11 Februarie

      Jy mag jou nie blind hou wanneer jy ’n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. – Deuteronomium 22:1

      “Ek wil nie betrokke raak nie.”

      Die een of ander tyd in jou lewe het jy al daardie woorde geuiter. Die een of ander tyd in jou lewe het jy liewer anderpad gekyk, jou rug gedraai. Erken dit maar.

      Weet jy watter groot sonde dit is?

      Ons weet almal van talle voorvalle waar mense, partykeer weerlose ou dames, op straat beroof is. En ons staan en toekyk, doen niks nie, want ons wil nie betrokke raak nie. Ons sien verkeerde dinge gebeur, ons weet van die grootste onreg wat gepleeg word teenoor weerlose mense soos kinders en oumense. En ons bly stil, want ons wil nie betrokke raak nie.

      Maar dan, ironies, is ons gou om vanaand op ons knieë te gaan en God te vra om tog betrokke te raak by ons en ons probleme. Ons kyk anderpad as ons naaste in nood verkeer. Ons was ons hande in onskuld met die houding van “elke man vir homself”. Maar van God verwag ek dat sý oog al my nood sal raaksien, dat sy hand altyd hulpverlenend na my uitgestrek sal wees.

      Het jy al gedink wat van jóú sou geword het as God op ’n dag moes besluit Hy wil nie meer betrokke wees nie?

      Liewe Here, vergewe my waar ek in die verlede die groot sonde gepleeg het om nie betrokke te wil raak by my naaste se nood en ellende nie. En dankie, goeie Vader, dat U altyd nog by die mens en sy ellende betrokke gebly het. Amen.

      12 Februarie

      … en skiet ons jare verby soos ’n gedagte. – Psalm 90:9

      Hoe waar is dit!

      As ’n mens ’n kind is, lê die hele lewe nog voor jou. Die dag van sterwe is vir jou iets vaags wat daar ver op die grense van ’n ewigheid wag.

      Maar ons vir wie die pad wat agter lê reeds langer geword het as die pad vorentoe, wéét dat die psalmdigter ’n waar woord gesê het toe hy ons jare vergelyk het met ’n gedagte wat verbyskiet. Baiemaal wens jy dat jy, toe jy nog jonk was, reeds hierdie groot waarheid besef het en die goeie en mooi jare van jou lewe beter benut het. Eers wanneer die week só kort geraak het dat dit vir jou voel dis gister toe jy gesê het: Dis al wéér Vrydag! besef jy hóé kosbaar tyd is.

      Daarom, moenie die kosbare ure verspil op nuttelose dinge nie. Moenie die kosbare sekondes van geluk vermors op onvrede en kwade gevoelens en ledigheid nie. Onthou, elke minuut van jou lewe waarin jy kwaad of ongelukkig is, beteken jy het sestig sekondes verloor waarin jy geluk en vrede kon gesmaak het. Elke uur wat jy verspil op ledigheid en sinlose dinge, beteken jy gaan êrens vorentoe sestig minute te min hê om klaar te maak wat jy

Скачать книгу