Скачать книгу

eerste is reg. Die tweede kan net ongeluk en ’n verkeerde eindbestemming ten gevolg hê.

      Wanneer laas het jy die koers van jou lewe in oënskou geneem?

      So baie mense koers maar sommer net blindelings deur die lewe. Jy stap maar voort van dag tot dag. Party dae gaan dit goed; party dae minder goed – en party dae sommer sleg, maar intussen gaan jy darem aan en ongemerk koers jy na die einde van jou aardse bestaan sonder om regtig seker te wees van jou rigting en bestemming.

      Niemand sal dit waag om sonder ’n kompas die see aan te durf nie. Ook sal dit dwaas wees om daarsonder die Saharawoestyn in te gaan. Hoe is dit dan moontlik dat jy mense kry wat sommer net blindelings deur die lewe aanstap sonder ’n kompas wat hulle die sekerheid kan gee dat hulle wel uiteindelik by die regte plek sal uitkom? Mense wat so ’n groot kans waag deur te sê: O wel, ek hoop maar ek kom op die ou end by die regte plek uit.

      Jy gaan nie hou van die plek waar jy gaan uitkom as dit nie die regte plek is nie. En sonder kompas staan jy ’n goeie kans om in die verkeerde plek te beland. Hoekom ’n kans waag om jou eendag in die hel te gaan vasloop as jy maar net vir jou ’n kompas kan aanskaf? En dié is so maklik bekombaar. Ons teksvers vertel jou wat dit is en waar jy dit kan kry: Die Bybel, die Woord van God, wat vir ons leer hoe ons moet stap om eendag by die regte eindbestemming, die hemel, uit te kom.

      Dankie dat U ons nie sonder ’n kompas deur hierdie lewe wil stuur nie, Here. Amen.

      11 Januarie

      … Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. – Nehemia 4:19, 20

      Die werk van die Christen is “groot en uitgestrek”. As ons vandag so rondom ons kyk, lyk dit asof ons ook al meer uitgesprei van mekaar raak. Al meer boosheid, al meer gesante van die duiwel druk tussen ons in om ons nog verder van mekaar te verwyder. Die ware kind van God wil amper vandag eensaam begin voel. Dit lyk so asof die hele wêreld om ons vandag oorgegee is aan Satan. En nie net die wêreld daarbuite nie. Ook hier in ons eie, klein wêreld, hier in die binnekring van ons familie- en vriendekring lyk dit mos al asof die kinders van die duiwel al meer vastrapplek tussen ons kry.

      Nehemia het geweet dis wat met sy volk gaan gebeur op die muur wat hulle aan die bou was. God het ook geweet dis wat met sy kinders in die eeue vorentoe tot die voleinding gaan gebeur. Ons gaan al minder één begin voel, al meer vereensaamd.

      Maar Nehemia het die ramshoring laat blaas. En daar waar die ramshoring geblaas het, daar moes die volk saamtrek. God het in sy genade vir ons vandag ook nog die ramshoring wat sy kinders bymekaarbring om hulle te laat weet dat hulle nie alleen is nie. Ons lewe nog in ’n land waar die kerkdeure oopstaan en sy ramshoring uit die kerktorings ons roep om saam te trek.

      Dankie, God, dat ons nog openlik saam met ons mede-Christene kan saamtrek wanneer U roep. Help ons om hierdie voorreg ten volle te benut. Amen.

      12 Januarie

      Jou eie optrede, jou eie dade het hierdie dinge oor jou gebring, dis jou eie boosheid wat dit so bitter maak, wat jou in jou hart tref. – Jeremia 4:18

      “Ek het ’n bitter lewe gehad.” “Ek het dit bitter swaar gehad.” “Ek het al bitter smart in my lewe geken.”

      Dis woorde wat ’n mens dikwels hoor, en dikwels wanneer dit geuiter word, word die woordelose verwyt bygevoeg: Dis deur ander my aangedoen. Dit was onverdiend. Dis hierdie of daardie een se skuld dat ek so bitter swaar gekry het, of sulke bitter smart ervaar het. En al sê hulle dit nie sommer reguit nie, wil party mense te kenne gee: Dis Gód wat my dit aangedoen het. Ek was die onskuldige, lydende party. Ek dra geen skuld daaraan nie.

      Is dit werklik so? Is dit óóit werklik so?

      Dink ’n bietjie goed na. Jou mislukte huwelik … was jy nie dalk gewaarsku en wou nie hoor nie? Jou kind wat verkeerde spore trap … loop hy nie maar dalk in spore wat jy vir hom getrap het nie? Jou materiële swaarkry … kom dit nie maar net daarvan dat jy dinge begeer het wat jy gewéét het jy nie kan bekostig nie?

      Wees ’n slag moedig genoeg om brutaal eerlik met jouself te wees. Dan sal jy waarskynlik by die blatante waarheid uitkom: Sewe agstes van die swaarkry en die smart wat ek in my lewe ervaar het, was deur eie toedoen. Sewe agstes van al die bitterheid wat ek in my lewe ervaar het, was nie ander se skuld nie. Ek het dit oor myself gebring.

      Here, help my om altyd eerlik met myself te wees, ook waar ek gefouteer het. Help my om nie my swakhede op ander se rekening te plaas nie, maar om dit openlik voor U te bely. Amen.

      13 Januarie

      Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” – 1 Samuel 16:7

      Samuel moet uit Isai se seuns ’n koning vir Israel gaan salf. Eliab het hom dadelik opgeval. Hierdie aantreklike oudste seun van Isai sou Samuel se keuse gewees het. Maar God se keuse was Dawid, dié een wat besig was om skape op te pas terwyl sy broers saam met die profeet ’n maaltyd gaan geniet.

      Ons word tog so maklik deur uiterlike voorkoms mislei. Alles wat blink, is vir ons goud. ’n Mens met ’n mooi, indrukwekkende uiterlike is vir ons dikwels die belangrikste.

      As ons tog maar die vermoë wil aanleer om na die innerlike van die mens en na die kern van dinge te soek, sou ons lewe soveel minder teleurstellings hê.

      Jy gaan vandag weer mense ontmoet en met mense in aanraking kom. Probeer om hulle nie op hulle baadjie te takseer nie. Soek dieper, kyk dieper … en jy mag dalk vandag ’n wonderlike vriend of vriendin raakloop waar jy dit nie verwag het nie.

      Here, help my dat ek nie so maklik deur uiterlike dinge beïndruk sal word nie, maar dat ek na dié dinge sal soek waarna U kyk. Amen.

      14 Januarie

      … Daar behoort nie ’n getwis te wees tussen my en jou … nie, want ons is familie … Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links. – Genesis 13:8, 9

      O, om soos ’n Abram te kan wees! Om die groot genadegawe in jou te kan hê om die minste te kan wees!

      ’n Mens besef dit elke keer: Dis die werklik groot geeste wat daardie vermoë besit. Mense wat klein van gees is, het nie genoeg ruimte daarvoor in hulle lewe nie.

      Aan menslike standaarde gemeet, was Abram beslis ’n baie belangriker persoon as Lot. Hy het ’n hoër status geniet as sy broerskind. Maar dit is hý wat vorentoe kom en sê: “Laat ons nie twis nie. Ek sal die minste wees. Kies jy eerste.”

      Mense is geneig om te dink dat hulle iets sal inboet of aan die kortste ent sal trek as hulle die minste is. Maar wat met Abram gebeur het, bewys die teendeel. Lot het die beste deel van die land gekies en Abram moes tevrede wees met die swakste. So kan dit dalk vir jou ook lyk wanneer jy die minste is – jy kom die slegste daarvan af. Maar moenie glo nie! Wat jy vergeet en wat Abram onthou het, is dat die een wat die minste is, God se bystand bykry. Hoe kan jy dan ooit die slegste daaraan toe wees? Die verdere verhaal vertel ons wat uiteindelik gebeur het. God het Abram mildelik geseën en Lot het in Sodom beland waar Abram hom later van ’n gewisse verdelging moes kom red.

      Here, gee asseblief aan my ’n groot genoeg gees sodat ek hierdie groot genadegawe van U kan ontvang: om die minste te kan wees. Amen.

      15 Januarie

      Wie nederig is, dien die Here … – Spreuke 22:4

      Niks waar “te” bykom, is goed nie. “Te” verraai ’n wanbalans. Dis goed en ook reg om ’n goeie selfbeeld te hê, maar gevaarlik en lelik om ’n té goeie selfbeeld te hê – want dan word jy hoogmoedig, kry jy trotse oë, word jy ’n snob.

      Eweneens moet ’n mens waak teen die “te”

Скачать книгу