Скачать книгу

      Ena Murray

      Oordenkings

      366 dagstukke uit die hart van ’n geliefde skrywer

      Lux Verbi

Januarie

      Storm

      Ek sien die branders stormend nader jaag,

      skuimend groen en hoog,

      tot hulle neerswiep in ’n boog

      waar selfs die magtige dreuning moet vervaag.

      En tussen hulle sien ek ’n stippel wit,

      ’n bootjie wat in die branding sak … asof hy bid.

      Gee, Here, dat terwyl ék in stormseë vaar,

      ek binne-in my die stilte van ’n hawe sal bewaar;

      dat u liefde en vrede my moeë siel sal voed

      te midde van geweld wat om my woed.

      En dat ek eerlank veilig sal land

      waar ruwe branders van emosies wyk,

      in u stille hawe van

      Gelatenheid.

      1 Januarie

      Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. – Openbaring 21:6.

      Die woordjie “einde” wek altyd ’n gevoel van finaliteit by ’n mens op. As iets by sy einde gekom het, beteken dit tog dit is verby. Klaar. Afgehandel. Maar is dit werklik so dat “einde” net die slot beteken?

      Gister was dit die einde van die jaar. Maar uit gister is die nuwe jaar gebore. Einde was dus in hierdie geval die inleiding tot ’n nuwe jaar, die oopgaan van nuwe moontlikhede.

      As ons die “eindes” in ons lewe dan liewer só wil sien: dat elke einde ook ’n nuwe begin is. Ons liefdevolle Hemelvader hou dit ook vir ons in ons Nuwejaarsteks as ’n eenheid voor: die Alfa én die Omega, die Begin én die Einde.

      Ná elke einde is daar weer ’n begin. Dis onafskeidbaar verbonde, soos dag en nag aan mekaar verbind is.

      Ons begin vandag ’n nuwe jaar. Ons staan by ’n nuwe begin. Weliswaar dra ons baie van die ou jaar se sorge, probleme, hartseer en kruise met ons saam hierdie nuwe tydperk in. Maar as ons terugkyk, sal ons sien Hy het ook die genade daarvoor nie weerhou nie. Vandag gee Hy ons daarby ’n splinternuwe jaar, ’n nuwe begin wat ons met vertroue en geloof tegemoet kan stap in dié wete dat Hy wat self die Begin en die Einde is, dit saam met ons binnestap.

      Liefdevolle Hemelvader, dankie dat U my nie by die einde van die ou jaar gelaat het nie, maar saam met my die nuwe begin. Amen.

      2 Januarie

      Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. – Johannes 14:27

      Miskien is jy een van die baie mense wat hierdie jaar met bedenkinge en met vrees in die hart binnestap. Wêreldtoestande, landstoestande, materiële en maatskaplike omstandighede is vandag so dat baie van ons met ’n swaar hart die vraag stel: Wat sal vanjaar vir ons inhou?

      Wat is die teëvoeter van hierdie angs en depressiwiteit? Kom ons sien die geheelbeeld van ons menslike situasie voor ons:

      Aan die een kant is daar die besef dat die planeet wat ons Aarde noem, maar net ’n klein, klein stippeltjie in die groot heelal is. En as ons dít besef, hoe klein, hoe mikroskopies klein is ons, die bewoners van hierdie planeet, dan nie. Hoe vervlietend en onbenullig is ons menslike plannetjies nie!

      Maar aan die ander kant staan daar die grootheid, die alwysheid en die almag van God wat van ewigheid tot ewigheid daar is, dieselfde is. Hy is die Skepper en Onderhouer van die ganse heelal – ook van die klein stippeltjie wat ons is. Teenoor ons nietige menslike plannetjies staan sy goddelike gedagtes, sy ewige Raadsplan wat deur niks of niemand, deur geen aardse mag omvêrgegooi kan word nie.

      En nou is dit hierdie almagtige, alwyse God wat in Christus Jesus vir ons, ook vir hierdie jaar, vrede beloof – ’n vrede wat anders is as wat die wêreld gee. Dit is daardie vredevolle sekerheid dat Hy dáár is, dat Hy die Beskikker oor ons lotgevalle is. En dat Hy óns God is wat ons ken en liefhet. Niks kan ons van sy liefde en sorg skei nie.

      As ons dit besef, dit werklik aanvaar as die werklikheid van ons lewe, moet alle angs, alle twyfel, alle swaarmoedigheid dan nie daarvoor wyk nie?

      Dankie, God, dat U almagtig is en aan my, klein mensie, in Christus Jesus u vrede wil gee. Amen.

      3 Januarie

      “Ek is besig met ’n groot werk.” … Sterk tog my hande, o God! – Nehemia 6:3, 9

      Baiekeer voel ons dat dié dinge waarmee ons ons daagliks besig hou, nie die moeite werd is nie, of dat dit minderwaardig is. Ons voel ons bring ons dae deur met kos kook, skottelgoed was, stryk, kinders grootmaak, huis skoonmaak. En ons kyk met afgunstige oë na hulle vir wie die lewe, volgens óns mening, soveel interessanter en opwindender is.

      Maar hoe verkeerd is ons tog! Daar is nie ’n takie, hoe klein en eenvoudig ook al, wat nie waarde het nie. Dis juis die klein en dikwels vervelige en minder aangename takies waarmee ons lewe daagliks gevul is, wat krag aan ons bestaan gee. Saam maak dit ’n groot werk uit, ’n belangrike werk waarsonder ons gesin – én die wêreld om ons – nie kan klaarkom nie. Ons is inderdaad besig met ’n gróót werk!

      Nehemia was besig met bouwerk. Dis handearbeid. Dis harde werk en dit gaan maar steen vir steen. Maar teen die end het elke steen wat daagliks getrou gelê is, ’n muur gevorm – ’n baie belangrike muur, ’n muur wat sy volk sou beskerm teen hulle vyande en vyandelike aanslae.

      Só bou ons elke dag steen vir steen met ons klein liefdestakies ’n muur om ons gesinne. ’n Muur wat hulle sal beveilig. ’n Muur van liefde en vertroue en sekuriteit. Ons is besig met ’n gróót werk!

      Laat ons dus nie mismoedig en gefrustreerd word of minderwaardig voel nie. Kom ons vra soos Nehemia dat God ons hande altyd sal sterk om voort te gaan met hierdie groot taak wat Hy aan ons opgedra het.

      O God, sterk tog my hande vir elke klein takie wat ek vandag vir my dierbares en my naaste moet verrig. Laat ek elke dag getrou bou in dié wete: In ú oë is dit ’n groot werk. Amen.

      4 Januarie

      Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ’n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee … – Prediker 7:14

      Wanneer dit voorspoedig met ons gaan, sê ons maklik dat God vir ons goed is. Maar die oomblik wanneer dinge nie na wense gaan nie, is ons gou om te vra: Hoekom het God my vergeet? Hoekom straf Hy my so? Hoekom het Hy sy hand van my onttrek?

      Ons teksvers vertel ons hoe verkeerd ons met hierdie veronderstelling is. God gee die voorspoedige dae, natuurlik, maar beslis het Hy ons nie die rug toegedraai wanneer die teëspoed ons tref nie.

      Hoe eentonig sou dit gewees het as dit net altyd met ons goed sou gaan. Lekker is dan later nie meer lekker nie. Meer nog, hoe gevaarlik sou dit nie vir ons gewees het as ons net sonskyndae geken het nie. Die natuur is die sprekende voorbeeld wat ons vertel dat niks kan voortbestaan as daar dag vir dag net sonskyn is nie. God weet dat die donker dae van onweerswolke en reënvlae ewe noodsaaklik is om die sondeurdrenkte aarde weer te benat sodat die lewe en groei kan voortgaan.

      Sal ons dan nie maar liewer die onweersdae in ons lewe ook as bedekte seëndae sien nie? Sal ons nie maar liewer aanvaar dat die dae van teëspoed ewe noodsaaklik vir ons heil is sodat ons weer opnuut benat kan word deur sy genade, weer opnuut ons afhanklikheid van Hom besef nie? Dán sal ons waarlik bly lewe en groei.

      Dankie, my Hemelvader, dat ek weet dat U ook in die reëndae by my is, want dan wil U my besonder seën sodat ek kan bly lewe en bly groei tot u eer. Amen.

      5 Januarie

Скачать книгу