Скачать книгу

n>

      

      ENA MURRAY

      Oos na die son

      Jasmyn

      1

      Pauli staan effens eenkant agter ’n palm terwyl haar blik oor haar gaste dwaal en dan met ’n troebel lig op ’n groepie te ruste kom wat, anders as die res van die vrolike partytjiegangers, in ernstige gesprek gewikkel is. Al weer Louw en sy wetenskaplike vriende! Kan hulle nie eens ’n uur lank vergeet van hul witgebleikte geraamtes, eeue oue fossiele en hiërogliewe en dies meer nie? wonder sy geïrriteer. Kan Louw nie net een enkele uur ophou om ’n wetenskaplike te wees en ’n mens word nie?

      Daar is iets soos stille wanhoop in haar gemoed terwyl sy haar blik ’n oomblik op haar man laat rus. Soos talle kere die afgelope jaar besef sy opnuut: Ons kan nie so voortgaan nie. Ék kan nie so voortgaan nie.

      Daar is ’n wrangheid om haar mondhoeke terwyl sy haar blik wegdwing en weer speurend oor haar gaste laat dwaal om seker te maak dat almal geholpe is en die aand geniet.

      Dit was ’n fout, hierdie partytjie, soos alles wat sy tot dusver gedoen het om Louw te probeer plesier. Sy het hierdie partytjie vanaand spesiaal beplan om Louw en sy vriende terug te verwelkom ná hul suksesvolle ekspedisie. Maar hulle het geen kontak met die ander mense, met háár vriende nie. Sy weet nou dat hy hom veel liewer saam met sy kollegas in sy studeerkamer sou wou terugtrek, waar daar geen gevaar bestaan dat hul interessante en geleerde besprekings onderbreek kan word nie. Hy dink nie eens daaraan dat hy ’n plig as gasheer het nie; dat hy sy eie vrou nog nie eens vir ’n dans gevra het nie …

      Teen hierdie tyd behoort sy al daaraan gewoond te wees dat sy net ’n skaduwee in professor Louw Hattingh se huis is, en tog … Daar is sekere dinge in die lewe waaraan ’n mens nooit gewoond kan raak nie. Mettertyd kom daar seker aanvaarding, maar tog breek daar oomblikke aan – oomblikke soos hierdie – waarin alles in jou opnuut in opstand kom … oomblikke waarin jy weet jy sal nooit, ooit daaraan gewoond kan raak om net ’n skaduwee in jou man se lewe te wees nie.

      Met ’n suggie van verligting sien sy dat die gesellige kring begin opbreek. Miskien sal Louw nou onthou dat dit eintlik sý partytjie is en dat hy êrens op die agtergrond ’n vrou het …

      Die klein vlammetjie van afwagting sterf ’n skielike dood toe sy sien hoe hy en die vrou wat so gesellig aan ’t gesels was, eenkant toe beweeg, nader aan waar sy staan.

      Pauli besef sy moet na haar gaste terugkeer, maar in plaas daarvan trek sy haar ’n bietjie dieper agter die palm in. Sy weet sy doen nou iets heeltemal buite haar aard om die gesprek tussen haar man en sy vrouekollega doelbewus af te luister, maar die drang in haar is onkeerbaar. Miskien sal sy by Zelia Meyer kan leer wat sy moet doen en sê om dieselfde blik van belangstelling in haar man se oë te wek.

      “Het jy enigiets noemenswaardigs op jou program die volgende twee, drie maande?” vra hy.

      Sy kyk belangstellend op. “Nee, nie juis nie. Hoekom?”

      “Ek gee jou een raaiskoot.”

      Daar is ’n oomblik stilte. Dan klink Zelia Meyer se stem opgewonde op: “Louw! Moenie vir my sê nie … ’n Nuwe ekspedisie!”

      “Kolskoot!” Louw se laggie klink warm en gemoedelik. “Wil jy ’n raaiskoot waag waarheen?”

      “Nee. Ek is nou te opgewonde om te kan raai. Asseblief, Louw, moenie my langer terg nie! Waarheen … en mag ek weer saamgaan?”

      “Dis die plan. Daarom dat ek jou gevra het of jy iets aan die gang het.”

      “Daar sal geen probleem wees nie. Die museum sal my nooit terughou van ’n ekspedisie nie, natuurlik op voorwaarde dat ek iets vir ons museum saambring! Maar sê nou, asseblief! Waarheen?”

      Pauli kan die terging duidelik in sy stem hoor toe hy eindelik antwoord, en dis asof die leë gevoel binne-in haar ’n nóg groter vakuum word. Sy kan nie onthou dat hy háár al ooit op so ’n gemoedelike toon geterg het nie. Maar dan, hulle het selde iets vir mekaar te sê. Hulle lewe in sulke aparte wêrelde …

      “Ook maar nuuskierig soos alle vroumense, nè? Nou goed. Hou vas jou hart. Hierdie keer gaan ons na Paaseiland!”

      “Paaseiland! Louw, maar dis … dis wonderlik! Ongelooflik! Dit was nog altyd ’n droom van my om eendag daar te kom en self na die rongo-rongo te delf en hulle met my eie hande uit die aarde op te diep. En nou … Wanneer gaan ons?”

      “Ek het gedink jy sou ingenome wees! Paaseiland bly nog altyd ’n groot uitdaging vir enige argeoloog en kriptograaf. Ons sal byna dadelik moet vertrek. Ek kan jou uiters veertien dae gee om jou gereed te kry en veiligheidshalwe moet jy drie maande verlof vra.”

      “Maar waar kom dit so skielik vandaan?”

      “Professor Islinger van New York het my gister gekontak. Van sy mense wat op die ekspedisie sou gaan, het siek geword en ’n ander het glo huislike probleme wat dit vir hom onmoontlik maak om te gaan. Die ekspedisie word geborg deur die regering van Chili, aan wie Paaseiland behoort, soos jy natuurlik self weet. Hy het onmiddellik aan my gedink as ’n moontlike plaasvervanger en ek het die kans natuurlik dadelik aangegryp. Ek het hom ook gesê dat ek hom straks die ander plaasvervanger sal kan gee, natuurlik met jou in gedagte.”

      “O, Louw, ek sal jou ewig dankbaar bly,” laat doktor Zelia Meyer ekstaties hoor.

      “Ek voel self opgewonde oor hierdie ekspedisie.” Die warm klank is nog steeds in die man se stem hoorbaar. “Ons sal ons nie baie bemoei met die opgrawing van die moai nie, want dié afdeling het die Thor Heyerdahl-ekspedisie van 1955 tot 1956 redelik goed gedek. Ons gaan uitsluitlik om die verborge grotte en familiegrafkelders te soek. Heyerdahl het wel tydens sy ekspedisie daarin geslaag om op ’n klompie van hierdie grotte en kelders af te kom, maar die vermoede is dat daar talle meer is waarvan selfs die eilandbewoners nie bewus is nie. Hulle is glo propvol gestapel – te oordeel na die paar waarop Heyerdahl afgekom het – met wonderlike vondste soos die rongo-rongo waaroor ’n kriptograaf soos jy in louter ekstase sal raak. Dan is die ontdekking van ’n seerowerskat natuurlik ook nie uitgesluit nie!”

      Hul lag mengel en hulle klink presies soos wat hulle is, twee tevrede mense, twee mense wat dieselfde taal praat …

      “Natuurlik! Dis nooit uitgesluit nie. Veral in Polinesië is dit iets wat altyd in die oog gehou moet word.”

      “Ja, en in besonder op Paaseiland. Die gelaatstrekke van die mense verraai dat daar ongetwyfeld in die vorige eeu ’n vermenging tussen die oorspronklike bewoners en seilvaarders moet plaasgevind het. Hulle is beslis nie suiwer Polinesies nie; jy kry onder hulle talle met baie ligte velle en blou oë, rooi hare en baard en so meer. En die seerowerskepe was mos eens volop in die Suidsee. Die Chileense regering glo ook dat daar ’n moontlikheid van so ’n ontdekking kan bestaan. Volgens professor Islinger het hulle gestipuleer dat, indien ons op so iets afkom, alles ten volle as eiendom van Chili gekonfiskeer en dit net so oorhandig moet word …”

      Pauli beweeg weg en meng haar weer ongemerk met haar gaste. Niemand wat die sjarmante gasvrou sien, sal dink dat haar aandag verdeeld is nie. Nie een van haar dansmaats vir die res van die aand sou kon droom dat sy ’n hart so swaar soos klip met haar saamsleep nie. Ook nie haar man toe hy ’n ruk later sy plig as gasheer onthou en teësinnig met die ander gaste begin meng nie.

      Louw se blik rus somber op Pauli waar sy en haar dansmaat van die oomblik die jongste ritteldans aan die geamuseerde gaste demonstreer om dan stokflou en laggend onder luide toejuiging eindelik op die naaste stoel neer te sak. Hy voeg hom ’n oomblik later by haar.

      “As jy iets stemmigers opsit, sal ek dalk kan byhou – dit wil sê, as jy nie nou te moeg is nie.”

      “Natuurlik is ek nie te moeg nie. Ek is gewoond aan dans.”

      Toe hulle op die maat van ’n stadige wals begin beweeg, kyk hy na haar af.

      “Dans jy dikwels wanneer ek weg is?”

      Sy kyk vinnig na hom op. Dis die eerste keer dat hy enigsins navraag doen oor wat sy doen wanneer hy weke lank weg is op ekspedisies. Sy frons nou liggies.

      “Ja. Ek gaan baie

Скачать книгу