ТОП просматриваемых книг сайта:
Wat sien ons in die spieël. Dirkie Smit
Читать онлайн.Название Wat sien ons in die spieël
Год выпуска 0
isbn 9780796316837
Автор произведения Dirkie Smit
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Só begin die beroemde Deense godsdiensskrywer en filosoof Søren Kierkegaard in 1854 ’n bekende verhaal in sy dagboek.
Elke Sondag, skryf hy, het die ganse saamgekom en ’n gansmannetjie het gepreek.
Die preek was elke keer wesenlik dieselfde. Dit het vertel van die wonderbare eindbestemming van alle ganse, van die edele roeping waarvoor hul Maker hulle geskep het. En elke keer dat sy Naam genoem word, het die ganse die hoof eerbiedig gebuig. Hulle moes hul vlerke gebruik om weg te vlieg na die verre weivelde waar hulle eintlik hoort; want hulle was slegs pelgrims op aarde.
Elke Sondag het presies dieselfde gebeur. Ná die samekoms waggel hulle almal huis toe, net om maar weer die volgende Sondag vir aanbidding byeen te kom, en daarna huis toe te waggel. Dit is so ver as wat hulle ooit gekom het. Hulle was voorspoedig en het vet, sappig en heerlik geword – en met Kersfees is hulle geëet. Daarby het dit gebly. Die preke het nooit tot iets gelei nie. Hoewel hulle Sondae indrukwekkende gesprekke gevoer het, het hulle Maandae vir mekaar vertel wat met die een gans gebeur het wat eenmaal dié roeping wat aan hulle voorgehou is, ernstig opgeneem en ondanks talle teenslae en swaarkry probeer het om die vlerke te gebruik wat die Skepper aan hom geskenk het.
Die ganse het geweet hulle het nooit sover gekom om die hoë roeping waarvan hulle so baie gehoor en gepraat het, te vervul nie. Maar nie een het dié onderwerp Sondae aangeraak nie, want dan, het hulle besef, sou dit ooglopend wees dat hulle die erediens net bygewoon het om God én hulleself te bluf. Kierkegaard gaan voort:
Party van die ganse het ’n bietjie sieklik gelyk en swaar gekry, en die ander ganse sou altyd sê: Sien julle nou wat kom daarvan as ’n mens dié vlieëry ernstig opneem? Dit is juis omdat hulle heeltyd oor vlieg dink dat hulle so maer word en so treurig lyk. Daarom is hulle nie so geseën deur God se genade soos ons nie, want dit is immers hoekom ons so vet, sappig en heerlik word.
En so is hulle die volgende Sondag weer almal erediens toe, en die ou mannetjie het weer gepreek oor die wonderbare roeping waarvoor hul Maker hulle gemaak het (en by die aanhoor van sy Naam het al die ganse eerbiedig die hoof gebuig), en waarom hulle almal vlerke ontvang het.
En dieselfde, sluit Kierkegaard af, is waar van die aanbidding in die Christelike kerk.
2 Kierkegaard se gelykenis handel oor presies dieselfde saak as waaroor Jakobus hier skryf: die spanning tussen “hoor” en “doen” (1:19-25); én die spanning tussen “glo” en “doen” (2:14-26).
Dié een konflik is onderliggend aan al die ander waaroor Jakobus in sy brief praat. Al die ander spannings wat die gemeente onderling en die gelowiges innerlik verdeel en verskeur het, kan teruggevoer word tot die probleem dat hulle dit wat hulle hoor, nie dóén nie; en dit wat hulle glo, nie lééf nie.
3 Aan hierdie woorde van Jakobus oor die dóén van ons godsdiens het die Christendom nog altyd maar swaar gesluk. Veral vir Protestantse predikers was dit vreemde idees waaroor hulle nie graag gepreek het nie. Die Protestantisme volhard immers in die leerstelling dat ons alleen uit genade gered word, sonder die werke. Daarom het Luther selfs gesê dit is “ ’n brief van strooi” dié, ’n klomp onchristelike kaf …
Tog bly dit ’n wesenlike deel van die evangelie. ’n Mens hoor daarin eggo’s van die prediking van Jesus self, soos in die Evangelie van Matteus (vgl. bv. Matt 25:31 e.v.). Dit moet juis in die Christelike kerk gehoor word dat geloof sonder dade dood is. As die Protestantisme dit vergeet, verloor hy die evangelie.
In sy ontroerende boek The Cost of Discipleship onderstreep die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer hierdie waarheid vir die kerk van sy dag: Die genade is duur. Geloof vra dissipelskap. Wie glo, is gehoorsaam; en slegs wie gehoorsaam is, glo waarlik. In Jakobus se woorde: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?
Wat help dit?
Bonhoeffer sou, in aansluiting by Kierkegaard, sê die Protestantisme verloën die evangelie maklik deur die genade goedkoop te maak; deur die regverdiging van die sonde te verkondig in plaas van die regverdiging van sondaars; deur soveel klem op geloof te plaas dat die werke van die geloof nie langer nodig lyk nie. Bonhoeffer sê dit is ’n klein aksentverskuiwing, maar dit het skrikwekkende gevolge: Regverdiging uit genade word verkondig, maar met die totale vernietiging van die betekenis daarvan.
Dan haal hy Kierkegaard aan: “Wanneer Faust aan die einde van sy lewenslange stryd om kennis en insig te bekom, sê: ‘Ek sien nou ons kan niks te wete kom nie,’ is dit die resultaat van ’n baie lang proses – en tog iets totaal anders as wanneer ’n lui eerstejaarstudent dieselfde sou sê om sy of haar luiheid te probeer regverdig.”
As resultaat is so ’n uitspraak waar, maar as uitgangspunt is dit selfbedrog. Só is dit met die navolging van Christus, sê Bonhoeffer: Slegs diegene wat waarlik probeer om Jesus na te volg, weet wat dit is om uit genade alleen geregverdig te wees. Maar hulle wat “genade” en “geloof” by voorbaat as uitgangspunt wil gebruik om dade van gehoorsaamheid te vermy, bedrieg hulleself.
In die tradisie van Bonhoeffer en Kierkegaard word daar dikwels ’n onderskeid gemaak tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus. Bewonderaars is mense wat Jesus se lewe en lerings respekteer, graag daaruit aanhaal, Hom hoogag saam met die uitnemendste onder die mense en graag na sy woorde luister. Leerlinge is mense wat sy lerings bestudeer, dit van binne-uit ken, daaroor kan praat, ander daarin kan onderrig. Maar dissipels is diegene wat lotsverbonde is met Jesus, wie se lewe geraak en verander is deur sy lewe en sy Heilige Gees, wat nie langer vir hulleself leef nie, maar vir Hom en vir ander.
Wat Jakobus van die gemeente vra, is dat hulle dissipels sal wees: mense wat doen en uitleef wat hulle hoor en glo.
4 Die waarheid aangaande die gemeente aan wie Jakobus skryf, is dat hulle onbewus was daarvan dat hulle nie gedoen het wat hulle gehoor en geglo het nie.
Dit is die allerergste. Die grootste bedreiging vir die Christelike kerk is dat ons nie agterkom hoe ver ons soms in gebreke bly om volgens die evangelie te leef nie. Ons is salig onbewus van die gapende kloof tussen wat ons bely en wat ons is. Ons besef nie hoe erg die konflik tussen ons oortuigings en ons lewenspraktyke is nie.
As ’n mens die Jakobusbrief mooi lees, blyk dit duidelik. Jakobus beskuldig nie sy lesers daarvan dat hulle boos of vals of huigelaars of bedrieërs is omdat hulle goed weet hul lewe pas nie by hul oortuigings nie. Hoegenaamd nie. Hy spreek hulle saggies aan, liefdevol. Telkens noem hy hulle “broers”. Hy erken hul Christenskap. Hy erken hul geloof. Hy weet hulle is belydende gelowiges wat dit goed bedoel. Hy weet hulle kry swaar onder stryd, meningsverskille, beproewings en versoekings. Hy weet dat hulle nie aldag mooi raad weet nie, dikwels onseker is oor wat om te doen, hoe om te reageer, hoe om die dinge wat gebeur en mekáár te hanteer. Hy weet hulle ervaar ernstige konflik wat dreig om hulle en die gemeente te verskeur. Daarom wil hy hulle help. Hy wil hulle die weg van die waarheid wys.
Maar hy sien ook die eintlike rede vir dié konflikte is juis dat hulle nie uitleef wat hulle glo nie. Hulle doen nie wat hulle bely nie. En hulle weet dit nie eens nie.
Gevolglik wil hy nie iets nuuts vir hulle sê nie. Soos ’n tipiese Joodse wysheidsleraar wil hy hulle bloot herinner aan iets wat hulle reeds weet, bely en glo, en trouens dink dat hulle dit doen. Hy wil hulle help om te sien dat hulle dit nié regtig doen nie … Hy wil hulle uithelp uit hul verblindheid.
Dit is presies wat die Heilige Gees vir die kerk wil doen: Hy wil ons lei in die volle waarheid; ons oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel; ons verstand verlig. Hy wil ons al hoe meer verander na die beeld van Christus.
5 Om sy hoorders van hierdie spanning bewus te maak, volg Jakobus ’n duidelike strategie. Reeds hier in die begin sê hy vir hulle wat hy gaan doen: Hy gaan hulle help om in ’n spieël te kyk … in die hoop dat hulle hulleself sal herken. Hy gaan telkens van dramatiese illustrasies gebruik maak, denkbeeldige voorbeelde skets, “sê nou maar net”-verhale vertel … in die hoop dat hulle hul lewe daarin weerspieël sal sien. Hy gaan meermale die spieël van die evangelie voor hulle ophang. En