Скачать книгу

presies wat hierdie geleentheid kan wees, Breggie. ’n Verandering van omgewing, ’n nuwe uitdaging.”

      “Op die oomblik is dit vir my ’n uitdaging om uit die bed te klim en deur die dag te kom. Ek sien nie kans vir ’n nuwe lewe nie.”

      “Ek weet. Dis hoekom jy al jou opgehoopte verlof geneem het. Blykbaar was jy die afgelope tyd nie veel werd op kantoor nie.”

      “Ja, dit was maar moeilik om opgewonde te raak oor ander mense se bates en laste en allerhande syfertjies wat voor my oë dans.”

      “Jy treur te lank oor iemand wat dit nie werd is nie, as jy my vra.”

      “Niemand vra jou nie, Erik. Los my uit! Ek sorg vir myself en ek pla niemand nie.”

      “Ja, maar jou neseiertjie sal nie vir ewig hou nie.”

      “Is dít waarvoor jy bang is – dat ek op jou nek sal kom lê?”

      “Jy weet dis nie so nie. Ek het tog aangebied dat jy by my moet intrek toe jou eie toekomsplanne sneuwel. Maar jy het verkies om hier ...” Hy wys met sy hand om hom. “Om hier aan te bly, hier waar die hele ou treurspel plaasgevind het.”

      Hy frons, staan skielik op. “Dit kán nie gesond wees nie, Breggie. Hier gaan jy nooit weer heel word nie. Hier in hierdie plek met al sy herinneringe! Liewe hel, selfs ék wil nie eens meer hier kom nie! Eintlik wil ek ’n toeval kry die oomblik wat ek by die deur instap en die lazyboy-stoel sien waar die heer en meester hom altyd tuisgemaak het. Die bliksem! Uitgestrek op sy bas asof die wêreld aan hom behoort, met jou aan die rondhol asof hy die koning van Kammaland is en jy een van sy diensmaagde.” Hy snork. “Behalwe dat jy nie meer ’n diensmáágd in die ware sin van die woord kon wees nie. Daarvoor het die bliksem ook gesorg.”

      “Don’t go there, Erik!” Breggie se stem is gevaarlik sag. “Asseblief. Ek sien nie vandag kans vir daardie blik wurms nie.”

      Hy gooi sy hande in die lug. “Dis net dat ek so die duiwel in raak dat ek wil moor.”

      “En ek, ou broer, en ek.” Sy gee ’n laggie, die spanning vir eers effens gebreek.

      Sy sal tog maar koffie maak, want sy ken haar broer: hy byt vas soos ’n foksterriër aan ’n skroplap en sal nie sy loop kry voordat hy nie vir haar gepreek het nie. Sy ken al die storie! Sy kan nie toelaat dat hierdie ding haar onderkry nie, sy moet die verlede vergeet en aangaan met haar lewe, kyk noord en foeter voort, bla-bla-bla.

      Erik het sy roeping gemis. Op sy unieke manier, wat nie altyd so suksesvol is nie, leef hy hom behoorlik ín in die rol van Barmhartige Samaritaan. Dis net dat hy nie verstaan dat nie alle mense wat langs die pad uitgesak het en daar opgebondel lê, opgehelp wíl word nie.

      “Wel, ou Breg,” flikflooi hy toe sy vir hom sy koffie aangee, “eintlik het jy al klaar aansoek gedoen vir die pos.”

      “Hoe so?”

      “Ek het namens jou aansoek gedoen. Jou CV bygewerk en vir die ou ge-e-pos, ensovoorts.”

      “Wat? Hoe kón jy? Dit was uiters arrogant van jou! Voortvarend ook!”

      Sy gee hom ’n oorveeg agter die kop. Nie hard genoeg om hom seer te maak nie, maar darem so dat hy moet weet sy keur sy gedrag nie goed nie.

      “Jy doen dit nooit weer nie, hoor jy? Ek sweer dis onwettig! Dis bedrog!” Sy skud haar kop ongelowig. “Gelukkig is die kanse skraal dat ’n oogkundige in Londen sal belangstel in ’n rekenmeester van Suid-Afrika as ontvangsdame.”

      “Hy soek juis na ’n Suid-Afrikaanse meisie.”

      “Seker omdat die meeste ou meisietjies hier skoon lam in die bene raak wanneer hulle teen die huidige wisselkoers in goue ponde betaal word.”

      “Jy kan self doen met ’n paar goue ponde, Sus.”

      “Ja, toe, moenie dit nog invryf nie.” Sy gluur hom aan. “Ek word so kwaad as ek aan die onreg daarvan dink. Ek het alles gehad: ’n grootskermtelevisie, ’n wasmasjien, tuimeldroër, skottelgoedwasser, alles waaroor ’n moderne huisvrou moet beskik om die lewe vir haar maklik te maak. En nou ... skielik sit ek met die helfte van my aardse skatte en gate teen die mure waar die res moes gestaan het.” Sy glimlag flou. “En ’n lazyboy waarin niemand meer sit nie.”

      “Wel, jy het nou die kans om dit te verander. Suid-Afrikaners se werksetiek is orals gesog, blykbaar ook by hierdie dokter Graham Condor.”

      “Graham Condor? Dit klink taamlik Engels.”

      “Al sy korrespondensie was in Afrikaans, sonder enige spel- of taalfoute.”

      “Wat sou die ou se storie wees?” wonder sy hardop.

      “Nee, ek weet nie.” Erik teug aan sy koffie. “Al wat ek weet, is dat jy ’n goeie kans staan om die pos te kry.”

      Breggie is dadelik agterdogtig. “Hoekom? Wat bedoel jy?”

      “Dokter Graham Condor het laat weet jy is op die kortlys.”

      “Ag, asseblief, dit klink so pretensieus ek kan daarvan stik. Die kortlys, nogal! Daardie kortlys is heel moontlik besonder kort. Ek, of altans jy, was dalk die enigste aansoek wat hy gekry het.”

      “Ek dink weer hy is toegegooi onder die aansoeke. Die advertensie klink besonder aanloklik.”

      Breggie trek die vel papier vieserig nader, skuif haar bril reg en lees vir die eerste keer behoorlik wat daarop staan.

      “Mmm, hy laat dit vreeslik aanloklik klink,” gee sy toe. “Hy beplan glo binnekort ’n sabbatsjaar waarin hy van plan is om te reis en sy assistent gaan hom vergesel. Die doktertjie wil heeltyd met sy handjies gevou sit. Die ontvangsdame-cum-assistent-cum-slaaf waarna hy soek, moet al sy reis- en verblyfreëlings vir hom tref en saam met hom piekel waarheen hy ook al sy skrede wil wend.”

      Sy snork onvroulik. “Seker nog sy tasse ook vir hom dra. Hy wil net by die lughawe opdaag en in die vliegtuig klim, en aan die ander kant moet daar vir hom ’n sagte ou bedjie gereed staan sodat hy net kan inkruip en die slaap van ’n onskuldige kan slaap.”

      “Hy gaan nie net sit en niksdoen nie. Hy word gereeld vir praatjies genooi en gee ook lesings aan verskeie universiteite in die Verenigde Koninkryk. ”

      “Ek wonder waarheen hierdie reise van hom sal wees,” mymer Breggie. “Heel moontlik na verre, vreemde, afgeleë plekke waar dit jare laas gereën het en waar niemand dood gesien wil word nie.”

      Erik lag. “Jy is vasberade om negatief hieroor te wees, nè? Nou ja, jy kan die dokter uitvra oor hierdie verre, vreemde plekke waar niemand dood gesien wil word nie wanneer jy vandag met hom gesels.”

      Breggie gooi haar hande in die lug. “Wat het jy nóg alles aangevang? Hoekom sal ek vandag met die vermaarde dokter – met wie ek hoegenaamd niks te doen wil hê nie – moet gesels?”

      2

      Erik se verduideliking verstom Breggie van voor af. Sy blaai deur die drukstukke van die korrespondensie tussen hom en dokter Condor. Tot by die laaste e-pos waarin die dokter bevestig dat hy vandag sal bel vir ’n telefoononderhoud.

      Breggie stik in haar koffie. “Werklik, Erik, jy oorskry alle grense van wat toelaatbaar is onder die vaandel van goeie bedoelings! Wat moet ek vir die man sê? Ek het lus en antwoord eenvoudig nie die telefoon nie.”

      “Graham Condor stel belang in jou aansoek, Sus. Hy sal aanhou bel totdat jy antwoord.”

      “Hy verwag seker van my om sy boeke vir hom te doen, dalk nog te kook ook,” mymer sy nadenkend. “Hoekom anders sal hy ’n rekenmeester wil aanstel om sy administratiewe sake vir hom te reël? Enige bobbejaan wat ’n almanak kan lees en ’n telefoon kan beman, kan dit doen.” Sy frons bekommerd. “Dêmmit, Erik, jy weet ek kan nie by so iets betrokke raak nie!”

      Hy kry haar aan die skouers beet. “Haai! Hokaai, Breggie! Luister na jouself. Jy’s heeltemal oorstuur. Dalk is dokter Condor ’n doodgewone man wat

Скачать книгу