Скачать книгу

lê ’n ruk lank stil, en kyk op na die sterre en dink.

      “Ek onthou een aand toe ek op Annie Steyn se stoep gestaan het en met haar oor die sterre gepraat het,” sê Jan Ockerse later. “Ek wou met die vee Limpopo toe trek oor die droogte. Ek het vir Annie gesê ek sal weg wees tot die reëns kom, en ek het vir haar gesê sy moet elke aand, terwyl ek weg is, na ’n sekere ster kyk en aan my dink. Ek het haar gewys watter ster. Daardie drie sterre dáár, wat so na aan mekaar sit, in ’n lyn. Sy moet my onthou met die middelste een, het ek gesê. Maar Annie het verduidelik dat Willem Mostert, wat ’n week tevore Limpopo toe getrek het, reeds die middelste ster gekies het waarmee sy hom moet onthou. Nee, maar reg, antwoord ek, die boonste ster sal ook deug. Maar Annie verduidelik dat daardie een reeds aan Stoffel Brink behoort. Op die ou end stem ek in dat sy my aan die onderste ster kan onthou, en Annie sê nog hoe sy na die onderste van die drie sterre sal kyk en aan my dink, toe haar pa, wat skynbaar die hele tyd agter die deur staan en luister het, op die stoep uitkom en vra: ‘Wat van bewolkte aande?’ op ’n manier wat hy gedink het hom baie slim laat klink.”

      “Wat gebeur toe?” vra ek vir Jan Ockerse.

      “Annie was baie vies,” sê hy, “sy het vir haar pa gesê hy loop en bederf altyd alles. Sy’t hom gesê hy is regtig nie in die minste snaaks nie, aangesien ek die derde jongkêrel is vir wie hy dieselfde ding sê. Sy’t gesê dit maak nie saak hoe verspot ’n jongkêrel mag wees nie, haar pa het nie die reg om hom nog meer verspot te laat lyk nie. Dit was goed om te hoor hoe Annie vir my opkom. In elk geval, wat daarna gebeur het, is ’n lang storie. Ek het Willem Mostert en Stoffel Brink by die Limpopo raakgeloop. En ons het ’n klompie maande saam daar gebly. En dit moes seker ’n vreemde gesig gewees het om drie jongkêrels elke aand rondom ’n kampvuur te sien sit en opkyk na die sterre. Ná ’n ruk het ons bevriend geraak, en toe die reëns kom, het die drie van ons na die Marico teruggetrek. En ek het uitgevind dat Annie se pa reg was. Oor die bewolkte aande, bedoel ek nou. Want ek verstaan dat Annie op presies so ’n soort aand Johannesburg toe weggeloop het saam met ’n bywoner wat werk op die myne gaan soek het.”

      Jan Ockerse sug en mymer voort.

      Maar so tussen die gesels en geslaap deur, glip die meeste van die nag verby. Ons hou teen daardie tyd net een vuur aan die gang, en ek en Jan Ockerse maak beurte om hout op die vuur te sit. Dit raak baie koud net voor dagbreek, en ons bewe al twee.

      “In elk geval,” sê Jan Ockerse ná ’n wyle, “nou weet jy waarom ek in die sterre belangstel. Ek was ’n jong man toe dié dinge gebeur het. En ek het baie min mense daarvan vertel. Omtrent sewentien, sou ek sê. Die ander wou nie luister nie. Maar altyd, op ’n helder nag, wanneer ek daardie drie blink sterre so op ’n ry sien, dan kyk ek lank na daardie onderste ster, en dis asof daar iets baie vriendeliks is aan die manier waarop dit skyn. Dis mý ster daardie, voel ek, en sy lig is anders as die ander sterre se lig … en weet jy, Schalk, Annie Steyn het sulke rooi lippe gehad. En sulke lang, sagte hare, Schalk. En daar was haar glimlag.”

      Later begin die sterre dowwer raak en ons kry die donkies bymekaar en maak gereed om te vertrek. En ek wonder wat Annie Steyn daarvan sou dink as sy moes weet dat daar al hierdie jare ’n man was wat op helder aande na die sterre opgekyk het, en van haar lippe en haar hare en haar glimlag gedroom het. Maar die oomblik toe ek daaroor nadink, ken ek ook die antwoord. Natuurlik sou Annie Steyn niks van Jan Ockerse dink nie. Absoluut niks.

      En Annie was ongetwyfeld reg ook.

      Maar dit was vreemd om te dink ons het ’n hele nag oor die sterre gepraat. En tot op daardie oomblik het ek nie geweet dit was as gevolg van ’n liefdesverhaal van baie lank gelede nie.

      Ons klim op die donkiekar en begin die pad huis toe soek.

      “Ek weet daardie onderwyser in die kroeg op Zeerust was heeltemal verkeerd,” sê Jan Ockerse oplaas, “toe hy probeer verduidelik het hoe ver die sterre is. Die onderste een van die drie sterre – daar het dit so pas verdwyn – is baie naby aan my. Ja, baie naby.”

      PRAG EN PRAAL OP RAMOUTSA

      NEE, SÊ OOM SCHALK LOURENS, nee, ek weet nie waarom mense my altyd vra om vir hulle stories te vertel nie. Selfs al weet hulle dat ek beter stories as enigiemand anders kan vertel. Baie beter. Wat ek bedoel is, ek wonder waarom mense so graag na stories luister. Dis maklik om te begryp waarom ’n man my sou vra om vir hom ’n storie te vertel wanneer daar droogte in die Marico is. Want dan kan hy op die stoep sit en pyp rook en koffie drink terwyl ek praat, en my storie sorg dat hy nie in die warm son boorgat toe hoef te gaan om vir sy vee water te pomp nie.

      Aan die ernstige manier waarop die boere van die Marico my sekere tye vir stories vra, weet ek altyd dat daar nie ’n bries is om die windpomp te draai nie, dat die pomphandvatsel swaar is en dat die water baie diep ondertoe lê. Sulke tye sien ek dikwels daardie hartseer trek wat in ’n man se oë kom wanneer hy weet ek is naby die einde van my storie en hy sal binnekort na sy hoed moet reik.

      En as ek my storie klaar vertel het, sê hy, “Ja, oom Schalk. Dis die weg van die wêreld. Ja, daardie storie loop diep.”

      Maar ek weet hy was heeltyd eintlik besig om te dink aan hoe diep die water in die boorgat lê.

      Soos ek gesê het, dis wanneer mense my om ander redes vir ’n storie vra dat ek begin wonder, soos nou. As hulle my vra daardie tye wanneer daar geen ploegwerk is om te doen nie en geen doringdraad om in die hitte van die dag te span nie. En ek dink hierdie redes lê baie dieper as enige van my stories en dieper as die water in die boorgate wanneer daar droogte is.

      Vat nou maar vir jong Krisjan Geel, byvoorbeeld. Hy het op ’n keer na ’n storie geluister. Dit was natuurlik dwaas van hom om te luister, veral aangesien dit nie ek was wat die storie vir hom vertel het nie. Hy het dit by die koelie agter die toonbank van die winkel op Ramoutsa gehoor. Krisjan Geel het hierdie storie aan my oorvertel, en ek het hom reguit gesê dat ek nie veel daarvan dink nie. Ek het gesê enigeen kan reg van die begin af raai waarom die prinses langs die put sit. Enigeen kan sien sy het nie soontoe gegaan net omdat sy dors was nie. Ek het ook gesê die storie is te lank, en selfs al was ek besig om aan iets anders te dink, sou ek dit steeds op so ’n manier vertel het dat die mense tot aan die einde daarna sou wou luister. Ek het heelparty ander dinge van dié aard uitgewys.

      Krisjan Geel het gesê hy het geen twyfel dat ek reg is nie; die man wat hom die storie vertel het, was maar net ’n koelie, maar miskien was dit nie te sleg vir ’n koelie nie. Hy het ook gesê daar was heelwat klante in die winkel, wat dit nóg moeiliker gemaak het vir die koelie om sy storie behoorlik te vertel, want hy moes die hele tyd op ’n baie ongemaklike manier staan, so met sy voet op die skaal, terwyl hy negosiegoed afweeg.

      Uit sy stemtoon het dit geklink asof Krisjan Geel nogal jammer gevoel het vir die koelie.

      Daarom het ek hom baie ferm aangepraat.

      “Die koelie in die winkel op Ramoutsa,” sê ek, “het my voorheen veel beter stories vertel. Hy het my op ’n keer vertel dat daar geen gebrande mielies ingemeng was by die koffiebone wat hy aan my verkoop het nie. Nog een wat amper so goed was, was toe hy gesê het –”

      “En om te dink die prinses het by die put sit en wag,” onderbreek Krisjan my, “net omdat sy op ’n dag die jong man daar gesien het.”

      “– Nog ’n goeie een,” hou ek vol, “was toe hy gesê het daar’s geen Kalaharisand in die sak geelsuiker wat ek by hom gekoop het nie.”

      “En sy het hom net een keer gesien,” gaan Krisjan Geel voort, “en sy was ’n prinses.”

      “– En ek moes die meeste van daai suiker vir die varke voer,” sê ek, “dit het nie gesmelt of die koffie soet gemaak nie. Dit het soos modder op die bodem van die koppie bly lê.”

      “Sy het by die put gewag, want sy was verlief op hom,” eindig Krisjan Geel sy storie flouerig.

      “– Ek het dit sommer met die varke se semels gemeng,” sê ek, “hulle vreet baie vinnig. Dis snaaks hoe vinnig ’n vark vreet.”

      Daarna het Krisjan Geel niks verder gesê nie.

Скачать книгу