Скачать книгу

se naam nie, sy seun wat dit nie werd is om ’n Van Barnevelt te wees nie.

      Daarna gaan ons uitmekaar. Ons veldkornet is die eerste om ge­vange geneem te word. En ek het dikwels gedink hy voel seker baie alleen op St. Helena. Want daar was geen kaffers vir wie hy die pad uit die doringdraadkamp kon vra nie.

      Toe kom ons leiers uiteindelik op Vereeniging byeen, en vrede word verklaar. En ons keer terug na ons plase, verlig dat die oorlog verby is, maar met swaar harte, wetend dat dit alles verniet was en dat die Vierkleur nie weer oor Transvaal sal wapper nie.

      En Floris van Barnevelt sit die afdruk van sy familiestamboom wat hy regdeur die oorlog in sy knapsak saamgedra het, terug op sy plek teen die voorkamermuur. Toe kom daar ’n nuwe skoolmeester na hierdie deel van die Marico, en ná ’n lang gesprek met Floris, skryf die meester agter Stephanus se naam, tussen twee krom strepies, die twee woorde wat jy nou nog daar kan lees: “Obiit Mafeking”.

      As jy dus enige persoon hier rond vra wat “obiit” beteken, sal hy jou dadelik kan sê dat dit ’n uitheemse woord is, en dat dit beteken om na die Engelse toe te ry met jou mauser in die lug en ’n wit vlag aan die loop vasgebind.

      Maar dis eers lank daarna dat Floris van Barnevelt sy storie begin vertel.

      En toe steur niemand hulle aan hom nie. En hulle wil nie toelaat dat hy vir die Drogevlei-skoolkomitee benoem word nie omdat ’n man wat sulke onverantwoordelike dinge sê, sekerlik nie reg in sy kop kan wees nie.

      Maar ek weet dat Floris ’n goeie storie het, en al wat fout is daarmee, is dat hy dit sleg vertel. Hy noem die Drogevlei-skoolkomitee te gou. En hy klop die as op die verkeerde plek uit sy pyp. En hy hou aan om daardie deel van die storie te vertel wat hy eintlik moet uitlaat.

      STERLIG OP DIE VELD

      DIT WAS ’N KOUE NAG (sê oom Schalk Lourens), die sterre het geskyn met daardie ysige soort lig wat jy party oggende op nat gras sien, wanneer jy vergeet dis winter, en jy staan per abuis vroeg op. Die wind was soos ’n meisie wat snikkend haar storie van verraad aan die sterre vertel.

      Ek en Jan Ockerse was Derdepoort toe met die donkiekar, en ons het eers die aand teruggekom. En Jan Ockerse vertel my van ’n pad om die voet van ’n koppie wat ’n kortpad is terug Drogevlei toe. So sit ons toe in die veld, naby die vuur, en wag vir die oggend. Want dan sal ons ’n kaffer kan vra om ons ’n kortpad terug na die voet van daardie koppie te beduie.

      “Maar ek weet dis die regte pad,” hou Jan Ockerse vol en gooi nog ’n arm vol hout op die vuur.

      “Dan moes dit die verkeerde koppie gewees het,” antwoord ek, “of die verkeerde donkiekar. Behalwe as jy wil hê ek moet glo dat ek op hierdie oomblik in my voorkamer by die huis sit.”

      Die vlamme se lig dans bleek op die speke van ’n donkiekarwiel, en ek is bly om te dink Jan Ockerse kry net so koud soos ek.

      “Dis ’n snaakse soort nag,” sê Jan Ockerse, “en ek is honger en ek voel ellendig.”

      Ek is daaroor ook bly. Ek het begin vrees dat hy dit dalk geniet.

      “Weet jy hoe hoog is die sterre?” vra Jan my toe.

      “Nee, nie van hier af nie,” sê ek, “maar ek het dit eenkeer uitgewerk, toe ek ’n potlood gehad het. Maar dit was op die Hoëveld. Van waar ons nou is, in die Laeveld, is die sterre verder weg. Jy kan mos sien hulle lyk kleiner.”

      “Ja, ek reken so,” antwoord Jan Ockerse, “maar ’n onderwyser het my in die kroeg op Zeerust iets anders vertel. Hy’t gesê die sterrekykers werk uit hoe ver ’n ster is deur te kyk na die aantal jare wat dit hulle vat om dit in hulle teleskope te kry. Daardie onderwyser het sy vinger in die brandewyn gesteek en ’n klomp prente en goed op die kroegtoonbank geteken om my te wys hoe dit gedoen word. Maar een deel van sy tekeninge het altyd opgedroog voordat hy klaar was om die ander deel met sy vinger op die toonbank te teken. Hy het gesê dis die ergste van daardie soort droë brandewyn. Maar hy het nie sy verduideliking klaargemaak nie, want die kroegmeisie het alles met ’n lap kom afvee. Toe sê die onderwyser ek moet saamkom, dan sal hy die swartbord in die ander klaskamer gebruik. Maar die kroegmeisie wou nie toelaat dat ons ons glase in die privaat kroeg invat nie, en dit was ook min of meer toe dat die onderwyser neergeslaan het.”

      “Klink vir my na een van daardie nuwe soort onderwysers,” sê ek, “die soort wat kinders leer dat die aarde om die son draai. Ek is verbaas hulle het hom nie afgedank nie.”

      “Ja,” antwoord Jan Ockerse, “hulle het.”

      Ek was net so bly om dit te hoor.

      Dit het gelyk of daar ’n watergat naby ons uitspanplek kon wees. Want ’n paar jakkalse het droefgeestig begin tjank. Jan Ockerse het opgespring en nog hout op die vuur gepak.

      “Ek hou nie van daardie wildediergeluide nie,” sê hy.

      “Dis net jakkalse, Jan,” sê ek.

      “Ek weet,” antwoord hy, “maar ek dink aan ons donkies. Ek wil nie hê ons donkies moet skrik nie.”

      Skielik kom daar ’n diep gegrom uit die donker bos. En dit klink ook nie na ’n besonder droefgeestige gegrom nie. Jan Ockerse werk toe baie vinnig met die hout.

      “Dalk sal dit nog beter wees as ons twee vure maak en tussen hulle gaan lê,” sê Jan Ockerse. “Ons donkies sal minder skrikkerig voel as hulle sien ek en jy is veilig. Jy weet hoe ’n donkie se kop werk.”

      Die lig van die vuur skyn flou op die geraamtes van die hoë bome wat deur die rysmiere gevreet is, en ons het gou twee vure aan die gang. Teen die tyd dat die tweede diep gegrom uit die bos ons bereik, het ek ’n vuur gemaak wat selfs groter as Jan Ockerse s’n is, ter wille van die donkies.

      Daarna raak dit weer stil. Daar is net die wind wat die doringtakke roer, en die geritsel van goeters wat mens maar snags in die Bosveld hoor.

      Jan Ockerse lê op sy rug en sit sy hande onder sy kop, en kyk nogmaals op na die sterre.

      “Ek het gehoor dat die sterre wêrelde is, net soos ons s’n,” sê hy, “en dat daar selfs mense op hulle woon.”

      “Ek dink nie hulle sal geskik wees vir mielies kweek nie,” antwoord ek, “hulle is te hoog op. Soos die rante van die Sneeuberg in die Kaap. Maar hulle sal seker goeie perde- en beeswêreld wees. Dis die probleem met hierdie laagliggende distrikte, soos die Marico en die Waterberg: Daar is te veel perdesiekte en tsetsevlieë hier.”

      “En skoenlappers,” sê Jan Ockerse slaperig, “met goue vlerke.”

      Ek raak ook kort daarna aan die slaap. En toe ek wakker word, is die vure amper dood. Ek staan op en gaan haal nog hout. Dit neem egter ’n tydjie om Jan Ockerse wakker te kry. Omdat ek die verkeerde soort velskoene dra, met sagte punte. Eindelik sit hy regop en vryf sy oë; en toe sê hy natuurlik hy’t heelnag wakker gelê. Wat hom so seker maak hy het nie geslaap nie, sê hy, is dat hy hom die hele tyd verbeel het hy jaag brommers tussen die sterre.

      “En ek sou hulle gevang het ook,” voeg hy by, “as dit nie was dat ’n vreemde ding met my gebeur het terwyl ek van een ster na die ander spring nie. Dit was amper asof iemand my skop.”

      Jan Ockerse kyk my agterdogtig aan.

      Ek vertel hom toe dat dit duidelik is dat hy gedroom het.

      Toe die vure hoog met hout gestapel is, sê Jan Ockerse weer dat dit ’n vreemde nag is, en hy begin weer oor die sterre praat.

      “Wat dink jy maak matrose op see, Schalk,” sê hy, “as hulle nie die pad ken nie en daar is nie ander skepe in die omgewing om te vra nie?”

      “Alles word vir hulle in rooi en blou op ’n stukkie papier neer­geskryf,” antwoord ek, “en daar is swart lyne wat jou die roete wys van die Kaap na St. Helena. En syfers om jou te sê hoeveel myl die skip sal afsak as dit sou sink. Ek was St. Helena toe tydens die Boereoorlog. Jy kan op ’n skip leef nes op ’n ossewa. ’n Skip is net nie so gerieflik nie. En die uitspanplekke lê verder uitmekaar.”

Скачать книгу