Скачать книгу

      Eers verstaan Mieta nie waarvan hy praat nie, maar toe lag sy saggies. “Ek dag dis iets anders wat jy wou vra. Nee, jong, al wat ek gebedoel het, is dat baie van onse mense nog nooit in die Kaap was nie, en as ’n meisiekind nou van daar af terug­kom, en sy lyk soos Jakkelien, dan kry sy nie verby ’n huis geloop nie of al die kle’meide sak haar toe en hulle ‘oe’ en ‘aaa’ oor haar rok en wil alles weet wat sy in die stad gesien en gedoen het.”

      “O.”

      “Nou ja, staan eenkant toe, ek het werk.”

      “Daar’s nog ’n ding, Mieta.”

      Sy sit die vadoeke op die tafel neer. “Hier kom dit nou,” sê sy.

      “Het Jakkelien dan nou vir Freek …” begin Sagie, maar kom nie verder as dit nie, want Barend se voetstappe klink uit die gang op: “Loop was jou hande en gesig dat ons kan eet, Sagrys,” sê hy toe hy in die kombuis kom.

      Sagie byt op sy tande en maak soos sy pa gesê het. “Deshit,” sê hy terwyl hy sy gesig was. Hy spits sy ore vir wat in die kombuis gepraat word, maar hy kan geen woord uitmaak nie. Al wat hy uiteindelik wel hoor, is: “Ek is bly, Mieta, jy kan trots wees.”

      “Trots wees op wat, Pa?”

      “Sê hom tog, om vadersnaam, Mieta, anders is hy weer heel­dag lank pure opgewende grammofoon.”

      Mieta glimlag. Sy lyk baie gelukkig. “Freek het sy matriek deur die pos gemaak, Sagrys.”

      Sagie slaan sy hande saam. “Swérnoot! Dis onse Freek daai, hè, Pa? Hè, Mieta? Jy’t mos altyd gesê hy sal standerd tien maak – so seker as wat ’n hen se eier nie by haar bek uitkom nie. Net so het sy destyds gesê, Pa.” Sagie lag lekker en loer oor sy wysvinger na Mieta. “Hy moet net nie dink oor hy nou geleerd is hy kan my baas kom staan en wees hier op Greundal nie, gehoor.”

      Maar sy glimlag verdwyn toe hy sien hoe sy pa en Mieta na mekaar kyk.

      “Wat is fout?” vra hy.

      En sy pa antwoord: “Nou sal Freek nog minder rede hê om terug te kom plaas toe, Sagrys.”

      Drie

      Barend staan by die agterdeur na Sagie en kyk. Die werkdag is verby, dink hy, aandete ook. Tyd om tot rus te kom, maar Sagrys is terug in die tuig. Dag na dag dieselfde ding, ses dae ’n week.

      Barend druk twee vingerpunte tussen sy lippe in en fluit. Die geluid eggo uit die klofie. Geen reaksie nie, behalwe Oubaas wat aangedraf kom. Sagie lei Hubert se twee donkies teen die bult uit, met ’n jong bloekomstam agter hulle.

      “Sagryyyys!”

      Barend en die hond stap om die groot dam se wal en kry die streep wat die bloekombalk oor die harde grond getrek het. Die bloekom se spoor loop hier óm ’n groot klip en daar verby die dorings van ’n katbos. Bossies wat deur die swaar stam gekneus is, ruik die ene Klein-Karoo. Plek-plek, waar ’n rotslaag bo die grond uitbult, is daar byna geen teken wat Sagie en die donkies se vordering aandui nie.

      By die kleidam, agter die wal waar ’n mens hom nie van on­der af kan sien nie, staan Sagie tussen die donkies. Hy leun voor­oor, sy linkerarm om Asjas se nek en die regter om Hier­langs. Hangoor, hulle al drie.

      “Loop span uit die donkies, Sagrys, en kom huis toe.”

      Sagie skrik en kyk selfbewus op. “Daar’s seker nog ’n uur se lig oor, Pa.”

      Barend skud sy kop. Hy maak die voorpunt van die bloe­kom­balk los, laat sak dit grond toe en vat die donkies se leiriem. “Onthou jy nou die oggend toe jy met Caroline gepraat het? Nee, kyk vir my, daar is niks fout mee om vrae te vra nie, veral nie vir een wat luister nie. Soos die ding vir my lyk, Sagrys, het die goeie Vader die meeste wette, soos dié van die Sabbat ook, vir óns gemaak. Oor mense nie altyd weet wat goed is vir hulle nie.”

      “Is seker so,” beaam Sagie nadat hy sy pa se woorde ’n ruk­kie bedink het. Hy lig sy hoed se rand en vee die sweet van sy voorkop af.

      “Kom, ou seun, genoeg is genoeg. Kyk hoe lyk die arme diere al.”

      Hulle laat die bloekom net daar lê en stap langs mekaar, briek-briek teen die afdraand af.

      Sagie wens hy kan sommer net so in die bed klim sonder om eers te bad. Maar hy weet sy pa sal dit nie toelaat nie; ’n mens gaan skoon kooi toe.

      Barend gaan staan. Sagie ook. En agter hulle, die donkies.

      “Dwarsrivier lyk darem mooi van hier af, Sagrys.”

      “Is,” sê hy. Hy is bly sy pa dink so.

      “Kyk net die wingerde en boorde en damme. Kyk Tower­kop.” Barend se oë is op die toneel voor hom. Sagie s’n is op sy pa. Hy wens dat dié iets oor Ansie se huis sal sê, maar Hier­langs balk skielik. Barend gee die leiriem ’n pluk. Hulle loop weer.

      Blerrie donkie, dink Sagie, om darem nou op só ’n tyd te kom staan en hô-hie. Sy pa het hom “ou seun” genoem, soos wat ’ant Jopie maak. Ou seun. Én hy het gesê Dwarsrivier lyk mooi hier van bo af, waar hy Ansie se huis aan ’t bou is.

      “Gaan bad solank, Sagrys, ek sal die donkies versorg.”

      Sagie verstaan nie wat met sy pa aan die gang is nie. Die vorige keer wat hy só met hom gepraat het, was die slag toe hy gekeer het dat die slang Ansie pik en toe self gebyt geraak het. Toe was dit asof sy pa se hart sag geword het, al het dit nie juis lank gehou nie.

      Die warm water laat Sagie se seer spiere ontspan. Hy lê ’n rukkie toe-oë, met sy ore onder die water. Al die gewone ge­luide is weg.

      Hy hoor Ansie se stem. Sy roep na hom. “Hier is ek,” ant­woord hy. Sy kruip vir hom weg. Hy glimlag. “Dit help jou niks, ek sal jou kry.”

      ’n Harde geklop aan die badkamerdeur. Sagie sit regop. Water spat oor die vloer.

      “Maak klaar, dis amper slaaptyd en ons moet nog boeke­vat.”

      Sagie was sy hare en sy lyf. Hy het maer geword. Maer­der en meer seningrig. Hy kyk in die spieël, maak ’n vuis en buig sy elmboog. Die boarmspier bult so hard soos ’n ghwarrie­boswortel. Hy wens Ansie kon dit sien. Sy sou daaraan vat en weet dat haar huis nie vanself gegroei het daar waar hy staan nie.

      Toe hy in die voorhuis kom, is sy pa by die tafel, oë op die oop Bybel voor hom, leesbril in sy hand. Die Aladdin-lamp brand helder. Sagie sit sy kers op die tafel neer, lek sy duim en voorvinger en snuit die vlam daarmee. Hy trek vir hom ’n stoel uit. Al geluid is die gesis van die gloeiende lampsakkie. Sagie loer na die Bybel. Op een bladsy is daar ’n 22 en op die ander ’n 23. Hy hoop sy pa lees eerder hoofstuk 22, want dié lyk nie te lank nie. Hoofstuk 23 gaan na die volgende bladsy oor, en wie weet, dalk nog verder aan ook.

      Maar sy pa lees nie. Hy skuif die Bybel ’n entjie weg en stut sy elmboë op die tafel. ’n Ruk lank sit hy so voor hy sy kop lig en na Sagie kyk. “Ek het toevallig vanoggend hierdie skrif­gedeelte gelees.” Hy tik op die Bybel. “Dit gaan oor Bíleam. Bíleam was ’n Godsman wat probeer het om die wil van die Here te doen.”

      Toe stoot hy sy stoel agteruit, gaan na die venster en kyk buitentoe, waar dit donker is.

      “Maar Bíleam was nie so seker wat die Here van hom wou hê nie, Sagrys. Dis nie soos wanneer ek vir jou sê, loop melk die koeie, en jy weet wat om te doen nie. Of vir Mieta: Hoe lyk dit dié Sondag met ’n lekker bokboud, Mieta? En as dit vir Bíleam moeilik was, moet jy weet hoe ék daarmee sukkel. Ná uitvaltyd vanmiddag was dit of ek die antwoord geweet het. Tot ek opgekyk en jou daardie balk sien sleep het, toe twyfel ek weer. En ek neuk agter jou aan en ek dink en dink wat ek vir jou moet sê, en toe balk Hierlangs en ek onthou vanoggend se Skrifgedeelte en ek wonder of dit die Here se stem is.”

      Sagie het nie ’n benul waarvan sy pa praat nie. Hy lag. “Don­kies kan mos nie praat nie, Pa.”

      Sy pa kom terug tafel toe. “Laat ek liewer die stuk lees, dan verstaan jy dalk.”

Скачать книгу