ТОП просматриваемых книг сайта:
Maar wie snoei die rose in die nag?. Abraham H. de Vries
Читать онлайн.Название Maar wie snoei die rose in die nag?
Год выпуска 0
isbn 9780798158671
Автор произведения Abraham H. de Vries
Жанр Публицистика: прочее
Издательство Ingram
Abraham H. de Vries
Maar wie snoei die rose in die nag?
Human & Rousseau
Allesverloren of Goede Hoop
moet mens kies of albei koop?
– Wium van Zyl: “Twee flesse”, uit Oggendvuur
Agter nege passe
Vir Breyten
“… Wat anders kan ons eintlik doen nou dit donker word oor die land en die landerye as om herinneringe op te maak en te deel, hierinneringe wat mens in die hartsak saamdra en wanneer dit weer warmer word in die koelte van die vyeboom gaan sit en lees vir die soveelste keer?”
(Breyten, 2012-12-18)
Dis nou al geskiedenis: hoe jy (Jan Blom, Jan Afrika, Don Espejuelo, Bibber Breytenbach) en die geliefde Goue Lotus, Huang Lien, een vooraand neergestryk het op die dorpsmeent van Outol op Montagu. Omdat nomade en ballinge ook moeg word, koop jy toe ’n huis op die wal van die Kringa en skaf ’n landkaart van die Klein-Karoo aan by Niël se Huiswinkel, dat julle nie die pad byster raak op pad weer terug Parys, New York of Goree toe nie. Vou nou daar in die woonkamer van julle dakhuis in die Rue de Malebranche daardie kaart oop op die geelhouttafeltjie onder die skuins dakraam, dan kan ek as die welkomsgroet wat ek julle baie lank al skuld, met stories en soetdorings, jou vinger stoot van Montagu af tot anderkant De Rust en heen en weer in die bietjie winterlig wat nog tussen die bome hang hier op ons gedeelde werwe.
Tussen Barrydale en Ladismith, waar die Karoorantjies die Oukoppies heet, staan twee padpredikante so naby mekaar dat ek sweer dis hulle self wat mekaar met klippe so vol duike gooi. Die een predik swart op wit dis die einde van die Overberg, en die ander sê kordaat: Hier begin Eden. Die blinde grappe waarmee koloniale regerings eeue lank Afrika met kaart en liniaal verdeel en oorloë gestook het.
Die Klein-Karoo is op ’n natuurliker manier afgeperk as met onsigbare grensdrade tussen gannabossies deur en oor onploegbare berge. Die wesgrens aan die Kaapse kant is die Kogmanskloof by Montagu, jy ry die Klein-Karoo in deur ’n tonnel; bo-op staan ’n klipfort wat gebou is deur soldate wat die Slag van Magersfontein oorleef het. Van Montagu af oos loop die pad oor De Tradouw, tussen bewerkte lande en wit plaashuise en vrugtetuine deur tot by James Barry se naamdorp, Barrydale. Van daar af dan Ladismith toe deur ’n stuk verlatenheid wat net anderkant Lemoenshoek al begin. Ladismith is vernoem na Juana Maria de los Dolores de Leon, die meisie wat in sir Harry Smith se pleegsorg geplaas is en later sy vrou geword het. Hiervandaan deur die Huisrivierpas na die “port-hoofstad”, Calitzdorp, en daarvandaan Oudtshoorn toe met links die Rooikoppe (’n ysterneerslag, hematiet, wat so skilderagtig oksideer) tot by die verste dorp wes, De Rust, aan die mond van die Meiringspoort. Aan Uniondale se kant van De Rust begin die Langkloof en eindig die Klein-Karoo.
Die Klein-Swartberg in die noorde en die Langeberg in die suide skei die Klein-Karoo van die warmer Groot-Karoo en die koeler kuswingerde. Nege passe verbind die Klein-Karoo met die groter land: die Kogmanskloof, die Tradouwpas, Garciapas, Montagupas, Swartbergpas, Meiringspoort en Seweweekspoort, Buffelsrivierpoort, Klein-Swartbergpas en een sonder blywende naam tussen Van Wyksdorp en die see. As die pad wat by die spookhuis verby kronkel Laingsburg toe later jare gekaart-en-transport is, sal daar nog een bykom; nege sal ’n amptelike verklaring uitreik: We’re ten now.
’n Lang, smal stuk aarde, dié Kannaland, met sy lappieskombers van lusernlande, vrugtebome, letsels droë veld, sy klapper- en kareebome. Hier en daar ’n plaashuis, teen die middagson beskut deur die skuiwende skaduwees van peperbome. Daar is damme ook, party vol van water en wolke, ander droog en gebars, daar is kreunende windpompe, daar is werwe met beeskrale en malvas, huiskamers wat aan die slaap raak met krakende deure en donker gebede. Snags as alles inkrimp tot skaduwees en lampe, kruisbande, radio’s, boeke, voorvaderportrette, ’n muurhorlosie en die sagte weerstand van beddens, frons die sterre al hoe groter oor die mens se duisterheid.
Jare lank dog ek ek weet hoekom die bewoners destyds – soos vaandrig A.P. Beutler in 1752 berig het – van Kannaland of “’t land Cana” gepraat het. Maar ek is nie meer so seker of dit ’n woordspel was met die naam van die Beloofde Land, ’n vernoeming na die kannabos of eer aan die t’kanna, soos die oumense die eland genoem het nie. Al drie is moontlik, al drie is waar. Kom ons maak die landkaart toe. Karoo beteken droogte.
Ons het almal ook wêrelde elders. Die bruin Middeleeuse gehuggies van Umbrië, die vervalle dorpies van die Moordenaarskaroo, La Roche aan die kabbelende Ourthe in die Belgiese Ardenne, die morsige moerasse van die Baltiese See aan die mond van die Neva, die klein klipgebou-gehuggies tussen die digte bosse van Pole, die kort vreugde van die Rue de Malebranche in Parys, die ruim huis met dubbele vensters aan die Groenplein in Antwerpen van waaragter die druk lewe buite geluidloos aanhou beweeg, die sonwerf van Winkelplaas met die adamsvyeboom waaronder ’n man aan ’n seuntjie probeer verduidelik hoekom ’n haasma haar kleintjies opvreet. Die wêrelde in ons lê soos woorde in ’n verhaal, ingebed in ’n éérste landskap van die gees, waar die plein van Antwerpen pas oor die werf van Winkelplaas op ’n koue Julie-aand; waar die duister waarheid van egte karnivore skuif oor die skrikbeeld van die verkoolde Sondagskoolklas in die ruïne van die stad wat Dresden was.
Mý Kannaland se stories en sy spoke, sy drome, vrese en raaisels lê in my anders as joune in jou.
In my beteken Karoo nie droogte nie. Tussen Lemoenshoek, oos van Barrydale, en Winkelplaas is daar tussen die Oukoppies ’n draai in die pad waarvandaan die reisiger in die vroegoggend oor die veld en die lae heuwels, oor plakkiebome, karee en ’n vervalle ou padmakershuisie kan kyk tot doer teen die blou Swartberge. Dis waar my Klein-Karoo begin.
Op bewolkte winterdae, in die reën, selfs laatmiddag, as ons om daardie draai gaan, soek my oë na die son en word daar in my ’n ander oggend wakker, my eerste Karoo-oggend op Winkelplaas.
Die son was al so handbreedte bokant die horison. Tussen die ouhuis en my buitekamer het die koelte nog oopgesprei gelê oor die hele werf. Ek het kombuis toe geloop, soos hoeveel maal tevore.
Maar ek het vir die eerste maal die son gesien. Asof vir die eerste maal, die son en die vierkantige watertenk en die vyeboom agter die melkkamer. Die lusernlandjies en die waterput, die drie plaashuise en die berg.
Toe het ek hardop die son gegroet. Môre, son; môre, watertenk; môre, plakkiebos.
Nie omdat die son die nag se koue verdryf het nie, nie omdat ons water uit die vierkantige tenk kon tap nie, nie omdat die waterput en die berg en die plakkiebos nuttig en mooi was en vol gebruike nie. Die nut van die waterput was die waterput, die plakkiebos is gebruik om ’n plakkiebos te maak, die skoonheid van die son was die son op die werf, die son teen die bas van die vyeboom, die son op my.
Alles was sulke nuwe dinge en ek het hulle, vol verbasing, vir die eerste keer raakgesien. Was dit wat Goethe bedoel het met verwondering as die hoogste waartoe die mens in staat is? Ek weet nie, al wat ek weet is dit was die oggend waarop die Klein-Karoo ín my begin het.
Jy kon nie weet hoekom ek so geskrik het vir iets wat Basie Joubert die ander aand doodonskuldig ná die jaarvergadering gesê het nie. Oor die koffie het ons met outydse geselsery (die televisiestel het hom vierkantig blind geskaam vir ons) eers weer by die Klein-Karoo en toe weer by oom Matthewis uitgekom.
Jy ken nie die storie nie. Dit begin by die “spook” op daardie lusernlandjie in die bak-arm van Dwarsrivier op die Bruwers se plaas. Izak het, nadat hy vir my daarvan vertel het, oor die res van sy wedervarings geswyg.
Dis wat gebeur het: Izak het dié winteraand so teen halftwaalf met die graaf oor die skouer al met die rivier langs na die uitkeerplek aan die bopunt van die “koel” landjie gestap. ’n Koel landjie bly groen, ook deur vierjaardroogtes. Sy leibeurt vir die land waarop hy elke jaar kalbasse plant, het om kwart voor twaalf begin. Hy’t ’n man op die landjie sien staan, teen die helder maanlig beskut deur die wilgerboom se skaduwee, en hy het hom herken. Izak het die sluis oopgetrek, oom Matthewis daar in die skaduwee gaan groet, ’n paar woorde gesels en toe gaan slaap. Hy onthou oom Matthewis het nog iets gesê oor hoe lekker sag die koel landjie onder hulle voete en die diep syferwater was.
Maar die volgende