ТОП просматриваемых книг сайта:
Wanneer God jou vashou. Johan Smit
Читать онлайн.Название Wanneer God jou vashou
Год выпуска 0
isbn 9780796316400
Автор произведения Johan Smit
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Die Here is my herder. Dit is goed om so aan my God te dink. En daar is ook heeltemal niks mee verkeerd om só oor God te dink nie. Verlustig jou gerus in die wonderlike wete dat dit presies is hoe God Homself aan jou wil bekendstel. Maar wees dan ook gereed om te ontdek dat dié beeld ’n bepaalde verantwoordelikheid van jou gaan eis. Meer daaroor later …
Hoe lyk jou voorstelling van jou God? Kan jy Hom as ’n herder voorstel?
2 Februarie
Niks sal my ontbreek nie
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
Die algemene stelling dat die Here my herder is, is alreeds gerusstellend. Dit roep onmiddellik ’n beeld van sorgsaamheid en beskerming op. God pas my op. En heel dikwels herinner ek Hom aan die feit dat Hy vir my ’n herder moet wees. Wanneer ek op reis gaan of ’n moeilike vergadering moet bywoon of sommer net onseker voel – dan soek ek die versekering dat God dáár is, vir my daar is.
Nogtans weifel ons by aanhore van die res van die sin. Ek kom niks kort nie, of soos die ouer vertaling gesê het: Niks sal my ontbreek nie. Dit klink mooi. Maar dit klink nie heeltemal reg nie.
Dink maar net hoeveel van God se kinders leef in haglike omstandighede. Hulle sterf selfs as gevolg van broodgebrek. Ander word weer as gevolg van hulle geloof vervolg en doodgemaak. Kan hulle regtig getuig dat niks hulle ontbreek nie?
’n Mens sal goed moet dink wat jy bedoel wanneer jy verklaar dat jy “niks” sal kortkom nie. Wat het die digter bedoel? Waaroor gaan dit vir ’n skaap? Die heel eenvoudigste of basiese waaroor dit kan gaan, is lewensmiddele. Wanneer ’n dier in die woestyn dreig om van honger en dors om te kom, en hy skielik by ’n oase aanland waar daar kos en water is, kom hy niks kort nie! Hy kan lewe!
’n Mens kan baie dinge kortkom wat die lewe vir jou soveel makliker en aangenamer sou maak. Maar as jy kan lewe, as jy ’n nuwe dagbreek kan beleef en die toekoms, hoe donker ook al, met hoop tegemoet kan gaan, kom daar eintlik niks kort nie. Met God en met die lewe is daar hoop.
As jy die ewige lewe het, kom jy niks kort nie.
3 Februarie
Ek kom niks kort nie
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Psalm 23:1
~
Kom ons dink weer ’n keer na oor die niks wat ’n mens kortkom as die Here jou herder is nie. Gister het ons besluit dat ’n mens heel eerste na die basiese lewensbehoeftes moet kyk. Kos en water en lewensmoontlikhede. Verder as om te mag lewe en te weet dat God daar is, die Herder wat sorg, het ek eintlik niks meer nodig nie.
Maar so eenvoudig is dit ook nie. Daar is dinge wat aan ’n mens se lewe sin gee. Dinge wat die lewe vir jou die moeite werd maak. En as daardie dinge wegval, ervaar jy ’n tekort. Daar is ’n leemte. En jy kan vir seker nie met vrymoedigheid verklaar dat jy niks kortkom nie. Ek dink byvoorbeeld aan ’n dierbare wat wegval, of wanneer jy jou werk verloor, of wanneer daar ’n onherstelbare verhoudingsbreuk opduik. Natuurlik kom jy dan iets (of veral iemand) kort. Wat sê Psalm 23 dan vir jou?
Ons moet daarteen waak om mooiklinkende Bybelverse te idealiseer. Psalm 23 sal nie die pynlike ervarings uit ons lewens wegvee asof dit nooit bestaan het nie. Dit is eerder nodig dat ons sal probeer vasstel wat dit regtig beteken dat niks ons sal kortkom nie.
Ek dink dit beteken dat ’n mens letterlik alles kan verloor wat vir jou belangrik is, maar as jy nog steeds die Here as jou herder het, het jy nog die beste. Dis soos Psalm 63 se digter sê: “U troue liefde is meer werd as die lewe” (v 4). Om vir God te hê, beteken om die lewe te hê. En niks of niemand kan jou van dié lewe beroof nie. Daarom kom jy niks kort nie. Jy het die lewe, van nou af tot in ewigheid.
Weeg die dinge wat jy vandag kortkom op teen die liefde van God. Wat is die uitslag?
4 Februarie
Groen weivelde
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde … Psalm 23:1–2
~
Ja, goed, ek weet dat die Psalm heelpad vertroostend klink. Dit gaan tog immers oor ’n herder wat sy werk ken en behoorlik uitvoer. Hy soek vir sy kudde die beste weiding. En dit is mos presies wat God vir sy kinders wil doen. Die teks wil maar net sê dat God sorg dat sy kinders van hulle noodsaaklike lewensmiddele voorsien sal word.
Dan moet ons seker weer ’n keer luister na al die protesstemme. Hoeveel kinders van God sterf daagliks van die honger? Dalk met die woorde van Psalm 23 op hulle lippe? Ek het nie regtig ’n antwoord vir die probleem nie. Miskien moet ons dink aan die derduisende mense wat daagliks van die honger sou omkom as God se kinders nie in hulle behoeftes voorsien het nie. Maar diegene wat wel sterf? Ek glo dat hulle ’n ander dimensie van God se liefde ontdek. Hoe tragies dit ook al is dat mense van die honger sterf, is dit nogtans nie die ergste nie, nie as jy aan God se hand sterf nie. “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom 8:18).
En ons wat nog die groen weivelde geniet, laat ons ons daarin verheug. En laat ons die groenigheid so gou en effektief as moontlik deel met diegene wat in ’n woestynlewe voortploeter. As ek die Bybel reg verstaan, seën God sy kinders sodat hulle vir ander tot seën kan wees.
In groen weivelde of in die woestynsand – waar is jy? En waar is jou herder?
5 Februarie
Rus
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Psalm 23:1–2a
~
Om by groen weivelde tot rus te kom, klink na ’n onvervulde droom. Die woord “rus” het vir ons met verloop van tyd ’n magiese betekenis gekry. Die rede is voor die hand liggend. Ons leef in ’n wêreld waar gejaagdheid en onrus aan die orde van die dag is. By die werk word ons met ’n byna bomenslike lading belas. En by die huis gaan dit ook nie veel rustiger nie. Die kinders se oorvol programme eis meer tyd en aandag. Van rus kom daar regtig min tereg. En dan, wanneer die langverwagte vakansie aanbreek, raak dit ook maar net weer ’n gejaag van plek tot plek. Ja, dis lekker, en darem ontspannend, maar nie regtig rustig nie.
Vir die oues van dae het die woord “rus” tog ’n ander betekenis. Glo dit as jy wil: dinge kan té rustig raak! Rus en verveeldheid is vir seker nie dieselfde ding nie. Nou hoe dan? Wat bedoel die digter?
Dit lyk vir my dat die rus wat die herder gee met lewensvervulling te make het, met ’n soort van ’n tuiskoms. Groen is die kleur van lewe. En om in die besef van lewensvervulling te mag lewe, is die ervaring van rus. Genoegdoening. Lewensvervulling. Bybelse rus beteken nie ’n lustelose niksdoen nie, maar die “so ja!” van iemand wat sy doel bereik het. En dan is dit groen – die lewe het mooi geword, daar is groei en belofte en vrug dra. Ons moet oor die rus in groen weiding nie selfsugtig dink nie. Dit gaan nie oor ’n gunstige aftreeplan nie. Dit gaan oor ’n lewe wat vervulling bereik het.
Hoe groen is jou lewe? En rustig?