Скачать книгу

Petrus (2 Pet 15-16) reken dat hy tog agter loon aan was. Volgens Numeri 31:17 (Op 2:14) gee hy aan Balak ’n makliker plan om Israel te verslaan: die vroue van Moab. Hulle verlei Israel se manne tot afgodsdiens en ontug (Num 25). Die afgryslikhede wat hieruit voortkom, kos ook Bileam se lewe (Num 31:8; Jos 13:22). Vandaar die vete tussen Israel en Moab, totdat Rut welkome versoening bring (dagstukkie 14 Mrt). Bileam sal altyd ’n mistieke figuur bly, en nog meer mistiek is die wyse waarop God hom, soos die heidense Pilatus, in sy raadsplan gebruik. Mens wil amper sug: Het Bileam maar die insig van sy donkie gehad.

      GEBED: Die goue draad van u heilsbeskikking loop selfs deur die lewe van ongelowiges, Here. My gebed is dat U harte sal verander en in u diens gebruik.

      28 Januarie Deuteronomium 1:19-46

      DIE WEEN EN SEËN BY KADES OP DIE TREKPAD

      “So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het” (Deut 1:46).

      Toe Moses sy einde voel nader, kyk hy terug op die eksodus, nie sonder verwyt nie: “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het …” (Deut 1:37)). Om die kampplekke (Num 33) te vergelyk met die Bybel-kaart (teenoor Genesis, p 1 NAV) is om te wonder: Waarom die wye ompad Kades-Barnea toe? Dan die kortom swenk by Horberg, waar Aäron sterf (Num 20:22), om terug te wyk op hulle spoor, suid. En weer noord. Drie keer lê hulle spore langs mekaar. Heel duidelik is alle gebeure nie naastenby opgeteken nie.

      Moses herinner die volk dat die verkenners hulle by Kades kom bangpraat het (Num 13:28; Deut 1:22). Maar hulle bring vars vrugte saam … so naby, en tog so ver. Toe die volk moed bymekaarskraap en die Bergwêreld aandurf, word hulle uiteengejaag soos deur ’n swerm bye (Deut 1:44). Geen land duld nomade aan sy grens nie: “Hierdie horde gaan alles rondom ons opvreet …” (Num 22:4). Deurgang word hulle ontsê, ook deur Esau se nasate Edom (Num 20:14). ’n Kanaänitiese verdedigingslinie word gevorm, die sogenaamde “Lines Palestiensis”.

      Die kortpad het dus nie gewerk nie. Die volk het nie militêre ondervinding nie. Hulle primitiewe wapens weeg nie op teen versterkte stede en strydwaens nie. Hulle word verder teruggehou. Die proeftyd word verleng. By Kades se fonteine bly hulle “baie dae” (Deut 1:46 OAV), wat Oosters eufemisties kan beteken “baie jare”. Hier waar Abram se toegewaaide spore lê (Gen 20:1), word Mirjam se tamboeryn vir altyd stil. Die res lewe voort, pas vee op, staan tou by Moses se tent, sug en soog, klaag en jubel, blaas die ramshoring met nuwemaan sodat dit tot in Kanaän gehoor word.

      Kades, die belangrikste laerplek op die trekpad, word die plek van wonde lek, maar ook van ’n nuwe begin … op ’n langer pad, maar wat hulle in die beloofde land sal uitbring.

      GEBED: Here, elke lewe het sy Kades waar ’n vermoeide mens oorstaan, wonde lek, nuwe planne smee, weerbaar word. U ken my Kades. Wil U dit vir my tot seën maak.

      29 Januarie Deuteronomium 6:1-9

      LIEDERE WAT MY MOEDER MY GELEER HET

      “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat …” (Deut 6:7).

      Die Boheemse komponis Dvořák se bogenoemde lied uit 1880 is steeds gewild onder wêreldsangers. Die trane het aan sy moeder se wimpers gehang wanneer sy hom die liedere uit die skat van herinnering leer, lui die woorde. As seuntjie by sy pa se herberg het hy musiek soos hierdie geleer en nooit vergeet nie. Die opdrag in Deuteronomium 6:7 (ook Deut 11:19) om oor te vertel, dra groot gewig. Die mondelinge verteltradisie moet meer krediet kry wanneer dit by Bybelse waarhede kom. Die skone Moseslied (Deut 32) gee opdrag: “Vra jou pa dat hy jou vertel, jou oumense dat hulle jou dit sê” (Deut 32:7).

      Op ’n Israel-toer het ons Joodse gids vertel hoe sy pa hom kleintyd wydsbeen oor sy skouer teen Massada uitgedra het terwyl hy heelpad vertel van die versetshelde wat op die berg selfmoord gepleeg het eerder as om voor die Romeine te buig. Die vraag: “Waar het die antieke mens skryfgoed gekry?” word hierdeur deels opgehef. Oorlewering is ’n kragtige dokument, soos blyk uit Lukas 1:2: “Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat … ooggetuies … was.”

      Oor my ouers is daar niks opgeskryf nie, maar deur hulle vertellinge het hulle grootwordlewe ons as kinders helder voor die gees gestaan. Dalk sal ons jeug weer begin soek na stories. Ware herinneringe, sonder bitterheid. Ook oor gebedsverhoring en wonderwerke in ons lewe. Dalk sal hulle die kuberkuiery te efemeer begin vind, te triviaal, vervlietend. Dalk sal hulle weer “hougoed” soek. Pragtig dig Marnix Gijsen: “Zie, zoo lange tijd is aan elk mens gegeven dat zijn woord rijpe tot lied voor Gods aangezicht.” Dalk is dit tyd dat nie net tieners stilletjies dagboek hou nie, maar ook ouers en grootouers. Ons kry dit reeds op Facebook en Twitter; maar skryf dit liewer op papier neer, bind en bewaar dit.

      GEBED: Here, ek wil vertel van my lewe en u wonderdade. Suiwer my woorde van bitterheid en skewe persepsie en laat dit voor u aangesig ryp word tot lied.

      30 Januarie Deuteronomium 32:10-18

      MOSES ONTHOU DIE ARENDE VAN MIDIAN

      “Soos ’n arend … so het die Here … sy volk gelei …” (Deut 32:11-12).

      Hoewel vertalings rondval tussen die groot roofvoëls, is almal dit eens dat die arend hier ter sprake is. Hierdie Moses-lied, skuins voor Moses se sterfte (Deut 31:2) getuig weer van die gehalte van die man wat deur God geroep is om sy volk te lei. In sy eerste veertig jaar ontvang hy Egiptiese geleerdheid in skrif, wet en leierskap. Terselfdertyd kry hy Godsgeloof met moedersmelk in, ook wanneer hy wegglip na die popelende kleihutte van sy erfvolk. Die volgende veertig jaar leer hy as vlugteling en veewagter in Midian die ruwe natuurmagte ken.

      In hierdie tyd moet hy die lammertjies beskerm teen die neerswiepende arend, volgens hom ’n onrein voël (Lev 11:13), maar aangrypend in sy adelaarsweë. By ’n Horeb-krans sien hy hoe die ouers die kuikens leer vlieg. Hy ys as die kleintjies tot 30 m val; en soms kry hy nog die angsdrome van hoe hý in ’n afgrond afstort voordat hy wakker ruk. Hy voel verlig as die arendouer onder die kuiken inseil. (Daar is wetenskaplikes wat die rugdraery weerlê, maar ’n meisie was in 1918 ooggetuie hiervan toe sy en haar pa heuning uithaal in die berge van Kalifornië.) Moses onthou hoe sy volk kreun langs die Nyl. As hy soos ’n arend was, sou God hom dalk kon gebruik om … maar wat dink hy tog? Hy is nie meer gemaklik tussen baie mense nie, net maar sy gesin en skoonfamilie. Sy eie volk sal dalk bly vra: “Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” (Eks 2:14).

      Toe hoor hy die dag by die brandende doringbos: “Moses! Moses!” (Eks 3:4). Meermale daarna sou hy voel hoe hy en sy mense val, mekaar die dieptes insleur … dan kom daar ’n tyd dat hy half verwonderd besef: Maar ons val mos nie meer nie, ons sweef nou …

      GEBED: Here, hoe dikwels voel ek ook dat ek net val en val … dan stabiliseer en verbeter alles, en ek weet dis U wat my weer eens oor die afgrond gedra het.

      31 Januarie Deuteronomium 34:1-12

      MOSES, DIE MAN VAN GOD, STERWE

      Hy het die Here persoonlik geken (Deut 34:10).

      Moses kom te sterwe. Maar hy sou voortleef, beide in die Judaïsme en die Christendom. Hy was die man van God, uitgesoek en voorberei om die volk uit slawerny uit te lei.

      Nie dat die pad van vryheid altyd glad verloop het nie. ’n Kommandant in die Anglo-Boereoorlog het gekla: “Daar kom dae wat jy met almal moet baklei.” Moses word die sondebok vir alles wat skeefloop, van kos en water tot oorlogsugtige vyande. Sy eie broer en suster kom dikwels teen hom in opstand. Die uittog word veertig lang jare. Maar sonder Moses is die aanvang van Israel se geskiedenis ondenkbaar. Die Fenisiërs en Grieke sou beter vaar op die gebied van kuns, bou- en beeldhouwerk. Maar Israel sou die volk van die openbaring van die Woord word.

      Geheimsinnig soos sy lewe, is Moses se sterwe. Soos ’n ou olifant soek hy die eensaamheid op toe sy tyd daar is. Volgens die geskiedskrywer lyk dit of God hom die prag van die land wys, en dan die deur voor hom toeklap. Dis anders as in Jesus se gelykenis van die verlore seun, wat ten spyte van sy foute deur die vader binnegenooi word. Sou God werklik vir Moses straf omdat hy sy humeur verloor het? (Eks 32:19-20;

Скачать книгу