Скачать книгу

By die tolhuis van Kapernaum roep Hy vir Levi (Matteus), en ook vir Petrus en Andreas. Hy genees die slaaf van die Romeinse offisier, Petrus se skoonma, die vrou met bloedvloeiing, die verlamde man wat deur die dak laat sak is, die man met die verdorde hand, ’n besetene, die seun van die amptenaar, twee blindes, ’n doofstomme. Hy wek Jaïrus se dogtertjie uit die dood op. Die mense verdring Hom (Mark 1:21-45). Dis dan dat Jesus die vergelyking met Sodom tref.

      Oor Sodom laat God profeteer as “Jerusalem se kleiner suster”, wat selftevrede in hoogmoed en oorvloed geleef en vir dié in nood niks oorgehad het nie (Eseg 16:49); hulle het afskuwelike dinge gedoen (2 Pet 2:8), “Daarom het Ek hulle laat verdwyn …” (Eseg 16:50). Hierdie gebeure word ook in buite-Bybelse bronne vermeld. God het moontlik ’n uitbarsting bestem wat die laagte oorstroom en die ontsnapte gasse aan die brand laat slaan het. Ontsteld kyk Abraham van ver af (Gen 19:28). Die plek word daarna “ ’n veld vol dorings en soutpanne” (Sef 2:9), en vorm allengs die Dooie See. As gevolg van besproeiing vloei daar deesdae minder water van die See van Galilea in die Dooie See. Die drukking vanweë die water wat sak, laat een van die berge groei (6 mm in 70 jaar). Wie weet, dalk word die oorblyfsels van Sodom eendag blootgelê wanneer die Dooie See verdwyn.

      GEBED: Ek staan weer verstom by die besef, Here, dat U geen ydele woord spreek nie. Help ons om nie in die sondige keuses van die mense van Sodom en Kapernaum te verval nie.

      8 Januarie Genesis 22:1-19

      ABRAHAM OFFER BYNA VIR ISAK

      Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, roep die Engel van die Here … (Gen 22:10).

      Slepend en snuiwend, met opgeskroefde oë in die spleet van die klam sweetdoek. Dis Abraham, op pad om sy krulkop-babbelbekkie te offer, want God sê so. Is dit moontlik dat Abraham verkeerd kon hoor? Dat hy sy eie binnestem kon verwar met ’n influistering van God? Soos my vriendin se gevoelige tienerseun, wat haar een nag met ’n spirituslap probeer versmoor het? Huil-huil: “Mamma, die Here het gesê ek moet.” Dis nadat The passion of the Christ op die kerkkamp van hulle spesiale skool gewys is. Hy moes besluit het dat hy, om hierdie lyding te vergoed, sy dierbaarste sal moet offer.

      Met wat hy “hoor”, vee Abraham God se verbond (Gen 12:1-3, met implisiete Messias-belofte) uit die pad. Sou God, die groot Sielkundige, toelaat dat ’n kind deur sy pa vasgemaak word, in die besete gesig opkyk, die opgehewe mes sien? Sou Isak ooit weer toelaat dat sy pa die nagkaros oor hom optrek, of sou hy wegkoes vir die vlermuisagtige skaduwee teen die muur van die kameelhaartent? Sou Isak ooit héél wees? Maar God ken vir Abraham: sy krag, waardeur hy die beste putte aan Lot kon afstaan; dapper veg in die nag van die konings (Gen 14); vir Sodom en Gomorra pleit. Maar ook sy swakhede: dat hy Sara aan ’n farao se harem kon uitlewer om sy eie vel te red (Gen 12); dat hy haar haar sin gee deur vir Hagar en Ismael woestyn-in te verdryf; sy latere buie van swartgalligheid.

      God laat Abraham volgens sy vryheidsbeginsel begaan, maar bestem solank ’n ram vir ’n sekere tyd en plek. So bewaar Hy vir Abraham van ’n afgryslike flater, geskoei op die kinderoffers van omringende heidenvolke (dagstukkie 17 Mei), wat God verfoei. Abraham word deur God se regstellende optrede die aartsvader van Israel en ook van alle gelowiges, die nuwe Israel (Gal 3:7).

      GEBED: Here, leer my reg luister, en as ek mistas, onderskep dit asseblief en swaai dit om.

      9 Januarie Genesis 23:1-16

      BYBELSE HUMOR REEDS IN GENESIS

      Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg … (Gen 23:16).

      Wie redeneer dat die Bybel droog is, het geen aanvoeling vir die humor, satire en ironie wat tussen die blaaie skuil nie. Reeds in Genesis vind ons vroulike logika op sy beste as die kinderlose Sara haar man na die slavin stuur en opdra dat hy ’n kind moet verwek wat soos haar eie sal wees. Hagar raak swanger en minag haar meesteres, waarop Abraham hoor: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur” (Gen 16:5).

      Toe Sara sterf, wil Abraham die Makpelagrot as graf koop (Gen 23). Eg Oosters kibbel die Hetiet geskok: Wat? So ’n belangrike man laat betaal? Hy géé die grond. Toe Abraham aandring, sug die Hetiet: “Moenie dat ons stry oor ’n stukkie grond wat vier en ’n half kilogram silwer werd is nie.” Ons lees: “Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg …” ’n Astronomiese bedrag vir ’n lappie grond in ’n gebied wat in elk geval deur God aan Abraham toegesê is.

      Veel, veel later beland Abraham se agterkleinseun Juda in ’n onsmaaklike voorval. Hy beloon ’n prostituut met sy seëlring en kierie as pand, tot hy vir haar ’n boklam kan stuur. Hy weet nie die “prostituut” is sy vermomde, gegriefde skoondogter nie. Toe hy dit uitvind, besluit hy: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog ’n gek van my” (Gen 38:23). Dis merkwaardig dat die Bybel nie dié soort skande (soos Dawid s ’n later) toesmeer nie.

      Jakob sterwe in Egipte en Josef gaan hom volgens belofte (Gen 47:30) in Kanaän begrawe – ’n skouspelagtige uittog (Gen 50) onder Egiptiese geleide. Daar gekom, weeklaag hulle sewe dae. Die verstomde Kanaäniete besluit foutiewelik: “Egipte is swaar in rou.” Watter dramatiese ironie. Hulle weet nie eens mooi wie die dooie is nie, terwyl sy nageslag hulle eendag hier sal kom verdryf en die land in herbesit neem.

      GEBED: Here, u bestemming en hoedat U swak menslike besluite omswaai, blyk selfs uit die minder ernstige voorvalle hierbo. Alles en almal is oop voor u aangesig.

      10 Januarie Genesis 37:1-4, 12-14, 17-35

      JAKOB SE VERSKRIKLIKE GESIN

      Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob (Gen 37:1-2).

      In Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort (Tafelberg, 1975) dink Klaas Kamer nie veel van sy nuwe skoonmense nie: “Hemel, watter verskriklike mense.” Nie dat hy juis kan praat nie … hy is een van Koos Nek se seuns, elkeen ’n verteenwoordiger van ’n aartssonde. In Genesis 37 ontmoet ons nog so ’n stormgeteisterde nes. Ewe onskuldig staan daar: “Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.” Dan volg ’n sage van jaloesie, agterdog, bedrog en geweld wat jou hare laat rys. Praat van verkeerde keuses, om nie te sê blinde foute nie.

      Dis nie te verwonder nie. Jakob self was daartoe in staat om sy tweelingbroer te onderkruip, heel maklik deur die geur van sy sop toe sy broer wolfhonger van die jagveld af kom. Sy bejaarde vader, pêreloog-blind, bedrieg hy met ’n bokvelletjie oor sy hande. Jakob was geen jongeling meer nie, hy moes van beter kon weet. Volgens die Bybelse Ensiklopedie (uit Nederlands, 1955) was Isak in daardie stadium 137 en sy tweelingseuns 77. ’n Jong 77, as ons na Jakob se verdere liefdesgeskiedenis kyk. In sy vlug uit die vaderhuis kom Jakob by die Jabbok tot bekering … maar tree tog nog verkeerd op. Ook die skoonfamilie word deur sy toedoen uiteengeskeur. Van kinderopvoeding weet Jakob maar min, en in Genesis 34-38 lees ons van sy seuns se verskriklikhede. Die byna-moord en ontvoering van Josef span die kroon.

      Maar God laat nie sy kinders uit sy hand glip nie. Soos die laste opbou en die diepste nate getoets word sodat dit lyk of alles uitmekaar wil skeur, trek God “die verskriklike mense” deur. Nie altyd meteens nie maar dikwels stapsgewys, deur die werking van sy Gees in die binneste van die geslaenes. Soms dra Hy ons, of sleepdra, of abba, maar nooit laat Hy ons net lê nie. Só word Jakob se verskriklike klomp die stamvaders van ’n merkwaardige volk.

      GEBED: Here, as dit voel of my huis uiteengeruk word, help my om stap vir stap en deur u genade na herstel te werk. Dankie dat U stukkende mense gebruik en heelmaak.

      11 Januarie Genesis 39:1-21

      JOSEF IN DIE HUIS VAN POTIFAR

      “Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” (Gen 39:9).

      In die lig van ’n wanordelike vaderhuis is dit ’n wonder dat Josef so beginselvas optree. Skynbaar het Jakob, foute en al, tog baie dinge reg gedoen. Daarbenewens het elke mens ’n ingebore balans. Met broers soos syne kon Josef boos en bitter geword het, maar hy het nie. Terwyl Maria Oomkens (skuilnaam) en haar man ’n ou huis op die platteland koop en restoureer,

Скачать книгу