Скачать книгу

RK VAN DEN BERG

      ’n Ander mens

      KWELA BOEKE

      Met dank aan Jurie Wessels & André le Roux

      wat niks met hierdie boek te doen gehad het nie,

      maar baie met sy skrywer.

      Die pad

      Party nagte stoot die mis van die see af in en klad die droë Namib­sand soos ’n klam lap ’n sterwende lawe. In die vroeë oggendure, toe die man en vrou uit hulle kamers kom, is die mis so dig dat jy skaars jou hand voor jou gesig kan sien. Om op te maak vir hierdie gebrek aan sig, dra klank geweldig. Elke slag of stoot klink naby jou ore, asof die duiwel op jou skouer aan’t woele is. Terwyl die man en vrou die kar pak, vul hulle die lug met stampe en sugte. Uitein­de­lik klap sy die bak toe.

      “Is jy seker jy’t niks in jou kamer gelos nie?”

      Hy draai om en verdwyn in die wit donkerte. Sy gebruik die kans om gou in die rugsak agter haar sitplek te loer. Dan kom hy terug en sê nee, daar’s niks. Sy klim aan die bestuurkant in, skakel die kar aan en dan die ligte. Hulle trek weg oor die glimmende teer, ry verby stil lamppale, elk met sy sluier van lig soos ’n spook aan ’n galg. Verkeersligte wissel deur hul koeldrankkleure. Petrol­maat­skap­pye se kentekens skyn hoog en moedig. Dan is daar niks meer van Walvisbaai te sien nie, net dwarrelende mis. Later hou die teer­pad op en hulle ry tussen twee walle gruis wat deur die skraper opgestoot is. Namate hulle binneland toe vorder, raak die mis ligter, totdat daar niks meer van te siene is nie.

      Die vrou kyk op na ’n lug vol helder sterre, mooier as wat sy nog ooit gesien het. Die uitspansel is besaai met stippeltjies lig. Selfs al was jy self in die ruimte, sou jy nie meer sterre as dit kon sien nie, dink sy. Sy begin wonder oor die afstande tussenin, al daai ligjare van leegheid. Hier glip sy oor die planeet se oppervlak in ’n kapsule van glas en staal. Die enjin dreun in haar kop. Sy is skaars bewus van die man langs haar.

      Hy is skraal, met hoë, krom skouers. Veertig jaar gelede was hy ’n doring in die 110 tree-hekkies. Hy sê sy naam is nog steeds op ’n trofee in ’n glaskas by Diamantveld Hoër in Kimberley, mens kan dit daar gaan lees. Toe hy haar vra of sy ook dit gaan verwyder, het sy gesê nee, dáár kan die naam maar bly. Sy’t hom lankal beveel om sy borselrige snorretjie af te skeer, maar nogtans sien sy steeds voor haar geestesoog daai skewe Clark Gable-streep. Die diep, reg­af kepe onder sy wangbene kort ’n horisontale lyn vir balans. Sy het die probleem met ’n nuwe bril probeer aanspreek; sy oue het sy in die Kaap al weggesmyt. Die nuwe bril het ’n swart raam rond­om smal, reghoekige lense. Maar sy sien steeds daai verdomde snor. Party mense kan jy net nie verander nie.

      Voor hulle begin ’n dowwe glinstering die nag in twee helftes deel – lug en aarde. Die horison kry vorm, bloei oor die woestyn. Rantjies rys uit die donkerte, strak en skerp. Die pad sak in holtes af en rys dan weer in die grys môrelig. Hulle ry oor ’n laagwaterbrug waarteen ’n vloed lank gelede knoetsige, blaarlose bome vas­ge­spoel het. Op die kruin van die volgende bult tref die son die stowwerige voorruit en omskep dit eensklaps in ’n plaat van goud.

      Die man gryp sy knieë vas. “Kan jy sien waar jy ry? Ek sien niks.”

      Sy trek die steeltjie om water op die voorruit te laat spuit, maar daar kom niks uit nie, die ruitveërs vee net die stof in konsentriese strepe. Sy verminder spoed, steek haar hand deur die kantvenster uit en vee ’n kolletjie voor haar skoon. Dan trek sy van die pad af en klim uit, omgeef van stof wat stadig neersif. “Dié plek sal doen.” Sy buig haar rug agteroor en strek haar arms wyd. Dan vat sy die rugsak en waterbottel agter haar sitplek.

      Teen dié tyd staan die man ook langs die kar, leun met sy elmboë op die dak en kyk haar aan. Die stof kom tussen sy tande en laat sy keel kriewel. “Die plek sal doen vir wat?”

      “Kom ons gaan stap ’n entjie.” Sy dra jeans, ’n katoenbloes en ste­wige, gemaklike skoene. ’n Blou strik bind haar hare laag in haar nek vas. Hy dra kantoorklere – ’n wit boordjiehemp met smal baksteenrooi strepe, grys broek en swart insteekskoene. Dis die klere wat sy vir hom gegee het, doelbewus doodgewoon. “Komaan, ons gaan nie ver nie.”

      Sy loop teen die wal af, gly deur sand en trap swart klippe los. So­dra jy nie meer die pad kan sien nie, is daar geen teken van beskawing nie, selfs nie eens van lewe nie. As jy lank genoeg wag, sal jy miskien ’n kar se stofwolk sien, myle ver, en later die golf van klank hoor verbydruis. Maar dis onwaarskynlik op hierdie stuk pad, hier­die tyd van die dag. Hulle het al byna ’n honderd kilometer gery sonder om ’n enkele ander kar te sien. Dis ’n leë land. Die rantjies wat die landskap deurkruis, is opgewerp nog voordat die eerste mens sy stem verhef het en bly steeds soos dit toe al was. Hier is niks nuuts nie, net gebreekte klipskerwe en sand. Tyd het hier ’n heel ander betekenis. In hierdie wêreld is ’n menselewe net die vlieten­de skaduwee van ’n distel in die wind.

      “Haai, waar’t jy heen verdwyn?”

      Sy hoor hom roep en draai terug, klim weer ’n paar tree teen die wal uit.

      “O, daar’s jy, ek kon jou nie sien nie.” Hy kom gly-gly teen die steilte af. “Hoekom doen ons dit?”

      “Ek wil jou iets wys.” Sy vroetel met haar bloes se boonste knoop. Laat hom dink wat hy wil.

      Hy volg haar in die skadu’s in. Die landskap is ’n doolhof van slote en riwwe, die een nes die ander. God se idees het opgeraak, nie die materiaal nie. In die vroeë oggendson is die firmament ’n diep blou, bokant swart en geel aarde. Die man kyk meestal af. Afhangend van waar hy trap, raak sy skoene nerfaf of loop vol sand. “Ek dog jy sê ons gaan net ’n klein entjie.”

      Sy gaan staan en kyk rond. Dit sal dan die plek wees. Hier aan die bergagtige, binnelandse rand van die woestyn is dit oral ewe geskik. Na die weste toe is daar klipperige rante, vlaktes en dan net sand tot by die koue branders van die Atlantiese Oseaan. Sy vat ’n sluk water.

      Hy gaan sit op ’n klip en trek sy skoene uit om die sand uit te gooi.

      “Mens kan vir jare hier bly sonder dat iemand jou kry,” sê sy en gee vir hom die waterbottel aan.

      “Dis seker so . . . Maar ek sal eerder my kans vat met ’n nuwe naam op ’n klein dorpie.” Hy lig die bottel, maar laat sak dit nog voor hy drink. “Jy sê nie een van die ander is al ooit gekry nie?”

      “Nee. En hulle sal jou ook nie opspoor nie.”

      Die water is louwarm en smaak na plastiek. Hy laat dit in sy keel afspoel. Toe hy uiteindelik die bottel laat sak, sien hy iets wat vir hom g’n sin maak nie. In die middel van sy gesigsveld is ’n klein swart gaatjie, ’n pistool se loop. Daaromheen sien hy die vrou, in die houding wat sy seker in die polisiekollege geleer het: arms amper reguit gestrek, linkerhand onder haar regterpols, voete uitmekaar, linkerbeen vorentoe. Agter haar is die landskap vaag en chaoties.

      Sy skiet twee vinnige skote. Dwa. Dwa. Een tref hom in die wang en die ander bo die oog. Hy steier agteroor, gooi sy arms wyd asof hy die eggo van die doodskoot tussen die kranse wil vang, en stort neer in die stof.

      Toe die weerklank in haar ore wegsterf, hoor die vrou lopende water. Dit kan nie wees nie, nie hier nie. Dan sien sy die roggelende bottel, steeds in die man se hand. Die nattigheid verdwyn in die sand. Sy druk die pistool terug in die rugsak, wikkel die bottel uit die dooie man se vingers uit, draai die doppie op en hang die band oor haar skouer. Die bottel hou aan vorentoe val as sy kniel en deur die man se klere voel. Sy moet seker maak daar is geen flenters papier of enigiets wat kan help om hom te identifiseer nie.

      Die aasdiere sal eerste op hom afkom. En selfs al kom hulle nie, sal sy lyf oor ’n paar weke swart en onherkenbaar wees. Daarna word dit net beendere, totdat ook hulle broos raak en vermurwe. En as die ondenkbare wel sou gebeur en iemand kom op die lyk af terwyl dit nog herkenbaar is, wie is daar wat hierdie man sal uitken, wie is daar wat sal omgee as ’n niemand doodgaan? Sy iden­titeit is amptelik uitgewis en al sy bande met ander mense is verbreek, sy het daarvoor gesorg. Selfs sy verbintenis met haar raak met elke tree wat sy teruggee kar toe moeiliker om te bewys. Binne­kort bestaan dit net in haar kop.

      Op pad uit die woestyn uit daardie oggend draai sy die musiek so hard as wat dit kan, maar steeds vul dit nie haar gedagtes vol­ledig nie. Sy begin sing – die liedjies op die bandspeler, ander liedjies

Скачать книгу