Скачать книгу

      omdat jy my maat bly

      t.s.v. my skilferhemp en nylontrui

      omdat jy lief vir my geword het

      en my selfs vashou teen jou bors

      t.s.v. my dimpelbene en die

      ryp puisies wat op my wange kors.

      My kers brand

      omdat jy kaalvoet saam met my

      deur die dorp loop

      en wag as ek iets in ’n

      supermark koop

      omdat jy pouses vir my brood gee,

      smiddae vir my wiskunde verduidelik

      en soms oor my skoon hare vee

      omdat jy my maat is en so daarin berus

      al skinder almal oor jy ’n seun

      en ek ’n meisie is

      omdat jy verstaan as ek weg van jou kring

      en agter die gordyne kruip

      as jy operette sing.

      Kyk hoe bewe my kers nou

      hy sê dankie en hy bid vir jou.

      GESLOTE HEK

      Laat my tog eenmaal deur die

      heinings van jou oë breek,

      sodat ek kan weet

      of dit vir mý is

      vir wie jy wit jasmyne kweek.

      VANAAND

      Vanaand is alleen . . .

      en Vanaand verlang na jou.

      gaan dan na jou kamer

      en stuur vir my

      die groot duiwe van jou oë.

      laat hulle roep . . .

      laat hulle ritsel en sirkel oor my kop.

      maak oop jou vensters,

      kelk jou hande

      en laat die warm borsies van my

      tintinkies teen jou palms klop.

      breek die bruin akkers in jou oë,

      snoei jou heinings,

      volg my heuningvoëltjies

      en kom skink vir my

      liefde uit die koel kruike

      van jou mond.

      POUSE

      ek soek na jou deur elke pouse

      ek soek na jou op al die trappe

      ek soek na jou tussen die blou kadette

      ek soek na jou in elke bank en bleiser

      ek soek na jou by die roomyskarretjies

      tussen al die kinders

      ek soek my lewe deur na jou begrip

      bly tog by my

      want ek is

      bang

      EK WIL

      (vir John)

      Ek wil jou so graag gelukkig maak

      ek wil vir jou verse skryf

      sober en soepel soos jyself

      ek wil vir jou sing

      snags terwyl jy slaap

      ek wil myself vir jou gee

      stil soos ’n koorsboom

      soet en oop soos mispels

      soos mopanies in die herfs

      soos maroelas in die somer

      bruin en heel soos kremetart

      vurig soos die bloeiende handjies van ’n kafferboom

      ek wil jou so graag iets gee wat jy kan saamdra

      wat by jou sal bly soos ’n klein warm akkedissie

      eendag as jy oud en allenig in die son sit.

      VIR JOU

      Ek offer vir jou ’n purper duif

      Sy krop vol eensaamheid

      Sy oë twee leegtes wat staar

      deur die tralies om my hart.

      Sien jy hoe eerbiedig ek dit vashou

      sien jy die halfmane onder my oë

      my gebreekte hande . . .

      maar ek offer elke dag

      vir jou

      net vir jou, want ek het jou lief.

      BOKKIE

      My bokkie ek en jy

      lê onder in die vlei

      tussen wilde riet en vry.

      Jou lyfie nes ’n bruin viool

      gestrek om eers harpuis te kry.

      Daar’s bloureën in jou oë

      aandblom in jou hare

      en uit jou naeltjie peul ware

      wit jasmyn.

      Ek sny jou mond en drink jou sap

      en huil as bloureën uit jou oë tap.

      Ek kneus die blomme in jou hare

      breek jou fyngestemde snare

      en skreeu hardop as ek jou stukkend kap.

      HOE VER IS EENDAG?

      (Hoe ver is eendag?

      eendag het ’n aangepakte tong

      aartjies wat op droë lippe rafel

      en pienk tande in ’n glasie water oppie tafel

      Eendag sal ek jou skimmel kop moet streel

      en jou insak glimlag se ou asem met jou deel.)

      Ag hou my vas; draai my rond

      ek proe die aarde in jou mond

      Kom ons dans op ’n trippens in die straat se lig

      kom ons lê in die dou; jou sagte maag teen my gesig

      kom ons lag roekeloos teen die droë son

      en vang die dae wat skoon uit die kweekgras kom

      Kom breek my oop en drink my bloed

      want die ouderdom is net soos kaggelroet

      kom voordat die jonkheid ons begewe

      kom, ag kom tog, laat ons lewe.

      WAAROM?

      Waarom het jy vandag aan my hand gevat?

      met jou oë windblou en groot soos ’n hartseer,

      met jou bors verlate en skraal soos ’n strand

      waarop ek kon dwaal

      met jou gedagtes om my enkels;

      waarop ek kon huil

      met jou gesig donker in my hare;

      waarop ek kon lê

      met my vuiste in die skadu’s van jou arms.

      Waarom het

Скачать книгу