Скачать книгу

mag jy maar met vrymoedigheid bid dat God vir jou sal voorsien. Miskien gaan Hy dit ook op vreemde maniere en deur vreemde mense doen.

      Neil Verwey, ’n sendeling in Japan, vertel dat hulle eenkeer vir hul kleinseuns T-hemde wou koop, maar nie geld gehad het om daarvoor te betaal nie. In die winkel waar hulle na die T-hemde gaan kyk het, het sy vrou ’n pragtige jas aangepas, wat sy heel goed geweet het dat hulle nooit sou kon bekostig nie. Sy kry toe ’n dik rol note in een van die jassakke. Toe hulle hierdie geld aan die winkelbestuurder oorhandig, het hy vir hulle ’n beloning gegee wat oorgenoeg was om vir die kleinseuns se T-hemde te betaal.

      Vertrou God om te alle tye vir jou te sorg. Hy onderneem om in elke behoefte van sy kinders te voorsien. “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus,” beloof Paulus die gemeente in Filippi (Filippense 4:19). Hy wil dit vandag ook vir jou doen.

      Here, ek loof U dat U nog altyd in elkeen van my behoeftes voorsien het. Amen.

      3 Maart – Saam met Elia onder die besembos

      3 MAART

      Lees: 1 Konings 19:1–8

      Saam met Elia onder die besembos

      Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” – 1 Konings 19:3–4

      Elia leer maar moeilik om God voluit te vertrou. Nadat God ten tye van die hongersnood vir hom gesorg het en hy boonop die wonder beleef het dat God vuur uit die hemel gestuur het om sy offer te verbrand terwyl die Baälprofete tevergeefs na húl god geroep het (1 Konings 18), is hy al weer op moedverloor se vlakte. Hy vlug as Isebel beloof om hom dood te maak en gaan sit onder ’n besembos in die woestyn, waar hy wens om dood te gaan. Gelukkig los God hom nie daar nie. Hy stuur ’n engel om vir Elia kos te bring en hom te bemoedig. Hierna kon hy tot by die berg Horeb stap, waar God Self aan hom verskyn het.

      Soms voel óns ook daarna om onder ’n besembos in te kruip en vir God te sê dat ons nou genoeg gehad het. Is dit dalk vandag met jou die geval? Dit is juis nou dat jy God sal vind op die plek waar jy Hom die heel minste verwag. God wil vandag vir jou soos vir Elia kom wys dat Hy jou nie vergeet het nie, Hy wil jou versterk sodat jy weer kans sal sien om aan te gaan.

      Vader, dankie dat U my elke keer onder my geestelike besembos kom uithaal en my weer nuwe krag gee. Amen.

      4 Maart – Hou moed!

      4 MAART

      Lees: Handelinge 27:18–26

      Hou moed!

      Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. Nadat hulle ’n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “… selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie.” – Handelinge 27:20–22

      ’n Geweldige storm op see maak dit feitlik onvermydelik dat die skip waarmee Paulus op pad Rome toe is, sal vergaan. Die matrose gooi sommer dadelik tou op – hulle hou veertien dae lank op met eet omdat hulle alle hoop laat vaar het dat hulle sal oorleef. Maar Paulus praat hulle moed in: hulle hoef nie moed te verloor nie; die God wat hy aanbid, het hom verseker dat almal lewendig daar sal uitkom, sê hy vir hulle. En God kom die belofte na wat Hy aan Paulus gegee het: al die passasiers het veilig aan land gekom, alhoewel die skip vergaan het.

      As daar ooit in jou eie lewe ’n “storm” woed wat jou wil laat moed opgee, selfs wanneer jy meen dat dinge nooit weer beter sal kán gaan nie, mag jy vashou aan God se beloftes in sy Woord. Hy kán en sál jou help, al laat Hy jou soms wag op uitkoms. God is ten volle in beheer van jou omstandighede. En buitendien leef jy mos met die hoop dat Jesus nou reeds besig is om jou plek in die hemel gereed te maak. Al gaan dit op aarde ook hóé sleg met jou, is die feit dat jy ’n Christen is genoeg om jou hoop helder te hou – in álle omstandighede!

      Here Jesus, dankie dat U dit vir my moontlik maak om ten spyte van my omstandighede nooit moed te verloor nie, omdat ek weet dat U vir my die hemel beloof. Amen.

      5 Maart – As jy moed verloor het

      5 MAART

      Lees: Psalm 34

      As jy moed verloor het

      Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap … Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. – Psalm 34:6, 19

      Gister het jy gehoor dat ’n mens nooit moed hoef te verloor as jy aan God behoort nie. Maar in die praktyk werk dit nie altyd so nie. Soms is jy sielsmoedeloos ten spyte van jou geloof, ten spyte van die feit dat jy weet dat dit onnodig is. In dié geval mag jy maar wéét dat God naby die gebrokenes is, dat Hy die moedeloses help – Hy wil dit vandag ook vir jou doen! Maar dan is dit nodig dat jy na God sal kyk, na Hom sal “opsien”, soos vandag se kernvers van jou vra. Hy maak dit selfs vir jou moontlik om ten spyte van jou swaarkry en gevoel van moedeloosheid van blydskap te straal.

      Paulus gee aan die gemeente in Korinte ’n onfeilbare resep teen moedeloosheid wat jy gerus kan beproef: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Korintiërs 4:16–17). Wanneer die moedeloosheid jou weer wil oorval, gaan lees en herlees hierdie teksvers en neem die belofte daarin vir jou: God vernuwe jou dag vir dag; jou huidige swaarkry is maar net tydelik en eendag sal dit vir jou uitloop op ’n heerlikheid wat vir altyd sal bly!

      Here God, ek loof U dat U ten spyte van my moedeloosheid naby my is. Laat my weer van blydskap straal omdat ek aan u belofte vashou dat my swaarkry eendag in heerlikheid omgesit sal word. Amen.

      6 Maart – Vertel God van jou moedeloosheid

      6 MAART

      Lees: Psalm 142

      Vertel God van jou moedeloosheid

      Ek roep tot die Here; ek pleit om die Here se genade. Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. – Psalm 142:2–4 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Die digter van hierdie psalm weet presies wat hy behoort te doen wanneer hy die slag moed verloor het: hy vertel vir God die redes vir sy moedeloosheid omdat hy weet dat God vir hom raad sal hê. Ook vir jou behoort dit ’n groot gerusstelling te wees dat God van jou weet, dat Hy jou pad ken wanneer jy besig is om moed te verloor. Baie maal is die beste raad teen jou eie moedeloosheid juis om ánder mense te bemoedig. Die Bybel maan ons dikwels om mekáár moed in te praat. As jy self al beleef het hoe dit voel om moedeloos te wees, kan jy moedelose mense veel beter bemoedig as iemand met wie dit nog net altyd goed gegaan het. “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen,” skryf Paulus aan die gemeente in Tessalonika (1 Tessalonisense 5:11).

      Maar God weet nie net van jou moedeloosheid nie, Hy onderneem ook om dit weg te neem. Gaan onderstreep gerus 1 Petrus 5:10–11 in jou Bybel: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort rukkie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid!”

      Hemelse Vader, hoe goed is U nie! U weet nie net nou van my moedeloosheid nie, maar U beloof ook om my weer moedig, sterk en standvastig te maak. Doen dit asseblief. Amen.

      7 Maart – Kyk na God

      7 MAART

      Lees: Psalm 25:12–22

      Kyk na God

      My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. – Psalm 25:15

      Daar is

Скачать книгу