Скачать книгу

goedheid uit die oog verloor of opgehou om daaroor te skryf nie. “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” verklaar Psalm 106:1. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” nooi Psalm 34:9.

      God kan álle dinge, ook pyn en lyding, vir jou uiteindelik ten goede laat meewerk. “Die Here sal vir my alles goed laat afloop,” beloof Psalm 138:8. Aan hierdie beloftes kan jy vashou in krisistye. Maak ’n gewoonte daarvan om God vir sy goedheid te loof, totdat hierdie feit dat God goed is, onlosmaaklik deel word van jou lewe.

      Here, u goedheid aan my gaan my verstand te bowe. Ek kan dit nooit begryp nie, maar ek het dit al soveel keer in my lewe ervaar dat ek U graag daarvoor wil loof en prys. Amen.

      14 Februarie – Loof God vir sy heiligheid

      14 FEBRUARIE

      Lees: 1 Petrus 1:13–16

      Loof God vir sy heiligheid

      Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” – 1 Petrus 1:15–16

      Wanneer ons God aanbid, behoort ons altyd van sy absolute heiligheid bewus te wees. Hierdie heiligheid moet ook óns strewe word. Omdat elke mens as sondaar gebore word, kan ons nie vanself by God uitkom nie. Ons moet eers verander, van ons sonde ontslae raak. Jesus maak dit vir ons moontlik wanneer Hy in ons plek aan die kruis sterf. En Hy kom wys boonop vir ons met sy lewe en karak-ter presies wat heiligheid beteken. Hy was ’n mens soos ons, met één uitsondering: Hy het nie sonde gedoen nie; Hy was heilig soos sy Vader heilig is.

      Wanneer jy jou lewe aan God oorgee, behoort jy te verander. Nou is jy ’n nuwe mens, en jy moet in die vervolg soos ’n nuwe mens leef: jou gees en gedagtes moet nuut word. “… lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig,” skryf Paulus aan die gemeente in Efese (Efe-siërs 4:24). Dit doen jy deur Jesus se voorbeeld na te streef; deur soveel moontlik van Hom uit te vind en soveel moontlik tyd in sy teenwoordigheid deur te bring. Vra sommer nou die Heilige Gees om jou bewus te maak wanneer jy verkeerde dinge doen, en bely daardie sonde dan dadelik. God ís getrou en regverdig, Hy sal jou sonde summier vergewe.

      Hemelse Vader, ek loof U dat U bereid is om elkeen van my baie sondes te vergewe en my heilig te maak. Doen dit asseblief nou vir my. Amen.

      15 Februarie – Loof God vir sy krag

      15 FEBRUARIE

      Lees: Efesiërs 1:15–23

      Loof God vir sy krag

      … en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het … – Efesiërs 1:19–20

      Alle krag behoort aan God. En Hy stel hierdie lewendmakende krag beskikbaar aan élkeen wat in Hom glo. Jesus het God se krag op aarde kom demonstreer toe Hy ’n storm op die see stilgemaak het, blindes laat sien, dooies laat hoor en selfs mense uit die dood opgewek het. Paulus skryf oor God se krag in sy Efesiërbrief. Dieselfde krag werk ook in óns as ons in Jesus glo, is die slotsom waartoe hy kom. Jy kan elke dag uit die krag van God leef, omdat Hy sy krag tot jou beskikking sal stel as jy Hom vra. Paulus het hierdie geheim geken. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee,” getuig hy in Filippense 4:13. Ook jy sal alles kan regkry as jy op God se krag steun.

      Met ons menslike verstand kan ons nooit God se krag ten volle begryp nie. God se werk in die natuur is maar die begin van sy krag. “Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?” vra Job in Job 26:14. God skenk jou sy wonderwerkende krag wanneer jy daarvoor bid. Jy mag maar bid vir die openbaring van sy krag in jou lewe. Vertrou Hom dan om hierdie krag vir jou te gee.

      Here, U weet presies hoe swak en sondig ek is. Ek loof U vir die krag wat U tot my beskikking sal stel. Gee dit asseblief vir my elke keer wanneer ek dit nodig het. Amen.

      16 Februarie – Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het

      16 FEBRUARIE

      Lees: Efesiërs 2:1–10

      Loof God omdat Hy ’n doel met jou lewe het

      Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. – Efesiërs 2:10

      Jou hoofdoel hier op aarde is om God te dien en lief te hê, om sy koninkryk uit te brei en dié dinge te doen waarvoor Hy jou bestem het. Hy het ook ’n einddoel vir sy kinders: om eendag vir altyd in die hemel saam met Hom te leef. Dit geld vir álle Christene.

      God het egter ook ’n spesifieke doel vir jou persoonlik. Hy gee vir jou spesifieke gawes om jou vir hierdie spesiale doel waarvoor Hy jou op aarde geplaas het, toe te rus. Jy ontdek hierdie doel deur ’n verhouding met Jesus. Sodra jy uitgevind het wat jóú spesifieke doel is, sal jou hele lewe verander en gaan jy ontdek wat dit beteken om werklik gelukkig te wees. Bid dat God Self jou spesifieke doel aan jou bekend sal maak.

      Vader, ek loof U dat U ’n doel met my lewe het. Maak my gewillig om U lief te hê en te dien, om só te leef dat ek eendag vir altyd saam met U in die hemel sal wees. Maar help my ook om vandag nog my spesifieke doel te ontdek. Amen.

      17 Februarie – Loof God omdat Hy by jou is

      17 FEBRUARIE

      Lees: Matteus 1:22–25

      Loof God omdat Hy by jou is

      Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. – Matteus 1:22–23

      Sonder God is ’n mens se lewe uitsigloos en hét jy nie ’n toekoms nie. Maar saam met Hom weet jy dat jy nooit weer alleen sal wees nie én dat jy eendag ’n vaste adres in die hemel sal hê. As jy nog nie aan God behoort nie, moenie langer wag om jou hart en lewe aan Hom oor te gee nie. Hy is die enigste Een wat die verlange in jou hart kan stil maak en jou met Homself kan vul, sodat sy rus en vrede vir altyd jou lewe sal binnekom.

      Here Jesus, ek loof U dat U God by my is en dat u Heilige Gees in my woon. Dankie dat U my nooit sal verlaat nie; dat ek my elke dag in u teenwoordigheid mag verlustig. Amen.

      18 Februarie – Loof God omdat Hy lig is

      18 FEBRUARIE

      Lees: Jesaja 60:17–20

      Loof God omdat Hy lig is

      Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn

Скачать книгу