Скачать книгу

Pa.”

      Toe oom Basie in is, sit hy die lig gelukkig af.

      “Nou kan ek nie meer knyp nie,” sê ek. Ek draai my rug so half op Hein toe ek my broekspyp begin optrek.

      “Waarvoor is jy skaam?” vra hy.

      “Ek is g’n skaam nie.”

      “Hoekom draai jy dan weg?”

      “Sommer.”

      Ek hou die straal mooi op een plek. Dalk gebeur ’n wonderwerk terwyl Hein dit kan sien, dink ek. Die pie-straal maak blasies, maar hulle bly bars.

      “Fokkit,” sê Hein, “watse blaas het jy?”

      Ek skud af en sit weg. “Pie jy al skuim?” vra ek, maar nie asof dit belangrik is om te weet nie. Sommerso, dis hoe ek dit vra.

      Hy antwoord my nie, draai effens en haal sy peester uit. “Aangesien ons dan nou skaam is vir mekaar.”

      Ek is spyt hy’t weggedraai, want ek wil sien hoe groot syne is. Hy kan nogal spiteful wees, Hein Ahlers.

      Sy straal tref die gras en two ticks staan die skuim. “Daar’s jou antwoord,” sê hy.

      Ek maak of ek nie die skuim gesien het nie. “Waar?”

      “Dáár, man, het jy nie oë in jou kop nie?” Die blasies is besig om te bars. Ek wag tot hulle byna heeltemal weg is voor ek antwoord.

      “Ek maak partykeer net soveel, maar nie elke keer nie.”

      Toe lag hy vir my. Partykeer dink ek regtig ek moet maar vir Ma luister en ophou om met Hein Ahlers te praat.

      Salmon het nie vir my gelag toe ons die aand saam buite gepie het nie. Hy is anders as al die ouens wat by my susters kuier. Ek hou van hom. Ouma Makkie het al vir Ma gesê sy sien ’n trouery aankom.

      Ek hoor hoe Ouma vir Erika vra: “My kind, vertel tog hoe jy aan dié oulike klong gekom het.”

      Erika se oë blink. “Het ek Ouma nog nie vertel nie?”

      Salmon kom juis vandag weer hier eet. Dis nou elke Sondag se ding, en dan nog Vrydagaande ook. Pa wil nie hê hulle moet mekaar meer as dit sien nie, want dan gaan Erika haar skoolwerk afskeep, sê hy. Muisneste en skoolwerk gaan nie saam nie.

      “Ons het op die Trans-Karoo ontmoet, Ouma, laas Desember, op pad terug van Ouma-hulle af.”

      Hulle het van die oggend tot die aand in die gangetjie voor ons kompartement staan en praat, tot Pa sy kop by die skuifdeur uitgesteek en gesê het: “Erika, kom in, môre is nog ’n dag.”

      Ouma kry so ’n ver kyk aan haar. “Laas Desember? Toe’t jou oupa nog geleef, nè?”

      “Ja, Ouma.” Mens kan sommer sien Erika het nie nou lus om oor Oupa te praat nie.

      “Ai toggie tog.”

      Uit die bloute uit kry ek ouma Makkie jammer. Vir die eerste keer dink ek daaraan hoe hartseer sy moet wees. Oor Oupa en die plaas en alles. As ’n mens se ouma jou kamer vat, dink jy nie hoe sy voel nie. Dit was seker nie vir haar maklik om in die stad te kom bly nie.

      “Is ek nie vir julle ’n las nie, Awerjam?” het ek haar vir Pa hoor vra kort na sy hier aangekom het.

      Pa het sy kop geskud en gesê: “Daar gaan baie mak skape in ’n kraal.”

      En Ma het vir haar gesê: “Ma is soos ’n vars briesie in hierdie huis.”

      Toe was ek nog kwaad vir Ouma, maar ek is nou bly ons het háár gekry en Ma se familie net die stoele en tafels en goed. Al ruik haar kamer nie altyd soos ’n vars bries nie.

      “Maar wag,” sê Ouma vir Erika, “dis gisters daardie, ons was oor jou Salmon aan’t prate, of hoe?”

      “Ek is baie lief vir hom, Ouma.”

      “En hy vir jou ook, ek sien hoe hy na jou kyk. Maar sê vir my, het hy jou al ’n bynaam gegee? Dit sê baie van ’n man se gevoelte vir sy nooi. Nee wat, moenie so bloos nie, kind.”

      Erika laat haar kop sak. “As ons alleen is, noem hy my Spinnekop, Ouma. Ek weet dis sommer simpel, maar hy sê dis oor ek sy hart toespin met liefde sodat hy nie kan loskom nie en ook nooit sal wíl nie.”

      Ouma sit haar hand op Erika se arm. Haar vingers lyk soos takkies. “Dis g’n simpel nie, Erika-kind. Jy moet hou wat jy het, dis ’n trouman daardie, en hulle is so skaars soos hoendertande. Kyk, ek sê altyd ’n mens moenie ’n mooi man vertrou nie – hy’s almal se man – maar jou Salmon is van ’n ander têp se water.”

      “Dis waar, Ouma.”

      “Ek sien jou ma is net so erg oor hom, en dit sê iets, hoor.”

      “Tot Pappie sê hy is ’n agtermekaar kêrel.”

      Ouma vee met haar hand oor haar hare en knipoog vir Erika. “As ek darem vandag vyf of ses jaar jonger was, het ek jou opdraand gegee by daardie klong.” Sy lag dat haar tande byna uitval. Toe haal sy dit anyway uit en krul haar tong in haar neusgat in. Aspris.

      “Sies, Ouma!” Erika staan eenkant toe.

      Ouma lag. Sy kyk na die valstande in haar hand. “Tanne is net ’n las. As die Here wil gehad het mens moet tanne hê, sal jy daarmee gebore gewees het.” Toe lag sy éérs.

      Erika dink nie dis snaaks nie. “Ouma haal nie Ouma se tande uit wanneer Salmon hier is nie, hoor!”

      Al wat ek hoef te doen, is om by die walvisstasie uit te kom, dalk gee iemand vir my ’n tand present.

      By die hout-jetty wat so diep in die hawe insteek, gaan staan ek. As mens op hom inloop, weg van die kant af, voel dit amper of jy in die water self ingaan. Die jetty staan op pale in die diep water. Daar is ’n sagte geklots, soos wanneer mens die slag kans kry om alleen te bad, en met jouself lê en speel, stilletjies, oor jy nie wil hê iemand moet hoor nie.

      Die gety is besig om in te kom. Ek kan dit sien aan die goed wat stadig onder my verbydryf: plastieksakke, ’n jellievis, olie van die skepe wat blink kolle kleur op die water maak. Tot ’n kurkprop. As mens sit en visvang, soek jy verniet na ’n blerrie prop om ’n dobber van te maak, maar wag nou net tot jou arm in gips is en jy jou visstok by die huis moet los. As ek nou ’n lyn in die water gehad het, het die aas heen en weer onder my dobber gespoel. Vis hou van aas wat beweeg. Daar is blacktails en pinkies en mullet in die water. Die mullet vat nie maklik aas nie – húlle moet mens met ’n jigger vang. ’n Jigger is drie hoeke wat aan mekaar vasgesoldeer is. Jy gooi hom sonder sinker in en pluk-pluk die stok terwyl jy inkatrol, dan kap die skerp punte in ’n vis se lyf vas en jy trek hom uit. Maar ’n mens moet oppas vir die hawepolisie as jy ’n jigger aan jou lyn het.

      Die prop dryf vinniger as die ander goed, want hy steek bo die water uit en die windjie help hom aan. Dis dieselfde wind wat die stank van die walvisstasie af aanwaai sodat mens dit partykeer nie kan hou nie, of jy by die huis is of by die skool of in die kerk.

      Agter die prop, so net-net onder die water, dryf daar nog iets: lank en deurskynend soos ’n worsderm, een kant oop en met ’n tiet aan die toe kant. ’n Glassy het in die ding ingeswem en in die noute van die punt vasgesteek – hy kan nie vorentoe of agtertoe nie. Nou is ek éérs spyt ek het nie my visstok hier nie, want dan sou ek die derm met die stok se punt gehaak en die vissie uitgehaal het vir lewendige aas. Met lewendige aas vang mens maklik ’n bonito of ’n ding. Barracuda ook, maar dan moet jy ’n staal-trace hê.

      “Wat sit jy die water so en kyk, Timus?” Dis Hein se stem. By hom is van sy pelle, sien ek toe ek omkyk. Hein het ’n sigaret in die mond. “Wens jy daar kom ’n meermin uit wat laaik van laaities met gips aan hulle arms?” Sy pelle lag.

      Ek wil-wil vies word, maar onthou van die derm wat nou al aan die wegdryf is, en ek wys daarna.

      “Wat is dit daai?”

      Hulle kyk almal waar ek beduie en bars toe uit van die lag. Hulle hou later aan

Скачать книгу