Скачать книгу

in my ore. ’n Ding wat skop in my bors. Uiteindelik lig ek haar hand tot by my lippe, maar sy trek dit uit my greep. Maak ’n vuis.

      “Wat nou? Ek het gedink . . .”

      “Nie hier nie. Hier’s te veel mense.”

      “Is jy skaam vir my?”

      Sy skud haar kop en lag. “Nee, maar Maggie duld nie ’n vryery in Hardings nie.”

      “Vertel my wat gebeur het.” Ek sit die mes en vurk neer en stoot die leë bord weg. Maggie maak die heerlikste hoenderkerrie. “Vertel my van die bloed.”

      “Dis iemand wat ek geken het. By geslaap het,” korrigeer sy vinnig, asof sy onthou dat sy veronderstel is om eerlik te wees.

      “Geslaap het, of slaap?” Ek wil dit soos ’n vraag laat klink, maar kry dit nie reg nie. In my mond word dit dik – ’n aanklag.

      Sy vleg haar vingers inmekaar. “Het. Definitief. Heeltemal. Ek belowe.”

      Haar woorde is slordig, soos ek al geleer het gebeur wanneer sy onseker voel.

      Ek haal skielik ’n bietjie makliker asem. As ’n mens stories skryf, ken jy die waarde van verlede tyd. Van verby. Moord. Droogte. Ontvoering. Oorlog. Kláár. Afgeskryf aan die verlede tyd en sy leuens, sy versagting en verdraaiing, sy verleiding van perfeksie of wanhoop – maar steeds klaar.

      “Wat het gebeur?”

      Sy trek haar skouers op, asof die antwoord voor die hand liggend moet wees. “Hy wou nie hoor . . . aanvaar dat dinge verby is nie. Ek probeer hom lankal afskud, maar hy wil niks weet nie.”

      “Was jy al polisie toe?”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      “Watter verskil sou dit maak?”

      “Dalk sou hy jou dan lankal uitgelos het.”

      “Niks sou kon keer wat gebeur het nie.”

      Ek haal haar hande uitmekaar. Hou hulle in myne vas. “Jy moet hom gaan aangee. Dis belangrik. Hulle kan hom arresteer. Weghou van jou. Keer dat dit weer gebeur.”

      Toekomstige tyd. Die gewig van moontlikheid. Onsekerheid.

      Vir ’n oomblik lyk dit asof sy my woorde oorweeg. Maar dan, skielik, is die gedagte weg, toegedraai in die hardheid wat ek al goed ken. “Niks sal hom keer nie.”

      “Wie is dit?”

      “Niemand nie.”

      Sy neem haar hande terug en vou hulle stadig en doelbewus tot vuiste op haar skoot. Ek voel die gemoedelikheid van vroeër wegsypel.

      “Ranna. Asseblief. Hoekom nie? Wat gaan aan? Wat vertel jy my nie?”

      “Daar is niks om te vertel nie. Dis net . . . niks nie,” sê sy hard. “Dis so onbenullig, regtig.”

      “Ek kan jou nie help as jy my nie meer inligting gee nie.”

      Sy lag. Die klank daarvan is onverwags. Dit weerkaats van die mure en gesigte af, maar niemand kyk na ons asof ons gelukkig is nie. Asof ons lovers is wat ’n spesiale oomblik deel nie. Daarvoor is die klank te hol.

      “Ek het nooit jou hulp gevra nie.” Sy kyk af na haar hande. “Ek vra net dat jy my moet liefhê. Of nee, nie eers dit nie. Ek vra dat jy stadig, báie stadig, moet seker maak of jy my kán liefhê. Hoekom wil julle mans altyd die twee goed gelykstel? Dis nie dieselfde ding nie. Liefhê en help is twee heeltemal verskillende dinge.”

      “Ranna . . .”

      “Los dit,” skiet sy die woorde oor die tafel. “Hy is weg. Dis klaar.”

      “Jy het dan gesê hy sal nooit weggaan nie.”

      “Almal gee in een of ander stadium op. Hy ook.” Sy probeer lag, asof sy onthou ons is vanaand hier om vrede te maak. “En dis mos nie nou belangrik nie. Wat nou saak maak, is ek en jy. Niks anders nie.”

      13

      DIT REËN STEEDS TOE EK RANNA WEER SIEN. Sy het my die vorige nag huis toe gejaag, al het ek belowe om op die bank te slaap – net ingeval die man wou kom moeilikheid soek. Maar sy wou niks weet nie.

      Die nuwe dag is net so warm en bedompig soos die vorige een. Die stad slaan kras in my neus op; dis ’n mengsel van nat grond, ongewaste lywe en vullis wat te lank buite gestaan het. Om ons trap die straathandelaars vies rond. Alles is natgereën: hulle ware, die straathoeke waar hulle moet staan. Die paaie lê vol bruin water en dis moeilik om te sien waar die straat begin en die eens stowwerige sypaadjie eindig.

      Mense loop verby terwyl hulle kort-kort hemel toe kyk, asof hulle die ergste verwag. Ek wonder hoeveel van hulle gisteraand nat gaan slaap het.

      Ons – ek, Ranna en Tom – staan en wag voor die Plaza Hotel vir Lion Mining se mynbestuurder om ons op te tel. Die maatskappy het belowe om ons vanuit die lug te wys waar die reën reeds sy merk gelos het. Een van hulle goudmyne is onder water en drie naburige dorpe is van die buitewêreld afgesny. Hulle is bekommerd omdat die regering nog nie buitelandse hulp versoek het nie.

      Ek maak weer seker ek het my beursie ingepak. Notaboek. Pen. Nog een. Ek moes vroeg opstaan en is nog nie lekker wakker nie.

      Ek en Ranna het tot laat gisteraand gepraat. Ek kon nie sin maak uit alles wat sy gesê het nie, maar ek weet een, nee, twee dinge: Sy het gesê ons moet dit stadig vat – baie stadig. Dis goeie nuus.

      Wat bietjie vreemd is, is die tweede ding. Sy wil nie hê iemand moet van ons weet tot ons seker is dinge gaan uitwerk nie. Blykbaar sal my reputasie sukkel om haar te oorleef. Sy het al te veel verhoudings gehad wat op niks uitgeloop het nie, en al voel sy hierdie keer anders, sal mense dit nie so sien nie. Die stories sal loop en dis die laaste ding waarvoor sy lus is.

      Ek wou eers niks hoor nie, maar het naderhand opgegee. Ek sal doen wat sy vra. Maar nie vir te lank nie. ’n Mens kan nie so in die donker leef nie.

      Ten minste weet ek sy is nie getroud nie. Maggie of Tom sou lankal gepraat het.

      Ek vee oor my oë en onderdruk nog ’n gaap. Dis wat drie uur se slaap aan jou doen. Ranna was nie veel langer in die bed nie, maar sy lyk vars en uitgerus. Sy staan in die reën en neem ’n foto van ’n middeljarige vrou met ’n rooi sambreel wat ’n rondloperkat iets uit haar handsak voer. Die vrou kyk onverwags op en glimlag, asof hulle mekaar ken. Ranna knik amper onmerkbaar, haar oë sag.

      Sy kyk na die Nikon se skerm en lyk ingenome. Vee slierte hare, die misreën daarin soos pêrels, uit haar gesig.

      “Goeie foto?”

      “Hmmm.” Sy kom nader en hou die kamera op sodat ek kan sien.

      Dit ís besonders. Die vrou kyk op asof sy na iets luister, haar uitdrukking ingedagte. Dis die perfekte gestolde oomblik. Maar nie veel werd vir Ranna se werkgewers nie, daarvoor ontbreek die chaos.

      Langs my trap Tom sy sigaretstompie dood. Hy vryf oor sy varsgeskeerde kop en kyk van my na die kamera. Toe na Ranna. “Werk jy nog steeds aan daardie uitstalling?”

      Hy steek ’n nuwe sigaret aan toe sy hom ignoreer. “Jy’t seker nou al genoeg foto’s? Wanneer sien ons hulle?”

      Ranna trek aan die soom van haar swart T-hemp en vee die reën van die kameraskerm. “Eendag.”

      Dis die eerste keer dat ek van so iets hoor. “Uitstalling?”

      Tom sis die rook tussen sy tande uit. Dit verdwyn teen die grys wolke agter hom.

      Toe Ranna stilbly, antwoord hy: “Sy wil al haar foto’s uitstal. Nie die moord- of oorlogprentjies nie. Sy wil die oomblikke uitstal, die mense. Al die foto’s wat die ouens in Londen en Washington besluit het nie belangrik genoeg is nie.”

      Ek draai na Ranna, my oë vraagtekens. Sy trek haar skouers op en laat rus die Nikon teen haar bobeen. “Hy’s reg,” sê sy uiteindelik.

      “Onthou

Скачать книгу