Скачать книгу

      “Panache?” Ek staar na haar, nie lus om te erken ek weet nie wat dit beteken nie. “Wat is die kans!” stry ek. “Waar sal ’n matriek-ou na my kyk?” Ek wag. En wag. ’n Ware vriendin sal my nie net opstry nie, maar ook breedvoerig uitwei oor my wonderlike kwaliteite.

      Nie Mia nie. “Is ook weer waar,” stem sy saam.

      “Reptiel!” Ek gluur haar aan.”Gee dit hier!” Ek gryp die kaartjie uit haar hand en bêre dit in my wiskundeboek. Daarna klap ek my tas toe en mik na die deur. “Hy’s beslis in matriek!” gooi ek oor my skouer. “Want hy het panache, en ek ook!”

      Terwyl ons giggelend in die gang afstap, sê ek, baie aspris: “As dit nie ’n matriek-ou is nie, dan is dit een van die proefonderwysers. Daai hunk wat geskiedenis gee, Leon van Rensburg.”

      Mia gaan staan. “Heng, hy is vir jou ’n catch. Jis, nou’s ek jaloers. Sê nou dit ís hy? Hy’t seker jou bene gesien. Jissou, vannag slaap ek niks.”

      Ek bars uit van die lag. “Mia, wat’s die kans? Dis vir seker een van die simpel ouens in ons klas!” Ek bedoel, dis lekker om te fantaseer, maar waar sal ’n proef-onnie of ’n matriek-ou twee keer na my kyk?

      Of sal hy?

      Dit lyk of Mia effens beter voel. “Kom ons wag tot jou prins weer ’n skuif maak,” sê sy terwyl ons aanstap. “Miskien kry ons dan ’n clue.”

      “Wie sê hy sal?”

      “Sal wat?”

      “Weer ’n skuif maak.”

      “Natuurlik sal hy! Glo my, jou prins het die hots vir jou, dit gaan ’n totale aanslag wees.”

      Ons stap oor die skoolgronde, systap die graadagts se krieketballe en stuur af op die groep onder die eikeboom, wat skielik stil word. Dadelik is ek agterdogtig. Waaroor het hulle gepraat? Weet iemand dalk iets van die kaartjie? Fyn beloer ek hulle, maar niemand se gesig gee iets weg nie.

      Liesl val ons dadelik aan – dis haar ou laai. “Waar was julle so lank? Is ons gewone ouens nie meer goed genoeg vir julle twee sterre nie?” Soos altyd is daar iets smalends aan haar stem.

      “Mia het my net gou met ’n paar … e … wiskundeprobleme gehelp,” maak ek verskoning terwyl ek langs Laura gaan sit.

      Riaan staar met ’n oordrewe bekommerde uitdrukking na Mia. “En? Sal Yolandé die paal haal, doktor Linde?”

      Ek trek vir hom skewebek, maar Mia sê veelseggend: “Sake lyk maar donker. Maar gelukkig het die swartste wolk ’n goue randjie.”

      My oë flikker in haar rigting. Dis ook net Mia wat die aas so netjies kan uitgooi. Net jammer niemand reageer daarop nie. Behalwe Riaan.

      Hy plant sy hande agter hom op die gras en sê met ’n slim stem: “Hoe swarter die wolk, hoe gouer die randjie, dis tog alles relatief.”

      Ingedagte kyk ek na hom. Wat het Karike nou weer gesê? Maar andersom, soos in: wat as Riaan op mý verlief is? Neeeee! Dit kan nie wees nie. Ug.

      Mia lig haar kosblik se deksel met ’n klapgeluid op. “Vissmeer? Foef. Wat dínk my ma?”

      Onmiddellik begin Liesl giggel. “Sy maak maar net dubbeld seker niemand wil naby jou kom nie!”

      Met Mia moet jy elke woord tel. “Dubbeld seker?” Haar stem is kil. “Wat bedoel jy daarmee?”

      Liesl-lafaard-drip krabbel dadelik terug, maar ’n gemoduleerde stem praat haar dood: “Liesl is a person of limited intellect and tact, my dear, and not to be chastised for it.” Dit klink presies soos Mrs Ramsey en almal bly ’n rukkie stil.

      ’n Akker tref Riaan teen sy slaap en hy gryp dramaties na sy kop. Ek bars uit van die lag toe ek besef dit was al die tyd hy. Maar dis heng lekker dat Liesl ’n slaggie gekry het wat sy soek.

      “Yolandé!” Janine klap haar vingers ’n paar keer. “Hoe ver is jou kunstaak?”

      Ek kreun. “Nog nêrens. Gaan vanmiddag kunsgalery toe. Kom jy saam?”

      “Kan nie. Het ballet. Sal môre moet gaan.”

      “Oormôre moet dit in wees, nè,” waarsku ek. “Wil jy dalk saamkom?” vra ek vir Mia, maar sy frommel haar neus en lyk naar. “Filistyn!” Ek wys vir haar vinger. “Ook geen gevoel vir die kunste nie.”

      “Jy dink so?” Mia lag skalks. “Kyk gou om, dan sien jy ’n lewende beeldhouwerk.”

      Ek swaai om. “Wat? Waar?”

      “Daar, doffie.” Mia beduie met haar kop. “Daar oorkant, die nuwe ou. Something …” sy fladder haar vingers, “something Jonker.”

      Ek staar. Hy is lank en donker en gebóú. Selfs Mandy volg hom met haar oë – en met haar lyf kan sy kies. My hart gee ’n ruk. Verbeel ek my of het hy vir een te kort oomblik na my gekyk?

      “Julle meisies moet keer dat julle oë nie uitval nie, hoor,” sê Riaan. “In elk geval, hy’s te oud vir julle. Julle behoort vir hom ‘oom’ te sê, dis net goeie maniere.”

      Liesl kyk na my op ’n manier wat my laat wonder wat sy in die mou voer. Nie dat ek lank hoef te wonder nie. “Van ‘ooms’ gepraat, Yolandé,” sê sy met ’n soet stem, “ek hoor jou ma het ’n … e … date.”

      Dis ’n lae hou wat ek nie sien kom het nie. Waar kom Liesl daaraan? Flippit! Mercia! Karike het natuurlik vir haar ge-SMS. Het die klein sot dan geen verstand nie? My lewe is oor, want as Liesl-klikbek-drip weet, dan weet die hele skool.

      Gelukkig het die gesprek na die sportdag verskuif. “Willem de Beer het my gevra.” Laura begin giggel. “Ek het hom sommer gou gepos, die nerd.”

      Janine stoot haar vingers deur haar kort blonde hare. “Laas jaar het net nerds my gevra. Ek wens ek kry ’n slag ’n regte date.” Haar oë dwaal na Riaan wat besig is om vir Ferdinand oor motorfietse op te stry.

      Ek is so verbaas, ek vergeet skoon van Liesl, wat steeds met ’n skewe laggie na my kyk. Dan het Janine ’n ogie op Riaan? Wie sou dit kon dink. Onderlangs bekyk ek hom.

      Hy is seker nie sleg nie. Mits jy van vaalkoppe met grysgroen oë en ’n simpel humorsin hou. Persoonlik verkies ek donkerkoppe, dis baie meer geheimsinnig, amper gevaarlik, soos daardie sexy Something Jonker, wat sou sy naam wees?

      Sê nou hy vra my vir die sportdag? Dís nou vir jou ’n date. Dink net, ek en S. Jonker die hele dag saam. Ek kan dit nie help nie, ek glimlag by die gedagte.

      Ongelukkig vang ek Riaan se oog en hy lig ’n sardoniese wenkbrou. Vies kyk ek weg. Die jerk moenie idees staan en kry nie. In elk geval, ek en Mia gaan nog elke jaar saam sportdag toe, dis ons tradisie al van graad agt af.

      “Ek’s lus om ’n party te hou, dalk die aand voor die sportdag, wat dink julle?” Mandy kyk onseker rond. Die reaksie stel haar duidelik nie teleur nie.

      “Cool!”

      “Sê net wat ons moet bring!”

      “Ek moet nog my ma vra, maar sy sal nie omgee nie. Ek sal julle later laat weet dan kan ons alles finaliseer, oukei?”

      Die party gaan heng cool wees. Mandy se pa het ’n groot skuur op hulle plaas waar ons kan braai en dans. Dalk is hý ook daar, die ou van die kaartjie. En Something Jonker. Wie weet, dalk is dit een en dieselfde persoon. Dink net hoe jaloers sal almal wees as ek daar opdaag met ’n erg verliefde S. Jonker aan my sy.

      As ek net kon uitvind van wie die simpel kaartjie kom. As ek net kon seker wees dis van hóm en nie die een of ander chancer nie.

      

      Na skool sit ek af na die plaaslike kunsgalery langs die dorpsbiblioteek. Daar word ’n week lange uitstalling gehou van Suid-Afrikaanse skilderye, afdrukke

Скачать книгу