Скачать книгу

Kragonderbrekings kom nou hier te dikwels voor – swak beplanning deur die vórige bewind – ons moet self voorsiening maak.

      Op pad terug het dit laat geword, ek het nog sake op Beaufort en oornag nou hier. Vanmiddag het ek in die apteek ’n skoolskryfboek gekoop, dis waarin ek hier in my hotelkamer opteken wat ek vir jou wil vertel. Ek het nog maar min – en ek het al baie gereis – ’n groter vreemdeling gevoel as hierdie afgelope dag of twee, drie. Op baie dorpe in die Groot-Karoo was daar nog altyd ’n fyn balans tussen verval wat omheen op die loer lê met son, stof, hitte, droogte – en daarteenoor opbou, herstel, skoonmaak wat met troffel, sement, graaf en verfkwas sterk moet staan teen die elemente. Karoo beteken droogte. Ek het onderweg Hanover toe en terug deur hoofstrate gery met een, miskien twee geboue waar die dakke en ruite almal heel is. Strate met gehawende woonhuise, winkels en kantore tussen opgestapelde afval, krake in die mure, ’n stoep waarvan stutpale gebreek het en flarde sinkplate wat skuins hang oor stukke broekieskant. Moenie die water drink nie, waarsku kennisgewings by krane. Daar word vertel van ’n dorp waar met die laaste reën die drinkwater vol drolle deur die begraafplaas gespoel het. Die hardste kors van fatsoen is teen hierdie skimmel van ontbinding nie bestand nie. Dié wat het, spandeer hier nie meer nie; dié wat nie het nie, teer op dit wat oorbly. As die swaar vragmotors wat soms deur die dorpe ry verby is, is wind en stof al wat iewers heen beweeg.

      Karoomense is die koue gewoond, maar daar is so min van hulle op straat: daar is dié wat uit ’n motor of ’n bakkie klim, iets gaan koop by ’n winkel of ’n slaghuis, daar staan ’n paar drinkers op die sypaadjie voor die kroeg rond, die prokureur wat in sy motor klim nadat hy met ’n boer langs sy bakkie gestaan en praat het, ’n paar kinders wat verveeld rondsit omdat dit skoolvakansie is. Daar is min mense oor. Waarheen is hulle almal? Wit en bruin? Dis nie net van plase af wat mense wegtrek nie.

      Ek ken die Karoo anders: ’n mens ry met die verlate paaie deur die wye, troostelose landskap van klippe en hitte en hoë wolke, en die dorpe was skielike, onverwagte plekke van wéér by mekaar uitkom, van dagsê, gegroet, hoe gaan dit? langs warm, kokende motors by die welkome kleure van vulstasies. Somers, hier en daar tussen die lustelose bome langs die warm stofstrate ’n verkoelde kantoorgebou, hotelrestaurant of apteek; winters, reisigers met wolkrae wat handewringend soek na iets om te eet, iewers om ’n woord te wissel met iemand. Welkom, reisiger, neem iets van ons met jou saam, al kan jy net onthóú nog oplaai. Kom weer.

      Nou staan die geboue en die huise met toe vensters langs te breë, vuil strate; by die vulstasies roep die vragmotorbestuurders na die pompjoggies, tuine en parke lê vaal tussen platgetrapte heiningdrade en halfoop hekke. Systrate lei na verlate stasiegeboue toe, en treinspore waaroor die gras groei. Alle gevoel van tuis wees het verhuis na ’n yl paar nuwe rusplekke langs die lang paaie, na sementtafels en banke en oorvol vuiliskonkas toe, rusplekke, nuwe stilhouplekke miskien selfs onder ’n peperboom. (Maar wees versigtig, nie alle reisigers kan vertrou word nie, verlede maand is ’n ou man een nag hier vermoor.)

      12 Julie vroegoggend by ’n sementkoffietafel langs die N1

      Moedverloor se vlakte – ek moet maar erken dis waar ek gisteraand en vannag was. Met die wegdommel was ek sonder waarskuwing by ’n vendusie op ’n werf wat baie lyk soos Vadersgawe s’n agter die ouhuis. Die afslaer se koperghong het aan ’n koord voor hom gehang, in sy ander hand het hy die slagstok met die fluweelkop teruggetrek. Wat was die bod? Wie was die bieër? Ek het gevoel soos iemand wat val en nêrens aan kon vashou nie. Toe, skielik, het ek duidelik die woorde gehoor asof iemand dit hard fluister: “Verbeel jou iets – en verdomp nou verder!” Ek was wakker en ek het gelê en wag dat iets moes gebeur. Hoe kon ek Pa se stem nie herken het nie, sy magtelose manier van klaarspeel met iets waarvan hy genoeg gehad het en waaraan hy niks kon doen nie. Die soort sêgoed waarvoor die familie hom onthou. Niks het gebeur nie. Die ghong was stil.

      Iemand het later aan die deur geklop, die fles koffie ingebring wat ek bestel het vir die pad. Voor dit nou verder staan en koud word hier in die helder oggendlug: o ja, ek weet daar is ander paaie, ander dorpe, daar is ’n ander Karoo moontlik, ons het dit nie versin, gedroom onder die verlammende gevoel van skuld nie. Wat het so gou dáárvan geword? Is dit dan tóg wêreldsgang (ook sy woord): dat dié wat eens ook magteloos en driftig en onverdraagsaam was nou die verval toelaat? (ontken? gebruik?)

      Toe ek netnou in die stil hoofstraat afry – die hele dorp het nog vol hoeke en stilte in die Karooveld se yskoue skaduwees gelê – het ek duidelik gewéét: iewers in my is daar iets wat weier om saam met hierdie land in sy moer te gaan.

      25 Julie

      Met die Lister het ek die agtermiddag laat teruggekom. Die volgende oggend, nadat ek die masjien ingemessel, vasgebout en ’n slag aan die brand getrek het, het ek dorp toe gery en sement gaan bestel, en riviersand, twee vragte sand en kalk en sout. By die slaghuis in die hoofstraat het ek gevra hulle moet vir my ’n paar kilogram vet bymekaargooi om die buitemure se kalk teen die reën te beskerm. Nadat ek daar weg is, het Koos Slagter vir Henna gebel en gevra waarvoor ek soveel vet benodig. Sy ken die resep, sy’t geraai dis vir die waenhuis. Van toe af gee die hele familie raad.

      Maar eintlik wou ek vir jou vertel van ’n opbeurende brief wat ek ontvang het van ene Stefaans Cloete. Ek het hom nog net by veevendusies ontmoet, hy is by elke kraal waar daar ’n veiling is, meestal seker net uit belangstelling, want ek het hom nog nie gehoor bie nie.

      Stefaans vertel van ’n merkwaardige huis aan die vlaktekant van hulle dorp wat hy vir hom en sy vrou gekoop het, ’n groot Karoohuis met drie luggate bokant die brandsolder, binneluike voor die vensters en ’n groot, swaar houtvoordeur. Verwaarloos, byna al uitmekaar aan die val.

      Hy was van beroep ’n geskiedenisonderwyser; regstellende aksie het hom ’n pakket laat aanvaar. Toe het hy en sy vrou deur die hele land gery, oral uitgevra en oorgeslaap en uiteindelik eendag besluit dié Karoodorp het baie moontlikhede, dis waar hulle graag sou wou woon. Almal op die dorp het gedink die twee is bietjie oorywerig toe hy en Martha ’n kunsgalerytjie (wat ook boeke verkoop) in die hoofstraat oopmaak. Stefaans het iets van die toerismemark geweet, sy broer het by die toerismeskool van een van die vroeëre technikons klas gegee. Hul galery was in die gerestoureerde plaashuis van die eiendom waarop die dorp jare gelede ontstaan het. Die rekenaar waarop hy vir my sit en skryf het, het sy vrou toe al van die galery se inkomste gekoop.

      Maar oor dié Karoohuis teen die koppie. Dit was tóé al goedkoop van al die verwaarlosing. Iewers vandaan het hulle die geld gekry vir die deposito. Om nou polities dwars te praat (skryf hy, want hy ken nie my oortuigings nie): jare gelede was dit glo dié huis op die dorp, gebou deur ’n ryk en gesiene sakeman met Vriende en Invloed.

      Wie op die dorp skoolhoof geword het, wie die predikant was, wie magistraat en stasiemeester sou word, aan wie dié of daardie tender toegeken is, wie uitgenooi is om dié of daardie belangrike toespraak te maak, is dáár besluit. Nou en dan het daar ’n minister se motor onder die peperbome gestaan. Nadat daar opstande in die destydse lokasie uitgebreek het oor die gebrek aan lopende water en riolering, was dít die plek waar die polisie koffie gekry het as hulle laat in die nag moeg in die dorp terugkom. Party mense beweer hul opdragte oor wat om die volgende dag te doen “as die mense nog nie na rede wou luister nie”, het ook daarvandaan gekom.

      Die eienaar is later oorlede, sy vrou kon na ’n ruk die alleenheid nie meer verdra nie – die “vriende” het nie meer so dikwels kom kuier nie, hulle het net een maal ’n kaartjie van deelname met “ons almal se groot verlies” laat stuur – sy het weggetrek en die plek in die hande van die dorpsprokureur gelaat om te verkoop.

      Daar het die agteruitgang begin. Die prokureur was nie ’n gesonde mens nie, hy het die laaste jare van sy lewe net soggens gewerk; die aanvanklike opdragte vir wat die huis moes word, het hulle na sy oorlye tussen sy dokumente gekry. Die tyd vir die soort dorpsmuseum wat die gesin in gedagte sou gehad het, was verby. Vir byna ’n jaar was daar niemand in die plek om die verval teë te hou nie. Behalwe glo ’n “spook”. Nou ja. Die eerste nuwe bewoners was dan ook nuwe intrekkers op die dorp, maar dis hulle wat sommer sonder om te betaal een nag padgegee het. Die volgende twee gesinne is ook gou, kort na mekaar, weer daar weg. Daarna was daar nou en dan swerwers wat een nag selfs probeer vuurmaak het op die vloer in die groot woonkamer.

      By

Скачать книгу