Скачать книгу

te verfris vir die foto. Sy voel ontuis voor ’n kamera, vermy openbare aandag, maar die kolonel is reg, dalk help ’n berig en foto om die vrou se identiteit gouer op te spoor. Daarvoor is sy bereid om die lipstiffie uit te haal, haar vingers deur haar hare te trek en vir ’n foto in die Post te poseer.

      Vir die joernalis Andy Collipepper ken sy. Hy en Silas het ’n lang en informele werksakkoord: hy kry die eerste wenk vir ’n misdaadscoop, en wanneer Silas om ’n onuitgesproke rede ’n berig in die Post wil hê, word die versoek eerbiedig. Dit is ’n ooreenkoms tot albei se voordeel, en werk goed. Collipepper is eerste met groot nuus oor ’n moord, en Silas het toegang tot berigte wat hom kan help om ’n verdagte se spoor te vat.

      Ook Ella Neser verstaan die nut van so ’n ooreenkoms, en al tokkel Andy Collipepper nie haar snare nie – nóg in sy voorkoms nóg in sy geaardheid – is sy bereid om die reëls te buig. Die verbuiging of verontagsaming van reëls en regulasies is ’n subliminale rysmiering van haar eie streng etiek wat ongetwyfeld soos ’n verkouevirus in die lug van kolonel Silas Sauls na haar oorgedra word. Sy, én Silas, is nie veronderstel om met die media in die algemeen, of ’n joernalis spesifiek, oor enige misdaadondersoek te praat nie. Dit is die reëls en regulasies: sulke inligting word deur die polisie se media-afdeling gekanaliseer. Tydrowende rompslomp vir alle partye, en ’n joernalis se navrae uiteindelik in wollerige wettiese hokus-pokus beantwoord. Silas Sauls se verstandhouding met Andy Collipepper is eenvoudig: Ek gee jou die inligting en jy beskerm jou bron; brei daarop uit soos jy wil, vra kommentare en reaksies, ook deur amptelike polisiekanale, maar moenie my ondersoek bedonner nie.

      Sy sien Collipepper en die fotograaf aangestap kom. Hy het ’n sonbril op, maar Ella Neser vermoed hy het eerder probleme met sy skildklier. Sy sproetvel pienk, uitgedroog en geskilfer soos dié van ’n speenvarkie. Hy bied ’n uitgestrekte hand aan. Onder haar vingers is die vel van die rugkant skubberig. Sy trek haar hand weg en hy reik na sy notaboek en pen. Aan sy pinkie ’n uitspattige goue ring met ’n swart steen, oniks, vermoed sy. So diep en swart wanneer die son die oniks vang, is daar geen refleksie nie, asof dit alle lig absorbeer.

      “Hier’s haar foto. Ons’t nog nie ’n naam nie. Dis waarmee jy kan help met ’n berig in die Post. ’n Naam.”

      “Ek’t jou in die gim gesien,” sê hy. “Soos ’n besetene aan’t oefen.”

      “Waar moet ek staan vir die foto?”

      “Ons moet gaan koffie drink,” sê hy.

      “Ek’t nie tyd nie.”

      Sy vel uitgedroog, maar sy lippe klam. Mans met klam lippe gril haar.

      “Is dit ’n ja?”

      “Waar wil julle my afneem?”

      “Hoef nie koffie te wees nie, enigiets anders. Wil graag ’n meer informele onderhoud met jou voer, miskien oor ’n glasie wyn, iets om te eet.”

      “Is dit reg hier? Moet ek hier staan?”

      “’n Profielstorie. ’n Mooi moordspeurder skop jy nie agter elke bos uit nie. Hoe jou kop werk, wat jou lok om moordenaars vas te trek, sulke goed.”

      “Ek’s besig.”

      “Sien, dis waaroor ons kan gesels. Al die moorde wat jy moet oplos. Het jy tyd vir ’n persoonlike lewe? Is daar iemand spesiaal? Wat doen jy om te ontspan?”

      “Wil jy eers oor die liggaam uitvra, of eers die foto neem? En jy haal my nie aan nie. My inligting is onoffisieel. Amptelik, vir ’n aanhaling, is my kommentaar: ‘Geen kommentaar nie’.”

      Hy glimlag. ’n Meewarige glimlag om sy klam lippe.

      “Ek’s nie van gister af ’n joernalis nie, adjudant. Kan ek jou Ella noem? Ek en kolonel Sauls ken mekaar al lank. Ek weet hoe om sulke situasies te hanteer. My mond is gesnoer.”

      Die zip-beweging met sy duim en wysvinger in die lug voor sy mond irriteer haar, soos wanneer iemand ’n onsigbare aanhaling met sy vingers in die lug probeer beklemtoon.

      “Luister, waar moet ek staan vir die foto?”

      “Net daar,” sê hy. “En Ella, wys met jou hand na die plek waar haar liggaam gekry is. Ons soek beweging op ’n foto, mense wat beduie, lag, mekaar omhels, nie staties soos petrolpompe nie.”

      “Lag, op ’n moordtoneel? Is jy simpel?”

      “Bedoel net …”

      Haar hand ongemaklik uitgestrek in die rigting van die plek op die graspolle waar sy gelê het.

      “Te styf, lyk of jy versteen het,” sê Andy Collipepper. “Leun bietjie oor vir ’n meer natuurlike pose.”

      Die klik van die kamera se sluiter.

      “Hurk nou op die toneel, vat aan die gras,” sê die fotograaf, klaarblyklik besluit om vir dié fotosessie self beheer oor te neem.

      Ná die foto’s trek sy haar T-hemp reg, gee ’n saaklike relaas oor die vordering met die ondersoek na die liggaam op Alberts Farm, en stap saam terug na die parkeerterrein langs die akasias en bloekoms.

      “Wat van die profielonderhoud?” vra Collipepper toe sy in haar kar klim.

      “Bel my later,” sê sy en skakel die kar aan. “Bel my wanneer hierdie saak opgelos is, wanneer ek haar moordenaar opgespoor het.”

      “Ons kan dit vier,” sê hy, vroetel aan die ring aan sy oorlel. “Jy skuld my vir die hulp. Wanneer ons die moordenaar van die vrou opgespoor het, koop ek vir jou sjampanje, Fránse sjampanje.”

      Asof sy nie haar éie sjampanje kan bekostig nie; asof polisie-vroue net bier ken, nie sjampanje nie.

mask.jpg

      10

      Op sy babagesig geen uitdrukking nie. Abel lees die berig aandagtig, sy oë, effe peulende, stip op elke woord.

      Die jong vrou wat Woensdagoggend gedeeltelik ontklee langs die dam op Alberts Farm gekry is, is vermoedelik verwurg. Die polisie is dringend op soek na naasbestaandes of vriende van die onbekende vrou.

      Sy was goed versorg, met lang, rooibruin hare, en het ’n hangertjie met ’n goue kruis om haar nek gehad, goue oorringe, en ’n ring in die vorm van ’n madeliefie. Sy was geklee in blou jeans en ’n wit bloes.

      Die slagoffer is waarskynlik in die loop van Dinsdagnag vermoor en haar liggaam op Alberts Farm gaan laat.

      ’n Outopsie is reeds gedoen, maar die ondersoekbeampte, adjudant Ella Neser, wou nie nadere besonderhede oor die bevindings bekend maak nie. “Geen kommentaar nie,” is al wat sy wou sê. Weefselmonsters is na die forensiese wetenskaplaboratorium gestuur vir ontleding.

      Eers teen die middel van die berig verskyn ’n sweem van emosie op Abel se gesig. Sy lui oog gaan aan’t knipper en oor sy wange versprei ’n rosigheid, sy tong se punt tussen sy lippe.

      Neser wou ook nie uitwei oor leidrade wat die polisie op die toneel van die liggaam gekry het nie. Verkragting word nie uitgesluit nie. Haar bloes is los oor haar kaal bolyf gedrapeer.

      Haar juweliersware is nie gesteel nie en roof word as motief in die gruwelike aanval uitgeskakel. Die vrou het ook ander wonde opgedoen wat daarop kan dui dat haar aanvaller waarskynlik ’n psigopaat is wat genot daaruit geput het om haar aan te rand en te vermoor.

      Die polisie het die hulp van forensiese sielkundiges ingeroep om te help om ’n profiel van die aanvaller saam te stel.

      ’n Kriminoloog het aan die Post gesê dat so ’n psigopaat gou weer kan toeslaan om sy bloedlus te bevredig. Dit is kenmerkend dat hulle gewetenloos optree en gewoonlik lafaards is wat veral weerlose vroue as slagoffers teiken. Die polisie vra die publiek se hulp om te sorg dat hierdie mal man so gou moontlik vasgetrek word.

      Sy

Скачать книгу