Скачать книгу

belang.

      Die kelnerin kom vra of hy nie nog iets wil hê nie. Dalk ’n bier hierdie keer? Hy skud sy kop, hy moet skerp bly. Hy vra die rekening en betaal. Dan drentel hy terug na die hoekige BMW en skuif in die bestuurdersitplek in. Hy het reeds vroeër die kar nader getrek, verskuif van die aanvanklik enigste beskikbare parkeerplek na een van waar hy die rooi Corolla kan dophou. Hy slaan die sitplek se leuning effe agteroor en probeer ontspan. Wag en kalm bly, wag en kalm bly. Soos voor ’n operasie. Langs hom op die sitplek lê die vier se foto’s. En die paar velle papier met hul agtergrond. Hy het al soveel keer daarna gekyk dat hy dit byna uit sy kop ken. Asof hy by al die sake self betrokke was.

      Hulle word verbind met minstens twee rooftogte en drie kapings. Twee mense is in die een kaping, in Garsfontein in Pretoria, doodgeskiet. Fotokopieë van die polisieverslae oor die misdade is deel van die pakkie papiere langs hom.

      Die enigste ding wat hy nie kan onthou nie, is hul name. Dis onbelangrik. Net wat hulle gedoen het. Dit is waarop hy bly fokus.

      Lydia is op pad huis toe. Die moegheid laat haar arms swaar voel en die spanning trek agter in haar nek, maar sy voel goed. Sy het vroeër die nuwe inligting oor die videomateriaal op haar rekenaar ingetik, uitgedruk en na Beyers se kantoor gestap. Hy was terug van sy besoek aan die Mackie-huis en sy het dit op sy lessenaar voor hom neergesit. Hy het die ander papiere weggeskuif en dit stadig deurgelees.

      “Jy’s seker daar was ook net een skieter?”

      Sy het geknik.

      “Goeie werk, Stander. Dit lyk my ons het ten minste iets hierso.”

      Sy het gevoel hoe haar lyf ligter word, hoe die ouer man se erkenning byna fisiek deur haar trek, en sy het ligvoets na haar karretjie gestap.

      Gelukkig is die spitsverkeer lankal verby en sy vorder vinnig met haar Opel Corsa Lite, suid met Bothalaan anderkant die Fonteinedal, stadig en versigtig omdat daar altyd iewers ’n spoedkamera is. Daarna verby Centurion se onderdorp tussen die treinspoor en die pandjieswinkels, op pad na die nuwer buurte met hul ingerygde duethuise. Sy het pas by ’n stopteken weggetrek toe haar selfoon lui. Sy ry stadiger en grawe blindelings met haar linkerhand in haar handsak. Eindelik kry sy hom in die hande en druk die groen knoppie. “Hallo?”

      “Hallo, luitenant Stander? Dis Thomas Kubeka hier, van die Moot. Onthou jy nog, die moord op sersant Khabile?”

      “Hallo, natuurlik! Ek’t juis vandag weer na daardie dossier gekyk.”

      “Jammer om jou te pla, veral so laat. Maar die Khabile-familie is op soek na die sersant se selfoon.”

      Sy frons. “Ummm, maar ons het dit teruggegee.”

      “O. Maar volgens sy vrou is dit die verkeerde foon. En sy maak my mal daaroor.”

      Lydia tas in haar gedagtes rond. Iets maak nie sin nie. “Wag net ’n oomblik.” Sy draai af tot op die grondskouer van die straat en hou stil. “Jammer, ek wou net gou stilhou. Dis onmoontlik, ek het die foon persoonlik gaan teruggee. Onthou jy nog, julle het dit op die toneel vir my gegee.”

      “Ek onthou, ja. Sy sê die foon se battery het die volgende dag doodgegaan en toe hulle hom daarna weer wil aansit, het die PIN nie gewerk nie. Toe sien sy die foon lyk heeltemal anders. Dis blykbaar ’n goedkoper model as die een wat hy gehad het.”

      “En ons het hom net daar op straat in die bewysstuksak gesit. Dis onmoontlik dat dit ’n ander foon kan wees.” Sy dink hardop: “Nee, jammer, ek weet glad nie hoe dit kon gebeur het nie. Ek sal môre iemand stuur om daardie een te gaan haal. En ek sal by die kantoor seker maak of die ander een nie daar is nie. Sal jy asseblief vir my die regte foon se beskrywing en nommer saamstuur?”

      “Maak so, en dankie. Ek het die verkeerde foon by my, hulle kan dit sommer by my kantoor kom haal.”

      Sy bly in haar kar sit, beweeg nie om hom aan te skakel nie. Kan dit wees dat iemand die fone omgeruil het? Of die arme slagoffer s’n in haar kantoor gesteel en ’n ander, goedkoper een, in sy plek gesit het? Nie sommer nie; daardie sakkie was die hele nag in haar lessenaarlaai, sonder dat iemand daarvan geweet het. Sy sal môre kan kyk na die foon, hom vergelyk met die beskrywing wat in die dossier neergeskryf is, asook sy reeksnommer. Sy draai die sleutel. Hel, sy’s laat vanaand, sy moet by die huis kom.

      Hoofstuk 4

      Botha bly op ’n afstand, hou net-net die Corolla se agterligte in sig. Hulle ry uit Pretoria, al met die slingerende pad verby die Fonteinesirkel en draai regs by die verkeerslig by Eeufeesweg. Dan onderdeur die brug voordat hulle links opdraai en die lang, steil opdraande vat tot op die hoofweg. Die horlosie in die instrumentepaneel wys dis al lank ná middernag en die paaie is taamlik stil. Vyf kilometer later vat die Corolla die vloeibaan na links, om die kring-oprit tot op die selfs stiller N14, wes na Krugersdorp.

      Dit is die laaste teken waarop Botha gewag het: Nou weet hy hulle is inderdaad op pad na Diepsloot. Sy inligting was, soos gewoonlik, tot in die fynste besonderhede korrek, en dit beteken hulle behoort op die R511 af te draai. Hy ry nader aan die motor voor hom wat elke nou en dan, asof self effe onvas op sy voete, links en regs oor die linkerbaan beweeg. Die mans het lank en lekker gekuier en al daardie bier begin teen hulle tel. Die bestuurder met die laphoedjie sit laag in sy sitplek, die rugleuning agteroor gekantel. Hy kan skaars oor die stuurwiel sien, maar veiligheid is nou van minder belang as om cool te lyk.

      Botha hou hom in, sper sy vingers in die handskoene oop en toe op die stuurwiel. Moenie haastig wees nie, sê hy vir homself. Hier is nog te veel verkeer. Hy draai sy ruit af en voel die koue naglug op sy wange byt.

      Nog ’n lang opdraande. En dan weer af. Totdat die tyd reg is. Botha kyk in die truspieëltjie. Daar is geen ander voertuie wat van agter af kom nie. Hy trap die versneller en die BMW se outomatiese ratkas skop, ondanks sy jare, dadelik oor na ’n laer rat en die kar versnel. Hy swaai na regs, ry verby die Corolla en swenk dan skerp voor hulle in. Die BMW se agterbuffer swiep gevaarlik naby die ander kar se regtervoorlig verby. Hy hoor die toeter agter hom. Hy steek sy regterhand by die venster uit, vuis gebal en middelvinger regop. Onmiskenbaar. Die Corolla se ligte flits vir hom. Dan sorg hy dat die BMW liggies voor die Corolla heen en weer swenk, asof hyself dronk is. Die ligte agter hom bly flits en hy druk weer sy arm by die venster uit, herhaal sy koggeling.

      Hy swenk na regs en ry ’n klein bietjie stadiger sodat hulle langs hom kan inbeweeg. Hy sien drie gesigte wat na sy kant gedraai is, vingers wat beduie, monde wat swets. Hy glimlag vir hulle en versnel, sodat die twee karre langs mekaar bly. Dan lig hy doodluiters sy hand van die stuurwiel en wys vir hulle twee vingers. Padwoede is ’n wonderlike ding, dink hy, voordat hy die versneller plattrap. Die BMW skiet vorentoe en los die volgelaaide Toyotatjie agter.

      Botha leun na links, tel die matjie voor die passasiersitplek op en gooi dit met een beweging op die agtersitplek. Nou’s hy gereed.

      Die padteken wat die R511-afrit aandui, doem soos verwag in die hoofligte op en hy rem, swenk met die afrit af, kyk in sy truspieëltjie asook na die pad vorentoe. Sy geluk hou nog, daar is steeds geen ander verkeer nie. Ná die eerste kromming in die pad rem hy hard en druk die BMW se neus van die teerpad af tot op die grondskouer. Die bande ruis oor die los grond en die kar skuif in ’n stofwolk tot stilstand. Hy maak sy deur oop, spring uit en gaan staan links voor die kar, net-net binne die skerp ligbaan, met sy rug na die pad. Sy hande is voor sy lyf geklem en hy kyk af grond toe. Regs van hom lê Diepsloot se sinkhuisies en glim in die maanlig soos die vlerke van ’n dooie kraai wat oor die bult oopgesper lê. Vir ’n oomblik of twee wonder hy of sy plan gewerk het. Dalk het hulle reguit aangery? Maar dan hoor hy ’n kar teen die afrit afgery kom. Hulle kom nader.

      Die Corolla ry by hom en die BMW met die halfoop deur verby. Hy loer onderlangs na hulle en sien hoe die kar se remligte aanflits toe hulle in sy lokval trap. Hulle het hom herken, gedink hy het stilgehou om sy nood te verlig, gedink nou is hul kans om met hom af te reken. Die Corolla kom tot stilstand voordat die wit truligte aangaan.

      Botha draai om na die BMW en is met drie treë uit die ligbaan en langs die passasiersdeur. Hy pluk dit oop, tel die masker van die sitplek op en trek dit oor sy kop. Daarna reik

Скачать книгу