Скачать книгу

se bagasie uit te laai. “Dankie, maar ek moet aanstoot.”

      Sy dra die twee tasse stoep toe, en eers toe Candy haar bagasie daar sien staan, kan sy haar onwillige been sover kry om te beweeg. Kans vir terugdraai is daar nou seker nie meer nie.

      “Kan ek jou help?” is haar ouma dadelik by.

      “Nee, dankie, ek kom reg.”

      Sy wankel ’n oomblik op die been wat moeg gesit is en moet stilstaan om haar balans te herwin. Selfverwyt bespring haar soos ’n honger gedierte. Sy het nie bedoel om so bot te klink nie, maar hierdie vriendelike, warm ontvangs was waarlik nie wat sy te wagte was nie. Êrens het iemand die reëls verander van ’n spel wat sy gedink het sy ken, en nou verstaan sy nie meer nie. Of dalk het sy nog nooit.

      Dat haar kortaf antwoord ’n teer kol getref het, is onmiddellik duidelik in die wimpers wat vinnig die uitdrukking in haar ouma se oë probeer versluier. Candy wil ’n regstelling maak, maar sy weet nie hoe nie, en is baie bly toe Marie die stram oomblik oorbrug deurdat sy groet. Maar toe die kombi om die draai verdwyn, weet nie een van die twee agtergeblewenes blykbaar wat volgende nie.

      Die vrou wie se huis dit is, lyk asof sy wonder hoe sy hier gekom het, en Candy voel soos die dag toe sy in graad drie vir die skoolhoof moes gaan sê dit was sy wat die boks in die personeelkamer vir die straatbrak en haar kleintjies neergesit het. Sy kon nie verstaan waarom sy op die kantoormat beland het vir ’n daad wat haar kinderhartjie met soveel oorgawe gedoen het nie.

      “Kom,” glimlag haar ouma onseker en stoot die voordeur oop. “Ek gaan maak vir ons iets warms om te drink.”

      “My koffers? Sal iemand dit … e … Ek wil nie lastig …”

      Die vingerpunte wat vinnig en veerlig die hare terugvee wat uit haar vlegsel losgekom het, is warm teen Candy se wang. “Nicandra, daar is geen manier waarop jy lastig kan wees nie. Fouche kan jou tasse inbring wanneer hy kom.”

      Die aanraking, tesame met iets heerliks en warm in haar ouma se blik wat vir ’n oomblik soos liefdevolle arms om haar gevou het, vlug by die aanhoor van haar oom se naam. Candy ril teen die skielike koue wat haar bekruip in die skaduwee van die stoep. So al asof haar lyf iets weet wat vir haar verstand verborge is.

      “Kom in, kind,” word sy met nog ’n ligte aanraking aangemoedig. Kompleet asof dit die ander vrou plesier verskaf om aan haar te vat. “Dit raak koud hier buite die oomblik wat die son sak.”

      Die voorportaal se houtvloer blink in die lig wat haar ouma aanskakel. Alkante van die deur onder die vensters wat op die stoep uitkyk, staan geelhouttafeltjies, elk met verskillende snuisterye en ’n vaas blomme. Die vrolike mengelmoes van grasse, lelies en heide – so anders as die formele rangskikkings wat haar ma verkies – lyk asof dit in vrye uitbundigheid net saamgebondel en ingedruk is. Amper verklap sy haar genot by die aanblik daarvan met ’n sug. Êrens is dus nog iemand wat hou van ’n rangskikking wat lyk asof moedernatuur dit self bymekaargesit het.

      “Kom ons stap kombuis toe, as jy nie omgee nie. Berta wat my in die huis help, is siek en ek is ’n bietjie agter met die aandete.”

      Anderkant die boogopening waardeur hulle beweeg, is ’n baie ruim sitkamer. Vier diep, sagte leunstoele en ’n bank oorgetrek met vrolike bont materiaal is voor ’n kaggel gerangskik. Die hele vertrek is steeds in die simmetrie wat al van die eerste aanblik buite in die pad duidelik is. Aan beide kante van die kaggel is deurlope na die agterkant van die huis, met skuifraamvensters wat een links, een regs op die werf uitkyk. Met ook twee deure, een links, een regs. Die twee kamers met die gewels, raai Candy.

      “Diékant toe,” wys haar ouma na links. “Hier is die kombuis, en daar,” knik sy na die ander kant van die kaggel, “is die gang met jou en Fouche se kamers en julle badkamer en toilet. Ook die studeerkamer. Ek sal jou netnou gaan wys.” Sy beduie na die twee deure. “Hier links is my kamer en my klein badkamer, en regs is my werkkamer.”

      In die kombuis is daar geen teken van simmetrie nie. Dis ’n enorme vertrek wat Candy binnehink. Voor die wye, diep outydse es staan nog leunstoele en ’n bank met ’n koffietafel op ’n herfskleurige mat oor die klipvloer. Aan die ander kant is moderne kombuiskaste en -toestelle so deel van die vertrek wat vir seker uit die vroeë vorige eeu dateer dat dit lyk asof dit maar altyd daar was. Op die lang houteettafel voor die bank en stoele staan ’n bak vrugte en ’n bottel rooiwyn. En langs ’n stoel, sy een hand op die rugleuning, in die ander ’n stuk biltong, staan ’n man in kakieklere.

      Lank en bruingebrand, sy donkerblonde hare korter as wat sy onthou en sy gespierde lyf nog beter sigbaar sonder die nat, rooigevlekte hemp en leerbaadjie. Die grysgroen oë vang hare vas, met nie ’n sweempie van die verwelkoming wat by haar ouma te bespeur was nie.

      “A, jy is al terug,” sê haar ouma. “Kyk, sy is uiteindelik hier!” voeg sy by met ’n glimlag wat lyk asof dit die ganse heelal wil insluit.

      Die rubbervoetjies van die krukke tjier soos Candy vassteek, en dan moet sy keer om nie kop eerste met die klipvloer kennis te maak nie. “Oppas, my kind,” kom haar ouma se arms uit om te help keer, en Candy glimlag bewerig en dankbaar toe sy weer op een voet en twee krukke vasstaan.

      Nou – noudat dit nagenoeg ’n duisend kilometer te laat is – onthou sy waarom hy bekend gelyk het. Malie se simpel, oorbeligte foto met die broer en suster tussen ’n groepie begrafnisgangers. Duidelik onbewus van die fotograaf.

      “Goeienaand, Nicandra. Ek vertrou dat jou rit nie te uitputtend was met daardie been nie? Jy is mos seker meer gewoond aan die luukse van eersteklas-lugvervoer as om die langpad so op wiele aan te pak, of hoe?”

      “Fouche!” protesteer sy ma.

      “Hallo,” kry Candy gepiep.

      Sy het boonop ’n bietjie vergeet dat haar oom nie eintlik soos die meeste ander mense se ooms lyk nie. Ander mense se ooms het die ordentlikheid om oud te wees, hare nie. Sy het geweet, en ongelukkig net ’n bietjie vergeet, hy is skaars agt jaar ouer as sy. Met geen snars van die gemoedelikheid wat sy gedink het ’n oom sou hê nie. Net daai teenwoordigheid wat voel asof dit die hele plek vul.

      “Maak jouself handig en loop bring haar tasse in,” beveel sy ma en skakel die ketel aan. “Nicandra, sit net waar dit vir jou die gemaklikste is, my kind. Wat wil jy drink?”

      Die helfte van daai bottel wyn op die tafel? Of sommer die ganse bottel? Sy het nie veel ervaring van rooiwyn nie, want dit laat haar kop draai, maar sy is ook nie kieskeurig nie.

      “Koffie, dankie,” antwoord sy, al weet sy kafeïen gaan nie die gewenste effek op die skoppelmaai-emosies in haar binnewêreld hê nie.

      Sy wip-swaai tot by die ou vuurherd, waar ’n paar landboutydskrifte en breiwerk op die koffietafel lê. Dan sak sy stadig neer in een van die stoele en werp ’n selfbewuste blik in die ander se rigting toe een kruk vloer toe kletter. Êrens in die huis tel ’n horlosie sewe slae af en sy vroetel met die twee krukke langs die stoel. Intens bewus van die man by die tafel wie se blik onafgebroke op haar rus terwyl hy die biltong met ’n knipmes kerf en smaaklik daaraan kou.

      “ ’n Mens eet nie alleen nie,” vermaan sy ma glimlaggend toe sy bekers en ’n suikerpot op die koffietafel kom neersit. “Kry ’n bakkie en kerf genoeg sodat Nicandra ook kan proe. Dis besonder lekker koedoebiltong wat jy hierdie keer gemaak het.”

      Hy sny ’n repie af en kom bied dit vir Candy aan, steeds vasgeknyp tussen sy duim se kop en die knipmes. Sy eie kies bol soos hy kou.

      “E … nee, dankie,” piep sy maar weer ’n keer.

      “Nee?” skud hy sy kop, een wenkbrou vraend geboog.

      “Natuurlik nie,” grom sy ma en klap hom teen sy skouer. “Hoe kan jy verwag sy moet dit uit jou hand ontvang? Sny dit op ’n plank en –”

      “E …” kom Candy tussenbeide. “Dis … e … nie wat ek bedoel het nie. Dankie, maar … e … ek eet nie vleis nie.”

      Haar ouma se mond vorm ’n verbaasde O en Candy kyk verleë weg.

      Fouche

Скачать книгу