Аннотация

Josias Olwage kan nie wegbly van die Jeugsirkus nie. Tussen die akrobate en toutoertjie-meisies vergeet hy dat sy pa spoorloos verdwyn het en sy ma maar min tyd en lus het om na hom te luister. Toe hy boonop leier van die Poppekas word, loop sy beker oor: nou is hy onmisbaar. Maar Josias se geluk is van korte duur. Sy ma word baie siek en hy, kleinboetie Georgie, Mita en Hester moet in ’n kinderhuis gaan bly. Nou is die Sirkus Josias se enigste vashouplek. Maar die ongeluk ry hom. Op pad na ’n oefening een aand word hy deur drie skollies oorval. Die gebreekte arm is egter nie die ergste nie. Terug by die Sirkus, met sy bolyf in gips, kan hy sy eie oë nie glo nie. Iemand anders is besig om sý handpoppe te hanteer. En veel beter as wat hy ooit sou kon . . . In Woorde is soos wors vertel die twaalfjarige Josias sélf sy verhaal: elke tiener sal dan ook sy magteloosheid, hartseer en teleurstelling, maar ook sy tye van pret en vriendskap en uiteindelike aanvaarding van homself verstaan en aan eie lyf ervaar.

Аннотация

In ’n rykmansbuurt in Kaapstad word Manuel hartstogtelik lief vir ’n hond wat nie aan hom behoort nie; hier bots hy ook vir die eerste keer met die gereg, maar maak kennis met die stil sersant wat ’n ommekeer in sy lewe sou bring. In Manuel se eie buurt, waar daar nie tuine is nie en waar die stoepe vol wasgoed hang, waar sy ma se goeie bedoelings verswelg word deur die swarighede van ’n sukkelbestaan, het hy darem vir Carlos, sy wonderlike broer, wat hom eendag gaan saamneem om vér van Blakestraat 3a af te gaan woon. Maar Carlos steur hom nie eintlik aan Manuel nie. By die skool is Manuel die droster, ’n dommerd, en bowenal: Fat Clown. Want Manuel is vet, en hy haat homself daaroor. Maar dit help nie – vir al die leegheid en eensaamheid in sy bestaan ken hy net een raat: eet. En toe gebeur die Sirkus met Manuel. ’n Heel besonderse sirkus wat alles verander, tot in Blakestraat 3a . . . In Rona Rupert se boeiende verhaal met sy buitengewone agtergrond is daar veel te ontdek: dat herkenning van eensaamheid in ’n ander wedersydse genesing kan bring; dat selfrespek die grondslag is van gee én ontvang, dat dit vir elke mens nodig is om nodig gehê te word.