Аннотация

Kotie skrik toe iemand skielik uit die skemer voor haar opdoem. Agter haar en Jaco lê die park verlate. Maar dan herken sy die vrou – die een wat dikwels hier buite die park onder die tamarisk sit, altyd met ’n bottel by haar. “Hierso,” sê die vrou. “Vat die kind.” Sy sleep iets agter haar rug uit, stoot dit tot voor Kotie. “Ek wil haar nie meer hê nie, en ek sien liewer dat jy haar vat as dat die welfare haar kom haal. Dan is daar weer hell to pay.” “Moet ek jou kind vat?” Verbysterd kyk Kotie af op die klein mensie wat sonder ’n geluid net daar staan, toegeknoop in ’n groot bloes. Sy buk, tel haar op, dra haar tot onder die lamppaal. Die lig wys ’n soet gesiggie onder taai, krullerige haartjies. Jaco kom pluk aan Kotie se rok. “Wat sê die tannie? Hè, Kotie?” Dan nuuskierig: “Is dit ’n rêrige babetjie?” En dan is die vrou weg. Net die tamarisk staan nog daar in die skemer. Verslae staar Kotie na die wesentjie voor haar. Maar skielik voel sy ’n opwinding wat haar vel laat prik. “Luister,” sê sy vir Jaco. “Hierdie kind is ons twee se geheim. Jy moet vir niemand van haar sê nie. Ek moet eers dink wat om te doen . . . Ek moet eers mooi dink . . .”

Аннотация

En nou is Oupa siek. Oupa wat haar kleindag leer fluit het soos geen ander mens kan fluit nie, wat haar geleer het om lief te wees vir die donker, en wat haar vertel het van die robyne en die kgatas in sy bos. Oupa wat dae lank in sy bos kon rondloop en gesê het: “God het bome gemaak as die kroon van alle natuurdinge.” Sy wil na Oupa toe gaan waar hy op Makierie in die hospitaal lê, ver weg van sy houthuisie en bome en voëls en boeke. Maar Ouma sê sy is al weer eiesinnig. Sy is net so wild en onbeskaaf soos Oupa, en as sy nie oppas nie, word sy ook ’n leeglêer. Dis hoog tyd dat sy in ’n roetine gedwing word. Maar Philla weet sy kan nie soos ander mense wees nie; sy is nou eenmaal soos Oupa, net soos Oupa soos sý ma was, en sy weer soos haar pa voor haar: elke geslag lewer sy wilde een op, sê Oupa. Sonder dat Ouma weet, en met Helet en Pa se hulp, kom Philla tog by Oupa uit. Oupa wil opsluit uit die hospitaal, waar hy voel hy word sy waardigheid ontneem. Philla, sy boomste kind, moet hom help. Die paar dae saam met Oupa in die bos gee vir Philla die antwoord op die vraag wat haar so hinder: ís ’n mens soos jy is, of wórd jy so; wat is dit wat jou anders maak as ander mense?