Аннотация

Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se kennis van die VOC-tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het die skrywer dit beskryf as ’n ‘hibriede skepping . . . wat in laaste instansie beoordeel moet word as produk van die skeppende verbeelding eerder as van navorsing’. Tydens die boekstawing van die duisende skepelinge wat oor die eeue heen na die Kaap van Storms gereis en onderweg ook omgekom het, verweef Schoeman literêre stemme soos dié van Eliot, Auden, Eybers en Melville met dokumente uit die oorspronklike dagboeke van die 1600’s en 1700’s, soos Van Riebeeck se Dagregister, Peter Kolb se noukeurige beskrywings van die Kaap en ander reisjoernale en geskiedkundige werke van die era. Dit is geskiedskrywing soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer dit nog kon vermag nie. Skepelinge is ’n unieke nalatenskap – veral waar ‘oorsprong’ nou meer as ooit vantevore ondersoek word.

Аннотация

Dit is Ierland aan die einde van die agtiende eeu: ’n Ierland onder die hiel van die Engelse heerser, sy volk onderdruk, magteloos, sonder regte. Die opstandsgevoel neem toe, ook onder invloed van die Franse Rewolusie en Napoleon se opkoms. Teen hierdie agtergrond maak David, jonger broer van sir Arthur, heer van Donore, onverwags kennis met die Ierse volk. Hy raak bevriend met die skoolmeester Liam O Néill, die verarmde Séamas Bán, die priester O Floinn, met die meisies Nóra en Eilís . . . en hy bevind hom in ’n posisie waar ’n keuse aan hom opgedwing word, teen sy sin. “Een ding het hy egter besef, dat niks hierna meer dieselfde kan wees nie . . . Soos op ’n golf is hy voortgespoel deur die gang van sake, en die gety sou nie bly staan in sy stroming of hom terugkeer nie.” David weier om hom by enige groep te skaar – hy wil alleen homself bly en met sy vriende verkeer – maar dit is nie moontlik nie en onverbiddelik beweeg omstandighede hom om tog daadwerklik die Iere te probeer help. Die uiteinde is vir David tragies en ironies: “Geen mens wat begryp nie, en ná sy dood ook geen mens wat sal weet hoe dit was nie; indien daar ’n beeld van hom bly voortbestaan, sal dit iets wees wat geen verband hou met die werklikheid nie.” By fakkellig is ’n ontroerende roman waarin die Ierse landskap, die rustige leefwyse van die adel, die verbitterde bestaan van die boerevolk en die vertwyfeling van Arthur uitgebeeld word op ’n wyse wat herinner aan Yeats se woorde van byna twee eeue later: “A terrible beauty is born”.

Аннотация

In 1837 het ’n engel aan ’n jong skaapwagter verskyn, en die weerklank van hierdie gebeurtenis in sy eie lewe en dié van ander mense oor ’n tydperk van anderhalwe eeu is die onderwerp van hierdie roman. Die eerste verteller wat aan die woord kom, is ’n man in die hede wat sy tuisdorp ná baie jare weer besoek, en veral meer wil uitvind oor Daniël Steenkamp (Danie Versies), die skaapwagter wat die engel gesien het en wat ’n versameling eenvoudige, religieuse verse nagelaat het. Dan is daar die stemme uit die verlede wat verskillende perspektiewe op die gebeure bied: Dominee Heyns en later die onderwyser Jood wat albei van Daniël Steenkamp se verse publiseer; Daniël self, sy suster, en Heyns en Jood se weduwees. As iemand die verlede wil opteken, kan hy/sy slegs nog “kyk en luister, . . . maar om te verstaan, is nouliks meer moontlik. Die verlede is ’n ander land.” Hierdie woorde uit die roman is een van die hooftemas van Schoeman se drieluik Stemme.

Аннотация

Verliesfontein is die eerste roman in die drieluik Stemme wat begin is, en die laaste wat voltooi is. Net soos die ander twee titels, Hierdie lewe en Die uur van die engel, handel dit oor die Suid-Afrikaanse verlede, en meer spesifiek die verlede van die Afrikaner, soos beskryf in die woorde van diegene wat dit self ervaar het. Die sentrale gegewe in hierdie roman is die inval van die Vrystaatse kommando’s in die Kaapkolonie in die somer van 1900-1901, tydens die Anglo-Boereoorlog. Eerste aan die woord is ’n skrywer-verteller, ’n historikus in die hede op soek na ’n spesifieke dorpie in die Kaapkolonie wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur ’n Vrystaatse kommando ingeval is. Die aanvanklike fokus van sy navorsing is die Kaapse rebel Giel Fourie, maar deur die herinneringe van drie karakters uit die verlede verskuif die fokus geleidelik na die bruin man Adam Balie wat deur die Boeremagte doodgeskiet is. Die drie “stemme” is dié van Alice, ’n Skotse meisie wie se pa die magistraat was, Kallie, die magistraatsklerk, en Miss Godby, die dokter se suster.

Аннотация

George Neethling wat sedert sy vyfde jaar in Europa woon, kom ná sy ouers se dood Suid-Afrika toe om die erfplaas Rietvlei te besoek. Maar op die plaas vind hy nie veel meer as ruïnes nie, en terwyl hy in die omgewing bly, word hy geleidelik bewus van die onderstrominge van geweld en vrees in ’n geïsoleerde gemeenskap wat ná ’n revolusie in vrees vir hul nuwe bewindhebbers leef. Die roman is in 1972 gepubliseer en met die CNA-prys bekroon. Dit is ook as Promised Land in Brittanje en die VSA gepubliseer, en in Russies en Frans vertaal. Dis sedertdien verfilm.

Аннотация

Teen die einde van die negentiende eeu kom ’n middeljarige besoeker uit Europa in die binneland van Suid-Afrika aan. Versluis is ’n afsydige, aristokratiese Nederlander wat na Bloemfontein kom om van tering te herstel. Hy verken die vreemde land en doen algaande kennis en begrip op van dít wat tot dusver vir hom vreemd was. Dit word ook, uiteindelik, ’n voorbereiding op die onafwendbare einde van die reis: die dood. Die “ander land” word nie net geografies bedoel nie, maar ook die reis na die onbekende. Gerrit Olivier het geskryf: [dis] geen historiese roman nie, maar ’n boek oor die menslike kondisie”, en “groot nie net in omvang nie, maar ook in emosionele diepte en vervlegting van motiewe”.