Аннотация

Konstant Wasserman se pad loop dood. Sy mense met hul verstarde lewens en hul aansprake dryf hom tot raserny, dryf hom die land uit: Australië toe. In Sydney leer hy kook in 'n restaurant en vind hy vrye geeste wat hom verstaan. Die liefde, in 'n smeulende gedaante, terg sy sinne. Hy is vry. Tot die vreemde blou merke op sy bene begin uitslaan en hy begin siek word. Die toetse is positief, en hy moet klaarmaak, vrede maak. In 'n beheerste proses van heroïse afmetings konfronteer Konstant, en lê hy af: elke vriendskap en verwantskap, sy sinnelike liefde vir die lewe, en in 'n geïnspireerde deurgang, uiteindelik die lewe self

Аннотация

“Toe, soos vantevore, het ek myself oortuig dat seks alles oorwin, alhoewel ek rêrig nie kan sê wat alles behels nie.” Simon is ’n wêreldreisiger, vertroud met die reëls van vryheid en ongebonde plesier. In Bali verbind ’n selfoon-app twee vreemdelinge vir anonieme seks, terwyl die taal op hulle lippe identiteite eggo wat albei reeds agtergelaat het. Kaapstad is vol versteekte ruimtes vir die uitleef van sensuele vryhede, maar in Nederland kom die skrywende Simon te staan teen homself. In Tokio probeer twee ex-pats vrede maak met die land wat hulle van mekaar skei, en in Istanbul staan hy op die grens van die liefde. Deurentyd keer herinneringe terug: kleintyd in die Oos-Kaap, sy pa, die plaas en voorligting aan die hand van ’n beesboerdery. In sy sielkundige se spreekkamer bind Simon die grepe van oomblikke en ervarings saam, met dr. Spiteri se insigte. ’n Vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit.

Аннотация

Op die skerm van die kring-TV sien hy dit: twee skerp gepunte hondeore by die voorhek. ’n Wolfhond? Hy hou die knoppie in en tuur na die blougrys nagtoneel – en die buitengewoon groot hondekop wat hom stip aanstaar. Daar is iets aan die stil blik van die donker oë wat nie heeltemal reg lyk nie, en die oomblik dat die hees stem oor die luidspreker kom, weet Mattheüs wat dit is. “Matt,” sê die hondebek, “dis ek. Maak oop asseblief.” Mattheüs Duiker, seun van Benjamin Duiker, eertydse eienaar van Duiker’s Motors, maak die hek van die Kaapse herehuis oop vir sy minnaar Jack. Vermom soos ’n wolf dring Jack die intieme donkerte binne waar Matt wag dat sy pa doodgaan sodat sý lewe kan begin. Blinkoog oor die vooruitsigte sluip die twee jonges verby die studeerkamer waar die blinde ou man, deurdrenk van droewe verknogthede en donker vermoedens, sit en wag vir die voetval van die dood. Eben Venter se roman is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, na die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend. ’n Meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel – Venter aan die toppunt van sy vermoëns.

Аннотация

Horrelpoot is die verhaal van ’n lewensveranderende reis. Op 'n reënnag in Australië bel Marlouw se suster met die versoek dat hy haar seun 'uit daardie donnerse land' moet gaan haal. En Marlouw, met sy mank voet en verstokte gees, glo dis sy lot om dié opdrag uit te voer. Op die spoor van die hoofkarakter, Marlow, in Joseph Conrad se Heart of Darkness, vertrek hy na Afrika – meer spesifiek Suid-Afrika – wat in puin lê ná 'n ontploffing en onder die geweld van strydende faksies ineenstort. Natgesweet ná 'n onheilspellende vlug voer sy uittog hom dieper die onbekende in – verby die lydende massa langs die pad tot in die buitenste duisternis van die platteland. Daar is gerugte dat Koert hom op die ou familieplaas bevind, nou in besit van hul voormalige werkers. Dat hy daar, bewaak en afgesonder, vir hom 'n magtige ryk opgebou het as die Koning van Vleis. Hier, op Ouplaas, aan die einde van Marlouw se verskriklike reis, word die hart van vrees oopgekloof . . .

Аннотация

Van klipdagga en dawidjieswortel uit die Karoo-aarde wat krag en gesondheid aan mens en dier gee tot die luis van Auschwitz wat jou dood beteken – dis die reikwydte van die wêreld wat in Brouhaha aangevat word. Stories om oor te lag of treurig te word. En as jy laatnag nog aan die verhale knibbel en ’n bietjie angstig word, gaan kombuis toe en maak vir jou ’n Warmtoddy.Die resep is op bl. 288.