Скачать книгу

pluk senuweeagtig aan sy serp. Sy hand bewe toe hy die gehoorbuis optel.

      “Wil julle nie ’n bietjie sagter lawaai nie?” hoor hy die stem van sy bejaarde buurvrou. “Dis twaalfuur en …”

      “Druk oorpluisies in jou ore!” skree hy en plak die gehoorstuk neer.

      Nie sy fokken skuld dat die ou suurpruim haar nuwe slaapgedeelte tot amper teenaan sy huis gebou het nie. Dit terwyl haar erf so groot soos twee rugbyvelde is.

      Hy grawe vir sy sakdoek in sy broeksak en vee die sweet van sy voorkop af. Waggel terug sitkamer toe. Hy het self vanaand te veel Johnnie Walker afgesluk.

      Sy gemoed is donker toe hy gaan sit.

      Is dít hoe sy lewe van nou af gaan wees? Vir elke telefoonoproep sy gat af skrik? Heeltyd oor sy skouer loer?

      8

      Soms moet ’n geheime agent sy eie oordeel vertrou, weet Moos. Of sy instink volg, soos Stig Wennerström sy sukses as baasspioen verduidelik het.

      En dis presies wat Moos vanoggend gedoen het. Hy’t skuins oorkant Naas Kuyler se huis gesit en wag vir dié om te vertrek, met die hoop dat sy bewegings meer lig op sy bedrywighede sal werp.

      Maar toe Kuyler by die voordeur van sy onaansienlike ligpienk huis uitstap, was daar ’n vrou kort op sy hakke. Mevrou Kuyler, het Moos aangeneem. Die twee was in ’n heftige woordewisseling, met handgebare en gesigsuitdrukkings wat allesbehalwe liefde uitstraal. Toe die outomatiese deure van die dubbele motorhuis oopswaai, het hulle mekaar vir laas nog iets toegesnou.

      Kuyler het in sy Merc geklim, die vrou in ’n Volvo. Hulle het gelyktydig getru, maar die vrou was eerste in die straat en het met skreeuende bande die pad gevat. En dis presies waar Wennerström se wysheid in Moos se gedagtes weerklink het. Hy’t instinktief die vrou agtervolg.

      Nou sit hy in ’n koffiewinkel in die middedorp van Durbanville, skaars ’n tree weg van die tafeltjie wat deur die vermeende mevrou Kuyler beset word. Dis duidelik sy wag op iemand – sy hou die deur stip dop.

      Moos bestel ’n filterkoffie en bekyk haar onderlangs. Moet in haar middeldertigs wees. Dalk ’n raps te mollig, maar andersins ’n aantreklike vrou met donker hare, hoë wangbene en ’n gul mond. Lekker soenlippe, soos Moos se oudste broer sou sê.

      ’n Windverwaaide, skraal vrou kom die koffiewinkel binne.

      “Leandri!” groet sy. “So bly jy’t my gebel. Jammer ek’s bietjie laat, maar ek moes eers die kinders by hulle ouma aflaai.”

      Mevrou Kuyler glimlag dapper. “Dankie dat jy gekom het, vriendin. Ek het vanoggend ’n skouer nodig om op te huil.”

      Sy wink die kelner nader en hulle bestel cappuccino’s.

      Moos maak asof hy iets op sy selfoon bestudeer. Hy hoop van harte dit raak nie ’n fluistergesprek tussen die twee vroue nie.

      “Weer Naas?” vra Vriendin.

      Mevrou Kuyler sug. “Ja. Hy’s die laaste tyd weer onhanteerbaar, praat skaars met my.” Sy snork. “Dis eintlik ’n understatement. Daar is géén sinvolle kommunikasie van sy kant nie. En boonop het die donner my nou gedrop.”

      “Wat!”

      “Ons sou mos Desember Mauritius toe gegaan het, maar toe stel Naas dit op die laaste nippertjie af. Glo een of ander krisis by Kadinsky. Hy’t belowe ons kan die eerste week in Februarie gaan. Dis al wat my aan die gang gehou het, ons het so ’n boring Krismis gehad. En hy’t die uitnodiging na die Viljoens se Oujaarspaartie van die hand gewys en heeltyd laat gewerk, terwyl ek myself moes vermaak. En as hy saans by die huis kom, ly hy aan stilstuipe.”

      Vriendin knik meelewend, druk-druk haar wit gebleikte hare in plek.

      “Toe ek hom vanoggend pols oor ons trip in Februarie … ek meen, dis oor tien dae … skud hy net sy kop.” Mevrou Kuyler se stem bewe. “Hy’t nooit so iets belowe nie, sê hy toe.”

      “Nee!”

      “Ja, die bliksem het vir my gelieg. Volgens hom is daar ook geen kans dat ons vanjaar kan weggaan nie, want die werksdruk is glo te kwaai.” Mevrou Kuyler sluk van haar cappuccino. “Ek haat daai bleddie werk van hom!”

      “Dink jy nie dalk daar’s ’n …” Vriendin se stem sak. “’n Ander vrou nie?”

      “Ek weet nie,” prewel mevrou Kuyler en bars in trane uit.

      Moos se gedagtes begin soos ’n resiesperd galop. Hier’s ’n geleentheid wat hy kan benut, besef hy. Hóé weet hy nog nie, maar nugtere beredenering sal die antwoord bring.

      * * *

      Die Pion neem die ou doktersboek, die enigste wat hy van sy oorlede moeder se versameling boeke oorgehou het. Die menslike anatomie was van vroeg af een van sy belangstellings. Voordat hy met enige van sy leeswerk begin, blaai hy gewoonlik eers deur die boek vir ’n dagstukkie.

      Hy maak dit op bladsy 203 oop. Die opskrif tref dadelik sy oog: Versmoring. Hy begin lees.

      Asemhaling is moeilik, pynlik, vinnig en diep. Ander spiere help met asemhaling en veroorsaak dat die borskas moeisaam beweeg. ’n Vinnige, swak pols. Angs en aggressie. Sianose – bloupers verkleuring van lippe en vingernaels. Diep, snorkende asemhaling. Uiteindelik bewussynsverlies, waarna die dood intree.

      Die Pion frons. Is dit toevallig dat hy die boek juis hier oopgemaak het? Die lugpyp is immers deel van sy area van kundigheid – die nek. Versmoring klink soveel meer bevredigend as die manier waarop hy sy slagoffers teregstel, waar alles binne ’n paar oomblikke verby is.

      Is hierdie ’n intervensie van die een of ander aard? wonder hy. ’n Teken dat hy vorentoe ook mag afwyk van die gebruiklike? Stadige verwurging behoort dieselfde effek op die slagoffer te hê as hierdie beskrywing van versmoring.

      Hy maak die boek toe en plaas dit terug in die lessenaarrakkie. Beslis ’n metode om in die toekoms te oorweeg, as die situasie hom natuurlik daartoe leen. Afwisseling bring nuwe ywer, het hy iewers gelees.

      Hy trek die onderste laai oop en haal die lywige bundel met die spiraaldraadrug huiwerig uit. Dis polisie-opleidingsmateriaal wat hy baie jare gelede by die Opdraggewer gekry het.

      Die psige van reeksmoordenaars het die Pion nog altyd geïnteresseer. Nie dat hy hom enigsins met sulke moordenaars kan vereenselwig nie. Hulle is deur die bank swakkelinge, sosiaal uitgeworpenes met diepgewortelde sielkundige probleme. En hulle dade is meestal weersinwekkend.

      Maar drie jaar gelede het die afdeling oor reeksmoordenaars hom só ontstel dat hy nie verder kon lees nie. Daarna het die spoke te voorskyn gekom, elke nag in die vorm van nagmerries. Nou het dit so erg geraak dat hy slaappille moet drink om ’n goeie nagrus te verseker. Hy het oplaas besef hy sal die spoke eers kan verdryf as hy deurdruk met die afdeling oor reeksmoordenaars.

      Hy maak die handleiding oop waar hy laas ophou lees het. Dis die hoofstuk oor die psigoseksuele ontwikkeling van die reeksmoordenaar.

      As die speurder bytmerke op die lyk vind, ’n lyk waarvan die borste afgesny is of as hy bewus is van kannibalisme, kan hy die afleiding maak dat die verdagte die kenmerke van ’n orale persoonlikheid het. Hy behoort dan die familie van die verdagte en veral die moeder uit te vra oor die borsvoedingsfase.

      Bytmerke dui op orale sadisme. Borste wat afgesny is, dui daarop dat die verdagte waarskynlik as baba deur die moeder verwerp is of verwerp gevoel het, en nog steeds soek na die melk (liefde) wat hy gemis het.

      Kannibalisme dui daarop dat die verdagte ’n ernstige identiteitskrisis ervaar en op primitiewe wyse probeer om die identiteit van sy slagoffer aan te neem deur hom te eet …

      Die Pion kyk op van sy leeswerk en tuur na die geraamde foto van sy liewe moeder bo die lessenaarrakkie. Hy maak die handleiding toe, staan op en stap na die badkamer. Vat die skropborsel en hou dit eers onder die lopende kraan voordat hy dit deeglik seep.

      Die gedagte aan al die bloed by die moorde waarvan

Скачать книгу