Скачать книгу

Felfe, die gewese Nazi wat later vir Engeland gespioeneer het, tereg opgemerk het.

      Aan die onderpunt van die stad vat Kuyler die afdraai middestad toe. Adderleystraat. Waar Adderley Waalstraat word, draai hy links in Koningin Victoria en parkeer langs die Kompanjiestuin.

      Moos is gelukkig: daar is ’n oop parkeerplek ’n entjie anderkant die Merc, regoor die St. Martini Gardens-woonstelblok. In die truspieëltjie sien hy hoe Kuyler uit die kar klim, aktetas in die hand. Hy stap op die sypaadjie verby en loop die trappies na die Kompanjiestuin op.

      Met sy kamera gereed volg Moos op ’n afstand. Hy doen sy bes om soos ’n toeris te lyk wat entoesiasties foto’s van die omgewing neem.

      Kuyler stap in Goewermentslaan af in die rigting van die parlement. Hy stop by ’n koerantverkoper, wat Moos die kans gee om ’n profielfoto op sy Canon 5D vas te lê. Hy kyk vlugtig na die skerm, tevrede dat die zoemlens sy werk uitstekend gedoen het. Tot die fyn haartjies wat oor Kuyler se oor krul, is duidelik sigbaar.

      Koerant onder die arm stap Kuyler by die hoofingang van die parlement in. Beslis nie ’n lid van die parlementêre personeel nie, kan Moos van die straat af sien, want Kuyler meld aan by die besoekersingang.

      Die implikasies van dié verwikkeling laat warm gloede in Moos se gesig opstyg, soos altyd wanneer hy deur baldadigheid oorweldig word. Vandag is dit só erg dat hy sy bril moet afhaal om die wasem met ’n sakdoek van die lense te vee. Hierdie saak kan sy gróót deurbraak by die SSA wees. ’n Man wat gisteraand in verdagte omstandighede samesprekings met ’n vermeende Islamitiese ekstremis gevoer het, kom sien vandag iemand by die hoogste politieke gesag in die land!

      * * *

      Claus vlek die twee springbokblaaie en sny die oorblywende kraakbeen uit. Hy besprinkel die vleis met growwe sout, varsgemaalde peper en gekapte roosmaryn, pak repies spek daarop, rol dit toe en bind dit met ’n toutjie vas.

      Hy vryf die vleis eers goed in met olyfolie, verhit dan botter in ’n groot oondpan en sit die vleis in die pan sodat dit liggies aan albei kante verbruin. Hy haal die vleis uit, pak wortels, seldery, preie, uie en knoffel in die pan, sit die vleis bo-op en maak die pan met foelie toe. Nou veertig minute in die oond.

      Soms verlang hy nog heimlik na sy sjefdae, toe sy enigste doelwit in die lewe was om sy kulinêre briljantheid uit te stal.

      Hy neem peinsend ’n sluk van sy whisky. Hoe het sy pad die afgelope vyf-en-twintig jaar nie ’n ander rigting ingeslaan nie! Van ’n onskuldige agtienjarige (toe nog Herklaas Prinsloo), pas aangewys as topstudent by ’n gesogte Franse kulinêre akademie in die Bolandse wynvallei, na sjef by een van die spogrestaurante in die Kaapse middestad. Net ’n jaar daar gehou – die min geld en lang ure was ’n wake-up call.

      Toe doen hy aansoek as bestuurder van die Blue Night-nagklub oorkant die pad en kry dit. Nog langer ure, maar baie meer geld. Hy’t die sukkelende nagklub in ’n japtrap winsgewend gemaak met ’n beter spyskaart en meer professionele strippers. In dieselfde tyd het hy sy naam amptelik by die departement van binnelandse sake na Claus Prins verander – sy nuwe werk het ’n meer gesofistikeerde naam vereis.

      Die volgende mylpaal was sy ontmoeting met Brian Beukes by die kroegtoonbank van die Blue Night. “Ek’s ’n farmaseutiese laboratoriumrot, pille my nering,” het Brian effens sleeptong gesê terwyl hy Macy se skommelende borste op die paaldanspodium dopgehou het.

      Brian het Claus beïndruk – ’n hoogs geleerde skeikundige met ambisie vir groter dinge. “My eie farmaseutiese maatskappy,” het Brian op ’n keer sy toekomsdroom verklap. Hulle het daaroor begin praat en een ding het tot ’n ander gelei.

      Brian was eerlik oor sy vermoëns: hy kan nie verder as die vier mure van ’n laboratorium dink nie. Maar Claus het die bemarkingsvaardighede en vernuf om geld te maak. “’n Man met ’n soliede sakebrein,” het Brian bewonderend gesê.

      Claus het juis in daardie tyd die Blue Night vir ’n appel en ’n ei by die bankrot eienaar gekoop. Binne twee jaar het hy dit uitgebou tot ’n uiters winsgewende onderneming en was sy lening afbetaal.

      Maar hy was toe al sat vir die Kaapse skemerwêreld van nagklubs. Die onmenslike lang ure en ongesonde leefstyl het sy tol geëis. Boonop het Macy by hom ingetrek. Hy was nie meer geneë daarmee dat sy haar lyflike bates voor die honger oë van jagse besoekers vertoon nie. Haar onttrekking aan die hoofitem op die paaldanspodium het talle getroue klante na die opposisie gedryf. Claus het met ’n skok besef Macy se volmaakte borste en uitlokkende lyf was al die jare die Blue Night se grootste enkele trekpleister.

      Dit was die laaste strooi. Claus was reg vir ’n verandering.

      Dertien jaar gelede het hy en Brian die sprong gemaak. Hy het die nagklub vir ’n goeie prys verkoop en hulle het klein begin in Paardeneiland. Eerste vyf jaar van hel net-net oorleef. Uit radeloosheid het hulle die moontlikheid van ’n “grys been” vir Prins Pharmaceuticals oorweeg, en dit uiteindelik gedoen. Die Rus Ivan Alexandrowitsj, uitsmyter by die Blue Night, het hulle met ’n groot salaris weggerokkel om ’n verspreidingsnetwerk in Afrika te vestig.

      Toe die ondergrondse medisynegolf met mening begin ry. Dit het hulle in staat gestel om die grys been uit te brei na ander vertakkings wat meer waarde toegevoeg het. As bonus kon hulle ’n splinternuwe hoofkantoor in Montague Gardens vir hul wettige besigheid bou.

      Deesdae swem hulle in goud danksy daardie grys been van die onderneming – kragtige hale op pad na ’n sorgelose vroeë aftrede iewers op ’n eksotiese eiland.

      En nou, dink Claus terwyl hy sy whiskyglas ledig en dit dadelik hervul, is die enigste brander wat hulle uit daardie goue swembaan kon slaan ook afgeweer.

      Vroegoggend se oproep van die kontakman dat die Pion sy taak suksesvol uitgevoer het, was selfs beter as seks met Macy. Claus se vreugde het geen perke geken nie. Hy het Brian en Ivan gebel en gesê hulle moet vandag van die werk vergeet en vanmiddag saam met hom en Macy by sy huis kom aansit vir ’n feesmaal.

      Hy glimlag behaaglik. Hulle het oorgenoeg rede om tot laatnag met kulinêre en alkoholiese oordaad te vier. Die een se dood is immers die ander se brood.

      6

      Kassie staar na die toneel voor hom. Die nylontou is diep ingebed in Fred Smuts se nek. Hy hang roerloos aan ’n stewige houtbalk in die ruim studeerkamer, arms slap langs sy sye, voete effens na onder gepunt. Op die vloer lê ’n stoel op sy rug.

      “Pollie was reg.” Rooi wys na Smuts se gewrigte. “Daar’s duidelike skaafmerke. Dié ou was vasgebind.”

      Kassie knik. Hulle aanvanklike vermoede van selfmoord is vinnig aan die verdwyn.

      Die stasie het vanoggend kwart oor sewe ’n oproep van Smuts se suster gekry. ’n Span uniforms onder leiding van kaptein Paulse het kom ondersoek instel. Pollie het kolonel Daniels toe by sy huis gebel en gesê hy vermoed dit was nié selfmoord nie.

      Kassie en Rooi het net by die werk geland toe Daniels hulle opdrag gee om hierheen te kom. Die geskokte huishulp het gesê die Van Zyls is op pad van waar hulle op Hermanus vakansie gehou het. Sy het hulle vroegoggend gebel nadat sy op die lyk afgekom het.

      Die Van Zyls was gou daar. Die vrou was histeries; skynbaar was Smuts haar enigste broer. Haar man het die toneel een kyk gegee, uitgehardloop en in die gang opgegooi.

      “Hier’s Da Silva-hulle nou,” sê Rooi. “’n Mens hoor sy groot bek op ’n afstand.”

      Kassie kyk op sy horlosie. “Ook hoog tyd.”

      Da Silva lei die forensiese entourage die studeerkamer in.

      “Wie’t in die gang gekots?” vra hy. “Rooi?”

      Rooi se sproetgesig word nog rooier. “Fok jou, Da Silva.”

      “All yours,” sê Kassie en beduie na Smuts. “Ek en Rooi gaan nou met die Van Zyls praat.”

      Da Silva beskou die lyk. “Wat’s julle gevolgtrekking?”

      “Dis mos eintlik julle job om

Скачать книгу