Скачать книгу

langs Kassie s’n sit Rooi ook voor hom en uitstaar. “Erg van Daan, nè?” sê hy toe Kassie sy blik vang.

      Kassie knik. “Dis omdat ons omstandighede fokken abnormaal is. Hulle sê in Amerika kry ’n poeliesman dalk met één moordsaak in sy loopbaan te doen. Hier hanteer ons amper weekliks moord, kapings, verkragtings en die fok weet wat nog als. En wat doen die SAPD daaraan? Boggherol! Ordentlike sielkundige support bestaan nie in hulle boeke nie.”

      Rooi se wenkbroue lig. “Bliksis, Kassie, maar jy’s darem deesdae krities oor die Diens!”

      Cliffie, ’n entjie verder weg, kyk ook skerp op.

      Kassie antwoord liewer nie. Hy staan op, vat sy pakkie Luckies en brom dat hy in die vierkant gaan rook.

      * * *

      Moos tuur die donkerte in. Al amper negeuur.

      Hy weet Khan is in die huis. Die ligte het skuins voor agt in twee vertrekke aangegaan. Maar soos al die vorige dae het daar niks van belang gebeur nie.

      Hy lig sy doodgesitte boude vir ’n rukkie uit die karsitplek op. Die Golf het net-net te min ruimte vir sy bene, maar dis al kar wat die SSA tot sy beskikking kon stel wat nie aandag sal trek nie.

      Die ding is gehawend – roeskolle oral op die bakwerk en minus drie wieldoppe – maar dit help dat nie een van die inwoners al skeef na die Golf gekyk het nie. Hulle moet teen dié tyd dink dis maar een van die jongmense se skedonke wat altyd hier staan. En die donker getinte ruite maak Moos onsigbaar vir verbygangers.

      Hy skink die laaste bietjie koffie uit die fles en teug aan die vrank brousel. Hy kan nie teen dié pas voortploeter nie. Hy sal moet aanbeveel dat hulle Khan se plek visenteer, al is die man in die huis.

      Dis glad nie ideaal nie, want kry hulle geen bewyse wat Khan met die Islamitiese Broederskap verbind nie, was die hele operasie vrugteloos. Én hulle cover is geblaas. Verder sal Khan dan bedag wees daarop dat hy ’n gemerkte man is.

      Moos se aanvanklike plan om Khan se huistelefoon te tap, het op niks uitgeloop nie. Die man het nie ’n landlyn nie. En omdat hy nooit uit die huis kom nie, was dit ook nie moontlik om ’n meeluisterapparaat te gaan plant nie.

      Onwillekeurig, en soos soveel kere die afgelope paar weke, put Moos opnuut motivering uit baasspioene van die verlede. Elke keer as hy op moedverloor se vlakte is, gryp hy na ’n inspirerende staaltjie om sy gemoed te lig.

      Vanaand kom Richard Sorge, baasspioen van die Rooi Leër tydens die Tweede Wêreldoorlog, eerste in sy kop op.

      Sorge se skerp verstand, buitengewone moed, geduld en selfbeheersing was sy vernaamste eienskappe. In Tokio moes hy vasstel of Japan die Russiese grens met Mantsjoerye gaan aanval, sowel as wat die Japanners se werklike houding jeens Hitler was. Soos ’n skim het hy die Kempeitai, Japan se gevreesde geheime diens, ontduik. Dié het honderd-en-veertigduisend agente gehad en hulle oë en ore was oral: vermom as klerke agter postoonbanke, portiere by hotelle, kruiers op treinstasies, onderwysers en tolke. Maar Sorge het met hulle speletjies gespeel, en selfs die vermetelheid gehad om sy agtervolgers te begin agtervolg …

      Moos verstar toe motorligte stadig in die straat nader kom. ’n Donkergrys Mercedes hou skuins oorkant die Golf stil. Hy het dié kar nog nooit hier gewaar nie.

      Die bestuurder klim nie dadelik uit nie, iets wat Moos se hoop verder opjaag. Deur die nagverkyker kan hy die profiel van ’n man uitmaak. Hy wag met ingehoue asem.

      Eers ná goed vyf minute klim die man uit. Wit, tot Moos se verbasing, ’n lang, atletiese kêrel tussen dertig en veertig. Breë skouers. Blinkswart hare. Netjiese pak klere, das, wit hemp.

      Die man kyk om hom in die straat rond. Sy blik skeer oor die Golf, maar Moos weet hy’s onsigbaar agter die getinte ruite. Tog sit hy roerloos.

      Sy hart begin wild klop toe die man by Khan se voorhekkie instap en aan die voordeur klop. Khan maak dadelik oop en die geheimsinnige besoeker verdwyn binnetoe.

      Moos skryf die besonderhede van die Merc se nommerplaat neer. Hy haal hortend asem, sy oë wyd gerek soos hy die huis bespied. Uiteindelik aksie!

      Ná presies een uur en sewentien minute kom die man uit Khan se huis. Hy kyk weer vlugtig om hom rond voordat hy in die Merc klim en stadig wegtrek.

      Moos se eerste instink is om hom te volg, maar dan onthou hy een van die goue reëls van die uitgeslape admiraal Wilhelm Canaris, ’n dubbele agent van die Duitse geheime diens tydens die Tweede Wêreldoorlog. “Moet nooit snags ’n motor in stil strate volg nie. Jou kans om dit ongesiens te doen, is op die beste tien persent.”

      Hy sal die man deur sy nommerplaat kan opspoor, stel Moos homself gerus.

      Kalm denke is nou van die opperste belang. “Waak daarteen om te vinnig op galop te gaan ná ’n deurbraak,” het die atoomspioen Stig Wennerström altoos gewaarsku. “Dit is dán die tyd om die teuels in te trek en die saak goed te bepeins.”

      Moos haal stadig en diep asem, sy oë steeds op Khan se huis. Is dít die deurbraak waarop hy so lank gewag het?

      4

      Op sommige plekke is die aantekeninge in Fred Smuts se notaboekie bra onleesbaar, maar dit verskaf darem aan hom die nodige riglyne om sy storie sinvol op die stemopnemer te vertel. Later, wanneer hy sy ondersoek afgehandel het, sal hy hoofsaaklik op die kassette staatmaak om sy reeks artikels te skryf.

      Hy glimlag toe hy eers die kasset nommer voordat hy dit in die masjien druk. Sy suster spot hom oor sy old school-toerusting, maar hy verkies nog steeds dié ou stemopnemer. Hy’t darem met verloop van tyd gevorder van ’n stokou desktop na ’n vaartbelynde laptop. En hy gebruik sy selfoon deesdae vir meer funksies as net oproepe en SMS’e.

      Hy skakel die opnemer aan en begin: “Gevallestudie sewentien. Bulawayo, Maart 2016. Mary Masakadza.” Kyk met skrefiesoë na sy gekrabbel en gaan voort: “Agtergrond. Mpilo-hospitaal. Februarie 2016. Dokter Dick Walsh lig my in dat sewentig persent van sy pasiënte draers van die MI-virus is. In kort som dit die krisis in Zimbabwe op.

      “My eie ondersoek het die volgende opgelewer: Ek weet vigslyers in daardie dele is ondervoed en bly meestal in armoedige buurte, maar dit het nuwe betekenis gekry toe ek die buitewyke van Bulawayo verken. Uitgeteerde siekes moet hier in haglike omstandighede probeer oorleef. Selfs Khayelitsha se slegste dele lyk soos luukse oorde teenoor dié verwaarloosde plakkershole.

      “Dis hier waar ek Mary Masakadza vroeg in 2016 ontmoet het, ’n twee-en-dertigjarige ma van drie kinders wat ’n blyplek met ’n dosynstuks mense deel. Mary was een van die gelukkiges wat teenretrovirale behandeling ontvang. Wel nie by die hospitaal nie, maar by een van die oorvol klinieke in die omgewing. Dié fyn vroutjie was so swak dat sy skaars haar arm kon oplig om haar jongste kind te voer. Haar maatskaplike werker, Janice Raza, het my verseker ek sien haar op haar beste. Sy was egter vol moed dat die medisyne Mary binnekort sal help.

      “Vier maande later, met ’n opvolgbesoek aan Bulawayo, moes ek verneem Mary is oorlede. Janice het net haar skouers opgetrek. Sy het gesê die medisyne wat veronderstel was om vir Mary beterskap te bring, het géén positiewe uitwerking gehad nie. Trouens, haar toestand het deurentyd verswak. Janice het my ook ingelig dat dit die lot was van baie ander in die omgewing: die medisyne help nie. Sy was behulpsaam genoeg om die boksie tussen Mary se besittings op te spoor, met nog ’n paar pille daarin …”

      Fred kyk gesteurd op van ’n geluid iewers in die huis. Hy druk die stopknoppie van die stemopnemer en luister aandagtig. Sy suster se verdomde kat het natuurlik weer iets omgestamp. Dis die lompste kat wat hy in sy lewe teengekom het.

      Maar dis nou stil in die huis.

      Hy verstar toe iets hards teen sy agterkop druk.

      “Hou jou hande in die lug en staan baie stadig op,” sê ’n toonlose stem agter hom. “Maak presies soos ek sê en jy sal niks oorkom nie.”

      Fred gehoorsaam met ’n hart wat uit sy borskas wil spring.

      “Sit jou hande agter jou rug,” sê die stem.

Скачать книгу