Скачать книгу

die bloed vas. Meer bloed vloei die penis binne as wat dit verlaat totdat daar ’n balans is tussen bloed wat inkom en bloed wat uitgaan. Hierdie ekwilibrium hou sy ereksie konstant.

      Die bloed maak die penis nie net styf nie, maar ook langer en dikker.

      Daar het jy dit: ’n ereksie.

      Die omgekeerde gebeur wanneer die penis verslap. (’n Vrou se ereksie werk dieselfde. Jy kry dit net op ’n ander plek – in die klitoris en rondom die opening van die vagina.)

      Maar dinge kan verkeerd loop …

      1. Erektiele disfunksie

      Indien die slagare in sy penis nie behoorlik oopmaak om bloed in te laat nie is dit moeilik of onmoontlik om ’n ereksie te kry. Erektiele disfunksie (ED, vroeër impotensie genoem) beteken hy kan nie ’n ereksie kry of lank genoeg behou om die seksdaad deur te voer nie.

      Partykeer sukkel hy net nou en dan om ’n ereksie te kry, of die ereksie is nie ferm genoeg nie – ’n sogenaamde “lui” ereksie. Maar as ’n man oor ’n sekere tydperk nie ’n ereksie kan kry nie, is daar fout.

      Die redes kan veelvuldig wees, maar dis gewoonlik sielkundige faktore, die man se ingesteldheid teenoor seks of dalk skuldgevoelens. (“Jy gaan hare op jou handpalms kry! En dan gaan jy blind word!”)

      Ander oorsake is mediese toestande, soos kardiovaskulêre probleme, bloeddruk en bloeddruk-medikasie, verhoogde cholesterol of diabetes, te min testosteroon (bekend as hipogonadisme), of dis ’n newe-effek van ander medisyne, soos antidepressante. Dwelms soos kokaïen en heroïen speel ook ’n rol. So ook alkohol, hoewel ’n matige hoeveelheid ’n seksopkikker is. (It provokes the desire, but it takes away the performance. – Shakespeare.)

      En nikotien vernou die are in die liggaam, ook in die penis, sodat bloed nie so maklik kan invloei nie – dis bewys ED kom 85% meer voor by rokers as by nie-rokers.

      Stres, angstoestande en oorgewig eis ook hul tol. Of doodgewone moegheid. Sit daarby die vrees vir mislukking in die bed (performance anxiety).

      En miskien moet hy nie so baie fietsry nie! ’n Studie (2002) onder polisiemanne op fietse het ’n verband bevind tussen die aantal ure in die saal en ED …

      ED tref sowat een uit tien mans, die een of ander tyd in hul lewe. Hoe ouer, hoe meer. Dit raak die helfte van mans bo 40.

      Die International Index of Erectile Function (IIEF) is ’n vraelys, ingestel in 1997, wat algemeen gebruik word om die graad van ED vas te stel. Die man beantwoord bloot vrae oor sy seksuele ervaring die afgelope vier weke. Dis ontwerp om die volgende vyf erektiele “domeine” op ’n skaal van 1 tot 5 (erge disfunksie tot geen disfunksie nie) te bepaal: a. erektiele funksie, b. orgasmiese funksie, c. seksuele begeerte, d. satisfaksie tydens seks, en e. algemene satisfaksie.

      Verskillende behandelings is beskikbaar – van testosteroon-aanvullings tot pille soos Viagra, Levitra of Cialis. Die ekstra testosteroon sal hom lus maak, maar die genoemde drie pille werk in op die bloedvate en sal ’n ereksie aanbring, maar hom nie noodwendig lus maak nie. (Hoekom dan in die eerste plek die pil sluk, man?)

      Sy dokter sal kan voorskryf wat die beste is. Onthou, ED kan ’n aanduiding van hartprobleme wees. Dit moet liefs nie geïgnoreer word nie.

      Die baanbreker van behandeling in pilvorm was ’n Britse fisioloog, Giles Brindley. Hy’t ’n klomp uroloë op ’n kongres in Las Vegas (reeds in 1983) byna agteroor laat val deur homself op die verhoog direk in sy penis in te spuit met fentolamien. Hy’t oombliklik ’n ereksie gekry. Dié middel dien as ’n verslapper van die gladdespiere in die bloedvate van die penis, wat die weg baan vir meer bloed omdat die bloedvate dan ontspan. Dit gee ’n ereksie wat ’n paar uur sal hou. (Gladdespiere speel ’n kardinale rol in enige ereksie.)

      Voor dr. Brindley se manewales is gedink die oorsaak van ED is bloot sielkundig, in ’n man se kop. Hierna was ’n inspuiting met ’n baie dun naald direk in die penis (kan jy dink?!), deur die man self toegedien, ’n algemene oplossing vir ED.

      Totdat navorsers in 1998 by middels soos Viagra uitgekom het …

      2. Premature ejakulasie

      Dit kan ’n man baie ontoereikend en … onmanlik laat voel. Julle het nog nie begin nie, dan’s hy al klaar en jy voel afgeskeep.

      Hoe gou is te gou?

      Die eenvoudige antwoord: Dit is te gou as dit inmeng met ’n bevredigende sekslewe vir júlle. Volgens die Amerikaanse Urologiese Vereniging tref dit 27-34% van mans. Navorsers (2005) reken as dit minder as een en ’n halwe minuut duur voor hy ejakuleer, kan dit as premature ejakulasie beskou word. Dit hang natuurlik af of hierdie minuut en ’n half ’n probleem is vir jou of vir hom. Indien nie, is dit nie prematuur nie.

      Weer eens is die oorsaak velerlei fisieke of geestelike probleme soos stres, depressie, ’n swak selfbeeld, kwaad vir jou maat, wat ook al. Te min serotonien kan ook ’n rol speel. Of doodgewone hiperkatoolsgeit, hy kan sy lus net nie hou nie.

      (Gewaande) kure is volop. Gaan maar liewer dokter toe om seker te maak wat gaan aan …

      3. Vertraagde ejakulasie

      Dis die ontwykende orgasme, wat eweneens op mediese probleme kan dui: Hy kom net nie klaar nie, hy karring en karring. Terwyl die deursneeman in ’n paar minute ejakuleer, sukkel hy terwyl daardie minute verbytik. Jy verloor later moed.

      Soos hulle in Namakwaland se wêreld sê: “Ek. Kry. Nou. Klaar.”

      4. Priapisme

      Dit het niks met urine te doen nie!

      Die benaming kom van die Griekse god Priapus, wat rondgeloop het met ’n enorme, permanente ereksie … hoewel hulle ook sê hy was impotent, lelik en ’n vuilbek. (Hy was onder meer die bewaarder van manlike genitalieë, so ’n man moet seker nie te sleg van hom praat nie …)

      Priapisme is skaars, maar ongemaklik is nie die woord nie. En pynlik: Sy ereksie wil nie sak nie. (Dit kan met jou klitoris ook gebeur. Dan word dit klitorisme of klitorale priapisme genoem, nou ja.)

      Die oorsaak van priapisme is nie duidelik nie. Dit het vermoedelik te doen met bloedvloei- of chemiese probleme in die liggaam, of neurologiese of rugmurgtoestande en sekere antidepressante. Of dit kan die gevolg wees van middels wat in die penis gespuit word om ED te behandel, of in die pornografie-bedryf wanneer ’n man homself inspuit om langer te kan uithou ter wille van die kamera.

      Komplikasies kan bloedstolling in die penis wees, skade aan die are, selfs gangreen. ’n Totale bôlsup …

      Priapisme word gewoonlik gediagnoseer as die ereksie ná vier uur nog nie gesak het nie. (’n Man gaan nie vier uur wag voor hy dokter toe jaag nie.) En hoe gaan hy dit vir sy vriende verduidelik?

      “Julle sal my nie glo nie, maar ek is in die hospitaal opgeneem met ’n ereksie.”

      5. Anorgasme

      Kan nie ’n orgasme kry nie.

      Mans kan ’n probleem hiermee hê, maar nie sommer nie. Een stukkie statistiek sê een tot tien miljoen mans in die wêreld sukkel daarmee. Hulle bereik ’n orgasme tydens masturbasie, maar nie tydens seks nie.

      Maar dis eerder ’n vroue-probleem. (Na bewering het een van die grootste seksgodinne van alle tye, ondanks drie mans en vele minnaars, nooit ’n orgasme in haar lewe gehad nie. Marilyn Monroe. Sy’t glo dié stukkie nuus met ’n vriendin gedeel.)

      Volgens die Health24-meningspeiling van 2009 is net 1,85% van SA vroue anorgasmies. In Amerika is dit 10%. Kinsey het ook aangekondig dat 10% van alle getroude vroue nog nooit ’n orgasme gehad het nie. Maar dié twee syfers is problematies omdat die verskil so groot is.

      Plaaslik net 1,85%? Wat is in Suid-Afrika se water of het iemand iewers verkeerd getel? (There are three kinds of lies: lies, damned lies and statistics – toegeskryf aan Benjamin Disraeli deur Mark Twain. Statistics are like bikinis. What they reveal is suggestive, but what they conceal is vital. – Aaron Levenstein.)

      So, ’n rekenmeester,

Скачать книгу