Скачать книгу

tussen die twee – jou kop en jou hart – en self besluit.

      Of volg ek my neus?

      Claus Wedekind se eksperiment met die sweterige T-hemde (bl. 34) het een uitsondering getoon: Vroue wat op die Pil was, het die T-hemde verkies van mans wie se major histocompatibility complex (MHC) soortgelyk aan hul eie was. Immuungewys is dit nie ’n goeie keuse nie.

      Op biologiese vlak het dit miskrame of babas met ’n laer geboortegewig veroorsaak, en sulke vroue het ook langer probeer om swanger te raak. Op persoonlike vlak was daar meer probleme in die verhouding. Vroue het ook minder in seks met hul identiese MHC-mans belanggestel.

      Hoe nader jul MHC geneties, hoe verder van mekaar persoonlik. En hoe makliker verneuk die vrou haar man.

      Wat het gebeur?

      Die Pil skep ’n skynswangerskap. Jou liggaam dink dus daar is nie vir jou eierstokke rede om elke maand ’n eiertjie los te laat nie, want jy’s oënskynlik reeds swanger. Navorsers meen omdat jy spesiale beskerming tydens swangerskap nodig het, kies jy ’n man wat meer soos jy self is. Dikwels neem vroue op die Pil se libido ook af (is klaar swanger, dankie).

      Jou reuksin het jou dus in die steek gelaat met die keuse van ’n maat. Sodra jy nie meer die Pil gebruik nie is dit logies dat jy kan begin twyfel of jy met die regte man getrou het. Hy “ruik” dan nou anders.

      Een Amerikaanse sielkundige, Rachel Herz, skroom nie om te sê nie: As jy ’n pa vir jou kinders soek, los eers die Pil voor jy begin rondkyk. Trouens, vroue op die Pil is minder aantreklik vir mans, en dit word ook aan feromone toegeskryf.

      Geoffrey Miller, ’n ander Amerikaanse sielkundige, en sy span het navorsing gedoen (2007) om te bepaal waarom party skootdansers in ontkleeklubs groter fooitjies as ander verdien. Een van sy assistente het as biologiestudent in klubs gewerk om sakgeld te verdien en moes onder meer fooitjies aanteken en tampons aan die dansers uitdeel wanneer nodig.

      Toe kom hy agter wanneer vroue tampons vra, verlaag hul fooitjies.

      Via ’n webwerf het dansers anoniem Miller se vrae oor fooitjies, produktiwiteit en menstruele siklus rondom sowat 5 300 skootdanse beantwoord: Tydens ovulasie (dus op hul vrugbaarste) het dansers gemiddeld 30 dollar per uur meer verdien as vroue wat gemenstrueer het. Dit was 50% meer as vroue wat op die Pil was.

      Miller vermoed dis ’n onbewuste ding wat met feromone te doen kan hê en dat vroue inderdaad nes dierewyfies “op hitte” raak (estrus), iets wat nog nooit in die wetenskaplike wêreld aanvaar is nie. Miller se afleiding, sou dit reg wees, kan byvoorbeeld ’n invloed hê op vrouemotorverkopers se prestasie of wanneer ’n vrou vir ’n werkonderhoud gaan.

      Ander studies het ook aan die lig gebring vroue ruik vir mans die heel lekkerste wanneer hulle op hul vrugbaarste is. Dis wanneer vroue reukseine uitstuur om ’n man nader te lok: “Nou is die tyd.”

      Terselfdertyd kry ’n vrou makliker ’n man se “reuk” wanneer sy ovuleer. (Wat Miller dalk nie in gedagte gehou het nie, is dat mans 80% meer geld weggee aan vreemdelinge wanneer hul oksitosienvlakke hoog is, bl. 18.)

      Volgens twee Amerikaanse navorsers, Thornhill en Gangestad (2008), is estrus ’n vals stereotipe dat vroue in dié tyd na willekeur seks het. Dis juis wanneer ’n vrou uitsoekerig raak om die “regte” man te kry.

      Nuwer navorsing (2010) in Amerika het dit met nog ’n T-hemp-eksperiment bewys: Vroue moes vir drie nagte in T-hemde slaap in verskillende stadia van hul menstruele siklus. Die testosteroonvlakke van mans wat daarna aan die T-hemde geruik het, het gestyg vergeleke met dié wat aan skoon kontrole-T-hemde geruik het. Hul testosteroon het die meeste gestyg wanneer hulle aan ovulerende vroue se T-hemde geruik het, wat ook vir hulle die aangenaamste reuk gehad het.

      Mite 9 (3): Ek’t my sielsmaat gevind

      Marriage is not supposed to make you happy.

      It is supposed to make you married.

      – Frank Pittman

      Dis veral vroue wat ’n “sielsmaat” soek in ’n man (bl. 25), en dan glo hulle hulle het hom gevind. Die woord “lewensmaat” is ewe problematies as “wederhelf” (bl. 44) en “sielsmaat”.

      “Niks,” sê Frank Pittman, “het al meer ongelukkigheid veroorsaak as die konsep van ’n sielsmaat nie.”

      Die verwagtinge is eenvoudig te hoog.

      Jou “sielsmaat” is veronderstel om jou te verstaan, aan te vul en oor die algemeen beter te laat voel oor jouself en jou lewe. Die verantwoordelikheid is op hóm. Aanvanklik kry hy dit reg, maar slaag hy later nie meer daarin nie – ook maar mens, nes jy – begin jy wonder of jou régte sielsmaat nie êrens daarbuite los rondloop nie.

      Jy begin rondkyk … en raak ongelukkiger in ’n verhouding waarmee eintlik niks verkeerd is nie.

      Ondertussen is mense ná ’n paar jaar se getroude lewe ewe gelukkig of ongelukkig as wat hulle voor die troue was. Die huwelik se voordele sluit nie outomaties geluk in nie. Mense is buite die huwelik ook gelukkig – of ongelukkig.

      Onthou, alles hoef nie perfek te wees nie. Daar’s te veel klem op “alles of niks” – die perfekte werk, perfekte huis, perfekte motor, perfekte man, perfekte vrou, perfekte lyf, perfekte seks en perfekte kindertjies.

      Sak ’n bietjie, Sarel, die lewe is nog altyd goed … en dalk is julle in elk geval sielsgenote in jul eie, alledaagse onperfektheid.

      Mite 10 (4): Die liefde sal ons bymekaar hou

      All you need is love.

      – Lennon/McCartney

      Liefde, koue water en kaas, dis al. In die eerste stadium van jul liefde, ja. Daarna is dit nie so eenvoudig nie.

      Die liefde hou of dit hou nie. Dís eenvoudig.

      Daar lê hoofsaaklik vier hekkies voor om oor te kom, vier driffies om deur te kom, dán eers is julle daar …

      Dit sal ook help om in die eerste plek in jul liefde te glo. Dis bevind mense wat glo hul liefde het oor die jare sterker geword, is gelukkiger.

      10. Dis als in sy testosteroon

      Só lyk ’n ereksie wat meubels kan verskuif

      A hard man is good to find.

      – Mae West

      I think that testosterone is a rare poison.

      – Germaine Greer

      Moenie met ’n man se testosteroon peuter nie.

      Dis sý hormoon.

      Dis sy manlikheid, dis sy enjin en sy spiere. Dit vuur hom aan. Dis waarvan sy libido afhang. Dit word in sy testes vervaardig en hou verband met aggressie en die wil om te wen.

      ’n Man se wil om te wen is groter as ’n vrou s’n, al wil sy die laaste woord in ’n onderonsie inkry. Die vrou doen dit omdat dit een van die min maniere is waarop sy haarself kan verdedig. Hy is immers groter en sterker as jy, en hy verdien na alle waarskynlikheid meer geld as jy.

      Vroue is nou eenmaal beter vredemakers en helers van die wêreld as mans. Mans wil helde wees, oorwinnaars – van sport tot sake. G’n wonder klein seuntjies wil brandweerman of Springbok-rugbyspeler word nie. Hulle wil die wêreld verower met ’n swaard of ’n straalgeweer, die held in sy eie videospeletjie.

      Navorsers (2008) het bevind testosteroon beïnvloed Londense aandelemakelaars. Dié met ’n hoër testosteroonvlak se kans was beter om ’n wins te maak omdat hulle aggressiewer, meer selfversekerd en nie bang was om te waag nie.

      Terwyl kortisoon, daardie streshormoon, hul kollegas met ’n laer testosteroonvlak versigtiger gemaak het.

      Ook, toe hulle vir die makelaars foto’s van kaal meisies gewys het, was die makelaars meer geneig om kanse te waag as ná foto’s van gewone goed soos ’n kramdrukkertjie. Boonop het hulle agtergekom geld en vroue aktiveer dieselfde area in ’n man se brein. (Is

Скачать книгу