Скачать книгу

sê dit smaak vir hom ook of hy op ’n stuk lyf sit wat kant en klaar afgesterwe het.

      En sersant Jônie Louw kry die bottel in die hande en hy draai die prop af en hy gee aan dat die pater homself na behoefte kan laaf. En hy vertel: Die pater gee toe so ’n sluk of vyf, ses aan die bottel, en hyself help hom met ’n sluk of ses, sewe.

      En hy sorg dat die bottel die veiligheid van die saalsak bereik.

      “Een ding moet jy van brandewyn en koue leer,” sê pater Hoeflies vir sersant Louw, “as jy jouself eenmaal warm gekry het, moet jy sorg dat jy warm bly, of jy draai op die randjie van verkluim om.”

      “Ek het hoeka die idee gekry, Pater,” sê sersant Jônie Louw.

      En hulle vergeet van die koue en die brandewyn, en hulle ry en gesels ’n gat in nog ’n stuk van die nag in.

      En hulle bly vind mekaar wónderlik met als waaroor hulle gesels, vertel sersant Jônie Louw.

      Hy moet verskoon, sê die sersant later vir die pater, maar hulle sal eers ’n slag moet stilhou; dit smaak vir hom die koue slaan op sy blaas.

      Dit smaak vir hom ook die koue begin dwing hom grond toe, sê die pater.

      En hulle hou stil en hulle klim af, en hulle staan langs die perde, en in die sterlig sien hy, vertel sersant Jônie Louw later, hoe die pater met sy ander hand aan die saal vashou.

      En daar op die vaste aarde maak hulle die bottel leeg en sersant Louw gooi hom in die donkerte in van die pad af weg.

      En hulle sit voet in die stiebeuel en hulle gryp die pad en hulle gesels.

      En sersant Jônie Louw sê vir die pater die nag is vir hom so wonderlik mooi.

      En die pater sê die nag is vir hom net so wonderlik mooi. En sersant Louw sê dit lyk vir hom elke ster het ’n stert.

      En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook elke ster het ’n stert. En hulle gesels oor die sterre met die sterte.

      En die pater sê hy dink net die ster van Betlehem was ’n groter ster met ’n groter stert.

      En sersant Jônie Louw sê hy dink ook die ster van Betlehem was ’n groter ster met ’n groter stert.

      En toe sê sersant Louw dit lyk vir hom die sterre se sterte krimp en die koue word groter.

      En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook of die sterre se sterte krimp met die groterword van die koue.

      En later, so vertel sersant Louw, toe sien hy weer die sterre in al hulle helderte, maar toe voel hy ook die koue in al sy skerpte. En hy sê vir pater Hoeflies hy dink hulle moet ’n ruk stilhou en eers ’n vuurtjie aanslaan.

      “Nee,” sê die pater, “ek het ander raat.” En hy vroetel in sy saalsak. “Ek het óók ’n botteltjie vir die koue saamgebring!”

      “Pater, Pater,” sê sersant Jônie Louw, “ons ry dieselfde pad oor dieselfde moord en ons dink presies eners oor ons verwaarlosing in die koue.”

      “Ons dink presies eners oor ons verwaarlosing in die koue weens ’n ander man se moord,” stem pater Hoeflies saam.

      En sersant Louw vertel hy slaan toe nie eens meer ag op hoeveel slukke hy in vergelyking met die pater uit die bottel gee nie; hy sluk net. Want die warmte is min en die koue is groot. En die pater doen insgelyks.

      En hulle ry en hulle gesels.

      En die pater sê hulle moet die hittetjie beskerm wat hulle het en hy trek die bottel uit vóór die koue nog sy krag kan wys.

      En hulle gesels.

      En sersant Louw sê vir pater Hoeflies dit lyk vir hom of die sterre se sterte weer aan die groei is.

      En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook of die sterre se sterte weer aan die groei is.

      En hy trek weer die bottel uit sy saalsak. En hulle máák hulle maak teen die koue.

      En sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies dit lyk vir hom die s-terre s-e s-terte s-it s-kuins onnertoe.

      En pater Hoeflies sê dit lyk vir hom ook die s-terre s-e s-terte s-it s-kuins onnertoe, maar hy dink nog steeds die s-ter van Betlehem was groter en s-y s-tert s-kuinser en s-ommer baie langer. En sersant Jônie Louw sê hy s-tem s-aam, die s-ter van Betlehem s-e s-tert was s-kuinser en s-ommer baie langer.

      En pater Hoeflies laat gaan sy hand saalsak toe.

      En hulle sorg dat die koue weerskant toe weggedruk bly soos die walle water van die Rooisee toe die Israeliete daar deur is. En die pad is ’n warm poort deur die koue tussen Keimoes en Kenhardt.

      Dit lyk vir hom die s-sterre s-se s-sterte s-staan nou s-skiersregop s-soos s-stoks-stertmeerkaaie s-s’n, sê sersant Jônie Louw vir pater Hoeflies.

      Dit lyk vir hom ook die s-sterre s-se s-sterte s-staan s-skiersregop s-soos s-stoks-stertmeerkaaie s-s’n, sê pater Hoeflies.

      En toe begin die dag dofweg breek.

      En die koudste koue van die nag maak mening. En onder die perde se pote kraak die ryp.

      En pater Hoeflies se hand sukkel om sy vasvat om die bottel se nek te kry.

      En die dienaar van die gereg en die dienaar van die geregtigheid knik vir mekaar en hulle deel die brandewyn wat in die bottel skommel.

      En pater Hoeflies stoot die bottel rooidagkant toe weg van die perd af.

      “Lê daar, j-jou n-nutteloos-se k-krrruik,” sê hy. En die twee man ry. En hulle gesels.

      En sersant Jônie Louw sê vir pater Hoeflies hy s-sweer die s-sterre h-het ook r-ryp oorr gekry, want h-hulle iss v-vaal.

      En pater Hoeflies sê ass s-sweer hom geoorloof wass, s-sou h-hy ook s-sweer dit het onners-stebo geryp, want d-die s-sterre iss assv-vaal.

      En toe kom die son uit en Kenhardt lê reg voor die twee manne aan die einde van die pad waarvan daar nie baie gelykes is nie. Maar die twee is nog nie náby die einde van hulle gesels nie.

      Hulle práát.

      En sersant Jônie Louw vertel: Toe hulle so al pratend Kenhardt inry deur die koue môre waarin die vaste lug elke woord ver dra, toe kom die mense uit hulle huise om te kyk watter yslike klomp luidrugtige vreemdelinge daar opdaag met ’n lawaai wat nie hóórt in ’n dorp waarin moord en begrafnis die geselskap is nie.

      “Maar daaraan steur ek en pater Hoeflies ons toe min,” vertel sersant Jônie Louw, “want ons is toe so eie met mekaar – hy sê vir my: Jônie, en ek sê vir hom: Pappie.”

      ’n Berg is nie ’n molshoop nie

      (vir Harri)

      Ek is eenkeer met vakansie daar in Albertinia se omgewing, toevallig in ’n tyd toe die streek wat daar die “Duinewêreld” genoem word, heel deur die molle ingeneem is. Dis so ver as jy kyk, die een molshoop op die ander.

      En dit was púre molle. Ek het nie self van hulle gesien nie, want ’n mol is vir die oog mos ’n skaars ding. Maar volgens die mense my vertel het, moes party amper so groot soos dassies gewees het. Nou ja, ’n sekere oubaas, ’n ene oom Toppie, met wie ek baie lekker gesels het, vertel my toe dat hy ná ’n groot gesukkel darem sy grondjie skoon gehad het van die molle. En hy was nie danig trots daarop nie.

      En één ding was wis en seker: oom Toppie se plasie sou sonder molle bly. Want hy het geweet hoe om ’n mol se sake te werk. As daar een inkom, lê hy hom voor, en as die mol skop, dan skiet oom Toppie met sy .22-geweer net onder die bokant van die hopie grond – so van tien, vyftien tree af. En dan is dit verby met die mol. Al wat jy moet doen, is om suutjies te werk. Jou aanloop en jou loop sit moet sagkens wees, anders is die mol so wantrouig dat jy ’n dag lank vir hom sal sit en wag. En as jy eers jou sit gekry het, durf jy ook nie roer nie.

      Op dié manier, vertel oom Toppie, het hy op sy eentjie só gaaf leer regkom dat hy g’n hulp met die plaag nodig het

Скачать книгу