Скачать книгу

alt=""/>

      Vrugtekoeke

      My ouma het graag vrugtekoeke gebak. Sy het reeds maande voor Kersfees met dié taak begin. Sy het ’n verskeidenheid droëvrugte gekoop en in ’n kastrol op die stoof gekook. Daarna is die res van die ligter bestanddele by die vrugtepappery gevoeg en lank in die oond gebak. Die droëvrugte was oorheersend in die eindproduk en het aan die koek die kenmerkende donker kleur en digte tekstuur verleen.

      My ouma het elke vrugtekoek vertroetel soos haar tuin. Die koeke is elke week met sjerrie bedruip sodat dit diep in die koek kon intrek. Daarna is die vrugtekoek met harde marsepein verseël om dit te preserveer. Die swaar vrugtekoek is dan in ’n blik gebêre, soms vir maande of jare voordat dit geëet is.

      Ek was nooit erg oor die smaak van vrugtekoek nie en het maar verbygehou wanneer my ouma dit bedien het. Die skerp geur van lemoenskil, sjerrie en marsepein was nie vriendelik op my tong nie.

      Vandag herinner my ouma se donker vrugtekoeke my aan my jong self. Vrugtekoeke is vir my ’n beeld van vroue wat baie emosionele bagasie met hulle saamdra, onder die masker van harde wit marsepein. Sulke vroue preserveer die trauma uit hulle verlede deur dit te vertroetel met die tyd en energie wat hulle daaraan afstaan, net soos my ouma met haar vrugtekoeke gedoen het om hulle vars te hou.

      Die voorkeurkleur van die meeste vroue wat hulle verlede herleef asof dit vandag gebeur het, is swart of donkerbruin. (Dis wat ek gedra het.) Dalk is hierdie keuse van rouklere ’n weerspieëling van hulle innerlike emosionele barometer wat oor die jare heen nie verander het nie.

      Ek kan dikwels die spore van onvergewensgesindheid lees soos ’n boek op die gesigte van hierdie vroue, sonder dat hulle ’n woord hoef te sê. Daar is ’n gebrek aan lig in hulle oë en gewoonlik ook donker kringe onder hulle oë. Ook hulle lyftaal verklik die swaar bagasie van die verlede wat hulle steeds met hulle saamdra – die krom skouers, die swaar sleepvoete, die mond wat nie maklik saamlag nie.

      Die belangrikste ding waarop hierdie swaarmoedige vroue teer, ná al die jare, is steeds die rillerverhale uit hulle verlede, al die verskriklike rampe wat hulle al getref het. Van die nare dinge wat hulle ouers, man, kinders, vriendin, werkgewer aan hulle gedoen het tot by ’n woede teenoor die Here wat dit toegelaat het.

      Party van hierdie vroue se verhale stuur koue rillings by my ruggraat af. Die pyn en lyding waardeur hulle is, is fel. En hulle beleef en herleef dit steeds in hulle gedagtewêreld. Ek kan hierdie vroue maar net druk en vir hulle bid en terapie en berading voorstel.

      Ongelukkig is daar niks meer wat ek kan doen om hulle te help nie. Ek praat uit ervaring. Ek was jare lank emosioneel vasgevang in die trauma waardeur ek is. Ek het baie jare daarby vasgehaak en myself bly voer met hierdie ou emosionele pyn. My hart was vol swaar klippe, of dan droëvrugte en marsepein.

      Totdat die pennie by my gedrop het dat ek ’n keuse het, dat ek ’n vrye wil het om te kan kies, dat ek God kan vra om hierdie klippe met sy lewende water in juwele te verander.

      Die sleutel vir jou tronkdeur is in jou eie hand – nie in iemand anders se gebalde vuis nie. Met die Here se hulp en jou samewerking kan jy die pynlike verlede tot rus bring. Jy sal nie die verlede kan vergeet nie, dit is deel van jou geskiedenis, maar jy kan die houvas wat dit op jou het, laat verslap deur die manier waarop jy daaraan dink. As oorwinnaar – eerder as slagoffer. Die rou, oop, bloeiende wonde kan genees en mooi toegegroeide letsels (juwele) vorm, wat jou genesing simboliseer en aan ander hoop kan gee.

      Ek het bewustelik gekies om die mense wat my in die verlede emosionele skade aangedoen het (en dit sluit myself in), vry te spreek. Ek het bewustelik gekies om aan te beweeg na ’n nuwe hoofstuk in my lewe, een met meer juwele in my hart as droëvrugte en klippe. Ek het bewustelik gekies om die tronk van marsepein uit my verlede oop te breek.

      Ek het Galasiërs 5:22-23 in fyn besonderhede bestudeer, en ek doen dit steeds gereeld. Ek neem gereeld voorraadopname van wat in my hart aangaan. Ek sorg dat die vrug van die Gees daarin blom, nie die vrug van die vlees nie.

      Ook Filippense 3:13 het my baie gehelp. Gaan lees dit gerus. Sit die verlede agter jou en strek jou uit na wat voor is.

      Die oomblik toe ek verantwoordelikheid begin aanvaar het vir my eie geluk het my lewe begin verander. Ek het die ou gedagtepatrone wat my vreugde gesteel het bewustelik begin vervang met nuwe en opbouende gedagtes wat die deur na buite vir my oopgemaak het. Die denkbeeldige kettings waarin die verlede my vasgehou het, kon ek geleidelik verbreek. Twee nuwe, ligte reisgenote vergesel my deesdae op my lewensreis as gelowige: dankbaarheid en blydskap. Hierdie karperde se geselskap is soveel beter as dié van die swart honde wat my voorheen na donker laagtes geneem het.

      Kan jy jou met my verhaal vereenselwig? Is jy dalk (steeds) ’n swaar vrugtekoek? Vra jou af: Dink jy gereeld aan die slegte dinge in jou verlede? Koester jy bitterheid en wrokke teenoor mense? Ervaar jy min of geen blydskap nie? Worstel jy gereeld met God oor dinge wat lankal verby is? Voel jy die lewe (en mense) skuld jou iets? Sukkel jy om jouself en die mense wat jou seergemaak het te vergewe en vry te spreek? Stoot jy mense van jou af weg?

      Iets wat die afgelope jare met ’n skok by vrouefunksies tot my deurgedring het, is hoeveel vroue se potensiaal ondermyn word deur dinge wat in hulle verlede verkeerd geloop het. Dis asof hulle in daardie traumatiese oomblikke versteen het. Selfs baie jare ná die gebeure kies hulle onwillekeurig of doelbewus om gedurig om te kyk en die pynlike dinge agter hulle met ’n vergrootglas te ondersoek, dit te dissekteer, vrae te vra en dit lewendig te hou in die gesprekke in hulle gedagtewêreld. Onder die marsepein hou hulle letterlik boek van al die ongelukkighede van die verlede (die droëvrugte) eerder as van die lieflike moontlikheid van vars vrugte voor hulle. Vroue wat vasgeval het in die moeras van die verlede kan selde hulle potensiaal en lewenstaak verwesenlik. Só speel hulle in die hand van die vyand – nog ’n gelowige wat hy gevange hou.

      Wil jy van jou emosionele bagasie ontslae raak? Wil jy by ’n innerlike plek van vrede uitkom? As jy radikaal wil verander, ’n ligter vrou wil word, sal jy moet aanvaar wat gebeur het. Jou geskiedenis kan ongelukkig nie met ’n uitveër uitgewis word nie. Dit is deel van jou reis, maar dit hoef nie jou vooruitgang te beperk nie. Jy kán ’n nuwe hoofstuk van oorwinning aanpak, saam met die Here en saam met ander vroue wat die klippe in hulle verlede in edelgesteentes omskep het. En ek praat hier uit persoonlike ervaring.

      Bemoediging en wenke vir Vrugtekoeke

      Gaan praat met ’n bekwame terapeut met wie jy kliek, nie net vir een of twee sessies nie, maar minstens ’n jaar lank. Werk saam met hom of haar en leer hoe om die traumatiese emosies rondom die gebeure só te verwerk en te bestuur dat dit al kleiner word in jou truspieëltjie. Reis bewustelik vorentoe deur jou gedagtes en jou drome te vernuwe. Neem ’n wilsbesluit om jouself en ander vry te spreek – vir jou eie onthalwe. Sodat jy kan vrykom van die verlede se giftige invloed en in vrede kan leef, soos die Here dit begeer.

      Wees geduldig en genadig teenoor jouself. As die pynlike gedagtes terugkom, bekyk dit en gee dit weer terug aan die Here. Moenie moed verloor nie. Die lewende water van die Heilige Gees se werking het ’n genesende uitwerking op klipharde en stukkende harte. Wees oop en werk saam met Hom. Nooi Hom diep in jou hart in om jou wonde te genees.

      Alexander Pope het gesê: “To err is human, to forgive is divine.” Ons almal ken ook die uitdrukking: “Let go and let God.” Vra die Here om vir jou die vermoë te gee om te vergewe en te laat gaan. Hy sal dit vir jou doen, want sy liefde het die vermoë om ons heel te maak, om ons in staat te stel om sy liefde en vergifnis deur ons na ander te laat vloei.

      Slypskool vir Vrugtekoeke

      Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

      •Is jy ’n Vrugtekoek? Motiveer jou antwoord.

      •Het jy sommige van die eienskappe van ’n Vrugtekoek?

      •Wat is jou sterkpunte?

      •Wat is jou swakhede?

      •Wat is jou natuurlike talente?

      •Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?

      •Wat

Скачать книгу