ТОП просматриваемых книг сайта:
Uit die beek 2020. Barend Vos
Читать онлайн.Название Uit die beek 2020
Год выпуска 0
isbn 9780796321497
Автор произведения Barend Vos
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Maar die liefhêstorie is ’n ander saak. Dit pas my beter om my bes met die Tien Gebooie te probeer; wanneer ek sommige daarvan soms oortree, vra ek doodgewoon om vergifnis.
Maar liefhê? Ook die ánder? Nie sommer nie.
____________________
Ek het net lief wie my liefhet. Vergewe my hierdie gruwelike versuim, Here, en maak mý anders.
Vrydag 7 FEBRUARIE 2020 Lees Jakobus 3:13-18
Die enigste bedoeling
Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings … vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg (v. 17).
Jakobus tref ’n basiese onderskeid: wysheid wat van Bo kom teenoor wysheid wat “duiwels” is. Oor laasgenoemde oordeel hy skerp: Dit kom voort uit naywer en selfsug, dit lei tot wanorde en gemene dade.
’n Mens sou kon sê dié soort “wysheid” hoort eerder onder die noemer “slimmighede” tuis. Dit kom na vore wanneer jy ander “op hul plek wil sit” met jou gevatte opmerkings. Wanneer jy komplimente wil inoes – of minstens aandag wil trek – deur jou pittige kommentaar op alles en nog wat. En dit alles ongeag wie jy kwets. Kortweg: ’n Gladde mond bring nie noodwendig wysheid voort nie; maklikpraters is soms ook moeilikheidmakers.
Jy kan in ’n kerklike omgewing, daar waar gelowiges hulle dikwels bevind, ook maar wonder: Getuig hierdie “gesalfde” mond so luidkeels en vol oorgawe oor die Gesalfde alleen, of eerder oor ’n eie “salwing” wat ’n eie agenda verberg?
Nee, alle wyshede kom nie van Bo nie, want die kenmerke van werklike wysheid is duidelik sigbaar. Lees maar weer vers 17. En almal ken dit hieraan: Dit word gebruik om vrede te maak.
As ons dus hierdie Jesuswoorde ernstig opneem: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matt 5:9), dan weet ons wat hierdie ware wyses se naam is. En waar ons hulle kan kry om ons van ons slimmighede te verlos.
Hulle sal ons ook wys hoe die regte verhouding met God lyk. Én dat ware wysheid se enigste bedoeling is om Hom te eer en om ’n medemens te dien.
____________________
Ja, verlos my, Here, van my maklikpraat, my slimmigheid, my geniepsigheid.
Saterdag 8 FEBRUARIE 2020 Lees Markus 7:1-8
Godsdienspolisie
Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was (v. 4).
Ons het maar almal ons ou dingetjies: dit waaraan ons vasklou, die manier waarop ons grootgemaak is, die gebruike wat by ons ingedril is. Die Fariseërs, skryf Markus, “en tewens die Jode oor die algemeen”, het mos hul hande gewas. Voor ete, én nadat hulle van die dorp af gekom het.
Goeie higiëne in ’n stowwerige omgewing? Dalk ’n godsdienstige ritueel, soos hul gebruik om ook al die ander dinge in hul omgewing te was? Dit blyk egter uit Markus se vertelling dat dit ook meer as ’n ritueel was; dit was ’n godsdiensreël. ’n Wet. ’n Gebod. Daar was mense wat jou dopgehou het om te kyk dat jy dit nakom. En as jy dit nié gedoen het nie, moes jy hul afkeuring aanhoor: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie …?”
Jesus het min geduld met hierdie dophouers, en Hy haal Jesaja aan om hulle aan die kaak te stel: Julle is vol mooipraatjies, sê Hy, maar jul hart is net vol van julleself.
En dit, lyk dit my, is die ellende van die selfaangestelde godsdienspolisie: Daar is weinig “God” in hul patrollering van ander se diens aan God, en heelwat van hulleself. Hulle loop met hul selfvervaardigde boeie rond, gewoonlik saamgeflans uit ’n goddelose konkoksie van oorgelewerde “waarhede” en goed geselekteerde Bybelverse, en kyk wie hulle kan vasbind en veroordeel. Hulle lyk dikwels op ’n haar na soos duiwelse gesante wat brullend rondloop en soek na iemand om te verslind (vgl. 1 Pet 5:8).
Ja, jy ken hulle maklik uit: Hulle lag min, hulle wys graag vinger én vuis. En hulle sê graag “Here, Here”.
____________________
Maak my oë sag, Here, as ek na ander kyk.
Sondag 9 FEBRUARIE 2020 Lees Psalm 112
Wat ek is … Wat ek het …
Dis ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (v. 5).
Maklik gesê! Ontferm en reg optree, ja. Maar uitleen?
As ons dié uitspraak met ’n soortgelyke een in ’n soortgelyke psalm met soortgelyke aanprysings vergelyk (Ps 15), wil dit lyk of dié soort lenery boonop rentevry is. Nou ja. Dit is inderdaad ’n goeie mens wat só optree.
Want ons word vroeg-vroeg in ons finansiële lewe gewaarsku teen ’n uitlenery. Helaas. Alte dikwels leer ons dié les op die harde manier: Mense leen maklik en betaal moeilik terug. Sommige verdwyn soos ’n groot speld. Ander diep die een verskoning na die ander op, en word kwaad as jy jou op die oorspronklike ooreenkoms beroep. Vriendskappe sneuwel en families skeur ná ’n gelenery. Bly eerder weg! Dit is die beste raad.
Behalwe as minstens twee Bybelse psalms die teendeel aanprys; dán moet gelowiges dalk twee keer hierna kyk. So ’n tweede kyk gee boonop aan die leser ’n klompie goeie leidrade – wat dalk net die skaal swaai: “genadig, barmhartig en regverdig” en “gee mildelik” is die woorde in Psalm 112 wat die uitlener beskryf. En hoor net hier: “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.”
Kortom: Hier word mense beskryf wat weet dat hul lewe in die Here se hande is. En dat hul besittings uit daardie einste Vaderhande kom. Nie hul lewe óf hul besittings behoort aan hulleself nie.
Dit is mense soos hulle wat die inspirasie aan ’n ander digter, veel later, gebied het om te sing: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen.”
____________________
En ek klou so krampagtig vas aan wat ek het – so asof die doodskleed sakke het … Ag, Here, bevry my!
Maandag 10 FEBRUARIE 2020 Lees Romeine 11:2-10
God se volk
God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie (v. 2).
Die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament is nie eenvoudig nie. Dit is wel maklik genoeg om te onthou dat die gebeure en vertellings in eersgenoemde voor Jesus Christus se koms afspeel, en dié in die Nuwe Testament nadat die Gesalfde gekom het.
Oplettende Bybellesers sal ook weet dat die Ou-Testamentiese “volk” en die Nuwe-Testamentiese gelowiges nie noodwendig dieselfde mense was nie. Inteendeel: Eersgenoemdes was dikwels laasgenoemdes se eerste en vernaamste en mees genadelose teëstanders. Jy onthou tog die einste Paulus wat hier skryf se storie?
Nou stoei die Nuwe-Testamentiese skrywers – almal lede van die ou “volk”, maar óók Jesusvolgelinge – om aan hul lesers (en dikwels hulleself) te verduidelik hoe dit werk. Dat die nuwe bedeling nuwe denke vra. Dat hul trotse lidmaatskap van die “volk” nie opgeskort is nie, maar dat dit nou ’n nuwe plek in hul lewe inneem. Hulle is steeds Abrahamskinders, ja. Maar allereers is hulle God se uitverkorenes. Saam met ’n menigte ander wat uit elke taal, stam en nasie kom.
Paulus sê hier: Ek is ’n trotse Israeliet, ’n Abrahamskind uit die Benjaminstam, en ek sou dit nie kon oorleef as God ons verwerp het nie (vgl. Rom 11:1).