Скачать книгу

      

      Human & Rousseau

      Vir Madri

      wat eers iewers tussen bladsye 260 en 261 gebore is

      Sand

      Wat behoort jou vroegste herinnering te wees? Wat onthou jy as jou heel eerste toneel? Is dit jy in die hoenderhok op Wellington? Jy sit op die grond tussen die hoenders, jou mond is wyd oop, Oupa hou iets na jou uit, ’n klip of ’n erdwurm, en jy is van plan om dit te eet, jy eet alles. Nee, dis die foto in Ma se album, die familie lag nog steeds hieroor. Is dit jy wat ry op die tuinhekkie, laphoedjie op jou kop? Dit was tydens ’n kuier in die Langkloof, by jou niggie Magdel se ouerhuis. Nee, dis nog ’n swart-en-wit foto uit die album. Is dit jy en jou opblaashond tussen al die seuns van die kinderhuis in Riebeek-Oos? Nee, nog ’n foto, ’n duisend keer bekyk.

      Is dit dalk die geluid van reën op die dak? Die huis se dak was van sink en reën was skaars en soos musiek. Is dit die geritsel van blare in die groot boom voor die huis? Jy het nou net wakker geword op jou blokkieskombers en kyk na die reuse- donker takke wat hoekig verby mekaar vou, ’n doolhof in die lug, ’n geheimsinnige ruimte bewoon deur kleine karakters wat net aan jou bekend is. Dit sou lieflik wees as jou verhaal só kon begin.

      Sand. Dis wat ek onthou. Die reuk van sand. Ou sand. Hierdie sand is aangery van ver af, lank, lank gelede. Dit vul ’n sandput, rond en twee keer so groot soos ’n visdam. Die put het ’n rand van sement, bo-op die rand is stukke leiklip aardig en onnet vasgemessel, ’n sirkel donkergrys vlekke. Dis my speelplek. Ek sit op die sand. Voor my lê twee vet beentjies met dimpelknieë. Hulle lê reguit soos ’n pop s’n. Ek volg hulle tot teen my lyf. Dis my bene. (Hy sit vir dood! het Ouma altyd gesê.) Ja, sit was my ding. Lank nadat my nefies en niggies van dieselfde ouderdom begin loop en praat het, het ek nog gesit. (Maar toe hy begin, toe’s dit verby! het Ouma altyd gesê.)

      Om my lê emmertjies en grafies in alle kleure. Af en toe steek ek ’n grafie in die sand en ontdek nog ’n klontjie. Versteende katpoef. Dis waar die unieke reuk vandaan kom. Ou sand met ou poef maak ’n reuk wat jy veertig jaar later nog in ontwerperstuine sal herken. Ek dink nie Ma sou my daar laat speel het as sy geweet het die put is die onweerstaanbare ablusie van die omtrek se nagkatte nie, maar hoe sou sy weet, katte begrawe en ek sit met grafies.

      Daar voor die huis is my pa. Hy sny die grasperk se rande. Hy is lank en sterk en baie aantreklik. Sy arms bult soos in ’n tekening as hy in die tuin doenig is. Skoolmeisies en hulle mammas groet hom vriendelik as hulle verbystap, dan giggel hulle en fluister vir mekaar. Ek kan dit sien uit die put.

      Op die stoep staan my ma. Sy is baie mooi, sy het donker vroumenshare (vroumenshare: nie reguit nie, nie gekrul nie, nie kort nie, nie lank nie, net tot by die nek met die geringste teenwoordigheid van ’n sagte brander) en ’n baie klein middeltjie. Sy is geklee in ’n kraakwit bloes met kort moutjies en ’n wye romp met groot blomme. Sy sit ’n klein bakkie op die stoepmuurtjie neer.

      Hier is ’n bietjie biltong, sê sy, Eet stadig.

      Sy stap die huis binne om te kyk of my boetie nog slaap. Dit was ’n klein, klein huisie, vir my was dit ’n groot, groot huis. Daar was vyf trappe vanaf die sandput tot op die stoep, ’n koel stoep met ’n gepoleerde sementvloer en dieselfde puntdak as die res van die huis, altyd koel. Binne was ’n gang, links was Pa en Ma se kamer, my boetie se bed was ook daar, verder in die gang was die deur na my kamer, ’n groot kamer met, agter ’n tweede deur, sy eie toilet en wasbak. Aan die einde van die gang was die badkamer. Regs langs die voordeur was die sitkamer, dan ’n deur na die eetkamer, hier het die koerant gelê. Dan die kombuis met ’n tafel in die middel en ’n venster bo die wasbak.

      Die son beweeg agter die boom en ’n ligstraal tref my gesig. Met skrefiesoë kyk ek op. ’n Poeier van goud stort oor my.

      Het jy die plakker gelees? gil ’n stemmetjie, skril en histeries, Jy kan nie net gooi nie!

      Ek het vergeet! sê ’n tweede stem, hierdie een is dun en bewerig.

      Lees dit nou! Wat sê dit?

      Eetlus!

      Die kind het klaar ’n verskriklike eetlus! Hy is so gebore! Besef jy hoe gaan die res van sy lewe lyk?

      Ek is jammer!

      Ek knip my oë. Ek kan niemand sien nie. Weer stort goue poeier oor my.

      Ek het hom nou Vrees gegee, sê die skril stemmetjie, Ek kon op sy tassie sien hy is daarsonder gebore. Jy het nog een botteltjie, lees eers die plakker!

      Dis Twyfel, sê die bewerige stem.

      Ja, dis reg. Dis hartseer, maar dis reg so, gooi maar!

      Weer goue poeier. Deur die geskitter sien ek iets fladder. Iets beweeg uit die son en sirkel bo my kop. ’n Naaldekoker? Nee, ek sien ’n gesiggie. ’n Lenige klein lyfie hang aan twee deursigtige vlerkies, ek sien donker haartjies en ’n fyn rokkie wat waai, koperkleurig en glansend. Ek het nog nooit so iets gesien nie, maar ek weet dis ’n fee. Daar is ’n tweede fladderende wese, ’n swaar lyfie wat sukkel om in die lug te bly, op en af, val en styg, die vlerkies klap verwoed, die ligte hare koek teen die gesiggie. Haar rok is pienk-wit en bondel om haar soos ’n kokon.

      Ek het nog een botteltjie, sê die eerste fee met haar skril stemmetjie, Dis Woede. Hiersonder is hy weerloos.

      Goue poeier skitter in die ligstraal.

      Becca! gil sy, Waar is jy?

      Hier! sê die tweede stem.

      Ek draai my kop, die swaar een fladder om en om die bakkie biltong op die stoepmuurtjie.

      Ek is so honger, sê sy, Ek vat net een happie.

      Dis vleis! gil die donkerkop.

      Vleis?

      Die kind se ma het dit daar neergesit! Hulle eet droë vleis! Besef jy wat nou gaan gebeur?

      Bora! gil die swaar fee.

      Sy val uit die lug, agter die stoepmuurtjie, ek kan nie sien wat gebeur nie.

      Daar is ’n dun koper straal, die ligte fee duik na die bakkie biltong, sy hang kop onderstebo. Eet sy ook? Sy skiet meteens die lug in.

      Becca! gil sy.

      Sy val agter die stoepmuurtjie.

      Mammaaa! skree ek.

      Ek hoor vreemde geluide, iemand snak na asem, iets skeur, iemand snik, iemand sug. Twee groot mensfigure verskyn van agter die stoepmure, een lank, een kort, een skraal, een rond, een met slierte donker hare, een met ’n deurmekaar bos blonde hare.

      Pappaaa!

      Die figure strompel teen die trappies af, met elkeen se arms om haar eie lyf probeer hulle die geskeurde rokke bo hou. Soos mense wat nog nooit geloop het nie, lig hulle die voete hoog op en sukkel hulle met groot treë na die hekkie.

      My ma kom by die voordeur uitgehardloop, my pa verskyn van agter die huis.

      Wat gaan aan? vra my ma, Wat blink so op jou kop?

      Ek wys met my vinger. Die hekkie staan oop. Twee figure waggel die bult uit.

      Jy hoef nie bang te wees nie, sê my ma, Hulle kollekteer seker net. Hulle kon darem die hek toegemaak het, maniere, maniere.

      Op ’n dag sit my ma my boetie in sy waentjie, trek vir my die donkerrooi sandaaltjies aan en neem my hand. Ons drie is teen die bult uit tot by die groot huis anderkant die wingerd. Die groot huis het nie ’n tuinhekkie soos gewone huise nie, net ’n motorhek, geen motor. Ons loop deur die klein skaretjie suurlemoenbome propvol goudgeel ovale, elke boom ’n reuselantern. Die stoep kronkel om drie kante van die huis, dis ’n breë stoep vol rusbanke bedek met komberse, rakke vol flesse sonder deksels, rye en rye potplante (elke pot is anders en die meeste is gekraak of het ’n groot skerf prysgegee), tuinstewels en bosse gedroogde kruie. Die huis se sykant kyk na die straat, die voorkant kyk bo-oor die wingerd na ons huis. Op hierdie kant se stoep staan

Скачать книгу