ТОП просматриваемых книг сайта:
Boomwortels in die hemel. Pierre du Plessis
Читать онлайн.Название Boomwortels in die hemel
Год выпуска 0
isbn 9780796321794
Автор произведения Pierre du Plessis
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Ek en my vrou praat steeds van kerkklere, hoewel ons net kerkklere aantrek as ons na troues toe gaan, meestal op Saterdae.
Kerkklere was warm, ongemaklik. Ek onthou altyd die ooms wat so rooi gesweet was in die poliësterbaadjies en dasse in die NG kerk op die dorp. Die kwik draai so net-net onder veertig, maar baadjie sal jy baadjie. Die dominee het darem die genade gehad, so nou en dan, om af te kondig dat die mense maar hulle baadjies kan uittrek en hulle sweetkolle ten toon stel.
Ek dink dit was ons tandarts in Pretoria, wat die dag met sy seun se doop by die kerk aangekom het – sonder ’n das of baadjie. Die dominee vra toe mooi beleefd: “My broer, wat sal jy aantrek as jy na die staatspresident se huis genooi word?” Vinnig antwoord ons tandarts: “Ek sal natuurlik my pak aantrek.” Ek dink die dominee het seker so lekker gekry, want die tandarts het toe mooi in sy strik getrap. “Nou hoekom dra jy dan nie ’n pak na die huis van die Here toe nie?” kom die doodskoot van die dominee af.
“Wel, Dominee, want die Here sien my hart.”
Tandarts 1.
Dominee 0.
Twee mense het na die tempel toe gegaan
om te bid. Die een was ’n Fariseër en die
ander een ’n tollenaar. Die Fariseër het
gaan staan en by homself so gebid: “O
God, ek dank U dat ek nie soos ander
mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers,
en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek
vas twee keer in die week en ek gee ’n
tiende van my hele inkomste.” Maar die
tollenaar het daar ver bly staan en wou
selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het
bedroef op sy bors geslaan en gesê:“O God,
wees my, sondaar, genadig.”19
Dit is moeilik vir ons hedendaagse lesers om die vlak van skok te verstaan wat hierdie gelykenis in Jesus se dag sou veroorsaak het. Die mense rondom Hom se asem sou weggeslaan het, en een of twee sou dalk omgekap het.
Fariseërs is oor die algemeen gesien as die mees regverdige mense in die tyd van Jesus. Hulle het die wet onderhou en het presies gedoen wat God wou hê. Hulle was die Tannie Emsies van die kerkwêreld – alles is reg gedoen. Die Fariseër wat in hierdie verhaal is, het selfs méér gedoen as wat nodig was. Die wet het net vereis dat daar een dag in die jaar gevas word; hy het twee keer per week gevas. Net op sekere gedeeltes van jou inkomste moes ’n tiende betaal word; hy het op sy hele inkomste ’n tiende betaal. Hy was die toonbeeld van reg doen.
’n Tollenaar was natuurlik nie gewild in die antieke tyd nie. Tollenaars het die reg om belasting in te vorder by die Romeine gekoop en enigiets wat hulle meer as die ooreengekome bedrag kon insamel, was wins. Hulle was gewoonlik ook Jode. Die res van die Jode het hulle as verraaiers gesien, as die slegste van die slegtes. Die Mishna het gesê dat tollenaars nie in die hof kan getuig nie en dat jy nie eers vir hulle die waarheid hoef te vertel nie.
Dink aan die regverdigste, godsdienstigste groep mense waarvan jy weet – of dalk eerder ’n groep wat diep geestelik is, om meer hedendaagse taal te gebruik. Dalk ’n groep nonne, of monnike, dalk mense wat lang tye in stilte deurbring. Dalk mense wat onder die armes werk. Hulle is dalk meer soos die Fariseër in die storie.
Dink dan aan mense wat deur niemand vertrou word nie. Korrupte politici is die eerste wat in my kop opkom. Hoekom moet ons vir hulle die waarheid vertel oor ons eie inkomste? Hoekom moet ons die boetes betaal wat korrupte polisie uitskryf?
Dit gee dalk ’n beter prentjie.
Die vraag wat die gelykenis vra, is waarin stel God belang? Wat is vir Hom belangrik? Die mooi van die verhaal is vir my die beskrywing van die twee figure se gebede en liggaamstaal. Die beskrywing van die Fariseër se gebed is lank en gedetailleerd en die beskrywing van sy postuur, kort. Die tollenaar se gebed is kort en tog is die beskrywing van sy postuur en sy houding veel langer as die een van die Fariseër.
In die apokriewe boek Henog word daar beskryf hoe gevalle engele glad nie hul oë na die hemel kon oplig nie. Die tollenaar staan ver, kop na onder, slaan op sy bors, bedroef. Meer as net ’n les dat ons nie op ander moet neersien nie, is hierdie gelykenis ’n voorbeeld van eerlikheid, weerloosheid en naaktheid voor God.
Dit is wat die Here soek: egtheid. Jesus se hardste woorde in al die Evangelies is seker dié in Matteus 7:22, 23 (Die Boodskap) waar die mense wat Hy van Hom af wegstuur, vir Hom vra: “Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.” Jesus se antwoord is skokkend: “Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!”
Jesus ken hulle nie.
Met hoeveel pretensie kom ek nie na die Here toe nie; met my mooi woorde en goeie dade, met my Bybellees en bid, met my betrokkenheid by die kerk en by die armes. Al ooit in die spieël gekyk en gedink: ek is eintlik oraait? Dit is dit waarvan hierdie verhaal praat, die belaglikheid om te dink jy is oraait, die belaglikheid om te dink dat ons in elk geval iets vir God kan wegsteek. Ons sit nog steeds elke dag en vyeblare aanmekaar, spoeg en plak en dink ons kan ons naaktheid vir God wegsteek. Hoe kan Jesus ons ken as alles wat ons voorhou vals is?
Jesus hou Hom nie met maskers op nie.
Daar is ’n bekende verhaal van Herkules waar die sentour, ’n perdmens, Herkules se vrou ontvoer en haar wil verkrag. Herkules skiet toe ’n pyl af en wond die sentour noodlottig. Terwyl die sentour besig is om dood te gaan, vra hy die vrou om vergifnis en vra dat sy, na sy dood, sy vel vir Herkules moet gee. Sy doen dit toe, maar dit was ’n lokval. Die sentour se vel was vergiftig en toe Herkules dit met trots om sy skouers gooi, toe vreet die gif in sy vel in. Sommige weergawes van die verhaal vertel dat hy dit nie weer kon afkry nie, terwyl ander vertel dat hy van die gif dood is.
So is dit met ons wat identiteite aanneem wat nie ons eie is nie. Na ’n tyd kan ons nie meer onderskei wat vals is en wat waar is nie; asof die masker wat ons dra, wat ons selfs voor God dra, in ons gesig in gevreet het.
Dit is beter om kaal te wees.
Hier is ek.
Hierdie woorde weerklink deur die hele storie van die Bybel. Keer op keer hoor ons hoe iemand antwoord wanneer God roep.
Hier is ek.
Adam antwoord: “Hier is ek.”
Abram antwoord: “Hier is ek.”
Jakob antwoord: “Hier is ek.”
Moses antwoord: “Hier is ek.”
Samuel antwoord: “Hier is ek.”
Ananias antwoord: “Hier is ek.”
Die woord in Hebreeus is hineni. Dit beteken meer as “hier is ek”. Dit beteken ook “ek is gereed, gebruik my”. Die woord vir waarheid in die Nuwe Testament, aletheia, beteken “iets wat ontbloot is”, wat nie meer toegemaak is nie.
Ek glo dit is wat die tollenaar doen. Hy sê met sy hele liggaam hineni.
Ek glo ten diepste dit is al wat ek en jy vir God kan antwoord. Dit is al wat ons Hom kan bied wanneer Hy ons in die tuin kom soek waar ons probeer wegkruip en ons sonde probeer toemaak. Hineni.
Dit is moeilik om met ’n oop hart te leef. Harte kry maklik seer. Om weerbaar en broos te leef voor die Here is een ding, maar voor die mense in ons geloofsgemeenskappe,