Скачать книгу

ongekompliseerd nie. Dit omvat baie fasette, baie geskiedenis, baie bestanddele, baie maniere, baie moontlikhede.

      My missie met dié boek is om twee dinge te bereik: om mense lus te maak om self te kook, en om mense uit te nooi om saam te eet. En teenwoordig te wees wanneer hulle dit doen.

      Ek besef deeglik dat daar baie hindernisse is wat dit moeilik maak: min tyd, gebrek aan selfvertroue of ervaring, selfs vrees.

      En tog meen ek dit moet ons nie verhinder nie.

      As jy self wil kook, begin klein. Jy hoef nie op dag een al suurdeegbrood te bak of ’n restaurant oop te maak nie. Leer iets. Probeer iets. Gaan kuier by iemand wat weet. As jy desperaat is, kyk ’n YouTube-video, maar gaan leer eerder by ’n regte mens. Luister wat die eksperts jou kan vertel en moenie skrik vir nuwe dinge nie.

      As jy alleen is, gaan soek iemand om langs jou te staan. Neem daai stap. Waag dit net.

      ’n Verbond met ons voedsel

      Die kos wat ons eet, is nie bloot koue voorwerpe wat ons verbruik nie. Alles wat ons eet, was eens lewend, het gegroei en is gevorm. Martin Versfeld sê die kos wat ons eet, is ons band met die aarde.

      Bybels gesproke is daar natuurlik ook ’n heerlike perspektief hierop: Ons word in Genesis 9 vertel dat God ’n verbond met die hele aarde gesluit het – nie net met die mense nie. Die “hele aarde” sluit plante en diere in!

      Daarom, wanneer ons eet, is ons eintlik besig met ’n heilige aktiwiteit.

      Dis maklik om te verorber, sonder aandag te eet, te verslind, te veel te eet, sleg te eet en goor te voel omdat jy nie lekker eet nie.

      Jy bevind jou op ’n glibberige afdraande pad wanneer jy jou oorgee aan kos wat te maklik na jou toe kom, aan soetgoed en aan feeskos wat spesiaal gemaak is vir ’n feesdag of ’n buitengewone viering.

      Om aandagtig te eet, om die spiritualiteit van kos, produkte, voorbereiding en genot te bedink en te waardeer, is nie maklik nie.

      Wanneer jy agt of nege of tien (of meer) uur per dag werk, nie ’n sterbeplanner is nie en dus vergeet om vooruit te dink, stop jy vinnig by ’n kitskosplek vir ’n hamburger en tjips, of by Woolies vir ’n maaltyd wat na ’n mikrogolf verlang.

      Dis hoe baie mense vandag eet.

      Vinnig.

      Sonder om te dink.

      Met min variasie.

      Terwyl ’n kosprogram (dink Masterchef, My Kitchen Rules, Kokkedoor of Come Dine with Me) gekyk word.

      En net dan en wan met so ’n bietjie verbeelding en ware plesier. Of saam met interessante mense.

      Maar wat is die alternatiewe? Is daar minstens een werkbare, heilsame alternatief vir onnadenkend (en dikwels ongedissiplineerd) eet?

      Daar móét eenvoudig wees.

      Miskien is die antwoord weggesteek tussen die fyn lyne van spiritualiteit1.

      Wat is spiritualiteit? Is dit nie om dieper, verby die voor die hand liggende te soek en te kyk en te sien nie?

      Het spiritualiteit nie te make met ander dimensies en meer interpretasiemoontlikhede – van alles wat is, alles wat ons beleef en alles wat ons waarneem – nie?

      Is die uiteinde van lewegewende spiritualiteit nie groei en onuitspreeklike tevredenheid nie?

      Spiritualiteit is ’n mistieke ding; dis die waardering van die onverklaarbare; dis ’n verwondering oor dit wat is (oor álles wat is), die skeppende vormgewing aan wat kan wees en ’n proses van vrede maak met dit wat nie is (of nog nie kan wees) nie.

      Spiritualiteit is om in verbondenheid te leef. Dis om bewus te wees van die onderlinge koppelinge en delikate skakels tussen alles en almal, gebore uit God se verbondenheid met alles en almal wat is.

      Redelik aan die begin van die Bybel word die oerverhaal van Noag en die ark vertel. Ons onthou dalk die storie uit ons kinderdae: Dit wat ons bygebly het, is die prentjies van ’n man en ’n gesinnetjie, maar ook veel meer – ’n ellelange ry diere wat doelgerig teen ’n plank op stap tot in die groot, veilige houtskip, twee-twee in perfekte paartjies.

      Dan die grys lug, die baie water en die onophoudelike reën vir 40 dae en 40 nagte aaneen.

      En natuurlik die reënboog.

      Die deel wat ons vergeet, is dat die reënboog juis ’n verbondsteken was.

      Ons het natuurlik die besonderhede van die verbond wat God met Noag gesluit het heeltemal misgelees. As jy mooi kyk, doen die skrywer(s) nogal moeite om die omvattendheid van die verbond te beduie. God se verbond met Noag is ’n verbond met hom en sy mense, maar ook met die diere, die plante en al die lewende wesens. Dit staan so. In die Bybel.

      Dis asof alles wat is, ingesluit word. Niks wat is, word uitgesluit nie.

      Wat sou dit tog beteken?

      Dit beteken dat God nie ver is nie, maar verbind, verbonde aan die aarde, aan die lewende wesens wie se lewe almal deur die aarde, Moeder Natuur se kosbare hulpbronne en intiem verweefde ekosisteme moontlik gemaak word.

      Dit beteken dat God omgee, dat God besorg is oor mens en dier en plant en produksie en plaas, en aanhou om Hom as sorgsaam te openbaar.

      Dit kommunikeer dat die mens telkens sy of haar plek in die delikate netwerk van alle geskape dinge vergeet en dat dinge dan uitmekaarval.

      Dit eggo ook die boodskap van die skeppingsverhaal, dat die skepping bedoel was om goed te wees. En mooi, soos die reënboog ons herinner.

      Wanneer ons eet, het ons eintlik een van twee keuses: Ons kan eet as onnadenkende verbruikers, of as bewustelike wesens.

      Om as verbruiker te eet, beteken in ’n mate dat ons in kompartemente lewe. Ek gaan supermark toe, koop wat ek nodig het (of wil hê), gaan huis toe en pak dit weg vir wanneer ek dit nodig het.

      Dan haal ek dit uit, verwyder die verpakking en gooi dit doer eenkant, verwerk en verbruik dit. Ek eet werktuiglik en om te kan funksioneer.

      As ek só eet, kan ek eet terwyl ek e-posse beantwoord, TV kyk of selfs oor die foon gesels. Ek hoef nie te dink oor wat ek doen nie, en ek hoef nie bewus te wees van enigiets behalwe my drang na kos of die onmiddellike les van my dors nie.

      Eet is ’n soort hindernis, ’n bysaak. Eet is nie belangrik nie, nie deel van iets groters as net die bevrediging van ’n oerdrang nie.

      Dis ’n voortsetting en nie ’n pouse nie, ’n taak en nie ’n vreugde nie.

      Dit word nie onthou nie.

      Verbruikers eet wanneer hulle honger is en vergeet om te eet wanneer hulle nie is nie. Vir ’n verbruiker is ’n ete ’n lastigheid om uit die weg te ruim, ’n ding om af te handel, ’n irriterende onderbreking van ’n aktiwiteit of projek.

      Dis vir verbruikers moontlik om kos, die voorbereiding en eet daarvan, bloot as ’n afdeling van hulle lewe te sien: nie geïntegreer met die res nie, nie verbind aan verhoudings, die natuur en ander mense nie.

      Dis ook moontlik (eintlik waarskynlik) dat ons status as verbruikers ons menswees kan definieer.

      Op dié skaal is dié wat baie kan verbruik boaan. Hulle is die kragtiges, die invloedrykes, die celebrities.

      Hulle is, juis omdat hulle kan koop. En gevolglik het.

      Gemeet aan die verbruikerskaal is mense soos die Kardashians boaan. Hulle menswaardigheid word bepaal deur voorkoms en besittings en die aantal (meestal histeriese) volgelinge wat hulle op sosiale media het.

      Hulle

Скачать книгу