Скачать книгу

sakevrou. En wanneer sy nog nou en dan sing, word sy dikwels staande toegejuig. Haar klavierspel is steeds goed. Maar sy het geen aanvoeling vir kook nie, al is dit ’n selfverklaarde “passie”. Haar aandag in die kombuis raak maklik afgelei as ’n SMS of ’n oproep deurkom, sodat sy nie kan onthou watter van die resep se bestanddele reeds in die pot is nie. En haar smaaksintuig is onbetroubaar. Sy sal met toe oë en groot noukeurigheid proe aan ’n gereg, dit dan met opgewondenheid as “perfek” verklaar. Maar wanneer sy dit opdien en begin eet, sal sy fronsend sê: “Nou is iets nie reg nie. Proe jý dit ook?”

      Dan lieg hy en sê: “Nee, wat, dis lekker.” Want hy glo as dít die grootste offer is wat hy in hul verhouding moet bring, dan doen hy dit.

      Nou moet hy weer lieg. Oor volgende Sondag, want die restaurant was vol bespreek vir die komende naweek. Hy sal vir haar by Overture moet kry sonder dat sy weet van sy planne.

      Dit is koud buite, maar die kombuis is knus. Haar gesig verhelder wanneer sy hom sien. “Bennie,” sê sy met opregte vreugde, “jy is seker doodmoeg.”

      Hy soen haar, hou haar vas. “Darem nie te erg nie.”

      “Hoe was die Karoo?”

      “Vaughn sê die fokkol groei nogal mooi, maar ek hou van die … ooptes.”

      Sy lag, sê dan: “Ek maak tamatiebredie.”

      “Dit ruik lekker.” Darem vaagweg die waarheid.

      “En jy moet dit proe! Ons kan eet wanneer jy reg is.”

      “Ek gaan was gou my hande.” Hy gaan staan in die deur, draai om. Hy moet haar vra. Nóú.

      Sy kyk na hom, haar oë so sag.

      Hy draai om en loop kamer toe om te gaan stort, vir net vier minute, want die Kaap het ernstige waterbeperkings, dit is die grootste droogte in menseheugenis. Hulle praat van Dag Zero, wanneer die damme leeg gaan wees. Water-Armageddon.

      Maar dit is nie waaroor hy hom bekommer nie.

      Dis oor sy ete-afspraak met Alexa.

      Dis ’n groot stap dié.

      12

      Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.

      Ses dae ná die ete en fotosessie by Élodie Lecompte gaan hy terug, gedryf deur nuuskierigheid. Oor “sy” skildery, en oor haar. Sewe-uur in die aand lui hy haar klokkie met ’n gevoel van effense ongemak. Is hy hier omdat hy ydel is? Of soek hy net na homself?

      Hy hoor die venster daar bo op die derde verdieping oopgaan. Hy kyk op. Sy wou eers sien wie dit is, sy leun uit en lig haar hand. Glimlag. Die venster gaan toe. Sy gons hom binne.

      Bo by die deur sien hy sy is meer informeel aangetrek, ’n denim en ’n olyfgroen T-hemp. Weer kaalvoet.

      “Ek is bly jy het gekom,” sê sy, en bied hom wyn aan.

      Hy sê nee, dankie, hy wou net gou na die skildery kom kyk. Daar is teleurstelling in haar oë, maar sy knik en sê: “Bien sûr.” Natuurlik. En hy wonder weer oor haar, wie sy is, watter storie agter haar lê. En die aura van eensaamheid om haar. Daardie eerste aand het sy so min van haarself vertel, sy was net besig met die kamera en die foto’s.

      Hy volg haar na haar ateljee.

      Die skildery van hom staan op die esel, groot, twee meter hoog. Die buitelyn van sy liggaam is getrek, sy gesig is reeds voltooi. Dit is vir hom vreemd om dit te sien, hoe sy hom vasgevang het. Daar is lewe daarin. Sý lewe. En sy verlange. Hy verwonder hom aan haar vaardigheid.

      “Ça vous plaît?” vra sy. Hou jy daarvan?

      “Oui,” sê hy sag.

      “Vraiment?” Regtig?

      Hoe kan sy twyfel?

      “C’est … formidable.”

      Sy glimlag op ’n manier wat hy nog nie gesien het nie, met opregte vreugde.

      “Dan moet jy ’n glas saam met my drink. Sjampanje.”

      Hy kan nie weier nie.

      Hulle gaan sit in die salon. “Wanneer het jy begin skilder?” vra hy vir haar.

      “Ná my man se dood,” sê sy. “Ek het hom geskilder, oor en oor, tot ek hom teruggehad het.”

      “Wat het jou man gedoen?”

      “Hy was ’n professor in paleontologie. Hy was ’n wonderlike man. Ek mis hom nog elke dag.”

      Sy staan meteens op. “Een oomblik, asseblief,” sê sy en loop haastig uit, die val van haar kaal voete geluidloos. Sy kom oomblikke later terug met die foto in ’n raam, hou dit na hom toe uit.

      Hy was nie ’n mooi man nie, haar oorlede eggenoot. Lank en pynlik skraal, met dik brillense en ’n snor wat nie ’n gedeeltelik herstelde haaslip heeltemal kan wegsteek nie. Maar daar is iets sag en deernisvol in sy glimlag.

      Hy wonder ’n oomblik lank, vra dan: “Het jý die foto geneem?”

      “Ja,” sê sy.

      “Hy was baie lief vir jou,” sê Daniel Darret.

      Haar gesig is op dié oomblik intens. “En ek vir hom.”

      * * *

      Die kuns van meubels maak en restoureer het Daniel bekoor vandat hy die eerste dag saam met Lefèvre begin werk het. Dit was ’n wêreld wat hy glad nie geken het nie: Die liefderike aandag, die sorgsame werk, die stelselmatige proses om iets afgeleef en stukkend te omskep in iets manjifiek en waardevol. Hy het stadigaan die begeerte ontwikkel om dit ook te kan doen. Hy het Lefèvre dopgehou, onopvallend en geduldig, deur elke fase.

      Byna twee jaar gelede het hy by die Saint-Michel-vlooimark stadigaan sy eie gereedskap begin aankoop, uitgesoek met die hand, vir merk en meet en saag en skaaf en beitel en hamer en skuur. Hy het die stukke een vir een aangedra na sy hoekie van die werkswinkel. Lefèvre het dit gesien. Niks gesê nie.

      Twee maande gelede het Lefèvre opgekyk toe hy die eikehoutplanke ook daar in sy hoek gaan neersit het. Die ou man het opgestaan en sy vingers oor die grein laat gaan, gebuk en daaraan gesnuif. Elke plank opgetel en met die oog gemeet. Weer neergesit. Niks gesê nie. Dít was sy manier om dit goed te keur.

      Daniel het die tafel tydsaam begin maak. Hy het daaraan gewerk wanneer daar ’n ledige halfuur was, soms het hy ná ure gebly, nou en dan oor ’n naweek ingekom. Tydsaam. Bewus dat hy baie het om te leer, bereid om sy skoolgeld te betaal.

      Lefèvre het nou en dan na hom en die projek gekyk. Uitdrukkingloos.

      Dit is ’n table de ferme, ’n plaashuistafel. Hy het dié ontwerp – geskoei op ’n pragtige voorbeeld wat Madame in die voorwinkel verkoop het – doelbewus gekies omdat dit eenvoudig is. Net meer as twee meter lank, agt-en-tagtig sentimeter breed, vyf-en-sewentig sentimeter hoog, ’n blad, vier dunloop-pote, ’n fries aan al vier die kante. En twee basiese laaie voor.

      ’n Paar dae voor die Augustus-vakansie het hy een oggend by die werk aangekom, en gesien Lefèvre het sy regterlaai uitmekaar gehaal. Hy het geweet waarom. Die voeë was nie goeie handewerk nie. Hy het net vir le génie geknik toe hy inkom, en dit later oorgedoen.

      Nou is hy amper klaar. Hy is besig om dit finaal te skuur, met ongemak, want die verband aan sy hand is lastig. Maar hy hou daarvan, die ritme, die reuk, die meganiese herhaling.

      En hy dink hy wil ses stoele daarby maak, sy volgende projek. Hy het genoeg hout.

      Teen vieruur dryf die Augustus-middag se hitte hom om klaar te maak. Hy vee die fyn skuursels op, maak die gereedskap skoon en bêre alles noukeurig, asof Lefèvre oor sy skouer loer. Hy sluit en hy loop.

      Die Rue Notre Dame is stil. Eers by die Monument aux Girondins is daar aktiwiteit, toeriste wat foto’s neem, twee kinders wat in die water van die fontein lafenis teen die hitte soek. Dit neem hom tussen twintig en dertig minute om huis toe te stap. Sy roete

Скачать книгу