ТОП просматриваемых книг сайта:
Bloed, dunner as water. Charné Kemp
Читать онлайн.Название Bloed, dunner as water
Год выпуска 0
isbn 9780624075479
Автор произведения Charné Kemp
Жанр Биографии и Мемуары
Издательство Ingram
Kinders wil erkenning hê, onvoorwaardelik liefhê en voortdurend geprys word, maar in dieselfde asem ook onafhanklik wees. Dit is ’n baie fyn en delikate balans.
Daarom moet ouers sekere beginsels en waardes konsekwent toepas.
“Maar,” meen prof. Christiaan Bezuidenhout, “sekere mense het te vroeg kinders, en ander moes nooit kinders gehad het nie. Vir sekere mense is kinders ’n byvoegsel tot die huwelik.”
Die kanse dat dié kind mishandel of verskree gaan word, is groot in ’n gesin waar dié waardestelsel reeds in een of beide die ouers se huisgesinne voorgekom het.
“Ons het gevalle gehad waar die kind met die ander ouer se toestemming om die lewe gebring is omdat die kind ’n irritasie in die verhouding was. Die kind, die probleem, word uit hul lewens verwyder,” sê hy.
Gesinsmoorde kom nie net in arm gesinne voor nie. Dit gebeur ook in gegoede huise, die soort gesinne uit wie Riaz Kadwa en Don Steenkamp gekom het.
Dit kom ook nie net by alkohol- of dwelmmisbruikers of patetiese ouers voor nie, maar dek die hele sosiale spektrum van alle rasse, maatskaplike en godsdiensgroepe.
Net soos genetiese materiaal en mishandeling ’n rol in gesinsmoord speel, kan oorvloed ook aanleiding tot moord gee. Die feit dat die skatryk pa die geldkrane toegedraai het, het die kind laat breek.
Ouerskap moet ’n gebalanseerde benadering hê. Die ouers moet van die begin af nee sê en grense stel. Niks moet oormatig wees nie. Navorsing bewys kinders wat met gebalanseerde grense en reëls grootword, word in baie opsigte beter gebalanseerde volwassenes as diegene wat sonder reëls en struktuur grootword.
Straf moet konsekwent en gebalanseerd toegepas word. Dit is die kind se keuse of hy gaan luister, of die gevolge gaan dra. Mettertyd besef die kind die waarde van die sisteem en voel hy geliefd.
Roetine en struktuur gee ’n verborgenheid waarin kinders veilig voel. Die sielkundige Abraham Maslow, ’n sielkundige, het in 1954 in sy boek Motivation and Personality geskryf oor hoe die hiërargie van menslike behoeftes ontwikkel. Volgens Maslow moet ’n mens se basiese behoeftes eers vervul word voor selfverwesenliking bereik kan word. Kinders moenie versmoor word nie. Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar en die ouer moet die kinders vertrou, maar vir ’n veiligheidsnet sorg.
Ouers moet kinders die morele kompas bied om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Kinders se gewete moet ontwikkel word. Hulle moet met ander mense simpatie en empatie hê en respek toon.
Kinders leer baie uit waarneming. Handelinge van ouers en ander mense word in sy brein en lewensbaan ingeskryf. Die ouer moet self reg en verkeerd toepas as hy wil hê die kind moet dit ook uitleef.
Indien die ouer saam met vriende drink, vloek en afbrekende opmerkings maak, moet hy nie verbaas wees as die kind dit ook kort voor lank doen nie
’n Bietjie intuïsie en kreatiwiteit kan baie regkry.
Sekere kinders se genetiese samestelling en temperament kan nie deur gesonde invloede verander word nie. Hulle is van kleins af problematies.
Kinders wat moor
Die redes waarom kinders moor, is veel komplekser as mans en vroue wat hul gesinne uitwis.
Daar kan van min kinders gesê word dat hulle as moordenaars gebore word. Tog sê prof. Christiaan Bezuidenhout genetiese materiaal maak sommige kinders meer vatbaar vir sekere invloede of gedrag. Die onderskeie fisiologiese, genetiese, sielkundige, emosionele en omgewingsveranderlikes in ’n kind se lewe speel ’n uiters belangrike rol in sy uiteindelike lewensbaan.
’n Kind is ’n eenvoudige wese. Indien die ouers hom onvoorwaardelike liefde en erkenning gee, sal hy of sy soos ’n blom gedy. Indien die ouer aanhoudend vir hom sê hy is sleg, word die blom afgebreek en verlep. Sou die kind boonop seksueel en fisiek mishandel word, en die kind beskik oor die genetiese materiaal wat hom vatbaar maak om daarop te reageer, ontwikkel die kind gedrags- en persoonlikheidsprobleme.
Dit kan aandagspanprobleme, hiperaktiwiteit en antisosiale karaktertrekke tot gevolg hê.
Die probleemkind gaan nie vir gesagsfigure luister nie, hy gaan moontlik soos sy ouers optree en afbrekend en negatief wees en voortdurend dwarstrek. Hy kan selfs destruktief raak en eiendom beskadig, diere mishandel of ’n bullebak by die skool word.
Hy toon geen emosie en empatie nie en put inderwaarheid genot uit sy wangedrag. Hy kan hoogs waarskynlik eendag in ’n psigopaat ontaard, iemand wat geen emosies ervaar, geen empatie met ander het en nooit uit sy foute leer nie.
Hy het geen langtermynbeplanning nie en sal sy negatiewe gedrag herhaal. Omdat hierdie tiener nie uit sy foute leer nie, bots hy gedurig met die gereg. Die kanse is goed dat hy reg in sy eie hande gaan neem en sy ouers of ander familielede sal vermoor indien hulle hom wil beheer.
In ander gevalle kan die tiener hom heeltemal onttrek van die werklikheid, geen destruktiewe en negatiewe gedrag toon nie, maar op ’n dag breek hy. Dit is uiters moeilik om dié moorddadige gedrag by jong mense te voorspel.
Die kind bereik ’n punt van geen omkeer nie. Hy sal sy ouers om die lewe bring wanneer al hierdie faktore saamkom en daar ’n sneller is wat die moorddadige daad ontketen.
Nie alle kinders met gedragsprobleme is psigopate nie. Baie eksperimenteer net met kattekwaad en wangedrag, maar hulle ontgroei dit.
Ander ontgroei dit nie en word dikwels die parasiete in die gesin. Hulle voltooi dikwels nie skool of universiteit nie, word meer en meer afhanklik en gebruik dikwels aggressie om te kry wat hulle wil hê. Hulle steel en verkoop die gesin se besittings om geld in die hande te kry. By die meeste volwasse psigopate was daar duidelike karaktertrekke in hul kinderlewe. Hul gedrag ontwikkel geleidelik en vererger.
Bezuidenhout meen dat die individuele uniekheid, die konteks en die komplekse wisselwerking van al die veranderlikes baie moeilik is om te peil en om akkurate voorspellings van te maak oor die uiteindelike gedrag van ’n jong mens.
Al wat mens wel met sekerheid kan sê, is dat sekere kinders in staat is om ’n familielid se lewe te neem.
Tieners as ouermoordenaars
Dr. Larissa Panieri-Peter, Kaapse forensiese psigiater in privaat praktyk, het in die verhoor van Don Steenkamp ter strafversagting getuig.
Sy het ook getuig oor tieners wat hul ouers vermoor.
Die belangrikste ontdekking in neurowetenskap is dat ’n sekere deel van die brein wat oordeel en impulse beheer nie so goed ontwikkel is in die tiener soos in ’n volwassene nie. Onnodige sinapse in die brein word in puberteit gesnoei. Sekere kwesbaarhede kom na vore in die reeds stresvolle omgewing van die tiener.
’n Tiener kan onderskei tussen reg en verkeerd. Tog is hul oordeel en hul besluitnemingsvermoë neurologies nie dieselfde as iemand van 25 jaar nie. Maar dit is verkeerd om te sê ’n rebelse tienerseun gaan ’n probleem-volwassene wees. Tienerseuns is normaalweg meer aggressief en impulsief. Dit maak hulle potensiaal meer gewelddadig en minder verantwoordbaar.
’n Mens moet eerder vra waardeur die tiener gaan.
Puberteit is ook die tydperk waarin geestesiektes kan ontwikkel. Geestesiektes kom soms eers redelik laat in die tienerjare te voorskyn. Uit ’n psigiatriese oogpunt en volgens neurowetenskap is die tienerbrein, wat steeds aan die ontwikkel is, meer vatbaar vir rehabilitasie-invloede, meer as volwassenes.
Die graad van ernstige misdade neem toe namate die misdadige tiener ouer word. Toegang tot vuurwapens maak die tiener se potensiële dade meer dramaties.
Tieners het nie beheer oor hul wêreld nie. Hulle het nie keuses oor waar hulle woon, watter skool hulle bywoon, by wie hulle woon of hul huislike (dalk gevaarlike) omstandighede nie. Hoewel hulle groot en eintlik selfstandig is, kan hulle nie hul omstandighede maklik verander nie.
Wanneer