Скачать книгу

      Haar kliënt knik. “O? Dan is hy seker die doodgewone ou waarvan jy praat? Nie juis iets vir die oog nie?”

      “Jip. Hy is doodgewoon.” Sy glimlag en gaan aan na haar volgende kliënt toe.

      Leonardo Anderson stap verby ’n stalletjie op die sypaadjie waar koerante verkoop word. Hy vries en gaan staan stil. Nee! Moet sy verbeelding wees. Hy draai om en stap die paar treë terug. Dis waaragtig sy eie bakkies wat op die voorblad van ’n landwye koerant na hom terugkyk.

      Sy oë vlieg na die hoofopskrif. Wat? Wie de flippen hel …? Hy kyk regs na die ingang van gerookte glas van sy dertigverdiepinggebou, lig dan sy oë na die verdieping waar die ingenieurs se kantore is. Dis nog vroeg … Hopelik sal nog nie té veel mense die koerant gesien het nie.

      Hy vat ’n koerant, stop die verkoper ’n noot in die hand en stap na sy Jaguar wat hy so pas onderdak geparkeer het. Langtand lees hy toe hy in die kar sit. Hy het ’n hol kol op sy maag toe hy die koerant op die agterste sitplek neergooi. South Africa’s Most Eligible Bachelor of the Year?

      Flippen-hel! Moes iemand hom nie gevra het of hy dit wil wees nie?

      Hy frons nadenkend. Dis nie één persoon wat hom gekies het nie, maar ’n spul platejoggies, modelle en sakevroue wat gevra is om verdienstelike mans te benoem.

      Sy lippe trek styf. Dis daardie Odette Westlake – wat hom die afgelope paar weke knaend gebel en gevra het hy moet haar asseblief na dié en dáái geleentheid vergesel – wat vir al die inligting oor hom verantwoordelik is. Gewoond daaraan, het hy niks daarvan gedink toe fotograwe hulle saam gekiek het nie. Sy het beslis gereël dat die fotograwe toeslaan op hulle twee, asook elke liewe girl met wie hy uit was. Om te dink hy het waaragtig gereken sy is oulik omdat sy nie soos al sy ander meisies net oor haarself gepraat het nie, maar eerder in sý doen en late belanggestel het.

      As hy maar geweet het sy is ’n verslaggewer! Hy is lus en dagvaar haar, maar dit kan alles dalk net vererger. Buitendien het sy niks leliks of enige leuens oor hom geskryf nie, dus het hy nie regtig ’n saak nie.

      Laat hy liewer boontoe gaan en kyk of hy gewerk kan kry.

      Dis eers toe hy na die voorste uitgang stap dat hy ’n vrou en ’n kameraman op die sypaadjie sien rondstaan. Hy tree blitsvinnig terug en vlug brandtrappe toe, hardloop hulle twee-twee op, maar sien en hoor nogtans hoe die vrou en fotograaf aangehardloop kom en vrae na hom skree.

      Hel, hy voel soos ’n idioot terwyl ’n flitsende kamera sy vlug op band vaslê. Môre skree die koerantopskrifte seker hy is boonop ’n banggat!

      “Hoe voel dit om die begeerlikste man in die land te wees?” roep die vrou terwyl die kamera steeds flits.

      Dan is hy genadiglik bo. Hy ruk die staaldeur oop en druk dit gou agter hom toe. Hy vee sweet met ’n sakdoek van sy gesig af terwyl hy die trappe na die tweede verdieping klim.

      Verbeel hy hom of raak dit stil toe hy verby admin by die middeleiland stap? Hy kyk links en sien hoe koppe afduik na hul rekenaars.

      Ryan Cohen, sy vriend en geoktrooieerde rekenmeester by Planet Earth, glimlag breed toe hy Leonardo in sy deur gewaar. “Jis, my ou, veels geluk! Wie het nou kon dink my baas gaan ’n celebrity wees. Dis boonop ’n helse groot advertensie vir die firma.”

      Leonardo hou ’n oop hand in die lug en sak in ’n stoel neer: “Nee, hel, Ryan! Ek het nie dié soort publisiteit vir Anderson’s Technology & Projects nodig nie. Die hele wêreld gaan nou dink ek is ’n flippen playboy. Hoe gaan dít die maatskappy baat? Wie gaan ’n man ernstig opneem wat blyk lief vir die limelight te wees?”

      Ryan lag dat sy maag skud. “Jy was nog altyd lief vir die skoner geslag, en in die limelight, en jy wórd steeds ernstig opgeneem. Nee wat, my ou, ek sal nie so worry as ek jy is nie.”

      Leonardo frons. “Dis boonop ’n flippen sirkus daar buite. Ek moes die brandtrappe gebruik om van ’n verslaggewer ontslae te raak.” Hy loop tap vir hom ’n glas koue water in, drink dit en tap die glas weer vol voor hy daarmee gaan sit.

      Ryan sit agteroor in sy stoel en vryf geamuseerd oor sy ken terwyl hy Leonardo bekyk. Hy skuif die koerant eenkant en sê laggend: “Vandag se nuus is môre ou nuus. As jy weer sien, het almal van jou vergeet. Wees eerder dankbaar vir die publisiteit wat die gedoente aan jou firma gee.”

      Leonardo skud sy kop. Sy twee vennote wat elk vyf-en-twintig persent aandele het, sal met Ryan saamstem. “Ek glo nie die ding gaan gou oorwaai nie. Ons kry anyway genoeg publisiteit. Instansies van belang weet van Planet Earth en wat ons al bereik het.” Daar is net mooi niks wat hy aan die saak kan doen nie. Met daai Odette Westlake-vroumens praat hy nie weer ’n woord nie! Gelukkig was sy professioneel, en het hulle nie saamgeslaap nie.

      Hy sit sy leë glas neer, kyk op sy horlosie en staan op: “Kyk net waar trek die tyd al. Ons moet Bennet se elektriese vergasser vandag begin toets.” Hy sug. “Vanaand werk ek vir seker weer tot middernag aan my nuwe projek.”

      Wat ’n geluk dat sy ma en pa in Griekeland by sy suster en haar man en eerste babadogtertjie kuier. Nou sal hulle minstens nie deur joernaliste lastig geval word nie.

      Leonardo se persoonlike assistent groet soos altyd met ’n glimlag toe sy hom sien. Genadiglik sê Welma niks oor die koerantberig nie, maar hy keer haar deur sy kop te skud toe sy Odette Westlake en radiostasies en adverteerders se name opnoem. G’n onderhoude nie. Wat kan hy byvoeg wat nie in die koerant is nie? Behalwe dat hy vrek ongelukkig oor die hele gedoente is?

      Welma kyk vraend na hom.

      “Ek wil nie gesteur word nie. Sê vir almal wat bel ek is nie vandag op kantoor nie. Maak notas waar nodig, soos jy altyd doen, dan kyk ek later daarna. Dankie, Welma.”

      Welma knik begrypend: “Goed, ek maak so.”

      Leonardo lig die foon en bel die sekuriteitfirma, reël dan vir twee ekstra wagte om die gebou bedags te beskerm teen ongewenste persone en veral die pers wat dit dalk onregmatig wil betree.

      Leonardo sug gefrustreerd, laat sak dan die gordyn waar hy op die tweede verdieping van sy huis staan. Na ’n week is die flippen fotograwe steeds op sy spoor. Gelukkig karwei sy pa se limousine en chauffeur hom werk toe en terug.

      Hel, ontwerpers wil hê hy moet hul klere vertoon, ander wil hê hy moet naskeermiddels en deodorante op TV adverteer! Voorwaar vrees hy die dag wanneer hy sy gesig op groot advertensieborde langs die pad sien.

      Die publisiteit kon nie op ’n meer ongeleë tyd gekom het nie. Hy en die ander ingenieurs het gemeenskaplike projekte wat moet klaarkom.

      Sy posbus loop daagliks oor van briewe sonder seëls en stempels en selfs foto’s met allerhande informasie agterop geskryf. Alles beland ongelees in die snippermandjie.

      Bleddie vernederend!

      Daar maak tannie Maria darem nou die hek vir die limousine oop. Hy is dankbaar vir sy huishoudster se ondersteuning en hulp in dié tyd.

      Leonardo klim in, groet die chauffeur en gluur die spul fotograwe en vroue aan. Gelukkig kan hulle hom nie deur die getinte glas sien nie.

      Hy het nou verdomp genoeg gehad. Voorheen kon hy ry waarheen hy wou. Hy sal iets drasties aan sy situasie moet doen. Dalk moet hy êrens heen verkas sodat hy ten minste aan sy projek kan werk. Iewers waar niemand hom sal herken nie.

      Maar waarheen?

      Albei die ingange na die onderdakparkering van die Planet Earth-gebou word deur die media dopgehou. Voor die getinte glasdeure by ontvangs staan die twee formidabele wagte wat hy intussen gehuur het om die media en nuuskieriges op ’n afstand te hou. Een van die wagte stap parkeergarage toe na waar Leonardo uit die limousine gaan klim, en sal hom dan boontoe vergesel.

      Die blote gedagte aan ’n wildvreemde vrou wat gelyk het of sy die klere van sy lyf wou afskeur, gee hom die horries.

      Leonardo stap na Ryan se kantoor en sien hom uit ’n teenoorgestelde rigting aangeloop kom. Hy het reeds gisteraand met hom oor die foon gepraat, gesê hy dink daaraan

Скачать книгу