Скачать книгу

na haar godvrugtige ouers gegroet het en huis toe is, gaan Susanna tuin toe, natuurlik in die geselskap van haar kamerbediendes, want nalatig mag sy nooit weer wees nie. Jojakim kyk alreeds so vreemd na haar, met pyn en iets soos agterdog. Sy vat aan die mastiekboom, en ruik aan die blare van die steeneik. Die mastiekboom noem sy Gedálja, die steeneik Karéag; en sy haat die bome, en bid dat ’n geheime siekte hul weefsel mag aantas. Maar die bome bly gesond: groen tente op die middaguur. Sy smeek haar man, Jojakim: kap af, verwyder. En hy, gevestig, en gesteld op sy besittings, en met respek vir tradisie, sê: “Praat nooit weer met my oor hierdie saak nie.” Dan begin Susanna belangstel in plante en hul name: om iets by die naam te ken, is om hom te beheer. Dit weet Daniël, en dit weet alle mans, ook die Ouderlinge. As Gedálja en Karéag gesê het: “Ag, o regter, so ’n boom met blare, weet u, ’n bepaalde skakering van groen, en dan ’n stam met takke …” Susanna hoor die geskreeu van die gepeupel; voel die eerste klippe teen haar slaap, wat haar laat ruk en koes, en val flou neer langs haar bad. Haar kamermeisies lê haar neer op die rusbank langs die water. Een gaan roep die ou vrou, Sara, wat met kruie en flessies kom. Sara smeer parfuum aan haar meesteres se slape; tiemie in die warm holtes van haar oksels. Sy knoop Susanna se kleed los en vryf die klammerige liggaam met haar harde ou hande. Susanna kreun. Sy vermoed ’n man agter hierdie sterk, seker vingertoppe; wriemel onder die hande wat vreemde woorde oor haar liggaam skryf, of liggies en tergend sirkels teken op haar buik. In haar wel op, soos ’n fontein in die dorsland, ’n naam; blink ’n oomblik in die son; sak terug in die sand. “Sy is swanger,” fluister die ou vrou, Sara, en kyk op in die blaregeritsel.

      En dan Jojakim, haar middeljarige man, vas aan sy gebruike en gewoontetjies, wat iets hards aan sy gesig gee; ’n strakheid aan sy bewegings. Selfs by Susanna in die bed vergeet hy nooit wie hy is nie. Hy bedwing die diep, desperate lus in sy liggaam; besweer hartstog tot plig. En weet dat hy haar te kort doen en homself verneder. En tog beteuel hy hom, want gee hy toe aan sy nood, mag God hom neervel met ’n bliksemskig.

      Ná die verhoor neem hy haar nóg minder by hom. Die Here weet sy het nie skuld daaraan nie, maar sy is nie meer dieselfde nie. Hul óú oë het haar besoedel; haar halfpad kaal gesien, of heeltemal, en die kruietuintjie in die koelte wat vir sý oë bedoel is, en alleen sý oë, met hul begeertes verskroei en onteer. En daar kon ander oë gewees het wat haar uit die lower dopgehou het, want sy tuin, weet hy nou, is tóg toeganklik. Ander oë … jong oë … God, nee, dan liewer die Ouderlinge … In ’n sin is Susanna skuldig. Want sy was nie versigtig nie. En wie nie versigtig is nie, gee toe aan iets wat ver is van die lig; iets wanhopigs, soos begeerte of wellus of wraak. En die skielike ding oor die afkap van die bome: as daar nou meer as een voorval was, onder elke boom? Dan is daar mos onskuldige bloed vergiet, voor God en mens en Daniël?

      En Daniël? Hy wat regop wandel in die wet, sal die duiwel hóm met rus laat?

      In loom nagte hoor hy Susanna met ’n groot stem uitroep: “En nou moet ek sterwe terwyl ek niks gedoen het van die dinge waarvan hulle my op kwaadwillige wyse beskuldig het nie.”

      Later kwel die stem hom. Want dit behoort aan ’n ryp, voldrae vrou. En hy bid dat hy alles mag vergeet: die woorde, die stem en die vrou.

      In die Markies van O gebeur ’n onwaarskynlike maar tog logiese ding. Die held red die heldin van verkragting, maar wanneer sy ná haar ontstellende ervaring diep inslaap onder die invloed van ’n slaapdrankie, raak sy, buite haar wete, tóg onteer, en dit deur haar redder; en raak swanger. Na baie beproewinge, party baie snaaks, vind hulle mekaar: eind goed, alles goed.

      So kon dit nooit vir Daniël en Susanna gebeur het nie.

      Maar miskien groei daar in die bruin tuin wat Rembrandt ontwerp het, hoe onherkenbaar ook, ’n mastiekboom en ’n steeneik, met hoog, hoog teen elke stam op waar geen menseoog dit kan sien nie, net God alleen, fyn uitgekerf in die bas, ’n deurpylde hart, met ’n D en ’n S gevang in dié omlysting.

      Twee stories oor sensuur

      Julle praat nou so van sensuur (sê oom Toon Lourens), maar al sensuur waarvan ek weet, het ek in die bediening leer ken. (Oom Toon was dikwels ouderling.) Van die rolprente en boeke waaroor julle mannetjies so warm raak, weet ek goddank niks nie. Ek lees my Bybel, my Kerkbode en my Farmer’s Weekly. Ek het wel ’n keer of twee na die toverlantaarn gaan kyk in die landbousaaltjie op Witkop, maar die affêring het kort-kort gebreek, en dit was die beste tye, want dan kon ’n man ’n pypie rook en gesels, voor die geflikker weer beginne. Soos veertjies voor jou oë, die hele tyd; soos die eerste donse van ’n sneeu. Ek is elke keer met net so ’n kop huis toe. (Niemand durf vra hoeveel smolletjies oom Toon gehad het nie, voor en na.)

      Wat ek van sensuur gesien het, het my baie laat nadink. Oor die mens en sy beperktheid. En oor die onsienlike. (’n Lang pouse vir die stop van ’n pyp.) Wat skielik sienlik word.

      Ek sal haar by haar bynaam noem, dan kom ek niemand te na nie: Hofkar. Dis nie ’n mooi naam nie, en dis jammer, want sy was ’n mooi vrou, veral destyds, met die sensuur. Ná die ding het sy skielik begin oud word, want dit vat aan jou, om so voor mens en God gedaag te word. Hofkar: oor sy so trots agter haar perde gesit het, of dit ’n koets of ’n ding is. Selfrespek is een ding, maar trots, asof jy na pypkaneel ruik, en ’n ander na …: nee, dit gee aanstoot. Seker dié dat hulle sê: eie roem stink.

      Staan ek te lank stil by onwelriekende dinge vir julle fynlakenkêrels? Maar stank is nou eenmaal deel van die lewe; en dis deel van my storie.

      Die hele gemeente het lekker gekry toe sy tot ’n val gekom het: en dít is stank. Om namens God te sê: nou raak iemand gestraf vir sy sonde.

      Ek moet my storie verder terug loop haal. Hofkar was getroud met … nou noem hom Jan, ’n bywoner by ou Rooie. Hy het op die land inmekaargesak, agter die ploeg. ’n Goeie einde vir ’n boer, sou ek reken, so in die nat aarde in: die eerste saad van die komende oes. Of dalk het die dominee dit gesê, by die begrafnis. Ewentwil, Jan is dood, en Hofkar moes dorp toe trek. Sommer gou ook; net na die begrafnis. Hulle sê ou Rooie se vrou het agter die ding gesit; ek kan dit nie beaam nie. Hofkar het min op straat verskyn, en altyd in swart geklee; het naaldwerk ingevat, want geld was maar min. Rooie het in die begin gesorg: ’n slagding, melk, botter. Maar later niks. Toe die stories begin loop het. Onder daardie swart rok, het die vrouens alwetend gesê. Dit, op sigselwers, is nie snaaks nie; baie wedu’s gee geboorte. Maar nie tien maande na haar man se dood nie.

      Natuurlik moes die kerk ingryp. Nie oor hy wil nie. Oor hy moet. Wie is die vader van die kind, wou die Kerkraad weet. En ek was een wat dié vraag gevra het. “Jan,” het sy gesê, regop soos altyd, haar swart rok effens blinkerig van baie dra, maar netjies. Oor en oor dié één antwoord: “Jan.” “Maar suster,” het Dominee ongemaklik gesê, “die natuur het sy wette. Dis tog onmoontlik.” “Niks is onmoontlik voor God nie,” het Hofkar gesê en Dominee aangekyk of hy ’n skoolseun is. “Lees maar u Bybel.” Dis toe dat Dominee begin kwaad word het. “Wat u nou daar sê, suster, grens aan heiligskennis. U wil tog nie beweer nie …” Soos die dag van gister hoor ek haar sê: “Sy was ook ’n eenvoudige vrou, soos ek, een van die volk.” Verdere redenasie was nutteloos. Iemand het gepraat van ’n gestig. Maar op watter grond? Owerigens was sy so normaal soos ek en jy, net trotser.

      Die saak het verloop soos die kerkwet dit gebied. Sy is die heilige Nagmaal verbied. Vir hoe lank nou? Ek kan nie onthou nie. Maar wat ek duidelik onthou, is hoe sy alleen voor die preekstoel gestaan het om haar kind te doop. Trots. En: asof sy nie alleen is nie. Sy het na die niks langs haar gekyk, en haar kind – ’n eersteling, het ek vergeet om te sê – na die niks uitgehou. En opgekyk na die niks. En aan die pragtige tjalie om die kind gevat, asof sy dit aan dié niks wou wys. Volgens die vrouens ’n volmaakte stukkie werk; fyn soos penswol, hierdie tjalie; ’n erfstuk.

      Sy het haar hart verhard, het die mense gesê. En ek is ook een – mag God my die voorbarigheid vergewe – wat so gepraat het.

      Die volgende dag het die hele dorp haar deur die hoofstraat na die fotograaf sien stap. Daardie tyd had ons nog ’n fotograaf, én ’n barbier, én ’n bank wat elke dag oop is. Sy had die kind by haar, met die lang tjalie wat amper tot op die grond hang.

      En

Скачать книгу