Скачать книгу

daarna nie, maar daardie fiere ou Voortrekkergees leef nog net so sterk in elkeen van ons. As die omstandighede dit van ons eis, sal ons net soos Susanna Smit en haar volgelinge vir ou Henry Cloete opsluit en hom drie uur lank onder skoot steek met die uiteindelike ultimatum: Die vryheid of die dood!

      Een van ons interessantste kenmerke is seker dat ons as vroue onder mekaar beter klaarkom as die vroue van die meeste ander volke. Ons het – miskien ook as gevolg van ons geskiedenis – ’n soort helpmekaar-gesteldheid wat nie maklik onder ons uitsterf nie. Ons doen graag vir mekaar iets – pas mekaar se kinders op, ruil rokspatrone en resepte en bring vir mekaar boontjiesop ná ’n begrafnis. Ons is nie verhewe bo ’n mondjievol skinder nie, maar ons het darem nog altyd ’n gewete ook. Ons is nie geniepsig, haatdraend of slu nie, maar ons vergewe nie die vrou wat ons onderkruip op die vlak van die liefde nie. Ons is hartlik en vriendelik in ons omgang met mekaar en met ander, maar ons verdra nie hovaardigheid, beterweterigheid en gebrek aan gasvryheid nie.

      Net soos die vroue van ander volkere, het ons ook ons ideale ten opsigte van die man. Ons hou van sterk, manlike mans na wie ons met ontsag kan opsien. Die ouwyfiehuishen soort man word seker geduld waar dit nie anders kan nie, maar ons sal hom nooit uit vrye wil vir eie gebruik kies nie. Die Suid-Afrikaanse vrou was nog altyd lugtig vir die man wat self die boontjies vir sy bredie afdraad, wat verkoue kry as sy voete nat word en sy hare met ’n middelpaadjie kam.

      Ons hou daarvan dat ’n man ordentlik en fatsoenlik moet wees, maar lewendig, asseblief tog lewendig. Ons raak baie gou uitgekuier met ’n man wat nie kan lag nie, wat nooit ’n kwinkslag kwytraak nie en wat nege-uur in die aand al moeg is van niks. Dis vir ons heerlik as ’n man hoflik en vriendelik is, maar ’n té innige skattie-gemoedelikheid stuit ons teen die bors.

      Ons is oor die algemeen nie lief vir sukkelaars, drelle, sluwejanne, langoë, windlawaaie en mans wat melk drink nie.

      Ons hou van ’n man wat sy plek vol staan in sy huis en sy familie, in die samelewing en as burger van die land. Ons is trots op ’n man wat ouderling is, wat ’n wykskommando stig, wat voorsitter word van die dorpsbestuur, die boerevereniging of die plaaslike tak van die regte politieke party. Ons gee glad nie om as ons mans skyfskiet, grootwild jag of branders ry nie, maar ons word kriewelrig vir ’n man wat korfbal speel, ballet dans of skoothondjies teel.

      En, belangrikste van alles: ons wil hê ons mans moet glo hulle is ons base, al weet ons al die tyd dat óns eintlik húlle base is.

      MY VOETE IN DIE RUIMTE

      Ek het in die laaste tyd ’n dwingende nuwe begeerte: ek wil op ’n ruimtereis gaan. Dit lyk vir my die allerheerlikste heerlikheid om so oor die grense van die aarde in die blou ruimte op te styg, ’n wyle daarbo in die tydlose stilte te sweef en van daar, uit die rustige vertes, my ou wêreldjie op sy uitgeryde wentelbaan te betrag.

      Ek het in hierdie lentedae ’n groot verlange om los te kom van die vaste grond onder my, om één keer, net één keer opgelig te word oor die hoogtes van die aarde en my voete in die ruimte te laat staan.

      ’n Ruimtereis, weet ek, sal my alles nuut en anders laat sien, heeltemal, heeltemal ánders as wat ek dit nog ooit gesien het. Ek weet ek sal nie dieselfde mens wees as ek terugkom van so ’n reis nie en dis juis dáárom dat ek wil gaan. Ek het behoefte aan ’n algehele vernuwing van gees en gemoed. Ek wil graag die lewe en my aandeel daaraan nuut en anders sien.

      Nou droom ek snags van ’n ruimskip, ’n spierwitte met ’n voorstewe wat blink soos die môrester, die vaartuig wat my na die grenselose ryk van die son en die maan en die sterre sal voer. Binne-in is hy in sagte groen uitgevoer, knus soos ’n vinknes. As ek dalk losraak van my bank, sal ek saggies teen die groen wande vasdryf soos ’n blaar op ’n rivier. Die bank, waarop ek stewig vasgemaak moet sit, lyk soos ’n perlemoentroontjie. Ek sit só dat ek mooi deur die venster kan sien hoe die aarde wegraak en die ruimte nader kom, hoe die son steeds skerper glinster en die oneindigheid wyer en wyer om my strek.

      My ruimpak is hemelsblou om by die blou van die ruimte te pas en dis afgewerk met goud as huldeblyk aan die son. Vir die eerste keer in my lewe het ek die moed om ’n langbroek aan te trek. Niemand dra ’n rok in die ruimte nie, en ’n mens is net so los van die mode soos van die aarde se swaartekrag.

      Dis ’n opwindende vooruitsig, so ’n ruimtereis. Vir my is dit iets wonderliks dat ’n mens so hoog kan kom sonder om te klim. Ek het nog altyd daarvan gehou om te wees waar dit hoog is, maar ek wil tog nie klim tot daar nie. Ek kyk graag ver, maar ek het nie aanleg vir klim nie. Daarom slaag ek maar selde daarin om groot hoogtes te bereik. Dis een van die redes waarom ek op ’n ruimtereis wil gaan – ek gaan hoër kom as die hoogste bergspits op die aarde en ek sal nie ’n tree hoef te klim nie. Ek voel graag opgewasse vir ’n onderneming wat ek aangaan.

      Vir die avontuurlikheid van die reis sien ek kans. Ek gee nie eers om om my bewussyn te verloor by die opstyg nie. Dis soms bevrydend om van ’n mens se bewussyn ook los te kom. Ek is ook nie bang om in die see te val met die terugkom nie. Ek weet mos dat ’n helikopter my daar sal kom optel, en as ’n mens uit die ruimte kom, lyk dit my pasliker dat jy op die see land as op die aarde.

      Ek sal heerlik agteroor sit in my versterkte bank en ek sal oorgehaal deur die venster kyk hoe die wêreld klein word onder my.

      Wat my onweerstaanbaar lok van die ruimte is die wete dat dit so genesend stil sal wees daar. Daar sal nie elke paar minute ’n motor of ’n bus of ’n bromponie by die venster verbysnork nie. Daar sal geen verkeersbelemmering wees nie en nêrens sal daar ’n gat in die pad geboor word nie. Daar sal nie deure wees wat klap, vensters wat ratel, telefone wat lui en vullisjongens wat Never on Sunday fluit nie. Daar sal ek nie na Transvalers se klagtes oor die Kaapse weer en Kapenaars se klagtes oor Transvalers se politiek hoef te luister nie. Daar kan ook nie ’n taalkongres, ’n opmars van die Swart Serpe of nog ’n neerlaag vir die Springbokke wees nie. En as ’n nuwe tabakmaatskappy uitgifte-aandele aankondig, sal ek gelukkig niks daarvan weet nie.

      Ek sal my dankbaar toespin in die stilte en aan Genesis se skeiding tussen waters en waters dink.

      En sodra ek hoog genoeg is, wil ek uitklim en loop.

      Dit is een van die vernaamste redes waarom ek in die ruimte wil kom: ek wil voel hoe dit is om op niks te loop.

      Ek kyk so graag na die mense wat so lekker op en af skiet op daardie springmatrasse langs die strand. Dit lyk vir my so ’n sielsbevredigende ding om te doen: om sommer so doelloos op en af te spring, soos ’n kind wat wag om ’n Kersboom te sien. Ek het al so dikwels gewens dat ek die moed gehad het om so op ’n springmatras te gaan spring, maar ek weet, as ek dit gaan probeer, gaan my bene oormekaar slaan en ek gaan in my volle lengte neerslaan op die matras.

      Net so met branders ry. Dit lyk vir my dis een van die lewe se groot plesiere om so lui-lui-loshand op ’n branderplank te staan en ’n berghoë brander jou glad en regop op die sand te laat uitvee. Maar ek weet, as ek dit gaan probeer, gaan die plank terstond onder my uitgly en my teen die kop slaan sodat ek sonder meer verdrink.

      Nee, op die vaste aarde kan ek nie los en ligvoet toertjies uithaal nie, maar daar bo in die ruimte gaan ek soos ’n tamboernooi trippel. Ek gaan passies maak soos ’n sirkusponie. Ek gaan al die spronge spring wat ek nog altyd wóú spring en nog nooit kón spring nie. Want kyk, ek sal mos nie kan val nie. En dis uit vrees vir die val dat ’n mens skrik vir die springslag.

      Daar in die ruimte sal ek geen gewig hê nie. Dis die eintlike rede waarom ek graag daar wil kom. Ek wil een maal, net een maal in my lewe voel hoe dit is om niks te weeg nie. En dit nogal sonder dat ek selfs één dag minder hoef te eet. As ek daaraan dink dat ek hier op hierdie aarde ’n volle maand lank moet honger ly voordat ek soveel soos één enkele pond minder weeg, word ek so opgesweep dat ek lus voel om my met ’n vuurpyl in die ruimte op te skiet, as ek net een kan kry wat sterk genoeg is.

      Die enigste jammerte is dat ek nie die plesier sal hê om op ’n skaal te staan en te sien die wyser slaan op nul plaas van 150 nie. Maar ek sal darem weet hoe dit voel en ek glo die herinnering aan die bevryding sal genoeg wees om my my lewe lank slank te hou.

      Nog iets wat my verbeelding aanvuur,

Скачать книгу