Скачать книгу

’n oomblik buite rekening laat (bloot omdat ’n Sondag nooit as ’n lyding-dag beskou word nie en altyd ’n dag is wat hoop uitbeeld) en dus vanaf die Saterdag ná Jesus se kruisiging 40 dae terugtel, kom jy altyd, sonder uitsondering, by ’n Woensdag uit.

      Sou jy hiervan ’n woordsom maak, sou dit só kon lyk: Donkersaterdag (Dag 40) MINUS ses Sondae MINUS 40 weeksdae PLUS ses Saterdae IS GELYK AAN Aswoensdag.

      Aswoensdag

      In die ou tradisie is die palmtakke wat tydens die vorige jaar se Palmsondag geswaai is iewers gebêre. Die verdroogde takke word dan 40 dae voor die nuwe jaar se Paasvieringe tot as verbrand. Op daardie dag (altyd ’n Woensdag) het die gelowiges vroegoggend bymekaargekom en die aanbiddingsleier het met sy duim ’n kruis-merk met die as op elke kerkganger se voorkop aangebring. Vandaar Aswoensdag.

      En só begin die nuwe reis, op pad na die Pase.

      Afrikaanssprekendes gebruik die woord “lydenstyd” om hierdie 40-dae-tydperk aan te dui. Engelssprekendes noem dit “lent”, wat ontleen is aan ’n ou Germaanse woord wat beteken “om langer te maak”. Dit word in verband gebring met die winterseisoen wat besig is om vir die nuwe seisoen plek te maak. Die dae begin rek.

      Aswoensdag is dan die simboliese viering van een seisoen wat voltooi is, wat die ruimte skep vir ’n nuwe een om te begin. Met elk van die daaropvolgende 40 dae wat ons dag na dag nader aan Opstandingsondag bring, is “lent” ’n tyd van ontwaking.

      En dan nie bloot ’n ontwaking uit die winter nie, maar ook uit ’n geestelike koue. Dit is dus geen wonder dat die gelowiges in die noordelike halfrond dit met ’n ontploffing van affodille en allerhande lenteblomme in die kerkgeboue en katedrale vier nie.

      Vanaf Aswoensdag, met die sigbare as-merk op elkeen se voorkop, het die Christene die daaropvolgende 40 dae gebruik as ’n innerlike reis van selfontdekking, totdat die nuwe mens op Opstandingsondag saam met Jesus deur die dood breek.

      Dan is dit soos Paulus dit aan die gemeente in Efese verduidelik: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak” (Ef 2:5).

      Ons vier die lewe! Dit is die fokus van hierdie 40-dae-reis.

      Dit is ’n reis van sterf en weer begin. Van afskeid neem en nuwe kanse. Van dood na opstanding. Van verbrande palmtakke na lenteblomme. Van Ashoop na Hoop.

      Van waar 40?

      Hoekom het die kerkleiers in die jaar 313 besluit dat dit spesifiek ’n 40 dae lange tydperk moet wees? Eenvoudig: Omdat enige ontwaking in die Bybel altyd deur die getal 40 voorafgegaan is.

      Getalle het vir gelowiges simboliese waarde, en 40 is die getal wat gewoonlik beproewing of loutering (ook metamorfose) uitbeeld.

      Deur die swaarkry heen, beur daar nuwe moontlikhede na bo. Kyk maar na die volgende voorbeelde:

      •Ná 40 dae en nagte se stortreën het die duif die takkie met groenigheid na Noag toe aangedra.

      •Moses bring 40 dae op die berg deur om God se woorde vir sy volk te ontvang.

      •Ná 40 jaar se loutering in die woestyn kon die Israeliete die beloofde land se melk en heuning geniet.

      •Jesus worstel 40 dae en nagte lank met Satan voordat Hy met sy bediening begin.

      •En 40 dae ná Jesus se dood wag die volgende reis, die hemelsfeer in.

      Bogenoemde verhale vertel almal van 40 dae, 40 nagte, 40 jaar – voordat daar iets nuuts aanbreek. Voordat die nuwe kom, en nadat die lang worsteling verby is.

      Omdat ons deel vorm van ’n geloofstradisie wat oor eeue heen strek, gebruik ons steeds dié 40 dae lange simboliese reis. Dit is ’n 40 dae lange reis van nadink en regmaak, wat jou van versletenheid na vernuwing bring.

      Hoe kan jy immers jou nuwe lewe vier as jy nie weet hoe die ashope in jou lewe jou terughou nie?

      Daarom is hierdie 40-dae-reis steeds baie belangrik. Dit is ’n tyd van afsondering en selfondersoek wat, ná 40 dae, die metaforiese lentebloeisels van ’n nuwe lewe ná ’n winterseisoen aanbied.

      Pelgrimsreis

      Die Christelike kerk (eintlik alle gelowe!) was deur die eeue heen besonder lief vir reis-metafore. Al drie die sogenaamde Abrahamitiese godsdienste (die Judaïsme, die Christendom en die Islam) beskou pelgrimsreise as ’n geloofstradisie wat onderhou moet word.

      Dit is ’n geloofsgewoonte wat veral met die Islam in verband gebring word: ’n Moslem-gelowige moet minstens een keer in sy of haar lewe ’n geloofsreis na Mekka onderneem.

      Maar dink ook aan die Ou-Testamentiese verhale oor die pelgrims wat vir die jaarlikse pasgafees Jerusalem toe gegaan het. Lees maar die sogenaamde pelgrimsliedere in die Bybel se Psalmboek. En onthou hoe Samuel se ma, Hanna, in die tempel om ’n seun gaan pleit het terwyl sy saam met haar gesin in Silo vir ’n pasgaviering was.

      Reeds Adam en Eva se storie is ’n soort reisverhaal in die kleine. Hulle laat die Tuin van Eden agter en gaan die wye onbekende in, die harde werklikheid van ’n lewe buite die beskutte paradys.

      Abraham word die aartsvader genoem, maar hy is ook ’n aartsreisiger! Hy het sy ganse uitgebreide familie hul tasse laat pak, en in blindelingse vertroue die land Ur agtergelaat sonder om te weet waar sy eindbestemming sou wees.

      Ook in die Nuwe Testament, in Handelinge 2, lees ons dat reisigers van heinde en verre vir ’n fees na Jerusalem gereis het.

      Jesus vertel die storie van ’n seun wat sy eie ashoop daar tussen die varke agterlaat en na sy pa se huis toe terugstap, waar sy pa hom dag ná dag op die stoep staan en inwag.

      Paulus beskryf die Christelike lewe as ’n reis, met die tentpenne wat gereed is om enige oomblik gelig te word.

      Kortom: Daar is so baie reisverhale in die Bybel dat ons dit dalk selfs ’n handleiding vir reisigers kon noem!

      Deesdae stof Christene juis hierdie geloofsgewoonte weer af, nadat dit jare lank afgeskeep is. Daar word weer langs klassieke roetes, onder meer die bekende Camino de Santiago in Spanje, gereis – deur sowel gelowiges as niegelowiges. Dit is asof al hoe meer mense begin besef dat daar persoonlike heling en insig kom gedurende ’n pynlike, lang reis wat te voet afgelê word.

      Nie alle reise geskied egter te voet nie. Daar is ook die reis na binne.

      En dit is juis wat hierdie boek se 40-dae-reis van Ashoop na Hoop wil regkry – as ’n ontdekkingsreis vír jouself óór jouself mét jouself.

      En is dit nie tog wat ’n lang reis met ons maak nie? Mettertyd, nadat al die gesels opgedroog het, sit almal in stilte. En elkeen is met sy of haar eie gedagtes besig. Elkeen bedink die lewe.

      Pelgrimsreise het as ’n ou geloofsgewoonte die reisiger gedwing om van elke tree bewus te wees. Om bedag te wees, mindful. Jy kan nie dagdroom terwyl jy stap nie, want jy moet die klippe en slaggate voor jou voete raaksien. Daar is gevare wat jou dag en nag bedreig.

      ’n Pelgrimsreis is dus altyd ’n oefening in hierwees, bedagwees. Of dit nou die fisiese reis is wat jy onderneem, of die reis na binne (oftewel “die pelgrimsreis van ontdekking”, soos John O’Donohue dit noem). Met elke tree moet jy jou eie vrese in die oë kyk, jou slegte gewoontes konfronteer, jou “ekkigheid” raaksien.

      Soms is die ontdekkings so ongemaklik dat pelgrims hul stapskoene wil weggooi. Soms voel dit asof jy jou kaart verkeerd gelees het.

      Maar elke pelgrim ken ook die ander kant. Wanneer die bedompigheid in jou siel in ’n nuwe oopte kan asemskep. Wanneer jou gees ligter word.

      Een van die bekendste hedendaagse Fransiskaanse priesters, die Amerikaner Richard Rohr, skryf só in die pragtige boekie Wondrous Encounters: Scripture for Lent oor hierdie reis van selfontdekking: “There are two moments that matter. One is when you know that your one and only life is absolutely valuable and alive. The other is when you know your life, as presently lived, is entirely pointless and empty. You need both of them to keep you going in the right direction. Lent

Скачать книгу