Скачать книгу

jy vir haar gewerk?”

      “Amper twee jaar.”

      “Hoe was sy? As jou baas?”

      “Ek het van haar gehou,” sê sy, hierdie keer vinniger, sonder die knik en die bepeinsing.

      Hy reageer nie, wag dat sy meer moet sê.

      Die stilte strek, sy vou haar hande saam. Hy kén die reaksie, die piëteit vir die dooies. Hy wag.

      “Ek het haar bewonder,” kom die stem effens sagter, die oë op die vloer. “Sy was mooi én slim. En hardwerkend. So gefokus. Sy het baie ure ingesit. Sy was presies, in alles. Georganiseerd. Altyd betyds. Altyd goed versorg. En regverdig.” Gabby Villette kyk op na hom, asof sy dankbaar is dat dít haar bygeval het. “Sy het my met groot regverdigheid behandel.”

      Nie veel meer as wat in die dossier staan nie. Hy vra hoe Hanneke Sloet se tipiese dag gelyk het. Voor Villette antwoord, is die aarseling terug, die deeglike oorweging, die stadige knik. Dan sê sy ’n mens moet onderskei tussen verlede jaar, en Januarie. Sloet het waarskynlik stad toe getrek omdat sy geweet het haar pas gaan haar uitbrand. Terwyl sy in Stellenbosch gebly het, moes sy seker halfvyf opstaan om kwart voor ses by die gim te wees, die Virgin Active in Jettystraat. Sy het geoefen tot kwart voor sewe, en sy was kwart oor sewe elke weeksoggend op kantoor.

      “Hoe weet jy sy was in die gim?”

      “Dis waar sy haar diktering gedoen het. Op die oefenfiets. Ek kon dit hoor, op die opnemer.”

      Hy vra oor die res van die dag. Sy sê Sloet het voorberei tot halfnege, dagbeplanning saam met Villette gedoen tot nege, wanneer die vergaderings begin het. Daar is baie vergaderings in die span-omgewing van Silbersteins. Smiddae tussen een en drie het sy oproepe en e-pos beantwoord, dan gewerk aan kontrakte en verslae, meestal tot omstreeks aguur saans. Villette weet, want sy het nooit voor haar baas huis toe gegaan nie. Daar was soms sake-middagetes en aand-skemerkelke, daar was kort sakereise na veral Gauteng, daar was twee wintersdae wat Villette kan onthou dat Hanneke Sloet met ’n hees, nasale stem ingebel het om te sê sy is siek soos ’n hond, in die bed met griep en ’n hoop medisyne. En met die operasie, verlede jaar, was sy ’n week af …

      Die subtiele infleksie van die woord “operasie” laat hom vra: “Watter operasie?”

      “Die boob job,” sê sy terwyl sy vlugtig na haar eie klein borsmaat afkyk, die stemtoon net ’n tikkie té neutraal.

      “Wanneer verlede jaar?”

      “April.”

      Hy weet dit is die regte tyd vir die vraag. “Het almal van haar gehou?”

      Villette se oë duik af koffietafel toe. Sy skud stadig haar kop voor sy sag sê: “Nee.”

      13

      Mbali moet deur die omstanders beur om by Groenpunt-stasie se hek uit te loop. Hulle staan net buite die halfsirkel van geel misdaadtoneelband wat om die voordeur gespan is, klaers wat wil ingaan, nuuskieriges, almal hou vir Dik en Dun van forensies dop terwyl hulle deur die glasskerwe sif.

      Sy gaan staan in die hek, trek ’n denkbeeldige lyn vir die skoot, en stap dan daarvolgens aan. Kort-kort talm sy, kyk terug, sien hoe die opening vernou soos die afstand rek.

      Sy loop oor die vaal, oop ruimte langs die tennisbane, tot by die Westelike Boulevard. Om hier stil te hou, te mik, te skiet. Twee skote? Onwaarskynlik.

      Sy wag vir ’n opening in die verkeer, draf oor die teer tot op die middelmannetjie, dan oor na die ander kant. Haar handsak swaaiend aan die skouerband, sodat sy dit met haar hand moet vashou.

      Effens uitasem kyk sy eers terug na die hek, nou onmoontlik klein.

      Dan kyk sy na die moontlikhede hierdie kant van die dubbelpad – die oop ruimte links, die rolbalklub daaragter. Daarna die heining van baksteen en traliewerk by die Burgersentrum na regs. Bo-op is ’n geëlektrifiseerde draad. Niemand kan dáár oorklim nie.

      Sy staan lank, kyk en tob. En maak eindelik haar afleidings.

      * * *

      Griessel sit en wag tot Gabby Villette die stilte vul. “Jy moet die konteks verstaan,” sê sy. “Silbersteins is … Al die direkteure is mans, negentig persent van die assosiate ook. En al die P.A.’s is vroue. Hanneke was iewers in die middel …” Sy kyk op, die oogtande meteens uitgestal in ’n apologetiese grynslag. “Ek is só nie gewoond daaraan om oor my werk te praat met buitemense nie. Dit is die probleem met Silbersteins, dit word jou wêreld, jou hele lewe …”

      Hy kan sien sy wíl daaroor praat.

      Sy vou haar arms. “Dit is so ’n … intense plek, die ure, die tempo, die druk, dit is geld wat almal dryf, uitboekbare ure …” Die arms kom stadigaan oop. “So, in hierdie atmosfeer, dis moeilik om vir iemand te verduidelik. Ons … die P.A.’s, dis soos ’n subkultuur, ’n netwerk, ons móét alles weet vir die plek om te kan funksioneer. En almal se grille ken. Hanneke het haar so doelbewus gedistansieer van ons, ek dink dit was sodat almal moet weet sy’s ’n vrou, maar sy is nie een van ons nie, sy is een van húlle. Maak ek sin? Ek dink sy moes, om haar merk te maak. Nie almal het daarvan gehou nie. Partykeer het hulle lelik geraak. Nie uit jaloesie nie, meer ’n gevoel van ‘sy hoef dit nie so pertinent te doen nie’, asof sy hulle beledig het. So daar was altyd stories …”

      Sy kyk op na Griessel vir aanmoediging.

      “Watse stories?” verskaf hy dit.

      Die langsame knik. “Die meeste was nie waar nie.”

      Hy wys hy verstaan.

      “Hulle het gesê sy sal enigiets doen vir bevordering.”

      Sy vou weer haar arms en kyk na die venster.

      “Sy wás ambisieus. Dit is waar die stories begin het. Maar dan … As sy saam met ’n direkteur gaan eet, dan práát hulle. Jy weet … En met die boob job verlede jaar, toe is dit weer ‘ja, nou mik sy hoër’ …”

      “Het sy met iemand by die werk ’n verhouding gehad?”

      Die “nee” kom te vinnig, en Villette besef dit. “Ek weet nie. Regtig nie.”

      “Wat dink jy?”

      “Definitief nie vandat ek vir haar werk nie.”

      Hy weet sy lei hom. “En voor dit?”

      “Miskien.”

      Hy knik aanmoedigend.

      “Dit was toe sy nog kandidaatprokureur was. Lank terug. 2002? Sy het in Korporatiewe en Kommersiële Litigasie gewerk. Die direkteur was Werner Gelderbloem. Hy was haar soort van mentor, tóé al verby vyftig. Aantreklike man. En hy’s getroud … In elk geval, daar was sprake dat hulle … Jy weet …”

      “Sprake?”

      “Hulle het glo nog in sy kantoor gesit en praat as sy P.A. huis toe gaan in die aand. En hy het haar saamgevat vir ’n saak in Pretoria, en toe sy P.A. een oggend vir hom in die hotel bel, toe hoor sy Hanneke se stem in die kamer … Of sy het gedink dit is Hanneke se stem.”

      Griessel het gehoop op meer. Iets onlangs.

      Villette sê: “Stories …”

      Hy knik, probeer sy teleurstelling wegsteek. “Het jy haar vorige vriend geken … ?” Hy raadpleeg sy notas. “Egan Roch?”

      “Ek het hom ontmoet. Twee keer. Hy was eendag by die kantoor, net nadat ek by Hanneke begin het. En toe by die Kers-geselligheid, voorverlede jaar.” As ’n navoegsel: “Hulle het goed bymekaar gepas.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Twee mooi mense. En die manier hoe hy met haar was … Ek dink hy het haar verstaan. Hy is … baie gemaklik met homself.”

      “Weet jy hoekom hulle uitmekaar is?”

      Sy skud net haar kop.

      *

Скачать книгу