ТОП просматриваемых книг сайта:
Bloudruk vir die liefde. Susan Pienaar
Читать онлайн.Название Bloudruk vir die liefde
Год выпуска 0
isbn 9780624074656
Автор произведения Susan Pienaar
Издательство Ingram
Oomblikke lank staar hy haar verbluf aan, draai dan om en stap met lang treë by haar kantoor uit. Daardie groenoog-wipstert moenie dink sy gaan kat-en-muis met hom speel nie.
“Haai, maar dis darem gaaf van jou om te kom inloer,” lag Salomé verras toe Magdaleen ná werk met ’n paar inkopiesakke by haar huis inval. Sy het nog altyd Magdaleen se amper swart hare bewonder wanneer dit so los en blink oor haar skouers val. Haar sus se noupassende rooi rok beklemtoon haar slanke kurwes. Mm, sy dra steeds hemelhoë hakskoene, soos altyd min gepla oor haar lengte.
“Jong, ek het jou so gemis toe jy in New York was dat ek sommer elke dag wil kom inloer!” lag Magdaleen. “Dis net hierdie huis wat my tog ’n bietjie hartseer maak.” Haar lag eindig in ’n suggie. “As ek hier instap, dink ek net aan Ma, maak nie saak dat hier hóé lank ander mense gebly het terwyl jy weg was nie.”
“Dis sleg, ek weet. Dalk maak ek soos jy sê en skaf ’n ander huis aan, en kom weg van al die herinneringe. Maar daar’s ’n paar meubels en erfstukke waarvan ek beslis nie ontslae gaan raak nie.”
Magdaleen knik. “Ek pas my erfstukke van Ma soos goud op.”
“Tee, wyn of water?” vra Salomé.
“’n Wyntjie sal nou lekker wees ná die dag se dolle gejaag.” Sy begin in die gang af stap. “Ek gaan net gou hande was.”
Salomé haal ’n bottel wyn uit die yskas en kry glase. Tog snaaks hoe hul voorkoms verskil, al is hulle susters. Magdaleen trek meer op hul pa, en sy wat Salomé is, lyk weer op ’n haar na soos hul oorlede ma.
Magdaleen loop staan in die binnedeur wat na die portaal en sitkamer lei. “Genade, Sus, die huurders het mos lankal uitgetrek. Wanneer kom hulle hul meubels haal? Hier’s nie plek vir ’n muis in jou sitkamer nie. Kyk net hoe staan jou pragtige erfstukke tussen hul goed ingedruk.”
“Hulle sê hulle het nie plek in hul nuwe woonstel vir als nie. Die huurder het gesê haar kinders van Kroonstad sal ’n trok moet huur om die goed te kom haal, maar sy kon nie sê wanneer nie, want die skoonseun werk elke naweek.”
Sy sal tyd gee, dan miskien maar self ’n vervoerwa kry om die spul goed na die vrou se kinders te stuur. Sy kan seker ’n maand of twee wag, want die sitkamer word nie op die oomblik gebruik nie. Hier staan buitendien ’n spul bokse wat sy die een of ander tyd sal uitpak. Gelukkig is daar darem die woonkamer, waar ’n paar banke en die TV staan, wat sy wel kan gebruik.
“En toe? Wat het vanmiddag gebeur, hmm? Jy druk die foon sommer in my oor dood,” sê Magdaleen toe hulle elkeen met ’n glasie wyn in die woonkamer sit. Sy lag: “Toemaar, ek het geraai iemand het ons gesprek onderbreek. Was dit Malan?”
Salomé drink ’n slukkie, knik dan. “Maar hy’t darem nie als gehoor nie, so dit is oukei.” Dis nie altyd wys dat Magdaleen alles weet nie. Sy kan dalk Malan se stelling oor sy beskikbaarheid letterlik opneem en aandring dat Salomé ’n ontmoeting tussen hulle reël.
Daardie vent sal Magdaleen se hart in stukkies breek, soos al die mans voor hom. Sy is baie lief vir dierbare Magdaleen met haar sagte geaardheid, maar hulle verskil soos dag en nag wat betref hul siening van en optrede teenoor mans. Magdaleen dink elke keer sy het die volmaakte man en sielsgenoot gevind en dan gee sy haar alles, maar op die ou end wil die ouens hulle nie verbind nie, en dan is die arme Magdaleen weer miserabel en voel sy verwerp.
Sy sal daardie arrogante Malan nooit aan Magdaleen voorstel nie. Haar eie werk en persoonlike lewe is gelukkig so ver verwyderd soos die ooste van die weste.
Magdaleen sit haar glasie neer, diep ’n tydskrif uit haar handsak op en sit dit langs haar op ’n tafeltjie neer. “Jy kan self verder oor Malan lees wanneer jy tyd kry.”
Salomé knik en lig haar voete op die bank. Sy het reeds vinnig by die werk se kleedkamers deur die stort gespring om van die dag se sand en stof ontslae te raak, maar sal later voor slaaptyd nog ’n skuimbad vat en dalk dan deur die tydskrif blaai. Kan nie skade doen om meer oor jou baas te weet nie.
Magdaleen maak ’n inkopiesak oop en lig materiaal glimlaggend uit. “Jong, kyk net na die pragtige lap wat ek raakgeloop het.”
Salomé kyk in verwondering na die glansende materiaal wat aan meermin-kleure herinner. Sy steek ’n hand uit en voel aan die stof met sy blou, groen en turkoois tinte. “Sjoe, dis asemrowend mooi. Het jy ’n patroon ook gekry?”
“Nee, net gare en die twee verskillende soorte netmateriaal vir onderrokke. Die materiaal is vir jou, ’n tuiskomsgeskenkie. Omdat ek wil hê jy moet weer kom dans noudat jy terug is van oorsee. Niemand ontwerp in elk geval mooier ballroom dancing outfits as jy nie.”
Salomé sit ’n oomblik sprakeloos, spring dan op en gee Magdaleen ’n drukkie. “Ag, dankie, Sus! Jy is ’n skat. Jy’t nou regtig my dag gemaak. Ek kan nie wág om met die materiaal te werk nie.” Sy gaan sit weer en drink ’n slukkie wyn.
Salomé hou daarvan om ’n vrou te wees. Sy hou van mooi klere en juwele en lekker ruik, en soms van swaarder grimering met kunswimpers en blinkertjies op strategiese plekke – die kere wanneer sy by kampioenskapsbyeenkomste dans. Sy glimlag. Daar is plek vir ’n oorpak én mooi dansrokke in haar lewe. Als op die regte tyd.
Magdaleen kyk eetkamer toe. Salomé volg haar blik na waar daar ook ’n spul bokse opmekaar staan en wag om uitgepak te word. Die afgelope twee weke sedert die huurders uitgetrek het en die verwers weg is, het sy haar jis af gewerk om die huis skoon te kry. Saans het sy doodmoeg in diepe slaap weggesink. En toe hoor sy by ’n ou professor van haar dat Verster & Rademeyer Argitekte ’n struktuuringenieur soek. Sy het inderhaas haar CV afgestof en net betyds ingegee om vir die pos in aanmerking te kom.
Sy het nie verwag om dadelik aangestel te word en te begin werk nie. So, ja, haar huis is erg deurmekaar met al die bokse wat gedeeltelik uitgepak rondstaan.
“Ek sal nog by die uit- en wegpak kom, moenie aanbied om my te help nie,” waarsku sy haar sus wat graag orde skep.
Magdaleen is dadelik op die verdediging. “Ek kyk maar net. Ek sien jy’t nog nie jou masjiene weggepak nie. Sal jy met die nuwe werk tyd kry vir ontwerp en klere maak?”
Salomé drink ’n slukkie wyn. Haar hande jeuk om weer met lap te werk. Sy het allerhande laslappiemateriale weggepak . . . moet iewers in ’n boks wees. Maar sy gaan eers ’n dansrok maak met dié mooie lap van Magdaleen en dan met daardie beplande laslapdeken begin.
“Ek gaan tyd maak, hoewel ek by die werk kniediep in ’n groot projek is wat baie tyd in beslag gaan neem voor ek rustiger kan wees.”
Magdaleen vul hul glasies, gaan sit weer en drink eers ’n slukkie. “So, wanneer gaan jy by ons kom inval en dans?”
Salomé kyk na ’n foto van hul ma in ’n raam op ’n tafeltjie. Haar mooie ma in ’n spierwit, sprokiesagtige enkellengte-balletrok en balletskoene, haar wilgerlatlyf en slanke nek en arm grasieus agteroor geboog, haar witblonde hare hoog op haar kop in ’n bolla saamgevat agter ’n diamanté-kroontjie. So mooi en broos soos ’n Dresden-poppie, maar ook streng en ongenaakbaar wat oefen en tegniek betref. Haar ma was nog strenger teenoor haar twee dogters as met die leerlingdansers toe sy haar eie dansstudio oopgemaak het. As haar ma geweet het Salomé het die afgelope drie jaar oorsee net ’n paar keer gaan dans, sou sy seker stuipe gekry het.
Dis sowaar al ses jaar sedert die motorongeluk waarin hul ma oorlede is, en Salomé mis haar steeds. Dis anders as die verlange na haar pa wat van haar ma geskei is toe sy en Magdaleen nog maar kleuters was. Hy het oorsee verhuis en was nooit werklik deel van hul lewe nie, te besig met sy nuwe gesin in Engeland.
“Jy’s seker naweke vry om te doen wat jy wil?” verbreek Magdaleen haar gedagtegang.
Salomé knik. “Daar sal dae kom wat ek tot laataand werk, maar ek sal naweke tyd maak.