ТОП просматриваемых книг сайта:
Flentermens word heelmens. Helena Olivier
Читать онлайн.Название Flentermens word heelmens
Год выпуска 0
isbn 9780796319548
Автор произведения Helena Olivier
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
Met God as die middelpunt van jou lewe verander jou perspektief op die lewe:
Sonder God | Met God |
–Begrawe ons ons gevoelens. | –Rou ons oor ons verlies. |
–Vervang ons dit wat ons verloor met iets anders. | –Kyk ons ons pyn vas in die oë. |
–Treur ons alleen. | –Treur ons in gemeenskap met ander mense wat vir ons omgee. |
–Sê ons tyd heel alle wonde. | –Is die Heilige Gees ons Trooster. |
–Leef ons met verwyte. | –Vergewe ons ons en ander. |
–Vertrou ons nie sommer weer nie. | –Vertrou ons God met ons toekoms. |
Met God in ons lewe is dit vir ons makliker om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule te verander.
Die emosies van die rouproses
Wanneer jy ’n verlies ervaar – watter vorm dit ook al aanneem – is die gevoel dat dit nie waar kan wees nie, ’n baie normale reaksie. Dit kon nie met jou gebeur het nie. Jy wil die nuus wat jy ontvang het nie glo nie. Wanneer die werklikheid dan insink, is jou reaksie woede. Jy is kwaad. Jy vra: “Hoekom moes dit nou juis met mý gebeur? Dit is so onregverdig!”
Soms wil jy met God onderhandel. Jy dien God, maar jy kan nie aanvaar dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur nie. Dit is asof jy dink gelowiges verdien dit nie dat ’n verlies van enige aard hulle tref nie. Jy dink goedheid en guns behoort jou te volg ómdat jy glo en God dien.
Hierdie onderhandelingsproses sluit dikwels in dat jy vir God belowe dat, as Hy jou situasie sou verander, jy en jou gesin Hom sal dien, of dat jy iets wat vir jou belangrik is, sal prysgee. As God dit nié vir jou sou doen nie, sal Hy maar tevrede moet wees dat jou plek in die samelewing waar jy Hom dien van nou af leeg sal wees. Want, só redeneer jy, hoe kan die God van liefde so wreed teenoor sy volgelinge wees?
Afhangende van die soort verlies wat jy ervaar het, kan geestelike en emosionele probleme ná ’n rukkie opduik. Die hartseer kruip oor maande heen tot in elke beentjie in jou lyf, totdat ’n reaktiewe depressie opvlam. Die gevoel dat jy net wil slaap en nooit weer wil wakker word nie spoel oor jou. Jy wil net daar in die diep, donker put bly lê. Jy wil aanmekaar huil totdat daar nie meer trane in jou oor is nie, of totdat jy in jou trane verdrink.
Jy het eenvoudig nie die krag om uit die put te klim nie. Hierdie magtelose lusteloosheid word ’n daaglikse stryd. Jy wil alleen wees, maar voer ’n stryd om oorlewing. Die lewe is nie ’n grap nie. Jy sien geen uitweg uit jou situasie nie.
Dit is normaal om emosies soos vrees, woede, kommer, depressie, verwyt en smart te ervaar wanneer iets of iemand van jou weggeneem word. Jou emosies is immers deel van jou menswees. Dit maak jou nie ’n slegte mens as jy hierdie emosies ervaar nie. Jy hoef nie te probeer sterk lyk nie, want dit is nie die werklikheid nie. Jy mag maar hartseer wees. Jy mag maar huil. Jy is nie ’n superhero nie. Jy is ’n weerbare mens met gevoelens. Dit is soos God jou gemaak het. Enige verlies is ontstellend en jy sal ondraaglik verlang na wie of wat jy verloor het.
Hoe help jy iemand wat oor ’n verlies rou?
Wanneer jy te doen kry met iemand wat rou oor ’n verlies, wees besonder waaksaam en oplettend. Wees bedag daarop dat hul worsteling hulle so kwesbaar kan maak of so kan aftakel dat hulle na verkeerde grashalms gryp bloot omdat dit soos ’n maklike uitweg lyk of omdat dit verligting van die pyn belowe.
Wanneer iemand wat rou oor ’n verlies hulle volkome afsonder van die gemeenskap, familie en vriende, is dit tyd dat dié wat die naaste aan hulle is (familie of vriende), ingryp en hulle probeer oorreed om hulp te aanvaar.
Ons het ander mense nodig. Mense wat ons sal aanmoedig. Mense wat ons sal ondersteun. Mense wat namens ons sal dink en doen wanneer ons nie kan nie.
Dit is egter baie belangrik dat ons sal besef dat ’n tydperk van rou noodsaaklik is wanneer mense enige soort verlies ervaar. Wanneer iets of iemand van ons weggeneem word, moet ons mekaar dra en bemoedig. Niemand weet hoe en hoe lank enigiemand nodig het om ’n verlies te verwerk nie. Elke mens is uniek. Ons moet respek hê hiervoor. Dié wat rou, sal weer die son sien skyn wanneer die tyd vir hulle reg is.
Mense ervaar in hul donkerste tye dikwels die meeste groei in hul lewe omdat God hulle in daardie donker tyd geestelik versterk. Hulle besef dit egter nie op daardie oomblik nie. Dit is eers heelwat later dat ’n mens dit raaksien en insig en wysheid bekom.
Hierdie waarheid is telkens bevestig in die onderhoude wat ek vir hierdie boek gevoer het. Terwyl mense in die rouproses was, kon hulle die gebeure nie verstaan nie. Later het hulle egter besef hulle het nader aan God gegroei, al verstaan hulle steeds nie God se paaie nie.
In My Moquini skryf Karen Tocknell:
It was only when I lost everything and had nothing but God to rely on, that I fully surrendered to Him and to his love. As my world crumbled around me, I retreated to the core of my being and there discovered a desire so intense for the heart of God, that I realized that nothing else in life mattered anyway. Intimacy with God was worth giving up everthing for … As long as I had my eyes fixed on his face and not the circumstances around me, I would radiate His joy and peace.
In die hartseerste oomblikke van haar lewe, het sy haar grootste getuienis uitgeleef. Net soos Paulus en Silas in boeie in die tronk God met liedere verheerlik het. Dit was ’n getuienis teenoor die ander gevangenes en die bewaarder. Hy wou ook hê wat Paulus-hulle het.
Ons moet nooit vergeet dat God goed is nie. Hy was en is en sal altyd die God van liefde wees, al voel dit nie altyd waar nie. Die lewe is regtig te groot vir ons om ons verlies alleen te hanteer. Soms moet ons ons laagste punt bereik om te begryp wie God werklik is en wat Hy vir ons kan doen.
Menige gerehabiliteerde verslaafdes het dit vir my gesê. Wanneer ons aan hierdie waarheid begin twyfel, is dit goed om ons vrae te verwoord. Vra vir iemand jou vrae, of skryf hulle neer. Die oomblik dat jy dit doen, neem jy die mag van negatiewe gedagtes oor jou weg omdat jy proaktief optree.
God nooi jou as gelowige om jou vrae voor Hom neer te lê. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes … aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Chrisuts Jesus” (Fil 4:6-7).
Respondente op my vraelyste het dikwels vir my gesê hulle het besef dat sekere dinge met hulle gebeur het sodat hulle die krag, wysheid en insig kon ontvang om later weer ander mense te versterk. Slegs hul eie verlies kon vir hulle daardie insig en wysheid gee. Nie een van ons soek die pynlike omstandighede van die lewe op nie. Nie een van ons sal ons vrywillig aan smart onderwerp nie. Maar, wanneer ’n pynlike ervaring ons uit ons gemaksone pluk, kan ons nader aan God beweeg die oomblik wanneer ons kies om weer op te staan. Ons word beter, nie bitter nie.
Jy moet egter kies om teen die selfbejammering te veg. Bid vir wysheid. Bid vir insig. Vra vrae. Jy mag maar. Moet ook nooit van die 7 000 beloftes in die Bybel vergeet nie. Al voel jy in jou gebrokenheid dalk dat God nie getrou is nie, gaan sit in stilte en onthou van al die goeie dinge wat in jou verlede gebeur het. Vestig jou oë op die goeie dinge wat steeds rondom jou gebeur.
Moenie toelaat dat vrees en onsekerheid jou so oorweldig dat jy aanhou aan God twyfel nie. Laat jou twyfel en ongeloof jou eerder tot in sy arms dryf. En wanneer jy daar weer veilig voel, doen jou bes om vir altyd daar in sy arms te bly. Daar is dit veilig. Oefen as ’t ware om in sy arms te bly. Jy het nie deftige woorde nodig nie. Wat ook al in jou gedagtes opkom, is goed genoeg vir God.
Dit is jóú keuse
Dit is uiters belangrik om te onthou dat jou