Скачать книгу

p>

      Swemlesse vir ’n meermin

      Marita van der Vyver

      Tafelberg

      1. Dis sink of swem, Sus

      Oukei, kom ons begin met ’n waarskuwing: Hierdie is nie ’n boek nie.

      Moet dus nie ophou lees as jy een van daardie ongelukkige mense is wat nie van boeke hou nie.

      Ek bedoel nou ongelukkig soos in unlucky, nie soos in unhappy nie. Want mense wat nie van boeke hou nie, is nie noodwendig unhappy nie, en besef gewoonlik nie eens hulle is unlucky nie.

      Jy sal hopelik verstaan, as jy aanhou lees, waarom ek dink jy’s ongelukkig as jy nie van boeke hou nie.

      Aan die ander kant, miskien lees niemand meer boeke teen die tyd dat jy eendag hierdie woorde lees nie. Flippen aaklige gedagte. Ek bedoel nou boeke wat van papier gemaak is, boeke wat jy op ’n strand kan lê en lees sodat sandkorrels tussen die blaaie agterbly en jare later, wanneer jy die boek toevallig optel, sif ’n hopie sand op jou palm uit.

      En dan druk jy die boek teen jou neus en ruik die suntan lotion wat jy daardie vakansie langs die see aangesmeer het, en jy ruik die lemoen waaraan jy gesuig het, want op een van die bladsye het jy ’n bietjie van die sap gemors, kyk, daar sit die gelerige vlek sowaar nog steeds, maar jy was so vasgevang in die storie jy het nie eens agtergekom jy bemors jou boek nie.

      Op ’n ander bladsy is ’n vetterige vingermerk bo regs, want jy was so haastig om te blaai en verder te lees dat jy nie jou hande afgevee het nadat jy weer ’n slag room aan jou lyf moes smeer om nie gaar te brand nie. En dan hou jy die boek styf vas en jy maak jou oë toe en skielik – soos ’n wonderwerk! – onthou jy weer jou hele vakansie.

      Soms selfs beter as wat jy die storie in die boek onthou.

      Ag, ek wens ek kon nou ’n lekker boek op ’n strand lê en lees, iewers op ’n vakansiedorp vol vakansiegangers, eerder as om in my bedompige kamer in ons lelike baksteenhuis te sit en vir my babasussie te skryf.

      Yann sê teen die tyd dat jy dertien is, sal net oumense nog regte boeke lees, die res van die mensdom sal alles op elektroniese skerms doen. Dit maak my hartseer, nie vir myself nie, maar vir jou. Want teen daardie tyd sal ek al amper ’n oumens wees – amper dertig jaar oud, stel jou voor! (Nee, ek kan my dit nie voorstel nie.) So ek sal sekerlik aanhou om papierboeke te lees, maar jy sal dalk nooit weet wat jy alles mis as jy al jou stories op ’n skerm lees nie.

      Al die reuke en vlekke en herinneringe wat tussen die blaaie van ’n boek wegkruip.

      Onthou alles verander aanmekaar

      Maar goed, wanneer jy dertien is, sal niemand dalk meer langs die see in die son wil lê en lees nie.

      Die son word al hoe gevaarliker en die gat in die osoonlaag word al hoe groter en ons word al hoe banger vir velkanker en sulke siektes en dit sal dalk net nie meer cool wees vir ’n meisie wat met ’n wit vel gebore is om haar vel bruin te probeer kry nie.

      Nes dit lankal nie meer cool is vir iemand wat met ’n swart vel gebore is om sy vel wit te probeer kry nie.

      Michael Jackson is ’n baie slegte rolmodel, sê my beste maat, Sharon, wie se vel soos melkkoffie lyk.

      Miskien is Michael Jackson teen daardie tyd al dood – miskien het sy neus al afgeval van al die operasies om dit dunner te kry. Maar jy sal darem seker nog weet wie hy was?

      Dis seker ook moontlik dat cool teen daardie tyd lankal nie meer ’n cool woord sal wees nie.

      Beyers sê toe hy so oud soos ek was – soos die jong meisie wat ek nou is, nie die tannie wat ek oor ’n dekade gaan wees nie – het hulle die woord smart gebruik vir dinge wat ons nou cool noem. Nie smart soos in hartseer nie, maar soos in die Engelse woord vir slim. Soos in: “Wow, dis nou ’n smart telefoon!”

      Wat natuurlik nie rêrig slim beteken het nie, want waar het jy nou al ooit van ’n slim telefoon gehoor.

      Nes cool deesdae nie rêrig beteken iets is nie warm nie, nè.

      En voor Beyers se tyd, in die 60’s, was groovy die groovy woord om te gebruik. Soos in groovy musiek of groovy klere. En nou klink dit so simpel, mens wil begin giggel as jy dit hoor.

      So ek maak sommer nou al verskoning as ek simpel woorde gaan gebruik wat jou gaan laat giggel.

      Die punt is ek weet nie hoe die wêreld gaan lyk as jy dertien is nie, ek weet nie watse soort taal julle gaan praat nie, ek weet nie eens watse soort mens jy gaan wees nie.

      Oor jou persoonlikheid

      Toe ek hierdie woorde geskryf het, teen die einde van 2002, was jy skaars vyf maande oud. Jy het dieselfde geluide as ander babas gemaak en dieselfde papgekookte kos op dieselfde morsige manier geëet en dieselfde vervelige dinge gedoen.

      “Dis nie waar nie!” sê Mana (wat mos altyd beter as almal weet, soos jy seker teen dié tyd al agtergekom het). “Ariel is gebore met ’n persoonlikheid en dis nie dieselfde wat Hanna of Tibo op haar ouderdom gehad het nie.”

      Ek moet erken die manier waarop Mana dit sê maak my nogal jaloers, want dit klink asof sy meer van jou persoonlikheid as van my of Tibo s’n hou. Maar dan sê ek vir myself: moenie simpel wees nie, Hanna, jy kan tog nie jaloers wees op ’n baba nie! Nog minder op ’n baba se “persoonlikheid”.

      How sad is that.

      Ek’s heeltemal te lief vir jou om jaloers op jou te wees. Behalwe op jou naam. Maar daaroor kan ons later gesels.

      As ek vir Mana vra wat presies bedoel sy met jou “persoonlikheid”, dan sê sy, wel, jy was van altyd af mal oor water.

      “Badwater, swembadwater, enige water. Selfs toe ons haar die eerste keer strand toe geneem het, onthou jy, toe sy die branders teen haar voel klots het, het sy nie histeries begin huil soos ander babas nie?” (Soos ek en Tibo, bedoel Mana.) “Sy’t met ’n oop bekkie gelag en haar arms geflap van lekkerkry!”

      Volgens Mana bewys dit dat jy vreesloos en avontuurlustig is.

      (Ek wonder of dit beteken ek en Tibo is lafhartige bangbroeke?)

      Mana sê dis te danke aan die “besondere omstandighede” van jou geboorte, toe laas winter se verskriklike stortreëns ons almal in ’n huis op ’n berg vasgekeer het en ons nie betyds by die hospitaal kon uitkom nie. Toe word jy mos sommer daar tussen ons uitgedruk.

      Die eerste geluid wat jy op hierdie aarde gehoor het, behalwe jou familie se opgewonde stemme, was die gedruis van ’n rivier wat sy walle oorstroom. ’n Baba met só ’n begin kan seker nie anders as om ’n ding oor water te hê nie. As jy ’n bangbroek was, sou jy ’n lewenslange waterfobie ontwikkel het. Maar omdat jy so dapper is (volgens Mana), was jy van jou eerste oomblik af gek oor water.

      Dis waarom jy ’n meermin se naam gekry het. Maar ek het mos gesê ons gesels later daaroor. Dit bly ’n teer punt, maar ek werk hard aan hierdie nare afguns wat glad nie by ’n voorbeeldige ousus pas nie.

      Teen die tyd dat jy dertien is, sal ek oukei wees met jou naam. Belowe.

      ’n Ander soort stormagtigheid

      Ons sal maar sien of jy op dertien nog so dapper gaan wees.

      Wees gewaarsku, die stormwaters van “adolessensie” is véél erger as die letterlike stormwaters van jou geboorte. Ek weet waarvan ek praat. Ek is nou vyftien, so ek spartel al twee jaar lank in hierdie onstuimigheid rond en elke keer nes ek dink nóú kan ek weer ’n slag asem skep, tref ’n volgende brander my van agter en sleep my ondertoe.

      Nee, rêrig, dis taf om ’n tiener te wees.

      “Adolessensie is nie vir sissies nie,” sug Mana nou die aand toe ek aan tafel opspring en by die eetkamer uitstorm omdat Tibo en Amos my getart het. Kan nie eens onthou wáároor dit was nie, maak nie saak nie. Wat my elke keer laat ontplof, is dat niemand in hierdie huis ooit my kant kies nie!

      Ek’s die enigste meisiekind tussen drie aaklige seunskinders en soms voel ek so alleen soos die laaste oorlewende in een van daardie Sci-Fi movies oor die einde

Скачать книгу