Скачать книгу

sal sien hoe uitgevat sy is. Sy het haar somerligte kaasdoekrok aan, met gekleurde blomborduursel by die hals en moue. Sy weet dat sy mooi daarin lyk. Manus het so gesê. Hy gee skynbaar ook nie om dat dit op ’n uitverkoping aangeskaf is, en dat hy dit al meermale gesien het nie. Sy laat haar donkerblonde krulhare vanaand loshang, waar sy dit andersins in ’n poniestert teen haar agterkop dra. Sy het dit gewaag om grimering aan te sit, net genoeg dat haar ma dit nie maklik sal opmerk nie.

      “Gaan jy en Boet dan iewers heen?” vra Nellie Hasper dan ook gou toe haar dogter langs haar staan en die flitslig vashou sodat Nellie met vaardigheid die lowwe van beet, wortels en uie kan afsny. Al die growwe, taai groentes, waarmee minder maklik moeilikheid in die beddings kan kom. Wintertye is dit kool, in al sy vareïteite en vorme. Maar die winter is nou verby.

      “Nee wat, Ma. Dis maar net Manus wat oorkom.”

      Maar net Manus. Bespeur haar ma die yslike betekenis agter die ongeërgde woorde? Dis tog onmoontlik dat sy die situasie nog nie snap nie?

      “En van wanneer af maak jy jou dan vir Manus Bruwer mooi?” Nellie is nie onvriendelik nie, maar wel speurend, sodat Hantie met opwinding besef: Dit begin darem tot haar deurdring. Haar ma is ’n moeilike mens om te peil, soos Hantie tereg vir Manus gesê het. Sy weet nie of Nellie ’n verbintenis met die Bruwers sal verwelkom, en of sy dit ten sterkste sal afkeur nie. Sy is vriendelik genoeg met Manus as hy hier kom. Maar dat juis hulle die plaas opgekoop het, bly seker ’n gevoelige kwessie.

      “Ag, Ma … het Ma dan nie ook mooigemaak as daar iemand kom nie?”

      “Daar het nooit veel gekom nie.” Nellie Hasper se hande gaan ’n oomblik lank stilstaan met die groentemes orent gehou. “Jou pa was maar amper die eerste. Ons het so ’n eie soort lewe gelei, my ma het alle kêrels gewantrou. Sy kon ook nie sonder my klaarkom nie, ek moes vir haar die kleintjies help grootmaak na my pa in die treinongeluk dood is.”

      Haar oupa, so onthou Hantie, was ’n stoker op die spoorweg.

      Dan voeg Nellie by: “En ek was nie so mooi soos jy nie, my kind. Ek kon nooit verstaan dat jou pa my gevat het nie.”

      Hantie voel verleë. Haar ma is nie ’n ongenaakbare soort mens nie, maar tog taamlik geslote. ’n Openbaring soos hierdie geskied nie maklik nie. “Seker oor hy geweet het hoe ’n goeie lewe hy by ma sal hê,” prewel sy. En vervolg: “Na wie lyk ek dan? Ek het ma se dik hare, dit weet ek. En ek is dankbaar.”

      “Jy lyk verder na jou pa, natuurlik. Hy’s ’n mooi man, en sy mense was mooi mense. Nie gesiene mense nie, maar mooi van aangesig. Boet lyk na my mense, growwerig, die arme kind.” Die mes raak weer doenig.

      “Skaam vir Ma,” lag Hantie. Sy is tog lief vir haar ma, al reken die hele kontrei Nellie Hasper is kil teenoor haar man, noulettend op haar kinders en afsydig teenoor ander mense. Dis net dat Nellie nie nonsens duld nie. Hou sy van mense, hou sy baie van hulle, en sal sy hemel en aarde versit ter wille van die vriendskap. Maar wee iemand wat daardie vriendskap en vertroue teleurstel. Nellie vergeef moeilik en langsaam, ás sy vergewe. Sy kan nogal ’n wrok in stilte troetel, veral solank haar hande besig is. Daarom glo Hantie nie aan die mite dat werk heilsaam is en die aandag aftrek nie.

      Vir die soveelste keer vra sy haar af: Wat sal haar ma se reaksie wees as Manus vra om met haar dogter te trou? Sy behoort tog geen werklike beswaar te hê nie. Selfs al glo sy dat Bruwer te min vir die grond betaal het, kan dit haar gerusstel en troos dat Hantie deel van die opset gaan word. Dis aan my skugterheid te wyte dat sy nog niks vermoed nie, dink Hantie; ek wil mos nie hê Manus moet aan my raak voor ander mense nie.

      En tog is dit so lank reeds dat sy ’n sterk gevoel vir hom het. Toe hulle nog op hoërskool in die koshuis was, toe haar pa nog nie uitgeboer het nie en hulle op buurplase gewoon het, is hulle om die beurt deur die ouers gehaal. Dawie Hasper en Oelof Bruwer het maar net die kop geskud as die twee kinders verkies om saam agterop die bakkie in die wind te sit, terwyl daar tog plek voorin was.

      “’n Kind is tog ’n snaakse ding,” sou hulle sê, sonder om te besef dat dit eintlik nie meer kinders is van wie hulle praat nie. Intussen het sy en Manus lekker styf teen mekaar gesit. Hulle het toe nog nie handjies vasgehou nie. Wel, as sy terugdink, moet sy onthou dat Oelof Bruwer se oog soms ’n stoute trekkie gekry het. Het hy hulle saamsittery verwelkom? Gedink dit kan sy aanspraak op die sukkelplasie versterk?

      Nee, sy moet so ’n gedagte nie eers toelaat nie. Oelof boer maar net vooruit, dis al. Hy het terstond ’n dam gebou om die spruit se water beter te benut.

      “Lig ’n bietjie hoër,” beveel Nellie.

      “Ekskuus, Ma, ek was ingedagte.”

      “Die batterye is flou. Jy kon ook al nuwes van die winkel af gebring het.”

      Ook maar goed ek het nie, dan het die ontydige buitewerk nog langer geduur. So dink Hantie, maar sy sê liewer niks. In die begin het sy altyd dit en dat van die winkel af gebring, maar dit word natuurlik opgeskryf en afgetrek van haar beskeie salaris. Sy dra wel iets vir die huishouding by, maar sy spaar vir haar eie toekoms soveel sy kan. Dis gelukkig een ding waarvoor haar ma ontsag het: om spaarsaam te lewe en geld weg te sit.

      “Het jou hand tog maar so stokstyf bly staan as jy ’n tjek skryf,” het sy eenkeer bitter teenoor haar man gesê toe die skuldlas te groot word. Sy, Nellie, wou nog vasklou. “Die grond lê so naby die dorp, dit kan baie werd word as die stadsraad of ’n ontwikkelaar plek vir nuwe uitbreiding soek,” het sy geredekawel.

      “In watter eeu?” wou haar pa weet, smalend maar ook versoenend. “Dit kan te laat vir óns wees. En Boet stel nie belang in boerdery nie, dit weet jy tog. Hy is een vir masjinerie.”

      Stukkende masjinerie, ja, moes Hantie dink. Haar broer is gedurig aan ’t kwansel, dis ou krokke en motorfietse wat altyd ’n “bargain” is, maar waarop hy elke keer verloor. Hy het die onjuiste idee dat ’n gesukkel dieselfde as vordering is.

      Nellie pak die groente in ’n skottel nadat sy met ’n doek die gronderigheid afgevee het. Nie afwas nie, glo sy, dan bederf dit gouer binne die plastiekverpakking. “So ja, hierdie morsige deel doen ek eerder buite, anders is die kombuis weer vuil.” Sy klink altyd tevrede oor goeie werk. As sy maar vir die fynere kunsies van huishouding soveel omgegee het: naaldwerk, goeie kos, resepte. Maar sy is gedurig aan ’t skoonmaak; dis die hoogste wet in haar lewe, dat die huis moet blink. Dit tref haar nie dat die huis sonder atmosfeer is, dat daar geen enkele oorspronklike skildery teen die mure is, of ’n kleurvolle blombedding in die voortuin nie. Net die groentebeddings is foutloos versorg. Dit terwyl die dorpstuine rondom hulle lewe van bloeisels, waarvan die geur in die lou lug stowe.

      Dan voeg Nellie by: “Julle is bitter jonk.” Sy dink dus nog heeltyd aan Hantie en Manus.

      “Daar is jonk en jonk, Ma. Ma was ook maar jonk toe Ma …”

      “Ek is op agttien getroud, dis waar. Maar plig en laste het my volwasse gemaak.”

      “En daarvan het Ma op my oorgedra.” Liewer haar ma na die mond praat om die vrede te bewaar. Dis ook die waarheid: Sy voel volwasse, al is sy net oor die negentien. Dis net dat sy hier in die huis nog soos ’n blote kind behandel word.

      Net uithou, troos Hantie haarself. Dis ’n kringgedagte wat haar nooit heeltemal loslaat nie. Nie meer lank nie, ’n jaar of twee hoogstens, dan het sy haar eie huis, saam met Manus. Sy het reeds ’n plek op die dorp in die oog, ’n fraai spitsdakhuisie tussen hoë bome, as gevolg waarvan sy dit in haar kop Whispers gedoop het. Die Te koop/Te huur-bordjie sit al lank teen die voorhekkie. Dis nie groot nie, dalk skaars groter as ’n woonstel, en ietwat fleur-af. Maar die mure is stewig, en sy sien die moontlikhede raak. Dis een ding wat sy haar vergun: om af en toe ’n glanstydskrif te koop wat wys hoe om in jou huis die beste te maak van wat jy het, sonder groot onkoste. Sy het verder boeke uit die biblioteek, leggers vol knipsels en ’n kop propvol idees. Smaak en styl. Sy voel sy het dit in haar, dis net nooit ontwikkel nie. Hoe anders, met ’n ma soos hare? Dis nie dat sy haar ma verkwalik nie, sy het groot respek vir soveel deug en deursetting, maar sy is nie blind daarvoor dat haar ma in sommige opsigte oogklappe dra nie.

      “Gaan

Скачать книгу